kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Herman Wasserman

  • 1

  

Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.

Herman Wasserman was een van die beoordelaars van die Niefiksie-kategorie.

Herman Wasserman

Koop Kamphoer by Kalahari.com.

Koop China’s Second Continent by Kalahari.com.

Wat beteken die instelling van die kykNET-Rapport Boekprys vir die Afrikaanse boekbedryf?

Dit is ’n belangrike mosie van vertroue in die Afrikaanse boekbedryf, en ’n manier om aan skrywers erkenning en ondersteuning te gee in ’n hoogs kompeterende omgewing. Die steun vir niefiksie is veral ’n belangrike inisiatief, omdat dit sal bydra tot die verdere ontwikkeling van hierdie genre in Afrikaans. Daar is reeds in Engels ’n baie lewendige niefiksiemark in Suid-Afrika, en die aansporing wat hierdie prys bied, kan help om daardie genre ook in Afrikaans ’n hupstoot te gee.

Jy het so pas deur die Afrikaanse boeke wat uitgewers as hul beste van die jaar beskou, gelees. Is ons boekbedryf tans in 'n goeie fase of is daar kommer?

Die boeke wat ingeskryf is, onderstreep die besef dat ons in hierdie land so baie stories het om te vertel. Die onderwerpe is uiteenlopend en boeiend. Vir my as ’n buitestander tot die bedryf self lyk dit dus wel asof daar nie ’n tekort is aan materiaal en skrywers met die wil en die talent om hierdie stories lewe te gee nie. Ek kan my nie oor die ekonomiese welstand van die bedryf uitspreek nie, maar die sleutel tot die gesondheid van die bedryf sal ook lê in die aanvraag wat daar onder die leserspubliek is vir niefiksieboeke van gehalte. In daardie opsig kan die profiel wat hierdie prys aan die wenboek, asook aan die genre self verskaf, nie geringgeskat word nie.

Is daar gemeenskaplike temas wat opval in die boeke wat vir die prys(e) ingeskryf is?

Die geskiedenis en wat ons daarmee maak in die hede, hoe die geskiedenis ons identiteit beïnvloed, hoe ons bly worstel in die etiese moerasse van die verlede … dit is gemeenskaplike temas wat op verskillende maniere vergestalt word in die materiaal wat ons onder oë gehad het.

Kan jy kortliks verduidelik wat die boeke op die kortlys prysenswaardig maak?

Die boeke is almal gegrond op eerstehandse navorsing, bring nuwe insigte oor ons leef- en denkwêreld na vore, en help ons om die Suid-Afrikaanse werklikheid op nuwe maniere te verstaan.

Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?

Ek lees taamlik lukraak en opportunisties, volgens onderwerpe en temas wat my op die gegewe oomblik interesseer. Die mees onlangse fiksiewerk wat ek gelees het, was Francois Smith se briljante Kamphoer; ek is tans besig met die niefiksie van die Amerikaanse joernalis Howard French, wie se China’s Second Continent handel oor Chinese immigrante wat Afrika oor die afgelope jare hul tuiste gemaak het.

Is daar (’n) boek(e), fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?

Te veel nuuts om te ontdek, is ek bevrees, om te herlees – die enigste genre wat ek herlees is poësie. Maar ek maak solank ’n lysie vir my aftrede …

Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse

 

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Naas die "etiese moerasse van die verlede" kan Wasserman gerus aandag begin skenk aan die etiese moerasse van die hede - veranderings kan daaraan aangebring word. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top