SêNet-briewe | Letters

 
Kingsley en Martin Amis (die voëls en die bye)

Sover ek kan vasstel, het ek nog nie eintlik oor Kingsley Amis (1922-1995) en sy seun, Martin (gebore in 1949), op SêNet geskryf nie. Ek het wel al terloops na hulle verwys, eerstens toe ek James Gleick se boek oor inligting bespreek het (SêNet, 1.12.2011) en tweedens na aanleiding van Christopher Hitchens (1949-2011) se skryfwerk (SêNet, 18, 25.04.2012). In 'n latere boek van Hitchens, Arguably (London: Atlantic Books, 2012), is daar 'n essay, "Martin Amis: lightness at midnight" (p 625-639).

Kort na Kingsley se dood is 'n biografie oor hom deur Eric Jacobs gepubliseer (1995). Dit is opgevolg deur 'n baie beter en omvattender biografie, Zachary Leader se The life of Kingsley Amis (London: Vintage Books, 2007, 996p). Daar is blykbaar heelwat belangstelling in sowel Kingsley as Martin, insluitende pogings om hulle met mekaar te vergelyk. Daar is Neil Powell se Amis & son: two literary generations (London: Pan Books, 2009, 429p), wat net tot 1995 strek (p xiii). Hierna het Gavin Keulks 'n boek oor dieselfde onderwerp gepubliseer, Father and son: Kingsley Amis, Martin Amis, and the British novel since 1950 (2003). Kingsley was "more like a favourite uncle to Martin than a father" (Leader, p 648).

Om Kingsley en sy gesin te verstaan, is dit van deurslaggewende belang om te besef in hoe 'n mate die familie disfunksioneel was. In die Kingsley-huishouding was daar "drunkenness and swearing" (Powell, p 261). "Amis's life is not easily tidied" (Leader, p 7). Rook, drank, dwelms, depressie, selfmoordpogings en seksuele losbandigheid was aan die orde van die dag. Kingsley was met Hilary Bardwell (1928-2010) en daarna met die skryfster Elizabeth Jane Howard (gebore in 1923) getroud. Kingsley se "'great thing', Hilary explains, was 'let's get drunk'" (Leader, p 768). Albei huwelike het in egskeiding geëindig, want Kingsley was, afgesien van sy alkoholisme, "famously unfaithful"; "a serial adulterer" (Powell, p 94). "His tastes in alcohol were inclusive or democratic rather than exclusive or refined" (Leader, p 625). Sy ideaal was "a large study where he could surround himself with bottles and books (in that order)" (Powell, p 162). 'n Foto toon dat sy wens vervul is. Sy studeerkamer "contained almost as many bottles as books" met "the bottles more conveniently within reach than the books" (Powell, p 166).

Kingsley was "immoderately fond of women and alcohol" (Powell, p 118). Kontrasteer dit met Howard se "rather Home and Gardensish concern with the quality of her immediate surroundings" (Powell, p 144). Bardwell het na haar huwelik met Kingsley nog twee keer getrou en Howard het twee keer geskei voordat sy met Kingsley getrou het. Kingsley: "A woman has a different sexual and psychological make-up from a man. That's a fact that has to be learnt like the exports of Finland have to be learnt" (Leader, p 104). Daar is die "celebrated distinction between male and female poets: men, says Kingsley, write poems called 'Landscape near Parma', 'The Double Vortex', 'Rilke and Buddha', while women prefer 'I Remember You', 'Love is my Creed', 'Poem for J'" (Powell, p 98).

Kingsley en Hilary het drie kinders gehad, Philip (gebore in 1948), Martin en Sally (1954-2000), hoewel daar die sterk vermoede is dat Kingsley nie Sally se biologiese pa is nie (Powell, p 234). Philip het, soos Martin, geskei en weer getrou. "Phil's marriage ... was soon shaky, partly because of drink" (Leader, p 669). Sally het getrou maar na net ses maande was die huwelik verby. Sy was 'n volslae alkoholis (Powell, p 235). Martin en Sally het elk 'n buite-egtelike kind gehad. Die Kingsley-kinders is reeds voorskools deur hulle ouers toegelaat om te rook en hardehout te drink. "In being a permissive parent he [Kingsley] had actually been a lazy and neglectful one" (Powell, p 234).

Van die romans het ek Kingsley se Lucky Jim (1954) en Martin se The Information (1995) gelees. By albei outeurs is daar "similar intentions - to write comic or satirical fiction about the way we live now" (Powell, p xi). Sowel Leader as Powell toon aan dat Kingsley se estetiese aanvoeling gebrekkig was en dat hy diepsinnige onderwerpe vermy het. Martin se posisie is soortgelyk. "Although Martin possesses an on/off switch, he has very little in the way of a volume control and nothing at all for tone" (Powell, p 338). Wat by sowel Kingsley as Martin opval, is dat hulle vroeër werk hoër as hulle latere werk aangeslaan word.

Nadat ek die bogenoemde boeke van Leader en Powell gelees het, wou ek graag Martin se outobiografiese vertelling, Experience (London: Jonathan Cape, 2000), lees. Dit is die eerste e-boek wat ek van Amazon bestel en op my Kindle gelees het. Ek het gehoop om meer oor Martin se siening van sy jeug te wete te kom. In daardie opsig stel die werk teleur. Dit handel hoofsaaklik oor hoe Martin as volwassene sy pa ervaar het. Dan is daar heelwat (dalk in oormaat) inligting oor die moord op sy niggie, Lucy Partington (1952-1973). Daar is sekerlik glad te veel besonderhede oor Martin se kroniese probleme met sy tande en kakebeen.

Oor veral twee skrywers, Saul Bellow (1915-2005) en Philip Larkin (1922-1985), is daar insiggewende waarnemings. Kingsley en Larkin was van vroeg af bevriend. Kingsley het aanvanklik gedigte geskryf maar as 'n prosaskrywer bekend geword. By Larkin was dit andersom. Kingsley en Martin het, wat die politiek betref, gevorder van ver links na ver regs (Kingsley) of meer gematig (Martin). Hitchens se politiek het dieselfde paadjie as dié van Martin geloop. Sowel Kingsley as Martin se vertellings gaan dikwels mank aan gebreke. Wat nie betwyfel word nie, is dat albei uitgebreid gelees en hulle uitsonderlik goed en oorspronklik in Engels uitgedruk het.

Experience is vindingryk gestruktureer. 'n Mens kan sien hier is 'n ervare skrywer aan die woord. Die hoofteks word met briewe en interessante eindnotas afgewissel. Daar is treffende aanhalings uit ander werke. Die leser word ook ingelig oor Martin se kant van die geskille tussen hom en die bogenoemde biograaf Jacobs en die skrywer Julian Barnes. Wanneer 'n mens lees oor die lewens van opneukers soos die Amisse of wat hulle geskryf het, kan jy daaruit leer; wat om te doen of nie te doen nie. Byvoorbeeld, wat doen 'n mens as jy knaend vind dat jy vir iemand anders se (duur) restaurantete moet betaal? 'n Mansvriend van Martin, wat werklik te arm was om sy deel te betaal, het met 'n uitstekende voorstel gekom om Martin beter te laat voel: "Just pretend I'm a chick." Nog 'n vriend, Hitchens, wat uiteet kon bekostig, het 'n ander strategie gehad. Hy het aljimmers gevra: "Whose turn is it to pay for me?" (Kindle 3639).

Ten slotte haal ek die staaltjie aan wat Kingsley met genoegdoening aan sy kinders en Martin aan sy kinders vertel het. Dit illustreer die atmosfeer waarin twee generasies Amis-kinders grootgeword het. "The farmer's wife says to the farmer: 'The time has come for you to tell our George about the birds and the bees.' The farmer drags his feet: 'Ah come on, love. I mean, it's a bit embarrassing for a bloke ...' But finally he accedes. The hot afternoon, father and son alone in the glade, the twisting coils of birdsong, the murmur of innumerable bees. 'George. The time has come for your dad to tell you about the birds and the bees.' 'Yes, Dad.' 'You know what you and me did to them girls in the ditch last Friday night?' 'Yes, Dad.' 'Well the birds and the bees do it too.'" (K 3231).

Johannes Comestor


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address