Boekgesprek | Book Chat

 
Marthinus van Bart: Kaap van Slawe

Marthinus van Bart se boek, Kaap van Slawe (Tokai: Historical Media, 2012, 204p, R267), is kits-Africana. Deesdae is dit omtrent net met 'n subsidie van die LW Hiemstra-trust dat so 'n Afrikaanse nie-fiksieboek kan verskyn en 'n herdruk is onwaarskynlik. Die newetitel lui: "Die Britse slawebedryf van 1562 tot 1910, met spesiale verwysing na die Kaap die Goeie Hoop vanaf 1680." Van Bart is 'n joernalis by Die Burger en spesialiseer in kultuurhistoriese sake. Ek het die indruk dat hy 'n ondankbare en eensame stryd voer. Hierdie publikasie kan in feitlik elke opsig verwelkom word.

Eintlik het ek net twee besware. Eerstens staan die fisiese boek my glad nie aan nie. Die A4-formaat is waarskynlik gekies om koste te bespaar, maar dit bring mee dat die boek moeilik hanteer en die lang teksreëls die leesbaarheid aan bande lê. Die glanspapier benadeel ook die leesbaarheid van die teks. Sowel die formaat as die glanspapier is moontlik gekies ter wille van die illustrasies. Maar Richard van der Ross se boek oor slawerny aan die Kaap (SêNet, 6 Nov) bevat soortgelyke illustrasies en maak suksesvol van 'n heelwat kleiner formaat en van papier met minder glans gebruik. Daar kan kwalik geredeneer word dat die produk as 'n koffietafelboek bedoel is, want die onderwerp leen hom nie daartoe nie. Die formaat en glanspapier sou geregverdig kon word as die boek oor bv 'n skilder gehandel en die teks sterk op kleurafdrukke van skilderye gesteun het.

Tweedens is daar onverskoonbaar baie druk- en ander foute waaroor ek vanweë die ruimtebeperking nie uitwei nie. Die redigering was nie na wense nie. 'n Kritiese leser moes liefs voor publikasie die teks van voor tot agter gelees en bv onnodige herhaling uitgeskakel het. Byvoorbeeld, Deel II, afdeling 38, moes met die voorafgaande teks geïntegreer gewees het. Daar word soms na verskillende bronne met teenstrydige inligting verwys sonder om die inligting daarna sinvol vir die leser te vertolk.

Ek vind dit verbasend dat Van Bart se deeglike, jarelange navorsing blykbaar nie Van der Ross se genoemde boek ingesluit het nie. Myns insiens vul hierdie twee boeke mekaar in baie opsigte aan. Maar ek wil eerder en dankbaar die baie positiewe aspekte van Van Bart se boek beklemtoon. Die voorwoord toon oortuigend aan waarom hierdie boek so broodnodig is: Die Stad Kaapstad (slaweroeteborde, erfenispamflet, Slawemonument), die Iziko-slawemuseum (pamflette, biljette, plakette, uitstallings, video) en die leerplanne en handleidings vir skole verskaf verdraaide historiese inligting oor slawerny aan die Kaap.

Die algemene tendens is om die skandalige aspekte aan die Hollanders of Afrikaners te koppel en om die Engelse met die afskaffing van slawerny en die bevryding van die slawe te krediteer (p 17, 23). Apartheid word direk met slawerny geassosieer (p 12, 18, 184). Die slawebevolking aan die Kaap was op enige tydstip nie meer as 40 000 nie, maar die genoemde video beweer dat "ontelbare miljoene" van die slawe tydens die reis hierheen gesterf het (p 20). 'n Museum is veronderstel om onpartydige, wetenskaplik-gefundeerde, feitelike inligting te verskaf. Iziko faal in sy professionele taak. [Dit geld ook die Distrik Ses-museum wat besoekers graag inlig oor die "onregte" van die destydse opruiming van die krotbuurt maar swyg oor die oorkompensasie wat sommige oud-inwoners sedertdien te beurt geval het.] 

Nick Merriman van die Museum of London huldig 'n ander mening as die Iziko-slawemuseum: "England, and later Great Britain, got fat on the backs of slaves, becoming the biggest slave-trading nation on earth" (p 70). Die vraag is of die Slawemuseum, wat slypskole ("Creative Slavery Workshops") vir skoliere aanbied (p 21), asook die genoemde ander plaaslike instansies, hulle enigsins aan Van Bart se navorsingsresultate gaan steur. Of sal daar eerder voortgegaan word om te knoei, te lieg en weg te steek? (p 183). "Hoeveel ken die geskiedenis goed genoeg om te besef watter verdraaiings en verswygings (variasies van leuens) daar hoogty vier?" (p 185). In die nuwe Suid-Afrika het dit ongelukkig 'n gevestigde gewoonte geword om waar moontlik die wittes en veral die Afrikaners ongunstig voor te stel.

In 1965 het Ian Smith Rhodesië eensydig onafhanklik verklaar. Grondwetlik was dit 'n stryd tussen Dawid (Rhodesië) en Goliat (Brittanje). Smith het die grootheidswaan van Brittanje openlik uitgedaag deur onder meer te besluit dat hy voortaan nie van "Great Britain" sal praat nie, maar bloot van "Britain". Die gewaande groot(s)heid van Brittanje het nie net daarop berus dat dit die grootste koloniale ryk gehad het nie, maar dat dit ook in die grootste mate by die slawehandel betrokke was, veral die trans-Atlantiese handel tussen Afrika en die Amerikas. Afrikane is in 'n Britse wet gedefinieer as "of wild, barbarous and savage nature" (p 60).

Ten einde die huidige plaaslike vergoeiliking van die Britse rol in slawerny teen te werk, het Van Bart baie moeite gedoen om hierdie onderwerp in sy kern (Engeland/Londen) na te vors. Deel 1 handel oor veral die Britte en slawerny, terwyl Deel 2 op slawerny aan die Kaap fokus. Baie van die tersaaklike rekords het egter lankal uit die Kaapse, Londense en Den Haagse argiewe verdwyn (p 26, 90). Oor die Britte se historiese rol draai hy geen doekies om nie. Reeds voor die eerste Britse besetting van die Kaap in 1795 is 'n "beduidende getal slawe deur Britse slawehandelaars aan die Kaap gelewer" (p 77). 'n Enkele keer verwys hy selfs na die Britse regering aan die Kaap as 'n "regime" (p 103).

Sowat 10 miljoen slawe was by die trans-Atlantiese handel betrokke. Hiervan word om politieke redes, spesifiek ter diskreditering van wittes, gereeld gewag gemaak. Ongeveer dieselfde getal swart slawe is in daardie tyd op die trans-Sahara-roete na Noord-Afrika en die Midde-Ooste ontvoer (p 25), maar hiervan word selde melding gemaak. Verder: "Afrika-stamhoofde het reeds sewe eeue voordat die eerste blanke slaweskepe die Afrika-kus bereik het, 'n winsgewende slawehandel met die Arabiere van Noord-Afrika en hul Islamitiese bondgenote van die Midde-Ooste bedryf" (p 50). Afrika-stamhoofde het reeds voor 300 vC slawe verhandel, terwyl blankes eers in die 16de eeu begin het om met hierdie "swart ivoor" handel te dryf (p 178). Dit lyk dus asof die Arabiere/Moslems en die swartes in groter mate as die wittes aan slawerny skuldig is. Na enkele eeue het wittes wêreldwyd slawerny afgesweer, terwyl die Arabiere en swartes voor, tydens en na die trans-Atlantiese slawehandel daarmee voortgegaan het.

Slawe was nie noodwendig swart nie (SêNet, 6 Nov). Van Bart verwys tereg na Giles Milton se boek (2004): "Nagenoeg 1 miljoen wit Christene is in die loop van tweehonderd jaar deur Islamitiese kapers gevang en as slawe in Noord-Afrika en die Midde-Ooste verkoop" (p 46). In 1625 is 30 000 Ierse politieke gevangenes deur Charles I as slawe na die Wes-Indiese Eilande verban (p 49). Van 1641 tot die einde van Oliver Cromwell se bewind in 1658 is 400 000 Iere, waarvan 'n kwart kinders was, veral na die Wes-Indiese Eilande, maar ook na Amerika, verban. "Van 1600 tot 1699 is meer Iere as Afrikane in slawerny gedwing en in die Amerikas verkoop" (p 57). Iere het ook as slawe in Engeland, bv Bristol, gewerk (p 57). Sommige is na Australië gestuur en Ierse weeskinders is "aan die Kaap as wit slawe verkoop" (p 91, ook p 133).

In die 1830's is sowat 1 300 Ierse en Britse kinders na die Kaap gestuur (p 143). Die seuns was kontraktueel gebonde tot hulle 21 jaar oud was en die meisies totdat hulle getrou het (p 145). Van 1920 tot 1960 is minstens 10 000 Britse kinders na Australië uitgevoer. Van 1947 tot 1967 is dié getal ook minstens 10 000 (p 150). Wat Van Bart met hierdie gegewens aantoon, is dat die Britte nie altyd so humanitêr, liberaal en regsinnig was as wat graag voorgegee word nie. Van 1845 tot 1849 is Ierland deur aartappelmisoeste geteister en erge, wydverspreide hongersnood het gevolg. Terselfdertyd is koring en aartappels deur die Britse bewind na Engeland en elders uitgevoer. Meer as 'n miljoen Iere het omgekom (p 151).

Tydens die Bataafse bewind (1803-1806) is slawehandel verbied (p 15, 97, 102). Uitenhage de Mist wou slawekinders heeltemal vry verklaar (p 105), maar kon die wet nie betyds deurvoer nie (p 109). Die getal slawe aan die Kaap het gedurende die Bataafse tydperk afgeneem (p 106). Gedurende daardie drie jaar "is hoogstens 'n paar honderd slawe as buitengewone gevalle met amptelike verlof ingevoer" (p 106). Naas wittes was Asiate en vryswartes ook slawebesitters (p 106, 108, 132, 178). Sommige slawe-eienaars het slawe teen 'n tarief per dag uitgehuur (p 132).

Kort na die tweede Britse besetting in 1806 is slawehandel kragtens 'n 1807-wet vanaf 1808 aan die Kaap verbied. Die daaropvolgende jaar is die eerste plaaslike paswet in werking gestel (p 115). Volwasse Koikoi moes voortaan 'n vaste werk en woonadres hê (p 115). Proklamasies van 1812, 1819 en 1828 het bepaal dat Koina-kinders van 8- tot 18-jarige ouderdom by 'n werkgewer ingeboek moes wees. Dit het op gedwonge knegskap neergekom (p 119, 141). Die paswette en inboeking was die gevolg van die verbod op slawehandel, want die arbeidstekort moes verlig word.

"Die prys van slawe [het] sedert die verbod op slawehandel van 1808 tot 1824 vervierdubbel" (p 136). Na Boesman-rooftogte het stafkommando's die vroue en kinders as oorlogsbuit gevang en by wit huishoudings ingeboek (p 136). In die Oos-Kaap in die 1830's is duisende Fingo-krygsgevangenes by plaaseienaars ingeboek; in die 1870's minstens 4 000 Xhosas (p 158-159). In 1897 het die Britse bewind minstens 1 900 Tswana-krygsgevangenes vir vyf jaar by boere rondom Kaapstad uitgekontrakteer (p 160).

Die staking van die slawehandel het ook ander gevolge gehad. Sluikhandel in slawe het in Britse gebiede tot ongeveer 1850 voortgeduur. Die Britte het beslag op die skepe van ander lande gelê wat met slawehandel voortgegaan het. Hierdie slawe is verkoop en vir 14 jaar vir skynopleiding, maar in werklikheid vir arbeid sonder vergoeding, ingeboek (p 119). Diegene wat hierdie slawe "bevry" het, kon op vergoeding aanspraak maak. Wat soms in die praktyk gebeur het, is dat slawe soos voorheen gevang en dan as gebuite of bevryde slawe aan die owerheid gelewer is. Met die oog hierop is die name van skepe en hulle bevelvoerders en die insidente in skeepsrekords vervals. Byvoorbeeld, 'n "smokkelnet tussen Mosambiek, Madagaskar en die Kaap" is blootgelê (p 128).

In 1833 het die Britse parlement besluit om die slawe vanaf 1 Desember 1834 vry te laat, maar daar was 'n oorgangsperiode van vier jaar waartydens hulle ingeboek sou wees. Die werklike vrylatingsdatum was dus 1 Desember 1838 (p 124, 142). Maar selfs daarna is slawe wat skynbaar van die skepe van ander lande gebuit is aan die Kaap verkoop en ingeboek; van 1839 tot 1850 sowat 3 000 (p 129). Tot die einde van die 19de eeu was daar onder die Britse bewind in die Kaapkolonie slawevang-ekspedisies. Byvoorbeeld, die Griekwas het namens die Britte as slawevangers gefunksioneer. Die ontvoerdes is Mantatees genoem (p 157).

Slawe-eienaars is na die vrystelling van die slawe nie "billik en regverdig" vergoed soos die Britse regering belowe het nie. Net 'n derde van die aanvanklike koopsom sou betaal word en nie kontant nie, maar slegs in Londen in die vorm van staatseffekte en na die aftrekking van administratiewe koste. Die gevolg was dat baie eienaars hulle aanspraak vir 'n appel en 'n ei aan spekulante verkoop het en in bankrotskap gedompel is omdat hulle vaste eiendom as sekuriteit vir geldlenings gedien het (p 161-162).

Johannes Comestor


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address