ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Kleinboer (1956– )

Gebore en getoë

Kleinboer is as Fanie de Villiers in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore. Hy is een van ’n tweeling – sy broer is Manie. Sy pa was ’n wiskunde-onderwyser. Hy vertel aan Hanlie Retief dat sy pa soos Hitler was. “Hoef jou nie eens te klap nie. Sy stem en houding was oorgenoeg.” Sy ma lewe, “maar sy’s in Huisgenoot en die Bybel”. Sy ma was ’n deeltydse onderwyser wat later huisvrou geword het. Sy is in 2004 oorlede.

Hy word groot in ’n Calvinistiese omgewing in Kemptonpark en Benoni, in Zesfontein aan die Oos-Rand, waar daar altyd vir hulle gesê is seks buite die huwelik is taboe.

Kleinboer matrikuleer in 1973. Tydens ’n Geloftedag-herdenking in matriek “het ek skielik die futiliteit van alles besef. Maar ek kon dit nie uitdruk nie. Net geweet.”

Terug na bo

Verdere studie en werk

Kleinboer studeer eers BSc aan die Universiteit van Pretoria en gradueer uiteindelik as rekenaarprogrammeerder. Hy het glad nie in rugby belanggestel nie en het ook geen aanleg vir dans gehad nie, met die gevolg dat hy ’n totale buitestander op universiteit was.

Sy belangstelling in poësie is aangewakker toe hy Breyten Breytenbach ontdek het, asook deur die radioprogram Klankpaljas.

In 1977 word sy hond, waarvoor hy baie lief was, doodgery. Hy het ’n klein bruin dagboekie gehad en het al sy gevoelens oor sy hond in die boekie begin neerskryf. Dit is hoe hy begin skryf het.

Hy begin in die rekenaarswese werk – vir drie en twintig jaar – by die WNNR, die Reserwebank, Eskom, Brouerye en Hewlett-Packard. Hy beskryf die werk as sieldodend – reguit uit die televisiereeks The office, met die humor, eindelose koppies koffie en ’n lakse houding. By Hewlett-Packard gebruik Kleinboer die voordele om eindelose e-posse aan sy tweelingbroer, Johan van Wyk en Koos Kombuis te skryf oor sy seksuele bedrywighede. Hulle moedig hom aan om die ervaringe in ’n boek te beskryf.

In 1999 bedank hy by Hewlett-Packard, bank sy pensioengeld en begin aan sy eerste boek, Kontrei, werk. Hy voltooi dit in 2001, maar om ’n uitgewer te kry, was nie maklik nie. Hy ontvang etlike briewe wat hom meedeel dat sy manuskrip afgekeur is. Uiteindelik is dit deur Praag, die uitgewery van die Afrikaanse ekstremis Dan Roodt, uitgegee.

Volgens Praag bied Kontrei ’n ryk en onthutsende kennismaking met die werklikheid. Dit neem ons op ongekarteerde paaie in Afrikaans, na die nihilistiese wêreld van ’n seksmal hoerloper wat as blanke die geselskap van swart prostitute uit Mosambiek, Swaziland, Zambië en elders verkies. Dit is ’n meedoënlose relaas oor een man se behoefte aan gereelde seks in die bordele van Hillbrow en omstreke, maar word onderbreek deur mymerende herinneringe aan sy tipies Afrikaanse kinderdae, asook die mooiste versameling Bybelversies wat enigeen nog ooit uitgesoek het. Die leser sal maar self moet besluit of hierdie debuutroman satire, bedekte outobiografie of sosiale kommentaar is.

Die verteller in Kontrei woon in die Johannesburgse buurt Yeoville saam met sy Zoeloe-minnares, Lungi, en haar seun, Jomo. Francois Smith skryf: “Hy het haar ’n wintersnag op straat opgelaai en ’n ruk daarna het sy by hom ingetrek ‘met haar tweejarige kind, ’n ysterpot, ’n dosyn bruin koppies, ’n suikerpot, ’n melkbeker, die klere aan haar lyf, twee koffers en ’n virus’. Hy werk by ’n rekenaarmaatskappy, en ná werk drink hy ’n paar biere, betaal ’n prostituut R80,00, gaan wag daarna op sy bed vir Lungi terwyl ’n hond straatop onophoudelik blaf. Dit is ’n soort boer-in-beton-verhaal, sielig, en veral aanvanklik gryp die hunkering na ’n gelukkige jeugtyd aan die hart.”

Die roman vertel van die verteller se alledaagse Yeovillese bestaan, saam met Lungi en Jomo. Maar, meen Jean Meiring, "alledaags" is waarskynlik nie die mees juiste tipering van die lewe wat in Kontrei beslag kry nie, want die grootste gedeelte van die boek is aan die verteller se gereelde, kompulsiewe, en adrenaliengedrewe besoeke aan bordele gewy, bordele waarin swart prostitute om den brode die nodige doen. Kleinboer vertel aan Meiring: “Maar weet jy, wit prostitute het sulke lang, stroewe gesigte, is heeltemal meganies, terwyl swartes baie keer die seks geniet; hulle is ’n sisterhood; in die swart bordele kuier die mense lekker jollie in die kroeg saam.”

André P Brink beskryf die roman as ’n “befokte boek” en ook as een van die genoeglikste lese in ’n lang ruk. “Maar bowenal ’n boek van paradokse: op die oog af ’n n**ikatalogus, maar daarágter ’n verbasend behoudende relaas. [...] Hoer-en-rumoer is skering en inslag van sy bestaan. [Maar] die werkwaardige is dat die hoofindruk nie soseer ‘losbandigheid’ as beheersing is nie. Beheersing allereers van taal en vertelling: maar ook, en selfs, en dalk juis, in ’n morele dimensie. [...] Want diep in sy binneste is onse verteller ’n baie behoudende man, gedrewe deur ’n drang om die wêreld skoon te hou deur onkruid en vullis uit te roei, taalfoute in graffiti te korrigeer. Hy hou van honde, is gesteld op sagtheid by ’n vrou en nogal bedagsaam in sy omgang met hoere, braai sy vleisie gereeld, kyk sport op TV; en hoe seer hy ook al aan homself mag dink as ’n ‘verloopte Boer’, bly hy in sy hart getrou (al is dit soms ironies) aan die stel bourgeois-waardes wat hy uit sy jeug saamgedra het. [...] Al wat hom werklik ‘anders’ maak (of dalk is hy maar net eerliker as ander?), is sy verknogtheid aan swart prostitute (en ironies was dit sy ma se beskrywing van ’n swart vrou wat heel eerste sy belangstelling geprikkel het).” Brink meen dat die vaart van die vertelling ’n mens voortsleur en dat ’n man wat so kan skryf, sy storie ken.

Volgens Fanie Olivier skryf Kleinboer van die gemaklikste en beste Afrikaans wat hy in ’n lang tyd in ’n debuut teëgekom het en dat dit baie welkom is.

Vir Joan Hambidge lê die krag van die roman in sy eerlikheid opgesluit en die varse, niestudeerkameragtige prosa. “Die skrywer skryf uit sy gut. Miskien selfs verder af, sou ’n mens speels kon aanvoer. Tog is dit terselfdertyd ’n slim boek vol verwysings en klappies. Koos Kombuis is daar; ook ander herkenbare mense word by die naam genoem. Dis nie ’n boek wat jou ‘opwerk’ nie; daarvoor is dit te slim geskryf en word te veel intellektuele kwessies soos identiteit, taal, herkoms en die dood betrek.” Sy beskryf die roman as ’n kragtoer.

Ryk Hattingh meen dat Kontrei nie die erotiese vertelling is van ’n toegewyde hedonis wat hom onbevange aan sy luste oorgee nie. “Dit is eerder die relaas van ’n seksbehepte, kompulsiewe man wat wroeg om sy weg uit die doolhof van die vleispaleis en die ooraanbod van onverpersoonlikte organe te vind. Dit is die mymeringe van ’n boerseun wat op die hoewes aan die Oos-Rand onder die juk van die ancien regime grootgeword en met onder meer ’n vertraagde seksualiteit in Yeoville beland het. [...] Ondanks die soms stamperige prosa en die ooraanbod van insider-inligting, bied Kontrei ’n leeservaring wat ’n mens nie maklik sal vergeet nie.”

Kontrei word in 2004 as die eerste wenner van die Rapport/Jan Rabie-prys aangewys. Volgens die beoordelaars was Kontrei die inskrywing wat die beste by die profiel van ’n prys vir vars, nuwe stemme in Afrikaans pas. “Dit is in vele opsigte ’n moedige en baanbrekersteks. [...] Die skrywer se uiters vaardige woord- en taalgebruik is opvallend en sy taalsensitiwiteit blyk uit byna elke sin. In die baie knap skryfwerk lê veral die waarde van hierdie roman. Die reeks besoeke aan prostitute is herhalend en leeg (dermate dat dit ’n mens eintlik met ’n droefheid agterlaat oor die gebrek aan liefde, die leë soeke na aanvaarding en liefde), maar nietemin boei die teks. Dít het grootliks met die taalgebruik te doen.” Die beoordelaars is ook getref deur die outentiekheid van die teks, die rou eerlikheid van ’n andersoortige boer in beton. Hier is ’n boer wat sy kontrei – so anders as dié van sy jeug – met die hand uitgekies het en nie ’n enkele dag daaroor kla nie: hy is bloot paraat en geprogrammeer vir oorlewing. “Dat Kleinboer kan skryf, veral ’n vonk in lesers wakker maak en aanmoediging verdien vir sy besonder sensitiewe taalgebruik – daaraan kan ’n mens nie ontkom nie.”

In 2006 word die Engelse vertaling van Kontrei, getiteld Midnight missionary, deur Zebra Press gepubliseer. Jaco Fouché was die vertaler.

Vir 2004 se Aardklop-kunstefees is dit verwerk in ’n verhoogproduksie, Diep kontreie, saam met die sanger Albert de Vos. Kleinboer en De Vos het mekaar by ’n gemeenskaplike vriendin in Johannesburg ontmoet en mekaar dadelik “gevind”. Nadat De Vos Kontrei gelees het, het hy sekere ooreenkomste tussen sy werk en die boek gesien en Kleinboer genader met die idee vir ’n verhoogproduksie. De Vos vertel aan Mariana Malan dat hulle baie verbaas was dat die produksie gekeur is. “Dit bewys dat die keurders se kop oop is. Die vraag is nou net of gehore al reg is vir hierdie werk.” Volgens Malan was die reaksie op die produksie uiteenlopend. Dit word in die eerste instansie as woordkuns geadverteer en Kleinboer en De Vos voel dat dit dalk mense kon afgeskrik het. Die woorde slaan jou harder as dit hardop en in die openbaar uitgespreek word, meen Malan. “As jy lees, kan jy hulle nog vinnig laat verbyglip, maar nie wanneer hulle van ’n verhoog af voorgelees word nie.” Kleinboer vertel dat hy eintlik maar net ’n paar van die “rofste” stukke uit sy boek voorgelees het.

Kleinboer woon reeds die afgelope meer as twintig jaar in Yeoville. Toe hy in die woonbuurt ingetrek het, was dit een van die jong, boheemse omgewings. Rondom 1997 het dinge begin verander. Die jong, boheemse inwoners het nie meer verlief geneem met die oorvloei van tsotsi’s en dwelmhandelaars van Hillbrow en Berea nie. Kleinboer het gebly – een van die min wittes wat nog in Yeoville woon. Hy vertel aan Fred de Vries dat hy nêrens anders gehad het om heen te gaan nie. Hy het ’n huis in Yeoville gekoop wat vinnig besig was om af te neem in waarde en hy het saam met sy Zoeloe-meisie, Lungi, en haar seun Jomo gebly. “Die inwoners van die ses huise rondom hom moes almal ’n ooreenkoms teken dat hulle nie omgee dat ’n wit man saam met ’n swart vrou daar woon nie.” Hy het Lungi in die winter van 1992 as Promise op ’n straathoek raakgesien, vertel hy aan Hanlie Retief. “Sy’t lang, swart stewels gedra, en vir hom gewuif. Dit was twaalf jaar gelede, dis nie asof ek haar weggegooi het na een nag nie.”

Lungi het die lewe in Yeoville met sy toenemende aantal sjebiens begin geniet. Kleinboer se motorhuis is ook in ’n sjebien omskep en die huishulpkwartiere is uitverhuur aan migrante uit Afrika.

Kleinboer en Lungi is in 2006 in ’n tradisionele seremonie buite Pietermaritzburg getroud. Hy moes lobola in kontant betaal en tydens die huwelikseremonie ’n bees met ’n spies doodsteek. Lungi was onbewus daarvan dat haar man ’n boek geskryf het waarin baie van hul private besonderhede saam blootgelê word. “Maar,” het Kleinboer op ’n keer gesê, “sy lees nie Afrikaans nie, dus behoort ek darem veilig te wees.”

Lungi is in Augustus 2008 na ’n ongeluk oorlede.

Kleinboer werk later as subredakteur by die landboutydskrif Farmer’s Weekly, maar bedank na die publikasie van Kontrei om aan sy tweede boek te werk. Na sy ma se dood in 2004 het sy erfporsie hom in staat gestel om weer so te sê voltyds te skryf. In 2007 is hy twee dae per week subredakteur by die koerant Sondag.

In ’n onderhoud met Mariana Malan vertel Kleinboer dat hy nog altyd geskryf het. “Eers was dit beskrywende briewe huis toe terwyl hy in die Weermag was. Daarna het hy alleen gebly en het die briewe dagboekstukke geword. Uiteindelik het ’n kombinasie van alles ’n boek geword.” Hy vind die gedagte dat daar mense is wat mag dink dat hy in sy boek spot of dat hy ’n baie vrugbare verbeelding het, baie amusant. “Ek het in ’n baie Calvinistiese omgewing grootgeword. Veral seks was iets wat onderdruk en geïgnoreer moes word. Dit was soos ’n veer wat al verder afgedruk is. Toe dit uiteindelik losspring, was daar nie keer aan nie. Ek moet sê ek het baie gekalmeer sedert ek die boek in 2001 klaargeskryf het. Maar ek sorg dat ek elke maand my tiende gee!”

Op ’n vraag van Jean Meiring waar die “hoerlopery” en die aangetrokkenheid slegs tot swart vroue begin het, antwoord Kleinboer: “Ek’t baie konserwatief grootgeword. Ek’t ’n BSc op Tukkies gedoen, maar ek’t die studentelewe baie vervelig gevind. Ek was nie bewus daar is iets beters nie. Ek’t kerk gegaan; darem nooit Nasionaal gestem nie. In my tweede jaar is ek Maroela-koshuis toe, maar die militarisme daarvan het my nooit aangestaan nie. Studente se sosiale lewens het grootliks bestaan uit bokjolle. Die meisies wat as tiere bekendgestaan het, het so teen die mure gestaan. En as die ouens instap, het hulle met gespitste neuse gesê: O, ons ruik die tiere, ons ruik die tiere. Dis nou van die parfuum wat hulle aangehad het. En dan water jou bek skoon. Maar ek kon nooit die kode, die sleutel bemeester nie. Jy kon nie na een van hulle stap en vra: Wil jy volgende week saam met my gaan koffie drink nie. Jy moes eers met hulle dans, langarm.” Op 27-jarige ouderdom is Kleinboer New Orleans toe en daar het hy “sy sonder opset bewaarde maagdelikheid aan ’n gesellin prysgegee”. Toe was die koeël deur die kerk “en het Johannesburg se bordele een van hul grootste beleggers bygekry”.

“Toe het ek uit die skaduwee van Calvinisme getree, waarin ek vir 27 jaar verkeer het. Dit was 10 000 dae plus nóg ’n 100 ná my geboortedag dat ek vir die eerste keer seks gehad het. Dit was laat in my lewe, en dit was asof ’n veer – ’n spring – wat ek vir so lank onderdruk het, skielik losgespring het. Dit was soos ’n vuurpyl wat weggeskiet het. En dis steeds, in my vroeë vyftigs, effe buite beheer.”

Op LitNet vertel Kleinboer aan Rian Malan dat buiten seks, sy stokperdjies skryf, lees, en rugby en krieket kyk op kroeg-TV’s is. "Ek gooi plante nat as dit nie onlangs gereën het nie, en trek soms onkruid uit. Ek’s soos ’n Romeinse keiser op my eie erf – ’n benign patriarch. Soos Nero wat besluit het watter Christen die leeu se kake gespaar sou bly, besluit ek self watter onkruid kan maar aanhou lewe. Ek trek onkruid uit terwyl Yeoville brand. Ha, dis darem net vleis op roosters wat brand, nie ons geboue nie.”

Terug na bo

Publikasies:

 

Terug na bo

Artikels oor Kleinboer beskikbaar op die internet

Terug na bo

Artikels oor Kleinboer beskikbaar op die internet:


Terug na bo



Bygewerk: 2009-11-06
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address