SêNet-briewe | Letters

 
Liewerste Johannes

Liewersters Johannes

Dis 10 jaar wat jy weg is en ek is soms nog bietjie kwaad vir jou.  Miskien het jy my vergeet, maar ek onthou jóú.

Dit was ongeveer ’n maand voor jou dood – onthou jy?  Ons was by ’n show by Dorpstraat Teater, nog in die nice geboutjie in die middel van Stellenbosch. Ek kan nie meer onthou wie se show dit was nie. Dit maak elk geval nie saak nie, want die ná-show ontmoeting met jou het dit alte gevalte oortref.

Na die show het ek uitgestap en toe sit jy en ’n paar ander kunstenaars en eet om die tafel. Daai tafeltjies daar aan die voorkant – die ou mense sou dit seker die voorkamer genoem het. Ek het vasgesteek want dit was die eerste keer dat ek jou in lewende lywe sien – die ou wie se stem só gereeld in my TV-kamer opklink. Wanneer ek stryk, sing jy “sit dit af, sit dit af” sommer twee of drie keer na mekaar want ek kan nie wág om die verpestelike strykyster af te sit nie. En, ai Johannes, terwyl ek die netjiese klere stryk, sing jy “Gee, gee, gee – jou sente, jou drome, jou klere vol gate …” en dan is ek weer só dankbaar vir die klere sonder gate wat ek stryk. Wanneer ons braai moet die bure teen wil en dank – sommige nogals Ingelse bure, Johannes - maar saam luister na jou songs. Ons ry ’n BMW was eintlik só snaaks – almal in ons familie wat een kon bekostig het ’n BMW gery! En dan spot ons met ons Engelse skoonsussie wat suurlemoen-tee drink en hulle ry ’n BMW!

Nou, 10 jaar later, wonder ek watter songs sou jy vir die hierdie Suid-Afrika skryf? Of sou die reëltjies – “ons survive met ’n helse lot pyn in hierdie land, ja – Kom ons drink op die een wat sy drome oorleef …” vandag nóg meer betekenis gehad het in hierdie mooie, deurmekaar land van ons?

Maar laat ek terugkom na die aand in die Dorpstraat Teater. Toe ek vasgesteek en net na jou staan en staar het. Jy het opgehou eet, en met die - nou bekende skamerige glimlaggie – opgekyk en ek, wat ’n hele paar jaar ouer is as jy, se knieë het lam geword, my spoeg het so taai geword dat ek gesluk en gesluk het voor ek ’n woord kon uitkry. Ek het verskoning gevra dat ek jou ete onderbreek, maar gentleman soos jy altyd was, het jy so ’n argelose gebaartjie met jou hand gemaak en gesê: “Dit maak nie saak nie.”

Onthou jy nou? Ek het die aand vir jou gevra om ’n show te hou met jou bekende songs en gróót asseblief ’n paar liedjies van Koos du Plessis in te gooi – verál “Vermiste mense”. Jy het so half verbaas gelyk dat iemand só graag ’n show van jou wou sien.  Hoekom? Jy was een van ons briljantste liedjieskrywers! En toe belowe jy jy sal so ’n show hou. Jy’t belówe, Johannes!

Dalk het ek (en moontlik jy) toe al diep binne geweet “… In watter mate, ek jou (sal) mis.”

Ek is ook nie rêrig meer kwaad vir jou nie, Johannes – eintlik net só hartseer.  Ek het darem jou CD’s en elke keer wat ek jou Koos du Plessis-CD speel, onthou ek jy het belówe. En ek glo jy het dit bedoel. En nou wil ek maar net sê: Rus sag, my favourite sanger! Mag jy vir ewig in ons harte leef.

Groetnis van dié kant na die ander kant.

Tina


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address