kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Louise Viljoen

  • 0

 

Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.

Louise Viljoen was een van die beoordelaars van die Fiksie-kategorie.

Louise Viljoen

Koop Open City by Kalahari.com.

Koop Polfyntjies vir die proe by Kalahari.com.

Wat beteken die instelling van die kykNET-Rapport Boekprys vir die Afrikaanse boekbedryf?

Die instelling van die kykNET-Rapport Boekprys vergoed in ’n groot mate vir die verdriet wat die afsterf van die M-Net-pryse veroorsaak het. Alhoewel sommige seker sou kon redeneer dat daar ’n oorvloed van pryse in die Afrikaanse boekebedryf is, het pryse wel die funksie om die produksie van boeke en die gesprek rondom boeke op ’n onvervangbare wyse te stimuleer.

Jy het so pas deur die Afrikaanse boeke wat uitgewers as hul beste van die jaar beskou, gelees. Is ons boekbedryf tans in 'n goeie fase of is daar kommer?

Ons boekbedryf lyk vir my sterk en gesond. Beide op die gebied van die prosa en die poësie word daar op die oomblik besonder sterk en substansiële bydraes in Afrikaans gepubliseer. Wat my wel kwel, is dat die resensiebedryf gekwyn het deur die opdoek van koerante se boekeblaaie en die sluiting van tydskrifte wat boeke geresenseer het. ’n Vriend van my het ’n interessante beeld in hierdie verband gebruik: hy sê dit is asof ’n hele klomp groot voëls (no pun intended) op ’n baie dun draad sit wat hulle skaars kan dra. Afrikaanse skrywers (álle Suid-Afrikaanse skrywers) verdien dat daar ’n groter gesprek rondom hulle werk sal wees.

Is daar gemeenskaplike temas wat opval in die boeke wat vir die prys(e) ingeskryf is?

Iets wat my sterk opgeval het van die tekste wat ek moes lees, was die belangrike rol wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis in feitlik elkeen van die romans gespeel het. Alhoewel die periodes waarop die romans fokus, van mekaar mag verskil, is daar in feitlik al die tekste ’n bewustheid dat die hede onlosmaaklik verbind is met die verlede en dat die verlede ’n blywende impak het op die hede en dit wat die toekoms inhou. Dié tendens manifesteer nie net in die opsigtelik “literêre” romans nie, maar ook in die (outo)biografiese romans sowel as die speurverhale.

Kan jy kortliks verduidelik wat die boeke op die kortlys prysenswaardig maak?

Die drie romans op die kortlys slaag elkeen daarin om die leser te verras met nuwe insigte in die Suid-Afrikaanse samelewing, sterk karakterisering, ’n verbeeldingryke struktuur of “argitektuur” waarin al die elemente saamhang, die digte tekstuur van die taalgebruik, ’n gevoeligheid vir die kompleksiteit van menslike ervaring en die vermoë om die leser mee te voer.

Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?

Onder die Suid-Afrikaanse romanskrywers lees ek graag Karel Schoeman, Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Etienne van Heerden, Eben Venter, Willem Anker, SJ Naudé, Ivan Vladislavi?, JM Coetzee, Damon Galgut en Imraan Coovadia. Internasionaal lees ek graag John Banville, Michel Houellebecq, Philip Roth, Alice Munro, Chris Abani, Don Delillo, Cees Nooteboom … die lys wil nie ophou nie. Twee boeke wat my onlangs baie melankoliese plesier gegee het, was Teju Cole se Open City en Diego Marani se New Finnish Grammar.

Is daar (’n) boek(e), fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?

Aan die een kant is daar nie veel kans vir herlees wanneer daar soveel nuwe boeke op jou wag nie; aan die ander kant word ’n mens gedwing om boeke te herlees as jy oor hulle wil oordeel, skryf of klasgee. Boeke wat ek al meer as een keer gelees het sonder dat ek op die een of ander manier daartoe verplig was, is Leipoldt se Polfyntjies vir die proe en Cees Nooteboom se Rituelen. So skiet my maar.

 

Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top