Liefde, Anna en die Suid-Afrikaanse teatergeskiedenis

  • 0
Anna Neethling-Pohl

Liefde, Anna is een van twee stukke op die feesnetwerk (die ander een is Kind Hamlet) wat sterk steun op die teatergeskiedenis – en spesifiek die Afrikaanse teatergeskiedenis. Waarom juis nou ’n toneelstuk aanpak oor die vervloë gloriedae van die Afrikaanse teater?

Daar lê ’n wêreld van dramatiese karakters in ons verlede wat wag om ontgin te word en ontruk te word uit die vergetelheid. Ons is baie dank aan Liesl Marx verskuldig dat sy as jongeling in die vermaaklikheidsbedryf die nuuskierigheid en dryfkrag gehad het om hierdie werk oor Anna Neethling-Pohl se werk en lewe na te vors. Eers wanneer jy met die magdom inligting voor jou sit, besef ’n mens die dramatiese potensiaal van toneelkarakters uit ons verlede. Ek wil hoop dat hierdie net die begin is van oopkrap en met liefde bekend stel aan hulle wat nooit hierdie karakters geken het nie en ’n onthou saam met hulle wat hulle en hulle werk wel geken het.

Wanneer jy so nou met die teatergeskiedenis omgaan, ’n geskiedenis waarvan jy self deel is, hoe voel jy oor die huidige stand van teater in Suid-Afrika? Kyk jy met nostalgie of bitterheid terug na die dae van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) en die streeksrade?

Daar is ’n onbetwisbare hartseer dat die teater weer eens die afskeepkind van die kunste in ons land is en dit terwyl dit by uitstek die potensiaal het om die mense van die land nader aan mekaar te bring. Dat die toneelfeeste ten spyte hiervan floreer en ’n uitkoms bied vir baie jong toneelspelers, is eintlik weer eens ’n wonderwerk. Jong spelers wat hulle eie werk genereer en nie wag dat die regering of gevestigde sakeondernemings hulle moet help nie, is die nuwe krag in teater wat sy voortbestaan sal verseker. Ek is baie trots en baie dankbaar teenoor hulle. Wat die verlede betref, is ek dankbaar en verlang na die dae toe ons, met die uitdagings van die vorige bedeling, die kans gegun was om te doen wat ons wou doen: TONEELSPEEL!

Liefde, Anna is dan ook ’n dokumentasie van ’n werklike mens. Wat sou Anna Neethling-Pohl gedink het van die stuk?

Anna was ’n toegewyde en wreed eerlike teatermens. Toe ek destyds die regie behartig het van Strindberg se Die Vader – sy het die ou bediende gespeel - het sy vir my die eerste dag gesê: “Meneer Van Niekerk, ek hoop jy het jou huiswerk gedoen.” En dwarsdeur die repetisietyd was ek heeltyd bewus van hierdie vrou wat alles met arendsoë dophou. Maar dan die bevrediging, en verligting, as jy op openingsaand ’n kaartjie kry: “Wel gedaan!” Ek wil glo dis wat sy oor Anna ook sou sê, want ons het alles met eerlike liefde gedoen – en ons het “ons huiswerk gedoen”.

Anna Neethling-Pohl – ’n teaterlegende – word in Liefde, Anna gespeel deur iemand wat self ’n teaterikoon is: Sandra Prinsloo. Hoe het Sandra se teenwoordigheid die stuk beïnvloed? Anders gestel, hoeveel van Anna is in Sandra en hoeveel van Sandra in Anna?

Daar is ’n paar van Anna se oudstudente wat ook die rol sou kon speel, maar Sandra het dieselfde analitiese benadering teenoor haar werk as wat Anna Pohl gehad het en ’n lewensryke innerlike krag wat van haar vertolking ’n kragtoer gemaak het. So, ja, daar is baie van Sandra as leerling en objektiewe waarnemer in haar vertolking wat dan vloei uit die sterk invloed en waardes wat sy van Anna geërf het. ’n Pragtige wisselwerking tussen student en leermeester.

By die vertoning wat ek by Aardklop bygewoon het (03/10/12) het Liefde, Anna ’n staande ovasie ontvang. Hoe interpreteer jy hierdie ontvangs?

Die ouer geslag in die gehoor het beslis bo en behalwe uit waardering vir die opvoering ook hul goedkeuring met applous gegee vir wat ons van die teaterlegende Anna Neethling-Pohl aan hulle voorgehou het. Die jonger garde, dink ek, het met waardering kennis geneem van ’n lewe in die teater wat almal, in die teater en daarbuite, kan nastreef. Ek glo daar was ook waardering vir ’n kompakte opvoering met briljante spel en min onnodige retoriek.

Klik hier om 'n Aardklop-resensie van Liefde, Anna op LitNet te lees.

Liefde, Anna

2 Maart 14:30 | 3 Maart 20:30 |
4 Maart 20:30 | HS Stellenbosch | 80 | R100

Klik hier om jou kaartjies by Computicket te koop.

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top