Top 12 2012: Internasionale albums

  • 0

 

Die waarheid het vele aangesigte. Die top 12-albums van 2012, soos aangedui deur die wêreld se musiekjoernaliste, word deur Metacritic.com as volg uitgewys:

  1. Ten Freedom Summers – Wadada Leo Smith
  2. Blue Lines – Massive Attack
  3. Graceland Anniversary Issue – Paul Simon
  4. Of All Things I Will Soon Grow Tired – Joyce Manor
  5. Copper Blue – Sugar
  6. Woody at 100 – Woody Guthrie
  7. Dopesmoker – Sleep
  8. One Wing – The Chariot
  9. Liquid Swords – Genius/GZA
  10. Loveless – My Bloody Valentine
  11. LA Woman – The Doors
  12. On the Impossible Past – The Menzingers

Metacritic gee ook ’n lys wat deur die publiek aangewys is:

  1. Jesus Place – Game
  2. Blue Lines – Massive Attack
  3. Kaleidoscope Dream – Miguel
  4. True – Solange
  5. Lonerism – Tame Impala
  6. Awakened – As I Lay Dying
  7. Good Kid, MAAD City – Kendrick Lamar
  8. Koi No Yokan – eftones
  9. Shields – Grizzly Bear
  10. Halcyon – Ellie Goulding
  11. End of Daze – Dum Dum Girls
  12. Twins – Ty Segall

Net een album in gemeen! En dit is ’n album wat 21 jaar gelede die eerste keer uitgereik is, nl Blue Lines van Massive Attack. En wat merkwaardig is, is dat die kritici steeds hoër punte vir ou opnames (LA Woman, Graceland, Blue Lines, Loveless) as vir meer eietydse uitreikings toegeken het. My eie Top 12 vir die jaar lyk anders, en, durf ek dit ontken, laat die jaarringe wys.

1. Waking Season – Caspian

Ek wil elke dag wakker word met hierdie musiek in my ore. Caspian se post-rock maak my so positief voel oor alles dat ek eintlik skaam is om dit te sê. Dit is opwindende, welluidende musiek – en dinamies.

2. One Day I’m Going to Soar – Dexys

Kevin Rowland keer uiteindelik terug en maak die album wat hy altyd belowe het hy sou: ’n volmaakte poging.

3. Ten Freedom Summers – Wadada Leo Smith

As jy ’n jazz-liefhebber is, sal die negentien snitte van hierdie album vir jou intense vreugde bring. Die gees van eksperimentasie en musikale impressionisme leef.

4. The 2nd Law – Muse

’n Uitdaging om te luister. Ek koop nie die idee dat hulle die arm man se Radiohead is nie. Muse is vindingryk en kreatief, en hulle probeer kliphard om ’n glimlag of twee uit te lok. Maar allesoorheersend is die soniese moerhoue wat hulle aanmekaar optower.

5. Tempest – Bob Dylan

Soos alle waaragtig goeie Dylan-plate wek hierdie album, na maande se luister, steeds nuwe gewaarwordinge by mens. Merkwaardig hups as mens in ag neem dat hy 71 is, en die liedjies openbaar hul geheimenisse stadig. Lekker.

6. Wrecking Ball – Bruce Springsteen

Ja, ek het gedink Springsteen is oor die muur. Kennelik nie. Sommige van die snitte is wel ’n paar jaar oud, maar hulle het nou eers ryp geword.

7. Bloom – Beach House

Ek kan nie genoeg hiervan kry nie. Vol, wydse klanktonele, geen wanklanke nie, slegs die klankgolwe wat jou lug en ekstaties laat dobber. Kragonderbrekings is hel op hulle.

8. The Idler Wheel – Fiona Apple

Die album het ’n veel langer titel, waarvoor mens hierdie intense sangeres seker moet respekteer, maar dit beteken nie dat jy haar pretensies hoef te herhaal nie. Die musiek verdien onverdeelde aandag, die sentimente daaragter ons erns.

9. Lonerism – Tame Impala

Kevin Parker se breinkind klink soos musiek wat jy dink jy moontlik voorheen al gehoor het, maar definitief nie kón gehoor het nie. Ou style, ou invloede, nuwe drifte en drange.

10. Standing at the Sky’s Edge – Richard Hawley

Het Hawley al ooit ’n slegte album gemaak? Nee. En hierdie poging van hom om sy kitaarspel meer psigedelies op die voorgrond te stoot is uiters geslaagd. Skitterend.

11. The Garden of Love: Songs of William Blake – Martha Redbone

’n R&B-sangeres se toonsettings van ’n klompie gedigte van William Blake. Vreemd? Toonsettings kan mens eienaardig bewimpel, en hoewel ek andersins nie ’n groot bewonderaar van Redbone is nie, doen sy hier alles reg.

12. Living for a Song – Jamey Johnson

’n Eenvoudig oorweldigende huldeblyk aan die liedjieskrywer Hank Cochran. Daar is baie bekende name hierop (Alison Krauss, Elvis Costello en ander), maar dis Johnson se geesdrif wat oor jou spoel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top