Straight-hygliteratuur | Straight Erotic Literature

 
LêNet-skryfkompetisie:
Daryll: 'n Spookstorie

Die embrio se een ogie is oop. Deur die ongelyke glas van die canfruit bottel lyk dit of die pêrel-ogie beweeg. 'n Koue waterdruppel skarrel stadig teen my rugstring op.

Ek kyk diep in die gewer se oë en weet dat ek nie die geskenk moet aanvaar nie. Maar my Calvinistiese opvoeding skop in en met 'n bewerige "dankie" neem ek die fles met die klotsende inhoud uit sy hande.

"Ek het geweet jy sal dit waardeer. Daarom het ek eers die een embrio gegee 'as a test'. Dit is special. Kom … help om die res uit te haal."

Met dié draai die man met die yl, rooi-gedaaide haartjies om en skuifel deur 'n smal deurtjie na die vertrek langsaan. Ek soek na 'n plek om van die gepreserveerde perde-embrio ontslae te raak en sien 'n oop kol tussen die asbakkies en video's op die koffietafel raak. Amper laat val ek die ding – wat presies is wat ek daarmee wou gedoen het! "Dit sou darem ou Freud lekker laat giggel het," dink ek terwyl ek nuuskierig in die rigting van Daryll se asmatiese asemhaling beweeg.

Daryll was nog altyd net Daryll op die dorp. Geen idee van sy van of herkoms nie. As waterkoppie het hy boonop nie veel kans gehad nie. Hoe hy by die fliek aangestel is, waar hy uitgekruip het, hoe hy sy lewe verwyl het as hy nie fliek gewys het nie en hoe die klein plekkie met die eierhouers teen die mure oorleef, het ek nog nooit die geringste behoefte gehad om oor te wonder nie … tot vanaand.

Gisteraand het ek ingebel na 'n radioprogram en deelgeneem aan 'n gesprek oor aborsie. Suiwer omdat die poephol wat die meeste te sê gehad het, geen idee gehad het van enige geldige redes vir die eeue oue gebruik nie, behalwe dat die letterlike vertolking van "sy" Bybel dit verbied. Ek ken die lewe en ek het dit elke oomblik ten volle uitgelewe … sonder brieke, gewete of verwyte. Voluit …! Daarom het ek my opinie met dieselfde passie gelug en, opgesweep deur die emosie van die oomblik, my selnommer oor die lug uitgeblaker. Vyf minute later kry ek 'n enkele oproep ... van Daryll: "Haai, het jou stem herken … daar is nie baie sulke basstemme nie … Ek stem 100 persent met jou saam en ek wil jou iets gee … sommer net gee … maar jy moet dit kom haal. O, jy weet nie waar ek bly nie? My plek is agter die fliek … reguit in die alley af …"

Ek het uitgestel tot vanaand met die intensie om glad nie op te daag nie, maar nuuskierigheid kan rasionele denke oorheers.

Die vertrekkie waarin Daryll voor 'n ou hangkas hurk, is klein, muf en skemer. Ek sien die silhoeët van sy misvormde kop afgeëts teen die weerkaatsing van die dowwe flitslig waarmee hy in die kas rond lig. Ek hoor glas klingel en is skielik BANG. Nie biétjie bang nie – skytbang!

'n Hand uitgesteek met nog 'n canfruit bottel. Inhoud onbekend. Ek wil nie …

"Vat aan. Hier is nog."

Vier inmaakflesse word aangegee. Ek sit twee op die tafeltjie neer om ontslae te raak daarvan, maar eindig op met 'n fles in elke hand. Ek is ongemakliker as ooit tevore in my lewe. Ek is te bang om na my hande te kyk!

Daryll kom orent, vat twee flesse van die tafel af en skuifel terug in die lig in. Ek self vlug uit die duisternis en slurp vars lug in. Ek besef dat ek nooit asemgehaal het terwyl ek in die kamertjie was nie! Adrenalien raas in my ore en ek weet ek móét wegkom.

Daryll se een oog is hoër as die ander. Iets ruik na nat plastiek. Ek staar onbeskaamd.

"Ek glo ook aborsie spaar baie ongebore kinders 'n onnodige hel. Ek weet. Het op die internet 'n manual gekry wat presies wys hoe om dit te doen. Die collection het begin na ek die tweede girl gehelp het … Daarna het hulle self hier aangekom. Ek was altyd te jammer om die babies op die rubbish dump te gaan drop. O, ja, die perde-embrio het daai nuwe veearts wat by ou dokter oorgevat het, vir my gegee … maar nou moet jy dit alles vat. Ek kan nie meer nie."

Daryll is natgesweet en lyk siek. Ernstig siek. "Hoekom ek?!" gil ek stom, maar ek weet dis iets wat ek oor die radio gesê het wat 'n vrot kol in Daryll se brein geaktiveer het. Fokkit!!

Die twee flesse wat hy opgetel het, is klaar in 'n klein kartonboks. Ek besef dat ek nog twee in my hande het en terwyl Daryll die flappe van die boks oophou, gooi ek die flesse in. My hande brand ...

"Pasop, as die glas breek, stink die hele plek na formalien."

My ontsnapping is 'n waas. Ek moes uit! Ek weet nie wat ek gesê het nie, ek weet nie wat ek gedoen het nie, maar toe ek weer asemhaal, is ek onder die straatlamp en my kar se immobiliseerder groet "biep-biep". Ek ruk die agterdeur oop, sit die boks op die sitplek neer … "Pasop, as die glas breek, stink die hele plek na formalien".

Ek maak 100 persent seker dat die boks stewig staan, klim in en trek rukkerig weg. En ek weet ek was in my hele lewe nog nooit só bang nie.

By die huis aangekom besef ek dat ek 'n ereksie het wat seer maak. "Seker van banggeid," redeneer ek terwyl ek twee treë van die kar af staan en die boks beloer. "Die goed kan net hier bly. Ek sal later besluit waar om daarvan ontslae te raak," dink ek hardop. Ek draai om en loop huis toe. "Shit, maar ek's jags! Haha. Eers bang en nou horny," verduidelik ek vir die nag net om 'n regte stem te hoor.

Na ete gaan ek lê, maar nie my gedagtes – of my libido – wil nie rustig word nie. Ek dwing myself in retrospeksie in want ek besef ek tree irrasioneel op. Waarom is ek so bang? Wat is fout met Daryll se plek? Wat het so na nat plastiek geruik? Wat is in die boks? My brein vertel: "Jy weet!" Maar omdat ek nooit een van die flesse (behalwe die een met die vulletjie in) enigsins opgelig het nie, skree my oorlewingsinstink: "Jy weet nie!"

Ek is régtig bang. "Lig jou en vat dadelik die kak terug. Wat maak jy as die cops hier aankom? Vertel jy hulle jy like dit om met geaborteerde mense op jou kar se agtersitplek rond te ry? DINK NET VIR 'N SLAG!"

Ek staan op, skuif die ereksie gemakliker in my broek, en loop kar toe. Ek maak die agterdeur oop en lig versigtig die boksflap. Vier glasflesse se bokante weerkaats dof. 'n Vyfde fles lê op sy sy. Ek lig dit vinnig regop voor daar dalk onnoembare sappe op my karsitplek lek. "Ek hoop dis die vulletjie," dink ek en lig die fles stadig tussen my en die straatlig in. Fok! Yskoud. Dit is 'n menslike baba. Volledig. Dik koppie effens skuins getilt. Vingertjies. Naeltjies. Voetjies gevou soos Boeddha. Klein pieletjie. Alien ogies. Ietsie wit op die anderkant van die fles.

Die rilling begin diep. Ek sit die fles haastig terug, klim in en ry terug dorp toe. Daryll toe. Sonder om terug te kyk!

"Hy kán nie nou al slaap nie. Dis skaars twee ure vandat ek hier was." Die voordeur is oop. Die plek stink na nat plastiek. Die ligte brand, maar Daryll is nie hier nie. Ek klop. Roep saggies. Steek my kop versigtig in en bestudeer die siek chaos van die vertrek. "Daryll is nie meer hier nie," dink ek.

"Maar nou moet jy dit alles vat. Ek kan nie meer nie." Daryll was ernstig siek.

Ek skarrel kar toe. Stop. Het ek aan iets gevat? Paniek lê vlak, want ek kan die onheil ruik en ek weet: Daryll het iets onnosel gedoen … "Ek kan nie meer nie."

Die terugry huis toe is hel. Ek kyk vir slote onderdeur die pad om die boks in te los. Naby die asgate sien ek 'n blou lig flikker.

Toe ek uiteindelik in my garage in ry, is ek fisies en geestelik moer toe. Ek sluit die kar en die garage en strompel kamer toe. Die bed is die enigste opsie en my onderbewussyn kom tot my redding. Sonder vrees of denke trek my brein 'n sluier oor die nag se gebeure en verloor ek my bewussyn.

Ek kan Ronel ruik. Die effens muwwe reuk van seks. Ek kan haar hoor. Sy het nog nie begin "gesels" nie, maar haar asem is warm, vinnig en dringend. Ek voel haar vroulikheid ritmies teen my bobeen skuur. Rasper. Ek moet haar weer skeer. En nat slymvlies. Om die beurt. My ereksie is pynlik. Dit voel of my voorvel nie wyd genoeg agter my kloppende kop kan rek nie. Ek weet as ek haar nou penetreer, gaan sy skree, en ek weet ek droom … Maar dit is ook nie 'n droom nie …

Ronel was 'n uitgeworpene. Plattelandse gemeenskappe het nie oop boesems nie. Veral nie vir jong meisies wat skielik by die videowinkel begin werk nie. Veral nie vir meisies met aknee nie. Veral nie as Dominee die vroue gevra het om haar "welkom te laat voel" want die "arme kind het 'n verskriklike verlede gehad" nie. Veral as hy die Sondag na haar aankoms hellevuur gepreek het oor die euwels van dwelmmisbruik onder die jeug en euwels wat op kinders se velle uitslaan en wat die produk van bandelose, dwelmbenewelde seks met vreemde mans is! Ek was nie in die kerk nie, maar toe ek by diaken Jan uitvra oor die nuwe girl, het ek die heel storie blitsvinnig gekry.

Ek het voortgegaan om my video's uit te neem en uit my pad gegaan om vriendelik met haar te wees en meer uit te vind.

Sy het my belangstelling geprikkel. Sy was die produk van 'n gebroke myndorp-huwelik. Vroeg geleer keer as stiefpa vatterig raak. Nooit met hom seks gehad nie, maar totale vertroue in haar ma verloor. Skoolmaatjies gemaak en begin dagga rook. Seks gehad met haar boetie se maatjie omdat haar ma gesê het sy moenie. Begin "poppers" rook saam met die dagga. Eendag deur stiefpa "op die job" gevang met haar "maatjie". Ma het Dominee se hulp ingeroep toe die dagga en "pille" in haar kas ontdek is. Verbeteringskool toe gestuur. Die "skool" "geweldig leersaam" gevind, want "al die kids was op drugs". Self besluit om te rehabiliteer ses maande voor die matriekeindeksamen. Ses weke in rehabilitasie en vier maande om vir die eindeksamen te swot. Matriek met vier onderskeidings geslaag. Hard probeer om werk te kry maar "niemand stel belang in tronkkinders nie".

Ek het goed geweet dit was nie die hele storie nie.

Ons het een aand onbepland lovers geword. Sy was skaam. Haar ondervinding was definitief bitter beperk, maar sy was bereid om alles te doen om my te bevredig. Haar seksuele aptyt het met tyd gegroei. Sy het 'n hitte in my aangesteek wat ek nie geweet het bestaan nie. Ons het oral seks gehad. In die waskamers by Tony's Pizza, in my kar, in die kombuis, waskamer, garage, tuin.

Haar aknee het opgeklaar. Sy het meer kleindorps begin optree. Het my by die kantoor verras en "lelik" voor my gaan sit … sonder 'n pantie – wat ons summier hygend in mekaar se arms gelaat het, totdat ek weer haar vroulikheid ritmies teen my bobeen voel skuur het. Rasper. "Ek dink ek moet jou skeer." En nat slymvlies. Om die beurt.

Ek het sidderend gekom. Erg en baie.

Daarna was slaap van die baan. Ek het die TV aangeskakel op die deurnag-nuuskanaal.

Ronel het een aand ontsteld by my aangekom. Sy wou dadelik seks hê en toe ons uitgeput in mekaar se sweet lê, het sy gesê dat daar iets is wat sy moet doen en dat sy vir 'n rukkie gaan weg wees. Ek het aangeneem dit gaan oor haar familie. Veral toe sy vra of ek eendag sou wou trou. Ek onthou nog goed dat my antwoord een of ander geykte bachelor stront was. Ek het haar nooit weer gesien nie.

Dit was vyf maande gelede.

Die berig kom net voor ses op die deurnagnuus. Die polisie het die lyk van 'n onbekende man gekry. Ek het die eierhouers teen die mure herken en geweet dis Daryll. "No foul play suspected."

Staan op en loop kar toe. Die boks loer deur die venster. Ek sien alien ogies. Lig die eerste bottel op. Dié keer is die wit ding op die anderkant van die fles na my kant toe gedraai. 'n Label met 'n naam op. Die label op die derde fles lees: RONEL.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address