Namaste!
Dis byna alweer Kersfees ... eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!
O, eniggebore Seun en Woord van God,
Wie in onsterflikheid
afgedaal het vir ons saligheid,
'n vleeslike liggaam aangeneem het,
gebore is uit die Moeder van God (Teotokos) en ewige maagd Maria,
en 'n mens geword het sonder enige verandering in wese;
U is ook gekruisig
O Christus ons God,
en deur dood, het U die Dood oorwin
in volle wese met die Drie-enige;
U is verheerlik in gelykheid met die Vader en die Heilige Gees -
RED ONS!
(My eie vertaling uit die "Hymn to the Only Begotten Son" soos opgeneem in die Liturgy of St John Chrysostom).
Dis 'n koorgebed in Oosterse Ortodokse Christen- en Bisantynse Katolieke kerke.
Avat?ra (Avatar), is 'n bekende woord in Oosterse Ortodokse Christen- en Bisantynse Katolieke kerke.
Alhoewel die lokettreffer Avatar, oor die fases en toestande van mense gaan wat gedurig van party en mening verander in hul stryd om oorlewing; dui die woord Avat?ra in die godsdiens van die Hindoes en ander op die vleeswording van 'n godheid.
God openbaar Hom in die natuur en in 'n menige aansigte oor alle tale en kulture heen. In al hierdie aansigte openbaar Hy homself in Sy gees. Teosofies en in vreugde aanskou, is Jesus Christus sy enigste en lieflikste avatar. Met die woord teosofies bedoel ek 'n panteïstiese, mistiek wysgerige stelsel omtrent die trapsgewyse vervolmaking van alle skepsels en die wese van die bestaande, wat soms elemente van die Hindoeïsme bevat.
Hierdie is 'n wonderlike tyd van die jaar. Elke jaar hierdie tyd, kan ons begin uitsien na liefde en vreugde in die samekomste van vriende en familie. Dis 'n tyd van welwillendheid, vergifnis; gewyde maar ook plesierige viering van ons Hemelse Vader se avatar, Jesus Christus.
Die groep wyse manne uit die Ooste, het saam met astrale wesens uit ? ander dimensie (en Sy ruimteskip genaamd “Die Ster van Betlehem” wat in die lug bokant Hom gehang het), die Babatjie met die volmaakte DNS kom aanskou!
Vandag sing, dans, en verfraai mense oral tot eer van Hom. Kom ons vat hande deur ons traan verblinde oë, en buig saam voor HaShem, Hashim, Elah, Allah, Jumala, Yahwe, Thathagata, Brahman, Jah, Big Chief, Supreme Being ... en dien so ons enige Almagtige Lewende Skepper in die naam van Sy avatar, Jesus Christus. Kom ons dink weer nuut aan Hom, en aanskou Hom in ons harte in sy heilige mamma se arms; alles so veilig, mooi, skoon, en rustig - in 'n stal onder die donker sterrehemel van Bethlehem ... die Allerhoogste wat die Allerlaagste vir ons kom word het...
Mag onse HERE Jesus Christus, ons Liefste Bruidegom, die Groter Een, die Onmaaklike, die Onskepbare, onse Almagtige Lewende God, die Opperste van alle dimensies, Hy wat die wêreld kan red, ... self die krag in die Goeie Nuus wees wat ons in Sy genade en liefde uitdra.
Mag Sy naam geheilig word. Mag Sy Koninkryk kom. Mag Hy ons almal se harte bewaar en genees. Mag Hy ons harte sag maak en skoonmaak van selfvoldaanheid, selfbeheptheid, selfbejammering, woede, haat, bitterheid en wraak. Mag Sy lig en liefde die krag en troos in ons harte wees, tot in ewigheid.
Mag Jesus Christus onse HERE, ons almal vergewe en die hele wêreld in Sy liefde en genade seën. Mag Hy gou weer terugkom in Sy Ruimteskip, die Ster van Bethlehem, en ons almal kom haal hier aan die donker kant van die maan …
Halala o'Jesu; Bayeti Nkosi!
Hindoe-, Moslem-, Joodse-, katolieke-, Boeddhistiese-, Boeregroete en Afrikaliefde,
Cornelius Henn
Kommentaar
Cornelius
Ek gun jou jou vreugde oor kersfees. Ek onderskryf die beginsels van naasteliefde en mededeelsaamheid veral in hierdie tyd – my motivering is bloot dat dit die regte ding is om te doen. Ek neurie selfs saam as Stille Nag speel omdat dit vir my so ’n mooi lied is. Gelukkig het ek en jy nie nodig om die wette van die fisika op te hef of om ons blind te hou vir die bestaan van hemelligame, om ons oortuigings uit te leef nie. Mag jy en jou geliefdes ’n vreudevolle feestyd beleef.
Groetnis
Thomas