Lank lewe die Arwantyne!: Elzette Steenkamp gesels met Eben van Renen oor Afrikaanse wetenskapfiksie

  • 0
LitNet het behoorlik wetenskapfiksie-koors! Elzette Steenkamp het met die Afrikaanse WF-skrywer Eben van Renen gesels oor sy nuwe boek, die stand van wetenskapfiksie en fantasie in Afrikaans en die gebruik van hoofletters.

Jy is die skrywer van die Afrikaanse WF-verhaal Arwantië 2953. Dit klink vir my na lekker “harde” WF, kompleet met intergalaktiese reis, gevorderde tegnologie en buiteruimtelike wesens. Dit is nie iets wat jy sommer op die rak vir Afrikaanse letterkunde in Exclusive Books sien nie. Hoekom het jy besluit om ’n wetenskapfiksie-verhaal juis in Afrikaans te skryf?

Ek wou iets skep wat nie terugstaan vir Engelse sci-fi nie. Dit moes nie Oude-Doos-Afrikaanse-Wetenskapfiksie wees nie, maar District 9-Skop-Jou-Gat-Wetenskapfiksie (jammer oor die hoofletters, Jaco Jacobs!). En boonop moes dit nie soos ’n vertaalde boek lees nie, maar uniek Afrikaans wees, met verskeie kulturele verwysings. Die meeste Afrikaanse wetenskapfiksie boeke is óf oude doos óf in Brabbelmieks geskryf. Al twee tipes boeke is rede vir ’n goed-ontwikkelde minderwaardigheidskompleks onder jong Afrikaanse lesers.

Waar kan lesers jou boek in die hande kry?

Op die oomblik is ons in die beginstadium van die boek se bemarking. Die groot uitgewers trippel senuweeagtig rond, omdat hulle nie baie vertroue in die genre het nie. Thompson Uitgewers is ’n klein uitgewery wat op die oomblik die boek druk, maar as iemand solank ’n harde kopie van die boek wil aanskaf, kan hulle my direk kontak by ebenvanr@yahoo.ca of hulle kan die e-boek by http://www.smashwords.com/books/view/100173 goedkoop aflaai. Dit is ook beskikbaar by Amazon.com.

Arwantië 2953 deur Eben van Renen

Ek het as kind Jan Rabie se Die Groen Planeet gelees en hierdie eerste ontmoeting met WF het my gelei tot Asimov, Arthur C Clarke en Terry Pratchett. Hierdie Amerikaanse en Britse skrywers is natuurlik wonderlik, maar Rabie se boek het my veral bygebly. Hoekom kry ons nie meer Afrikaanse WF-verhale soos die van Jan Rabie en Fritz Deelman s’n nie? Wat gaan aan?

Fritz Deelman is die kroonprins van AWF! Daar was ’n tyd toe ons nog gedroom het in Afrikaans. Ons drome word nou geproduseer, gebottel en ingevoer vanuit Kalifornië. Ek verwys nou spesifiek na die jonger generasie. Hulle vereenselwig WF met Engels, asof almal in die toekoms net Engels gaan praat. (Okay, dude, like ... my point is, just like maybe is die grootste taal eendag ... Mandarin, right?) Verder dink ek dat uitgewers na AWF kyk as ’n niewinsgewende nismark. Daar word nie genoeg geld belê om die genre suksesvol te bemark nie. Ek glo vas dat selfs die Harry Potter-manuskrip deur die grootste Afrikaanse uitgewerye vandag afgekeur sou geword het. (As Afrikaanse wetenskapfiksie besig is om te sterf, was Afrikaanse fantasie nooit eens gebore nie.) Ons sit met ’n groep lesers wat nie vertroue in die genre het nie – en boonop min lees! Ons moet die vertroue terugwen. ’n Nuwe Fritz Deelman – donkerder en gevaarliker – is miskien net die deurbraak wat ons soek. Amper soos wat met Batman gebeur het met die nuwe Dark Knight-trilogie.

Hierdie is ’n vraag wat jy al elders beantwoord het, maar hoekom is wetenskapfiksie en fantasie so belangrik vir Afrikaans?

Afrikaanse mense moet die geleentheid hê om te droom in hulle eie taal, om hierdie wêreld heeltemal te ontvlug op die enorme vlerke van drake, of teen die spoed van lig. Ons kan nie die taal aan die lewe hou alleenlik met hoge Silberstein-drome nie. Ons kort ook skop-skiet-en-donder-die-robot/draak-drome. Wat sê dit vir ons as ons lesers net ’n Engelse toekoms kan voorsien? Ons is so trots op ons poësie en prosa (pyn, drama en lyding kan ons blykbaar maklik in Afrikaans verbeel), maar ons verloor duisende lesers elke jaar aan Engelse wetenskapfiksie en fantasie. Hoekom? Wel, Engelse sci-fi het Hollywood as bemarkingsagent! Afrikaanse wetenskapfiksie het ... ’n minderwaardigheidskompleks. Ons lesers kyk bedroef na die piepklein, verouderde Afrikaanse WF-boeke en stap dan oor na die Engelse rakke. (Terloops: Wat doen dít aan ’n mens se identiteit?) G’n wonder die meeste mense kan nie meer drie sinne in Afrikaans voltooi nie. Hulle loop deur die lewe met hul gekrenkte taal-ego’s soos wannabenglish zombies. Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie is twee deure wat lesers kan lok en behou, sodat hulle later ook die res van ons taal se literatuurskatte kan ontgin. Ek wil selfs hoër as dit mik. Ek wil Engelse lesers oorbring na Afrikaans boeke toe.

Die eerste inskrywings vir LitNet Akademies Kuberklas se wetenskapfiksie-skryfkompetisie is reeds geplaas en ek is baie beïndruk met die gehalte van die stories. Dit is duidelik dat die jongklomp beslis belangstel in WF (in Afrikaans!) en met baie goeie en kreatiewe idees vorendag kan kom. Wat dink jy van die inskrywings?

Ek was ook verras. Ek het veral gehou van die storie oor die kloon (Trudie Coetzee). Dit is donker (en ek hou van die donker). Ek glo die tyd is ryp vir ’n herlewing in Afrikaanse WF en fantasie. Hoe meer mense skryf, hoe groter word die moontlikheid dat ons die Afrikaanse musiek- en filmbedrywe se suksesse sal kan naboots. Die talent is daar, maar ons het ’n groot veldtog nodig. Mense moet oortuig word dat ons gat kan skop in Afrikaans, in parallelle wêrelde asook tot doer in die toekoms. Ek wil graag AWF- en AF-plakkate en simposiums in elke biblioteek en skool in Suid-Afrika sien.

Hoe lyk die moontlikhede vir jong skrywers wat graag WF-stories wil skryf en publiseer? Is daar enigsins ’n mark hiervoor in Suid-Afrika en hoe gemaak as uitgewers nie wil byt nie?

Op die oomblik lyk dit nie goed nie. Daar word met die Groot Naam Skrywers (jammer, Jaco!) gewaag, maar nie met die nuwe outjies nie. En tog, afhangende van jou hardegatgeid, jou hardwerkendheid en jou talent, wie weet? Ons soek ’n Afrikaanse sukses op District 9/Harry Potter-skaal om die deur wawyd oop te gooi vir almal. Daar is ’n groep bittereinder-skrywers wat besig is om te bou aan hierdie visie, buite die konvensionele baan van die groot uitgewers. Neem deel aan WF- en F-kompetisies soos dié van LitNet en Afrifiksie.com, publiseer sélf jou boek, bou ’n ondersteuningsbasis onder jou vriende en op die internet. Miskien kan ons saam die gety draai. Hopelik sal die uitgewers ons binnekort begin ondersteun. Maar onthou net: op die ou end moet jy skryf omdat jy lief is vir skryf en lief is vir die genre.

Jammer, dis al waarvoor ek nou tyd het. Ek is amper laat vir my vlug en soos jy weet is dit ’n gelol as jy ’n atmosbreker-vlug moet herskeduleer ... Lank lewe die Arwantyne! Lank lewe Fritz Deelman!

Eben van Renen (foto: Afrifiksie.com)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top