Kopskoot deur Rudie van Rensburg

  • 0

Titel: Kopskoot
Outeur: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795800771

Koop Kopskoot by Kalahari.com

Laat ons begin by die kwas − daardie agbare instrument wat Suid-Afrikaanse kunsversamelaars laat kwyl en wat die sleutel is tot inspekteur Kassie Kasselman se deurbraak wanneer hy ’n reeks moorde op ses-en-vyftig-jarige wit mans ondersoek.

Hand aan hand met die elemente waarna ’n leser van hierdie genre soek, strek Rudie van Rensburg se kennis oor die onderwerpe ter sprake. Hy put heimlik uit die ervaringsveld van sy onderskeie werksomgewings, hetsy die grein van die finansiële wêreld (as sakejoernalis) of die tekstuur van skilderkuns (sy medium as kunstenaar).

Hoe vervals mens ’n skildery?

Vra vir Van Rensburg.

Humor as balans in die skaal van duisterhede word doeltreffend ingespan − grotendeels in die gedagtes van Kasselman, soos met sy siening van Irma Stern: “Hy weet net van Stern omdat sy in ’n seël vereer is saam met ander Suid-Afrikaanse kunstenaars” en “Hy stik amper in sy tee. Sewe en dertig miljoen! Is die vrou befok in haar kop om soveel vir een skildery te betaal?” (191). Die rol van ’n kunswêreld se bedrieglike waardesisteem is ’n kardinale parallel in die boek.

Daar is reeds in Slagyster met Kesselman kennis gemaak en hierdie karakter behoort misdadige meelesers heimlik te laat uitsien na volgende “episodes”. Die filatelis-speurder met sy slordige rooi windjekker se stokperdjie impliseer ’n fyn oog vir besonderhede. In jou geestesoog sien jy hom met ’n vergrootglas oor die grafiese besonderhede van ’n kunswerkie (die grootte van ’n vingerafdruk) tuur. Nader aan Peter Falk as aan Daniel Craig; hierdie verflenterde landskap aan die suidkus van Afrika. Craig in Parow? Aikona. Columbo wel.

Die skrywer maak gebruik van ’n pointillistiese sinkonstruksie wat die tempo van die vertelling doeltreffend ondersteun: “Vir die soveelste keer gaan haal hy die lêer uit die kluis. Die opgeskeurde foto’s van die drie vermoordes het hy in afsonderlike swart koeverte gesit. Hy glimlag” (157).

Dikwels ervaar die leser dié soort teks wat met sarsies tref: boef! boef! boef!

Soos met die tegniek van chiaroscuro word sekere fasette belig en ander in skadu gedompel.

Rocco, Bill, oom James en Katrien se pa het almal ’n geheimsinnige brief gemeen, en die behoefte om die inhoud daarvan te wete te kom, dryf die leser voort.

’n Rits uiteenlopende karakters beweeg deur die hoofstukke, amper nes rekwisiete op ’n verhoog: Katrien Steyn, Rocco Maashof (wat sy deurbraak as gevolg van die bemarking van gebottelde seewater gemaak het), Bossie Bosman (wat nog steeds spog met ’n vol vag (82)), Vlam Woltemade, Meisie Smit en mevrou Vos (die tantetjie met die pers hare).

Na die templaat van Middeleeuse voorbodes word die eerste drie lyke elke keer deur ’n vrou gevind.

Die omgewing is dikwels grinterig: verlate parkeerterreine of parke na skemer. Die geneul van ’n bandsaag (159) is verontrustend, selfs al is dit mooiweer en warm. Die skrywer het nie ’n saak met politieke korrektheid nie en takel alger en dese met dieselfde oortuiging wat in sy vernuftige popkuns te bespeur is.

Afwisseling in tipografie wanneer Roderick ter sprake is, suggereer dat iets nie pluis is nie en dra by tot die leser se vermoede dat die onraad moontlik juis hiér te te vinde is.

Soos ’n ongewenste karakter sluip die bosoorlog rond in die verhaal se ontwikkeling: “Dis ’n ou klipgebou wat lyk soos ’n gewese weermagvesting, met uitkyktorings op die dak en ‘n hoeveelheid vensters wat aandui dat minstens ’n peloton van vyftig daar sou kon bly” (167).

Daardie knap kinkel wat teen die einde kop uitsteek, het ek beslis nie sien kom nie en is klinkklare bewys dat Van Rensburg die strategie van ’n speurroman goed onder die knie het.

Hier ter plaatse hoef skrywers van dié genre nie grense te versit nie; ons misdaadsyfers doen dit reeds. Hulle hoef bloot, soos onder andere Meyer, Brynard, Orford, Hichens en Van Rensburg, agter daai rekenaars in te skuif sodat ons op mistroostige wintersaande van CSI kan vergeet.

Lees 'n onderhoud met Rudie van Rensburg.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top