ABSA KKNK 2013 Kuns: Voorwoord deur Sandra Hanekom

  • 0

Voorwoord deur Sandra Hanekom: Kurator

“Die Altaar van Stoflikheid” bestaan deur middel van die kunste. Dit impliseer dat alle kuns die gekose selfportret van die mensdom is.

Die Visuele Kunsprogram vir 2013 fokus op die rol van die kunstenaar as boodskapper vanaf die onderbewussyn of onderwêreld. Die substratum van die kunstenaar se skeppingshunkering is die omskrywing van lewe en dood – Die Altaar van Stoflikheid.

Die hooffeeskunstenaar vir die 2013 ABSA KKNK is die merkwaardige en briljante Diane Victor. Alhoewel Victor ’n ou bekende by die ABSA KKNK is, sowel as ’n 2011 Kanna-wenner, word sy vanjaar vereer as hooffeeskunstenaar. Victor is waarlik nie net een van Suid-Afrika se mees prominente kunstenaars nie, maar ook ’n gerekende internasionale kunstenaar. Haar uitstalling, No Country for Old Women, beloof om ’n hoogtepunt van die fees te wees.

Die Sielsang van bestaan word verder ondersoek deur verskeie ABSA Atelier-finaliste in die ABSA Korporatiewe uitstalling The Seven Deadly Virtues / Die Sewe Dodelike Hoofdeugde, onder die kuratorskap van Dr. Paul Bayliss. Kunstenaars bied ’n kontemporêre blik op die sewe Middeleeuse hoofdeugde: matigheid, nederigheid, gulhartigheid, kuisheid, geduld, vlytigheid en welwillendheid; teenoor die sewe dodelike sondes: vraatsug, ydelheid, hebsug, wellus, wraaksug, luiheid en afguns.

In 2013 is dit ook die ABSA KKNK se voorreg om gasheer te wees van die 2011 ABSA l'Atelier-wenner, Ian Grose, se solo-uitstalling Aantekeninge / Notes.

Die groepuitstalling Velvet, onder die kuratorskap van Kanna-wenner Christiaan Diedericks, sowel as die solo-uitstallings Mans-Mens, deur Chris Koch, en When You Feeling Like a Lady, deur Robert Hamblin, ondersoek die komplekse en kwesbare natuur van seksualiteit en identiteit. Die uitstallings vra diverse en persoonlike vrae met die fokus op interne bestaanswaarhede, eerder as eenvoudige antwoorde.

Die kurator, Clare Menck, se groepuitstalling Vanitas 2013, bring van ons land se mees gerespekteerde skilders na die fees. Vanitas-skilderye beklemtoon dat “die lewe ’n gejaag na wind is”, en dat alles verganklik en kortstondig is. Menslike ydelheid kom tot ’n val.

Die Visuele Kuns is ’n woordlose gespreksvoering wat die interne bestaanswaarhede van die kunstenaar bloot lê. Die maak van uitbeeldings is ’n integrale faset van die mens se bestaan; die ontwikkeling van “kuns” is ’n kentering in die evolusie van die mens. Ons begrip van lewe, dood, God en beeld het ons psige gelykwaardig betree: ’n moment van “bestaans-ekstase”.

Die kunstenaar James McNeil Whisler beskryf die impuls om te skep soos volg: “All true artists, whether they know it or not, create from a place of no-mind, from inner stillness.”

Kuns konkel. Dit is ’n obskure visuele skermutseling wat intuïtief, of selfs toevallig, ’n waarheid ontbloot. Ons het nie die kunste nodig vir ons bestaan nie, tog meet en definieer ons, ons.

 

Ander solo-uitstallings wat die dilemma van verantwoordelikheid besin is Vergete verledes deur Cobus van Bosch, en Die laaste van ons / The Last of Us deur Pauline Gutter. Hierdie uitstallings deur twee uitstaande skilders sentreer rondom ons gebondenheid met die landskap. Van Bosch fokus op vergete historiese gebeure, terwyl Gutter se werk ons interne gebondenheid tot die land bloot lê.

Twee van Suid-Afrika se mees gerespekteerde kontemporêre galerye stal vanjaar uit. Me.Ek is ’n groepuitstalling van vooraanstaande kunstenaars onder kuratorskap van prof. Elfriede Dreyer van Fried Contemporary, en Tom Cullberg is ’n gekureerde solo-uitstalling onder die kuratorskap van Elana Brundyn van Brundyn + Gonsalves. Me.Ek ondersoek die belangrikheid van sosiale media in ons lewens en hoe dit die “ek” definieer. Brundyn + Gonsalves se uitstalling Tom Cullberg bring van hierdie befaamde skilder se werke na die fees.

Die populêre beeld van die legende en die berugte word ondersoek in die groepuitstalling The Tom Waits for No Man, gekureer deur Gordon Froud, en die solo-uitstalling Amper almal – Die stamboom van die Suid-Afrikaanse populêre kultuur deur Alex Hamilton. Froud se uitstalling fokus op die lewe en die lirieke van die kultusfiguur en musikant Tom Waits. Hamilton se uitstalling Amper almal is ’n visuele feesviering van roem. ’n Groot klomp Suid-Afrikaanse ikone en persoonlikhede word vereer in die uitstalling. Die werke herroep ons kollektiewe geheue van amper almal, Karel Kraai tot Steve Hofmeyr.

Die verband tussen die geskrewe woord of boek en die visuele beeld word ondersoek deur die volgende uitstallings: ATKV: Skilder met Woorde III: 1 2 3 blok myself! (groepuitstalling), Moleskine SA Art + Design Project (groepuitstalling) deur Johann du Plessis en Streeksbiblioteek (solo-uitstalling) deur Olaf Bisschoff.

Die visuele kunsprogram sluit verder in: Spoor ’n solo-uitstalling deur die voormalige kurator van die ABSA KKNK Theo Kleynhans, Quintessence: 12 People I Know and Objects of Enlightenment deur Vanessa Berlein en Michele Davidson, en Silence is Golden: Political Language, Euphemism and Bullsh#t! ’n solo-uitstalling deur Stephen Rosin. Rosin is ’n voormalige ABSA Atelier-wenner. Sowel as die solo-uitstalling Befoxycated, Etc. deur Annelie van der Vyver.

Die 2013 Visuele Kunsprogram is werklik ... GROOT. En soos ’n gewigtige Russiese-roman behels dit alles: geboorte, geweld, seks, verraad, liefde, die dood en natuurlik skoonheid. Ek eindig met die woorde van die kunstenaar Joan Miro: “To be an artist is to believe in life”.

 

Klik hier vir rondleidings en besprekings

Klik hier vir die volledige kunstenaarlys

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top