Kan Isak Burger mense hel toe stuur?
Ek skryf na aanleiding van ‘n ongelowige wat die volgende stelling gemaak het hier op SêNet: “Wonder wie hulle as president van die christelike regering sien - seker Isak Burger van die AGS wat tog sulke lekker stories oor die hel kan vertel en al die ongelowiges soontoe kan stuur!”
Die hel is nie oorspronklik geskep vir die mens nie. Maar wel vir die antichris en die valse profeet. Eers daarna sal die mens wat hier op aarde geleef het sonder ‘n verlossingsverbond, na die onderwêreld gaan.
Niemand hier op aarde kan enige mens na die hel stuur. Maak nie saak of sy naam Zuma of Isak Burger is nie. Hierdie reg behoort net aan God alleen na die Wit Groottroon oordeel.
Die gees van die mens is EWIG en verlaat die liggaam wanneer sterf. Die dag wanneer ek uit hierdie dop van klei vertrek, is daar slegs twee plekke waarheen my ewige gees en siel uiteindelik sal gaan. Ekself kies my bestemming!
Hier op aarde het ek gou ‘n paar dinge geleer. Dat niemand goed word deur op sy foute of sonde gewys te word nie. Dat hel-prediking miskien in die ou dae gewerk het, maar nie meer vandag nie. Dit mag miskien vir ’n ruk die vrese opwek by die mens, maar is nie die groot trekpleister wanneer dit kom by sielsverandering nie.
Wanneer verander mense of kom onder ‘n ander oortuiging? Wanneer ek Jesus in gesindheid aan hul uitbeeld en uitleef. Die mens het ‘n innerlike begeerte na die mooie, na die morele goedheid, na waardes wat die wȇreld om hul rustig kan maak. Wanneer ek iemand ontmoet en sien dat hierdie persoon ‘n besonderse hart en gesindheid dra, genereer dit ‘n begeerte in my hart om ook so te kan wees! Om te kan verander na dieselfde reinborstigheid, opregtheid, eerlikheid, liefdevolheid - sodat ander ook na my aangetrek sal word.
Ek hou van die mooi dinge in die lewe. Van mense wat positiewe opbouende dinge in my kan inbou. Wat my kan leer hoe om ‘n gelukkige lewe hier op aarde te kan uitleef, en met ‘n omgeehart teenoor ander op te tree. Om voluit te lewe!
Die dag wanneer God hierdie aarde van ons se laaste slot skryf – sal kerke en sieninge vergaan, sal politieke leiers die staf neerlȇ en die moordenaar sy wapens agterlaat. Die ongelowige sal sy rekenaar toeklap en die verslaafde sy drugs uitspoeg.
Ja, die hemel is ‘n werklikheid en die hel is ook ‘n werklikheid. Die hel, Sheol in Hebreeus, dra eintlik ‘n groot waarskuwing, anders sou dit nie 65 keer in die Ou Testament voorgekom het nie, en Hades, die Nuwe-Testamentiese woord van Griekse oorsprong skilder die werklikheid van so iets. ‘n Studie op sigself. Net die Bybel is bekend aan die geesteswȇreld of bonatuurlike wȇreld. En moet jou studie hiervanuit vloei.
Wil God mense hel toe stuur? Natuurlik nie! Het Hy nie self die mens kunstig geweef in die moederskoot nie? Jou ongevormde klomp gesien en lewe daaroor geblaas? Ek dink as daar ‘n vraag is wat God aan die mens graag sou wou vra na afsterwe op aarde, sou dit wees: “Was jy, jy?”
Wat sal mense van jou onthou, wat sal jou kleinkinders van jou sien? Dat jy ‘n korrelkop oupa was wat met almal gestry en baklei het? Dat jy ure voor die rekenaar gesit en tik het om ander verkeerd te bewys en in elk geval niks daarmee bereik het. Kosbare ure vermors!
Hoe ander my afsterwe sal beskou, hang van myself af. Ek kies my eie lot. Ek kies my eie geluk. Ek besluit watter paaie ek gaan loop en waarheen hulle my gaan vat. So is dit ook waar van my ewige bestemming. Ek kan kies tussen lewe en dood. Jesus het nie gesterf vir die wat alreeds lewe nie, maar vir die wat Hom nodig het. Wat wil verander.
Ongelukkig kan ek, Trienie, ook nie Sy Woord herskryf nie. As jy die waarheid hoor en opsetlik kies om dit te verwerp, sal jou uiteindelike ewige bestemming ‘n land wees van donkerte, vuur en afgryse.
Die ewigheid het geen einde nie – en ons almal is op pad soontoe ...
Sterkte
Trienie
(Ns: Nou toe, julle kommentators, gooi maar, ek het ‘n dik vel, inteendeel, ek geniet dit om dinge te roer!)