NB-Uitgewersportaal | NB Publishers Foyer

 
Lê jou erotiese verhale vir die tweede Bloots voor

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal sê die erotiek gaan oor al die verskynsels en gevoelens van “sinlike” liefde, en oor die kuns “om lief te hê”.

Se moer, sê ek. Wat het eroties met die liefde te doen? Of met kuns? Of het dit? En soms is dít wat eroties is, sinloos, sedeloos, waansinnig en onsinnig ... Eroties kan enigiets wees van die manier waarop jy jou roomys geniet tot die manier waarop jy jou sokkies in die oggend aantrek, nie waar nie? Ek weet nie, daarom vra ek jou. En wie gee nou eintlik om?

Tafelberg-Uitgewers, natuurlik. Nadat Bloots, ’n lekkerlees-boek oor verskillende mense se uiteenlopende perspektiewe op die erotiek, uitverkoop is, wil hulle ’n tweede bundel saamstel.

En dis waar ons jou hulp nodig het. Of jy nou ’n dokter, dominee, dosent of sommer net ’n doos is – jy het darem wragtie al seker ’n glas wyn gedrink en gedink my aarde, maar dit is nou ’n erotiese ervaring; of miskien het jy per ongeluk teen iemand se been geskuur in ’n stampvol bus en ’n elektriese skok teen jou ruggraat voel afloop; dalk was die geboorte van jou kind vir jou ’n erotiese ervaring (jip, vir party vroue is dit!); of miskien het jy die buurvrou oorkant die straat dopgehou terwyl jy grassny en in jou kop oorweeg wat jy alles met haar kan doen; of jy het al trane van iemand se gesig afgelek; bloed uit iemand se lyf verafgod; jou geliefde met jou semen geseën, dit in haar hare ingesmeer terwyl jy haar mond met joune verwond; miskien het jy al die werwels van sy rug getel; vroeg in die oggend wakker geword net om jou geliefde se oë in die REM-slaapfase dop te hou; voor hom neergebuk sodat hy jou hande aan jou enkels kan vasmaak en met jou doen wat hy wil; haar ribbe met verf gekielie; haar oor teen jou hart gehou; vir mekaar oesters gevoer ná ’n uitmergelende sessie (of dalk net Kentucky en Tassies)?

Of klink dit te na aan romanties? Erotiek hoef nie noodwendig sag, pienk en romanties te wees nie. Dalk was jou mees erotiese ervaring toe jy en jou baas gestry het; toe jy die eerste keer in ’n vliegtuig opstyg en die dreuning van die enjins jou hoendervleis gegee het; of toe jy daai persoon wat jou so irriteer, skielik met nuwe oë bekyk het.

Stuur vir ons jou mees erotiese ervaring, fantasie of gedagtes en jy word dalk deel van Tafelberg se tweede trotsstuk wat teen Oktober 2013 op die rak sal wees.

Lekker skryf!

Karin Eloff
 




Die erotiek was nog altyd met ons en sal altyd met ons wees – nie net in die slaapkamer nie, maar ook in vele mooi dinge in die wêreld om ons: ’n Rodin-beeldhouwerk, ’n Picasso-skildery, ’n Dvořák-simfonie, ’n Zeffirelli-rolprent, ’n Ferrari-ontwerp, ’n Tom Ford-pak of Alexander McQueen-tabberd …

Maar dis nóg nader aan ’n mens as wat jy dink: Dis in die boeke en tydskrifte en kaartjies en flitse waardeur ’n mens daagliks omring word, in daardie vervlietende oomblik wanneer oë op die sypaadjie ontmoet, in die spel met mag om ’n raadstafel, in die lyftaal wanneer ’n kelner ’n mooi bord kos voor jou neersit. Dis deel van manwees, vrouwees, ouerwees, baaswees, menswees. Ja, ons almal se lewe is as ’t ware ’n erotiese reis.

In Afrikaans het ons al bundels gehad wat dié onderwerp ondersoek – dink maar aan Lyfspel/Body Play (1994), Rachelle Greeff se versameling erotiese verhale deur vroue; Johann de Lange en Antjie Krog se bundel Die dye trek die dye aan (1998), en meer onlangs was daar Maanvrug en Slavin deur Annelise. Tafelberg se erotiese bundel, Bloots, het op die rak verskyn net mooi toe Fifty Shades of Grey die wêreld stormenderhand verower het. Perfekte tydsberekening, nè? Nou vra ek en Karin opnuut ’n magdom mense om hulle erotiese verhaal vir ons te vertel, want in Afrikaans het ons nog lank nie die erotiek uitgesê nie: Daar’s ou hande en nuwe stemme; digters, joernaliste, skrywers, sangers, sakemense, sosiale vlinders, sekskatjies, tuiniers, politici, komediante, kosmense, kerkmense, kunstenaars, kommentators, ekonome, regisseurs en, ja, selfs ’n paar fiktiewe karakters. Daar’s ma’s en pa’s, oumas en oupas, weduwees en wewenaars, ougetroudes, geskeides, alleenlopers. Van hulle is bekend, ander minder bekend.

As jy dalk skrik: Ons is nie op soek na pornografie nie. Erla-Mari Diedericks bespreek in haar resensie van Slavin (in Rapport van 2 April 2011) die verskil is en som dit dan mooi op: “Erotika is lyfliteratuur wat iets vir die lyf én die verstand bied.” Dís waarna ons op soek is!

Dus: Laat waai en vermaak en verras ons. As jy huiwer of nie weet waaroor om te skryf nie, lees asseblief weer Karin se uitnodiging hierbo.

Voorspoed.

Peter van Noord
 

Hoe om in te skryf:

• Jou storie moet tussen 800 en 3 000 woorde lank wees. Dit kan biografies, outobiografies of fiktief wees. Dit kan hartseer of snaaks of sopperig of selfs wetenskapsfiksie wees. Die enigste reël is dat ons nie stories oor kinders en diere soek nie – verder is jou brein jou enigste beperking.

• Jou storie moet ons nie later bereik as 30 April 2013 nie.

• Jy sal op ’n pro rata-basis daarvoor vergoed word (wat beteken elkeen wat tot die bundel bydra, sal deel in die totale inkomste uit die verkope van die bundel).

• Stuur asseblief jou verhaal na Danita van Romburg by dvanromb@nb.co.za



Klik op die skakels om resensies van die eerste Bloots bundel te lees:

Die Burger: Bloots nie net hygverhale

Rapport: In die taal van die lyf

    Geil, dog aanslag te bewus literêr

    Eenvoud moet wagwoord bly

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Dorie
2013-02-15 @15:46


Hulle glo seks verkoop en dit is seker hoekom die nuutste LitNet - lyk vir my - net hieroor gaan. Dit is seker ook NB se beweegrede vir nog 'n Bloots boek. Na my mening is hierdie onderwerp al so holrug gery, is daar nie iemand wat meer in koekbak belang stel nie? 

 

 

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address