Mari Bosman en die koms van Storievrou

  • 0

Mari Bosman is as jong sanger en liedjieskrywer al ’n geruime tyd op die toneel en ’n nuwe projek sien binnekort die lig ...

Dagsê Mari, hoe gaan dit?

Lekker dankie, Henry!

Voor ons kom by jou storie as sanger/liedjieskrywer tot dusver: jy is op die oomblik betrokke by ’n nuwe projek, Storievrou, wat binnekort bekendgestel gaan word. Wat is die aard daarvan en wat kan mense verwag?

Ek is baie opgewonde! Storievrou gaan ’n 3-stuk-meisie-band wees – Renate Riedemann (viool en stem), Maria Rademan (klavier/trekklavier en stem) en ek op akoestiese kitaar en stem. Die liedjies belowe om Suid-Afrikaners te laat tuis voel – die naam is afkomstig van die gewilde Storieman vanuit ons kinderdae. Ons klanke tot dusver kan gekategoriseer word onder “Afrikaanse folk rock". Hier is so ’n skelm voorskou van ons eerste oefening:

Gepraat van wat die nabye toekoms inhou: volgens alle aanduidings was jy die afgelope paar jaar stil nadat jy in 2007 die kategorie “Beste oorspronklike musiek” gewen het in die 5fm CokeFest Podcasting-kompetisie en kort daarna nog snitte opgeneem en bekendgestel het. Waarmee het jy jou besig gehou?

Nadat ek "Londen" vrygestel het, is ’n musiekvideo geskiet wat ’n tydjie op MK gedraai het. Die volgende jaar het ons steeds ’n hele paar optredes gehad en ook ’n toer deur die Transkei, maar ek moes maar die meeste van my aandag gee aan swottings op Stellenbosch.

In 2010 het ek begin skryf in ’n ander rigting. Meer algemene temas met ’n meer positiewe vibe. Vroeg 2012 het ek nuwe musikante genader en ons eerste show het in Maart afgeskop. Die nuwe materiaal het baie goeie reaksie gekry en kort daarna is ons Huisgenoot Namaquafees toe genooi vir drie optredes. ’n Kort video is geneem deur die kykNET Fiësta-span, wat 23 Januarie uitgesaai is.

Die enkele liedjies van jou wat op die oomblik aanlyn beskikbaar is, getuig van ’n behoefte om jou eie sin vir melodieë en lirieke uit te oefen, tog binne gevestigde liedjiestrukture. Hoe benader jy die skryf van liedjies ten opsigte van hoe al die elemente by mekaar aansluit?

Ek kry my inspirasie deur nuwe plekke te besoek en mense te ontmoet. Elkeen het sy eie storie. Ek sukkel om te gaan sit en ’n liedjie te skryf. Inspirasie kom soos 2012 se kragonderbrekings: baie onverwags. Daarna word ’n kuier om ’n braai of kampvuur gereël en word reaksies getoets deur begeleiding met ’n kitaar of twee! Snaaks genoeg, die beste liedjie was nog altyd die een wat in die kortste tyd geskryf en gekomponeer is.

Ruimtes waarbinne jy jou bevind, speel blykbaar ’n sterk rol in inspirasie vir jou liedjies – een snit heet "Kaapstad" en een "Londen". Waaraan skryf jy dit toe?

"Kaapstad" is my nuutste "single" en is in 2012 opgeneem. Hierdie lied vang die nostalgie binne ons moederstad vas. Die lied berus hoofsaaklik op die lirieke in die koor: "Lugkastele in blou ken die hart in my mou; en die trots van my land het vir ’n oomblik gekantel." Die betekenis hieragter lê in die liefde wat elke Suid-Afrikaner vir ons land het, ten spyte van dinge wat ons so dikwels teleurstel. Jy ken die stad, maar die stad ken jou nie. Jy is lief vir die stad, maar is die stad lief vir jou?

"Londen" getuig bloot van die verlange van heelwat Suid-Afrikaners terwyl hul oorsee werk of woon.

Jy is nie net bedrewe in Afrikaans nie – een van jou Engelse snitte, "Win you over", staan baie sterk as enkelsnit. Hoe besluit en/of oorweeg jy in watter taal watter liedjie of idee die beste sal werk?

Ek het "Win you over" saam met ’n internasionale "trace DJ", Chris Hoy, opgeneem. Ek sal graag so ’n Engelse projek wil aanpak, maar vir eers konsentreer ek op Afrikaans.

Hoe vind jy die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiekbedryf in terme van jou betrokkenheid en die skep van ’n teenwoordigheid daarin? Wat is die tekortkominge en pluspunte van die bedryf?

Eerlike opinie? Ek het baie min respek vir deesdae se "jy braai ek maak slaai"-nonsens. Ek waardeer musiek met ’n dieper betekenis – kunstenaars wat talent het en nie net ’n CD probeer maak nie. Ek mik om die Afrikaanse musiekbedryf liedjies te gee met betekenis, waarmee hul kan aanklank vind. Ek wil ook ander aanmoedig om self ’n instrument te speel vir begeleiding eerder as om bloot net ’n backtrack te gebruik. Die goeie ding van "Storievrou" gaan wees dat ons al drie ’n instrument speel terwyl ons optree.

Die grootste pluspunt van die bedryf is dat daar die afgelope tyd ruimte gemaak is vir goeie musikante, vir wie musiek ’n liefde is eerder as ’n besigheidstransaksie.

Wat is die grootste uitdagings vir Afrikaanse liedjieskrywers? Waar skiet hulle tekort en waar lê die meer vrugbare grond?

Om te eksperimenteer met ons taal! Dit so maklik om vasgevang te word in een tema.

Laastens: jy beskryf jou musiek as "rooiwyn-rock". Wat behels dit? Beskou jy jouself as die enigste lid van hierdie genre, of saam met watter kunstenaars sou jy jouself groepeer?

Wat is beter as ’n goeie glas rooiwyn na ’n lang dag! Rooiwyn is ontspannend en elke bottel en kultivar uniek. Die proses van die maak daarvan is tydsaam. Geduldig. En dit is hoe ek voel oor musikant-wees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top