|
WAARSKUWING!
Die grootste lekkerte van Poppekas lê ongetwyfeld in die lees daarvan. Aangesien enkele romangeheime in die onderstaande resensie blootgelê en verrassings dalk bederf mag word, is dit beslis raadsaam om eers die roman te lees. |
I
In ’n besonder vermaaklike resensie in die Boeke-bylaag van Rapport van Sondag 6 Mei 2012 beskryf Marius Visser Deborah Steinmair se tweede roman, Poppekas, as “’n boeiende, genotvolle toevoeging tot Afrikaanse tienerfiksie”. Oor die “genotvol” en “boeiend” is ek dit met hom roerend eens, maar oor die benoeming “tienerfiksie” het ek bedenkinge. Ek kan my maklik voorstel dat dit wat een leser as chick lit beskou (en hoe verpes ek nie dié term nie), dalk vir ’n ander meer soos hygliteratuur mag klink, of dat daar hare gekloof kan word oor die verskil tussen ’n spannende avontuurverhaal, ’n bloedige misdaadroman en ’n spioenasieriller. Die beskrywing van Poppekas as tienerfiksie is egter nie net aanvegbaar nie, maar ook besonder begrensend. In ’n onderhoud sê Steinmair
byvoorbeeld: “My eerste boek [Marike se laaste dans] het glo in ’n nismark geval, wat beteken dat die eerste oplaag nou nog nie uitverkoop het nie. Om ’n skrywer te wees het ’n mens lesers nodig. Ek wil graag ’n skrywer wees, ek wil in die hart van die volk kruip, ek wil op die bedkassie lê” (2012:82). Ek twyfel baie sterk dat Steinmair hier net die harte en bedkassies van tienerlesers in gedagte gehad het!¹ Poppekas is ’n roman wat spreek tot sowel daardie lesers wat graag op Facebook “poke”, “chat” en “invite”, as dié vir wie Scrabble nog uitsluitlik ’n bordspel is (en wat waarskynlik ook al die sarkofaag in die Voortrekkermonument besoek het).
II
Wiesa se opmerkings “[d]ie raaisels hoop op” (73), “[e]k wil, soos ’n formidabele vrouespeurder, my eie kastaiings uit die vuur krap en deurbrake maak” (100) en “[e]k is seker die legendariese vrouespeurders van die letterkunde het nie broers gehad wat oor hul skouers kyk nie” (143) dui daarop dat die roman as ‘n speurverhaal (en meer spesifiek as sogenaamde genteel speurverhaal²) gelees behoort te word. ’n Mens haas jou egter om by te voeg dat Poppekas ’n eiesoortige speurverhaal is wat dalk ’n nuwe kategorisering binne die genre noodsaak.
In antwoord op ’n vraag deur Elma van der Merwe (2012:82) verduidelik Steinmair haar keuse om binne die speurverhaalgenre te skryf soos volg: “Die uitdaging is om sogenaamde genre-lektuur te skryf sonder om jou integriteit prys te gee; om so terloops steeds veelvlakkig te wees.”
In watter mate Steinmair daarin slaag om binne die “beperkinge” van die formule literatuur steeds veelvlakkig te wees, word dus in die onderstaande afdelings ondersoek.
III
In 1929 het die Britse priester, teoloog en speurverhaalskrywer Ronald Knox die reëls vir speurverhale in ’n sogenaamde “dekaloog” (ook bekend as die “tien gebooie” vir speurverhaalskrywers) gekodifiseer. Hierdie tien – doodernstige en redelik pedantiese – voorskrifte het aanvanklik in die voorwoord van
Best Detective Stories of 1928-29, waarvan Knox die samesteller was, verskyn (James, 2009:52):
- Die misdadiger (moordenaar) moet iemand wees wat vroeg in die verhaal genoem word, maar nié iemand wie se gedagtes aan die leser bekend gemaak word nie.
- Geen bonatuurlike of onnatuurlike verklarings is toelaatbaar nie.
- Daar mag nie meer as een geheime kamer of gang wees nie.
- Geen onbekende gif mag in die uitvoering of oplossing van die moord gebruik word nie; ook geen toestel wat ’n lang, wetenskaplike verklaring benodig nie.
- Daar mag nie ’n Chinees (eintlik enige Oosterling) in die verhaal wees nie.
- Geen toevallige gebeurtenis of ongeluk mag die speurder help nie; ook geen onverklaarbare intuïsie of vermoede wat uiteindelik bevestig word nie.
- Die speurder mag nie self die moord pleeg nie.
- Die speurder mag geen leidraad wat hy ontdek, of vermoedens wat hy ontwikkel, vir die leser wegsteek nie.
- Die dommerige vriend van die speurder (die “Watson”) mag nie ’n enkele gedagte wat deur sy kop flits, wegsteek nie, en sy intelligensie moet effens, maar net éffens, minder as dié van die deursneeleser wees.
- Tweelinge, of dubbelgangers, mag in die verhaal gebruik word slegs indien die leser vooraf daarop voorberei is.
In die lig van bogenoemde “kliptafels” is Poppekas (genadiglik) allesbehalwe ’n fatsoenlike speurverhaal, omrede minstens die helfte van Knox se voorskrifte doelbewus daarin ondermyn word. Die bekoring van die roman lê juis in die nonkonformiteit daarvan – ’n bykans anargistiese hardegatterigheid en onwilligheid om enige toegewings aan lesers se tradisionele leesverwagtings te maak.
So word die “kunssinnige soesji-sjef” (31) Enomoto – wat laag buig en stralend van oor tot oor glimlag in ’n parodie van “kolonialistiese kruiperigheid” (het hy dalk te veel ou spaghetti Westerns gekyk waar “sardoniese, onderdanige Sjinese kokke ongesiens in die agtergrond verbyskuifel” (40)?) – een van die kleurvolste karakters in die roman en iemand wat ’n voedsame rol in Wiesa se lewe speel:
Hy is geen wyse, lakoniese Japannese ghoeroe wat my die weg gaan wys na zen soos die skreefoog gryskop in The Karate Kid nie. Maar ten minste is hy ’n sardoniese Oosterling met ’n talent vir soesji berei. En die Japannese frases wat hy opdis, klink soos haikoes. (46)
Benewens die onsigbare en oënskynlik onbereikbare kamers op vloer 77 van die Immedia-gebou (wat slegs deur ’n diskrete kas in die muur bereikbaar is), is hier ook ’n tweede “geheime kamer”, naamlik die ondergrondse vertrek waarin Wiesa by geleentheid in Troos se grotwoning skuil: “’n Versteekte trapdeur in die vloer van ’n gang skuif oop. Ons klim met kliptrappe af na onder. Die deur skuif geruisloos agter ons toe” (114). Later verkry Wiesa ook toegang tot ’n verskuilde kompartement in die vakansiehuis van oom Kallie en tant Ans.
Anders as in die ideale speurverhaal wat deur Knox voorgeskryf word, wemel dit in Poppekas van toevallighede en ongelukke. Ek haal ’n lukrake voorbeeld aan:
Net daar word ek weer gekonfronteer met die verstommende mag van toeval. In die gang haak een van die bande van my rugsak aan ’n koperknop in die muur vas. Ek gaan staan stil. Bekyk dit. Hoekom ’n deurknop in die middel van ’n baksteen? Ek sien geen skarnier of sleutelgat nie. Die knop laat hom ook nie draai nie. Dink lateraal, hoor ek Liam sê […]. Ek trek die knop. Niks. Ek druk dit. Niks. Terwyl dit nog steeds voel asof ek in ’n rekenaarspeletjie is, druk ek dit drie maal. Wat na baksteen gelyk het en eintlik ’n deurtjie is, spring oop … (228)
Voorts sal ’n mens dit beslis as ’n klap in die gesig beskou as iemand sou beweer dat Cadbury, wat Wiesa by geleentheid haar sidekick noem, slegs éffens dommer as die deursneeleser is (ten spyte daarvan dat hy toenemend verrassende dimensies in die roman begin vertoon) of dat daar voldoende voorbereiding was vir die feit dat Dieter Raath soos ’n tipe tegnologiese feniks uit die as (of is dit eerder die gesmelte drade?) van Harm Stander te voorskyn kom.
Om ’n roman te skryf waarin die konvensies van die tradisionele speurverhaal ontmasker en ondermyn word, is waarskynlik nie só moeilik nie. Om dié konvensies egter te bevraagteken (en soms selfs te verpulwer) in die vorm van ’n verhaal wat tegelykertyd ook ás speurverhaal oortuig en genot verskaf – soos in Poppekas wel die geval is – wil gedoen wees!
IV
In talle tradisionele speurverhale is taal(gebruik) weinig meer as ’n deursigtige (of dan ten minste onopsigtelike) medium aan die hand waarvan die snelopeenvolgende verhaalwendings en -onthullings gestalte kry. Deur haar speelse omgang met die taal, haar aanvoeling vir die ritme en klank van woorde en haar verrassende toonwisselings vestig Steinmair die leser se aandag in Poppekas juis op die uitdrukkingsmoontlikhede van taal. (Net jammer dat sy die woorde “lakonies” en “sardonies” so kwístig aanwend!)
Stukke soos die volgende wil ’n mens nie sommer onaangehaal laat wegkom nie:
Agter Mienkie se lessenaar sit nou ’n nuwe vrou en kougom kou. Oortyd, op ’n Saterdag. Mienkie se plakkaat wat agiteer teen die voorgestelde mediatribunaal en haar bonsai-treurwilger is weg. Só gou verander ’n landskap. (29)
Draai die voorarm en handpalm na vore, laat die aanval oor jou kop rol. Soos water van ’n eend se rug. Oor en oor blok ek alles en almal van my kop af. Immedia, die gryspak-mans wat Harm se liggaam weggedra het, die posmeester, al die onderduimse komplotsmeërs, gesiglose vyande, manipuleerders, groot kokkedore in toringkantore. Ivoortorings, kantoorblokke. Blok, draai, rol, blok, deflekteer.” (44-5)
Waar sou Mienkie nou wees? Haar Facebook-profiel is skoonveld. Soveel verliese in my jong lewe. (94)
Steinmair het ook ’n besondere slag met karakteropenbarende dialoog wat sy met groot woordekonomie én trefkrag inspan. Uit Liam en Mienkie se monde hoef die leser byvoorbeeld nie veel meer as die volgende te hoor ten einde ’n duidelike indruk van hulle te vorm nie:
Liam lig ’n goue wenkbrou: “Jy’s ’n treinramp, Wies. Get a grip. Lipstiffie, meisie. Praat met my, sustertjie.” (16)
“Waar het hy studeer?” wil ek weet.
“Hmmmm, iemand het ’n crush,” merk [Mienkie] op en kliek haar akrielnaels teen mekaar. Sy blaai om: “Pole, kan jy glo. Afrikaans en joernalistiek. Magna cum laude. Daar is sowaar niks anders nie. Dit was my voorganger, Driekie. Lazy bitch, o my word, sy het lyf weggesteek.” (19-20)
Een van die interessante aspekte van die roman is dat daar uit die staanspoor (reeds op bl 7) juis op taalvlak talle leidrade ten opsigte van die verrassende verhaalwendings en uiteindelike ontknoping verstrek word.
V
Ofskoon Poppekas in die eerste plek ’n intrige-gedrewe verhaal is wat die leser vasgenael hou, word daar ook – veral aan die hand van die sardoniese taalgebruik – kommentaar gelewer op die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing. Skerp kritiek word byvoorbeeld uitgespreek teen die mag en magsbeheptheid van groot maatskappye (“dissipels van die groot geldgod” (89)), die anonimiteit van die individuele werker, en die dwang tot konformiteit. Intellektuele verarming, en veral die penarie waarin die gedrukte media tans verkeer, word aan die hand van metaforiese taalgebruik betreur:
Ons is knaagdiere op ’n kantelende skip: koerante is wêreldwyd in die knyp. Mene, Mene, Tekel: die skrif is aan die muur. Dis net ’n kwessie van tyd. Ons skuif maar stoele rond op die dek van die Titanic. Ons maak asof sake voortgaan soos vroeër. Die nuus het lankal uitgebreek, soos ’n wegholperd, dit het reeds oor die wêreldwye web galop, ons sal dit nooit weer op stal kry nie. Al wat ons kan doen, is om waarde toe te voeg, ’n nuwe hoek te soek, sensasionele kommentaar uit die snikkende monde van naasbestaandes te trek, sappige besonderhede oor vorige misdade op te rakel. Soos die poniepers. Alles om die kwynende leserstal met aandaggebreksindroom vir ’n oomblik te interesseer. (24-5)
Aan die hand van die onverwagse jukstaposisie tussen sogenaamde “vlees-en-bloed-karakters” (wat al hoe meer geoutomatiseerd uitgebeeld word³) en “outomate” (wat op verrassende wyse met die “vertroude, skoon geur van grond, klippe en water” (66) in verband gebring word) skyn die skrywer die soeklig op die kunsmatige aard van moderne stedelinge se lewens; die toenemende outomatisering van die beroepswêreld en die werkende individu; die afstomping van die mens binne ’n burokratiese bestel en die gevolglike verdringing van outentisiteit en kreatiwiteit. ’n Dringende “verlange na ’n eenvoudige lewe” (80) staan deurgaans sentraal.
VI
Op die eerste bladsy van haar relaas skryf Wiesa: “Ek is ’n sub in die nagkantoor van ’n dagblad. Ek is nie ’n skrywer nie. Ek kan nie versin nie. Ek skryf om by die waarheid uit te kom. Al wat ek ken, is redigering. En feite” (7). Tog heroorweeg sy dié stelling wanneer sy later opmerk:
Ek dink oor die dokument wat ek besig is om vir jou [die leser] te skryf. Hoe ek dit saaklik en bondig wou hou. Hoe dit handuit geruk het, ’n wil en identiteit van sy eie ontwikkel het en onder my hand gegroei het tot ’n amper-misdaadroman, al is elke woord die waarheid. Miskien is ek nie heeltemal onkreatief nie. (97-8)
Daar word dus in Poppekas ook oor die skryfhandeling (en kreatiewe proses) besin. Op ironiese wyse word die skryfproses juis met die ontwerp en tot-lewe-wek van outomate (robotte) in verband gebring. In een van sy internetboodskappe aan Wiesa skryf Dieter Raath byvoorbeeld:
waarom is alles altyd die ouer/maker se skuld? is jy kreatief? dan sal jy weet hoe dit gebeur, asof meganies, dat jou skepsel sy eie kop groei en loop waar hy wil. sodat jy maar net gefassineerd kan toekyk. dis die beauty van die kreatiewe proses. ek pleit onskuldig, u edelagbare. (97)
Steinmair trap dus nie in die strik om alles wat rustig en kleindorps is, as heilsaam uit te beeld en afwysend te staan teenoor alles wat tegnologies verwikkeld/gevorderd is nie. Oom Kallie en tant Ans is byvoorbeeld allesbehalwe die sout van die aarde óf ’n toonbeeld van goedheid en gemoedelikheid soos wat Wiesa aanvanklik vermoed. Daarteenoor stel gevorderde internet- en klanktegnologie Wiesa in staat om deurgaans met haar hartmense kontak te behou en selfs ook om uitdagings die hoof te bied en raaisels op te los. Wanneer ’n vriendelike outjie van die polisie se speurtak oplaas die “harmful files” vir haar op ’n los hardeskyf kopieer, dink sy:
Die mooiste bly Harm se bepeinsings wat hy op die Montblanc-pen gestoor het:
is dit moontlik om elektronies kuns te skep? ’n moederbord en miljoene opdragstringe is tog lukraak genoeg om ’n deur oop te maak vir die toevallige, die muse, die asemhaling van die kosmos. as ek kon wees wie ek wou, sou ek die verkeer laat stilstaan, iemand se eierstokke laat knop, die wysers van die horlosie viervoet laat vassteek. as ek kon doen wat ek wou, sou ek mense verwondering wou laat voel. (249)
VII
Die gebeure in
Poppekas is enersyds heerlik vergesog (gaan lees maar weer die romanontknoping en veral hoe daai uitheemse, bloedstollende kiai deur die Voortrekkermonument weergalm), maar andersyds ook skrikwekkend herkenbaar en lewensgetrou. Dit is lekkerlit-fiksie met pít!
Eindnotas
- Boonop is nie een van die hoofkarakters in die roman tieners nie. Wiesa (Louisa), Liam én Harm is reeds in hul twintigs.
- In sy artikel getiteld “Die problematisering van die etiese: Deon Meyer se Infanta as hard-boiled misdaadroman” merk Andries Wessels (2007:104-18) op dat veral twee strominge binne die speurverhaalgenre onderskei kan word, naamlik (i) ’n Engelse tradisie van die sogenaamde genteel (“deftige”) speurverhale, wat ’n hoogtepunt – ten minste ten opsigte van gewildheid – in die werk van Agatha Christie gehad het; en (ii) die Amerikaanse tradisie van die sogenaamde hard-boiled (“hardebaard”) detective fiction, soos uiteengesit deur (veral) Bill Pronzini en Jack Adrian.
- “Vibrasies perfek gesinchroniseer met die gesuis van my eie selle” (15); “Ek werk outomaties, soos ’n robot” (30); “Ek voel vandag anders bedraad” (36); “Asof outomaties” (83); “Ek het ’n rekenaarvirus opgedoen” (90); Ek het dit amper outomaties, met ’n silwer tong, aan Coenraad oorgedra” (177); “Hulle gierigheid het lyf gekry en outonoom begin optree” (184); “Ek en Liam is nie aanmekaargesit vir causes nie” (187); “Ek is ’n radio wat meer as een stasie gelyktydig opvang, vol statika. Feite en emosies en half-geprosesseerde gevolgtrekkings swem deur my kop” (208); “Ons smag na verbinding, toegang, inligting. Seine, beelde, geraas” (216).
- Literatore sou die woord metatekstueel gebruik.
Bibliografie
James, PD. 2009. Talking about Detective Fiction. Londen: Faber & Faber.
Knox, RA. (samest). 1929. Best Detective Stories of 1928-29.
Steinmair, D. 2010. Marike se laaste dans. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van der Merwe, E. 2012. Ontmoet die onstuitbare Wiesa. Huisgenoot Boeke, 3 Mei, bl 82.
Visser, M. 2012. Boeiende toevoeging tot Afrikaanse tienerfiksie. Rapport Boeke, 6 Mei, bl 6.
Wessels, A. 2007. Die problematisering van die etiese: Deon Meyer se Infanta as hard-boiled misdaadroman. Tydskrif vir Letterkunde, 44(2):104-18.