Lendetaal: Normaal of queer?

  • 2

Titel: Lendetaal: Homoërotiek in die kunste en in die letterkunde
Skrywer: Hennie Aucamp
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869194628
Prys: R250.95

Klik hier om Lendetaal te koop by Kalahari.com.

Die hedendaagse Amerikaanse kultureel-politiese diskoers oor homoseksualiteit is, weens die skaal daarvan en die aard van die Amerikaanse politieke bestel, dalk die mees ontwikkelde en verteenwoordigende sosiale gesprek van hierdie aard. In daardie debat kan daar (by wyse van oorvereenvoudiging) twee hoofstrome onderskei word.

Enersyds is daar die projek, veral oor die afgelope dertig jaar, van diegene wat ’n “normalisering” wil bewerk. Gelykheid in hierdie benadering behels ’n gemeenskap waarin gay mans en vroue die reg het, onder andere, om in die huwelik te tree en hul werks-, sosiale, gesins- en liefdeslewens op dieselfde wyse te bedryf as heteroseksuele burgers binne ’n markgedrewe liberale demokrasie. Hierdie soort projek word meestal deur konvensionele politieke kanale bedryf (insluitende ordelike protes), het konkrete doelwitte en is redelik ver gevorderd. In die 21ste-eeuse VSA sou ’n mens byvoorbeeld elke Junie skares gay Amerikaners kon raakloop in Disney se tema-parke op “Gay Day” – doodgewone mans of vrouens uit die Midweste in hul middeljare wat (boepense en al) loop en hande vashou. Konserwatiewe maatskappye soos Disney en ander maak jare lank reeds voorsiening vir werknemers se selfde-geslag-geselle in hul diensvoorwaardes. Groot Amerikaanse regsfirmas teiken in hul werwing spesifiek gay regspraktisyns: diversiteit verleen nou sosiale prestige. Die era waarin homoseksualiteit as ’n geestesafwyking geklassifiseer was, en toe aversie- of elektroskok-terapie oorweeg sou word om gay mans mee te “behandel”, lyk nou ver in die verskiet. Dit beteken natuurlik nie dat die hardnekkige religieus-konserwatiewe weerstand teen “normalisering” in groot dele van die VSA weggewens kan word of dat die “normaliseringsprojek” as afgehandel beskou kan word nie.

Ook op sosiale vlak is homoseksualiteit ál minder belangrik as identiteitsmerker in Westerse metropolitaanse kultuur. In stede soos New York en San Francisco (soos ook in Europese en Australiese wêreldstede) is gay so alledaags dat min wenkbroue gelig word. Om gay te wees is nie meer ’n bron van skaamte of ’n sosiale remskoen nie – en dit maak jou ook nie juis meer spesiaal nie. Die era waartydens daar innoverend gewerk moes word met subtiele kodes in ’n Westerse gay stedelike subkultuur, is grootliks verby. Hierdie kodes het verdwyn of is omskep tot hoofstroomsensibiliteite. Daar word ook wyd erken dat, veral in die ontwikkeling van huidige kulturele benaderings tot die estetika, nie net Joodse nie, maar ook gay-sensibiliteite ’n fundamentele rol gespeel het regdeur die 20ste eeu.

’n Ander denkstroom behels die meer komplekse en radikale strategieë van die queer-projek, mees kenbaar in die akademiese en kunswêreld. Hier gaan dit oor weerstand teen assimilasie, oor die uitbouing van die queer-identiteit tot ’n ideologie van weerstand wat verder strek as seksuele oriëntasie. Assimilasie in ’n bestaande sosiale en politieke stelsel word geweier. Dit behels ’n viering van ondermyning en ’n ontkragting van tradisionele sienings van die liggaam en seksualiteit. Queering ondermyn die hegemonie van die markstelsel en die illusie van demokrasie. Die metodologieë van ondergrawing behels ’n radikale estetika en ’n weiering van beheer, ’n self-inenting teen die virus van die verbruikerskultuur. Die instrumente van weerstand is veral seksualiteit en die oorskryding van tradisionele identiteitskategorieë. Politieke normaliseringstrategieë binne bestaande gemeenskapstrukture word verwerp as siniese koöptering. Hoofstroomkultuur – ook die clichés van die (Amerikaanse) gay-hoofstroom – word afgewys (wie het nou musiekblyspele, Barbara Streisand of The Wizard of Oz nodig?). Daar is ’n fokus op oorspronklikheid in selfuitdrukking, op onbelemmerde liggaamlikheid en kreatiwiteit.

Suid-Afrika het natuurlik sy eie kompleksiteite wat die geskiedenis van gay-politiek en huidige sosiale houdinge jeens homoseksualiteit behels. Ofskoon daar grondwetlik waardevolle beskerming vir die regte van gay mense bestaan, is dit nie teweeggebring deur ’n geleidelike versagting van sosiale konsensuswaardes nie. Gay-bevryding in Suid-Afrika is in ’n mate afgedwing op ’n samelewing wat dikwels brutale en oningeligte waardes gehandhaaf het wat homoseksualiteit betref – ’n gemeenskap waarin sodomie selfs nog ’n misdaad was. Daardie waardes is maar stadig aan die verander. Verdraagsaamheid teenoor homoseksualiteit wissel ook steeds aansienlik tussen gemeenskappe in ’n verbrokkelde demografie. In sentraal-Kaapstad is ’n gay-tekstuur dalk de rigueur, maar in townships word gay vroue aan “korrektiewe verkragting” onderwerp.

Hoe lees ’n mens, binne hierdie konteks van hedendaagse diskoerse rondom homoseksualiteit, Hennie Aucamp se bundel essays – in Afrikaans – oor homoërotiek in die internasionale literatuur en kunste? En ’n mens kan ook vra, in die lig van die uitgebreide bestaande literatuur oor hierdie onderwerp (veral in die Anglo-Amerikaanse akademiese wêreld): Waarom is so ’n boek nodig in Afrikaans? En hoe is dit relevant teen die agtergrond van die veranderende internasionale diskoers en die Suid-Afrikaanse sosiale realiteite? Is dit nog sinvol om deur hierdie identiteitsbril na tekste te kyk? Het dit bloot historiese betekenis?

Dit is nodig om hierdie vrae in gedagte te hou terwyl mens Lendetaal van naderby beskou. Die boek bevat essays oor kuns, fotografie, letterkunde, gay-bloemlesings en egodokumente. In die werke oor kuns is dit veral die essay oor foto’s wat ’n mens bybly – dalk die beste een in die bundel. Die bekende fotograwe wat hoogtepunte van queer-tekstuur verteenwoordig, soos Cindy Sherman en Nan Goldin, maak steeds die grootste impak. Vir my was Joel-Peter Witkin, wat vir Hieronymus Bosch sou kon skrikmaak, ’n opwindende ontdekking tussen die meer bekende fotograwe. Dan is daar die verwagte verwysings na Von Gloeden en Mapplethorpe. Selfs Muybridge en Leni Riefenstahl kom ter sprake. Die semiporno-kitsch van Warhol en Bruce la Bruce kon dalk ook gefigureer het (hoewel hulle natuurlik hoofsaaklik filmmakers is). Daar word voorts krities geskryf oor Mad about the Boy– ’n redelik onnadenkende boek van die toenemend selfkarikaturiserende Germaine Greer. Ook David Hockney en andere se erotiese lyntekeninge kom aan bod. Koste-oorweginge het klaarblyklik verhoed dat foto’s en prente in die boek afgedruk kon word. Die leser moet maar met een hand op die toetsbord sit om beelde op Google op te soek soos hy lees. Die verkwiklike en toepaslike aanhalings van verse van Eybers, Opperman en Stephan Bouwer, maar veral ook Cussons, is een van die lieflikste elemente van die essays oor foto’s en kuns.

Dan volg essays oor ’n wye verskeidenheid skrywers en boeke. Daar is essays oor boeke wat prematuur, met skandalige onverbloemdheid, ingedruis het teen die knellende sosiale konvensies van hul tyd. Daar is boeke en stories wat hul gay-kodes slim en subtiel verhul het, sodat net ingewydes die subteks kon lees. Soms is daar verhale wat gedra het aan ’n subteks waarvan die skrywer dalk nie bewus was nie. Die uiteenlopende skrywers wat ter sprake kom, is byvoorbeeld Adolfo Caminha, Stephen Crane, Tsjechof, Will Self, John Henry MacKay, Stephen Spender, Colm Tóibín, EM Forster, HE Bates en (noodwendigerwys) Edmund White. Daar is ’n mooi essay oor homososialiteit en -erotiek in cowboy-literatuur.

Aucamp is deurgaans bewus van die prekêre aard van die naspeuring van gay-kodes, veral in historiese tekste. Die risiko’s verbonde aan die utilitêre benaderings van (ook queer) teoretici wat ’n teks gebruik om hul vooraf-vasgestelde gevolgtrekkings te demonstreer, is bekend. Aucamp is egter nugter daaroor dat die drang om die vreugde van herkenning te ervaar soms vergesogte interpretasies kan ingee. Hy lees, soos mens van so ’n deurwinterde leser kan verwag, fyn en vermy clichés. Hy eien nie lukraak tekste toe vir die dekoderende gay leser nie. Hy is weliswaar nie heeltemal immuun teen clichés oor gay-identiteit nie – sien die rare voorbeeld op bl 89, waar ’n stukkie onverkwiklike pop-psigologie opduik oor die verhouding van oorbeskerming en spanning rondom fisieke aanraking wat kwansuis universeel sou geld tussen “’n gay” en sy moeder.

Aucamp se bundel bevat ook essays oor gay-bloemlesings. Hy stel self verhale voor wat hy sou uitsoek vir ’n internasionale bloemlesing van gay-verhale. Aucamp se denkbeeldige bloemlesing getuig van ’n geraffineerde literêre smaak, oorspronklikheid, durf en ’n wye kennis van die kortkuns. Dit spreek dalk ook van die onderliggende frustrasie wat Aucamp ondervind in sy vasgevangenheid in ’n klein streeksliteratuur – so ’n samestellerstaak sal hom seker nie beskore wees nie.

In die afdeling oor egodokumente is dit veral die roerende essay oor Ned Rorem se dagboeke met hul optekening van verlies, asook die stuk oor Lucas Malan se afsterwe, wat ’n mens tref.

Miskien is dit ’n tekortkoming van die boek dat dit nie (byvoorbeeld met behulp van ’n voorwoord) duidelik gesitueer is ten opsigte van die snel veranderende sosiale konteks waarbinne dit opereer, soos beskryf in die inleidingsparagrawe hier bo, nie. Soms voel dit asof homoseksuele identiteit in die essays as ’n histories vaste konsep en kategorie beskou word, en nie gekonstrueer word deur sosiale konteks nie. Maar hiervoor vergoed die manjifiek beleë styl en wye belesenheid van ’n meester-essayskrywer. Hierdie is essays wat die London Review of Books of New York Review of Books waardig sou gewees het. Aucamp skryf deurwinterd, maar erudisie word soos ’n ligte kleed gedra. Die styl is flink sowel as gul. Clipped. ’n Witty, beknopte essay-styl vier hoogty. Die boek vermaak én dit voed op. Dit fokus nie op volledigheid of sistematiek nie. Laasgenoemde benadering sou teenstrydig wees met die viering (veral in die essay oor foto’s) van die estetiese etos van vlugtigheid, van opgang in die oomblik. Dit gaan in hierdie essays dikwels oor die vinnige blik, die onverwagse roering van begeerte, die verrassing van herkenning, die flits van ontdekking, die vergetelheid van die ekstatiese oomblik.

Een van die beste aspekte van Lendetaal is die ontdekking van obskure dinge wat ’n aanknopingspunt vir eie speurwerk bied. ’n Mens dink lukraak aan die verwysing, in die opstel “Al dieper in die dikkedensie: ’n vergelyking”, na die 1915-film van The picture of Dorian Gray waarin ’n aktrise, Varvara Yanova, die rol van Dorian gespeel het, of die verrassende stuk getiteld “Waardige toevoeging tot die verliesliteratuur” oor Ned Rorem se dagboeke.

Om tekste, veral historiese tekste, deur ’n lens van seksuele identiteit en gay-erotiek te lees was tydens ’n bepaalde era krities nodig, verrykend en bevrydend. Ganse verlore geskiedenisse is so herwin, hele nuwe maniere van dink en kyk is op hierdie manier oopgemaak. ’n Mens wonder wel oor die graad waartoe so ’n leesbenadering uiteindelik, wanneer dit ’n era van marginalisering van gay mense oorleef, afwaterend kan word. Daar is immers ’n groot en ryk ideewêreld daar buite.

Is ’n post-gay- (kom ons noem dit normale) gemeenskap ’n fantasie? Sal daar ooit ’n outentieke en ideale samelewing kan bestaan waarin identiteit in al sy fyner skakerings en kompleksiteite volle bestaansruimte kan vind, waar die enkele eienskap van seksuele oriëntasie nie meer saamval met wié iemand is nie? Of is dit juis die knelling van sosiale ruimte wat die vlamme van gemarginaliseerde kreatiwiteit stook? Sal die “third stream of consciousness” (soos HE Bates ’n ondefinieerbare stel sensibiliteite kategoriseer) altyd in voortdurend muterende vorm nodig wees om voortdurend muterende vorme van hegemonie teë te werk? Overgeset synde: Wil enigiemand dan nou normaal wees?

Aucamp se bundel essays stel hierdie vrae nie uitdruklik nie, maar word daardeur omring van alle kante. By uitstek bied dit egter aan die leser ’n gul blik op die gedistilleerde literêre en menslike insigte wat ’n fyn leser en skepper van die kortkuns oor ’n leeftyd versamel het – hier spesifiek deur die lens van homoërotiek. In hierdie opsig is dit ’n kosbare versameling. Daar is niks soortgelyks in Afrikaans nie en, daar sal, waag ek om te voorspel, nooit weer wees nie.

 

  • 2

Kommentaar

  • Cerneels Coetzee

    "Aucamp se bundel bevat ook essays oor gay-bloemlesings. Hy stel self verhale voor wat hy sou uitsoek vir ’n internasionale bloemlesing van gay-verhale."

    Hoekom neem iemand (Aucamp?) nie die leiding en stel 'n bloemlesing saam van Suid-Afrikaanse gay verhale, deur Afrikaanse skrywers, nie?

  • Johann de Lange

    Cerneels, Hennie het dit reeds gedoen met WISSELSTROOM in 1990 & ek het dit opgevolg in 1997 met SOORT SOEK SOORT. Wat miskien nodig is, is 'n nuwe bundel wat die periode 1998-2012 dek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top