Julle kan nie ’n egte gemeenskap sonder ons wees nie

  • 3

Titel: Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun
Skrywer: Geoff en Eileen Stenekamp
ISBN: 9781920654122

Koop Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun by Kalahari.com.

Laurie Gaum lees en bespreek Eileen en Geoff Stenekamp se Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun.

Toe Geoff en Eileen Stenekamp se seun vir hulle sê hy is gay, gaan hulle na die wetenskap en die Bybel om antwoorde te vind. Hulle maak ’n studie van die jongste wetenskaplike bevindinge en kom onder andere “’n onteenseglike genetiese basis vir homoseksualiteit” teë.

Maar die Bybel was vir hulle as Christen-ouers ook belangrik en hulle het dus gaan kers opsteek by Bybelwetenskaplikes om die sogenaamde “Bybel-koeëls” (tekste wat hulle direk of indirek oor homoseksualiteit uitlaat) binne konteks te bestudeer. Dit laat hulle by ’n heel ander plek as die tradisionele letterlike verstaan van die gedeeltes uitkom.

Ons vind die Stenekamps se tien jaar lange studie omtrent die onderwerp hier geboekstaaf. Dit verskyn terwyl die Verenigde Nasies (VN) se Menseregte-kantoor pas ’n wêreldwye bewusmakingsveldtog (Free & Equal) teen homofobiese geweld en diskriminasie in Kaapstad bekend gemaak het. Aartsbiskop emeritus Desmond Tutu was by dié geleentheid op sy stukke en het verklaar dat hy eerder die hemel sal boikot as om na ’n homofobiese een te gaan. Dan kies hy eerder “die ánder plek”, het Tutu gesê.

Adrio König praat in ’n voorwoord tot die Stenekamp-boek van “homoseks”, wat ’n enigsins ongelukkige en onbehulpsame woord is. Daar word tog nooit van “heteroseks” gepraat nie. Ook die term “kern-homoseksueel” wat in die boek genoem word, vind ek om dieselfde rede onbevredigend. Maar so sê die wetenskap …

Jean du Plessis word aangehaal waar hy sê dat ’n soeke na die oorsprong van homoseksualiteit hoofsaaklik van teoretiese belang is. Hiermee stem ek saam en het bedenkinge oor die waarde van die biologiese debat wat onlangs weer in By opgevlam het.

Laurie Gaum

In sekere kringe word die genetiese argument omtrent homoseksualiteit nie as so ’n sterk argument gesien nie. In Afrikaner-kringe is dit egter nog van deurslaggewende belang. Dalk het dit iets te doen met ons besondere verhouding met bulle?

Om gender as ’n konstruksie te sien waarin heteronormatiwiteit spesifieke magsbelange verteenwoordig, kom nie in die boek ter sprake nie. Dit kan van waarde wees om dit op toeganklike wyse uiteen te sit.

Die Stenekamps se boek volg in die spore van Onlogiese liefde – Op pad met my gay kind (Dina Joubert, 1998) en Jy bly my kind (Lidia Theron, 2005). Albei is ook geskryf vanuit die perspektief van ouers van gay of lesbiese kinders. Hierdie studie wil egter op eenvoudige wyse helderheid kry oor wetenskaplike en Bybelwetenskaplike navorsing. Die skrywers slaag daarin om iets vir ouers te bied wat hulle aanvanklike vrese vir die onbekendheid en vreemdheid van homoseksualiteit kan bylê.

Die publikasie kan dus ook aansluiting vind by die VN se Free & Equal-veldtog om grondvlak-respek te kweek deur middel van opvoeding oor die verskeidenheid van menslike seksualiteit binne die verskeidenheid van menswees.

Vader Michael Lapsley verwoord dit uitstekend in sy outobiografie, Redeeming the past, weliswaar binne ’n ander verband, omtrent die gestremdheid wat hy na ’n briefbom-aanval opgedoen het: “As we who are disabled demand a place in the sun, we are not just asking people to be nice to us; we are saying, ’Actually, you can’t be a real community without us.’ We don’t ask for pity; we ask for justice; and we say, ’Don’t just include us in your community. Instead, come, let’s create one together.’”

As lesbiese, gay, biseksuele, transgender- en interseks-persone (afgekort LGBTI) sê ons dieselfde: Ag ons vir die bydrae wat ons kan lewer. Besef dat julle ons nodig het. Ons vra nie dat julle sê, “Ag foeitog!” nie. Ons vra vir niks minder as geregtigheid nie. Ons vra dat julle agterkom dat julle nie regtig ’n gemeenskap sonder ons is nie. Moet ons daarom nie net by julle gemeenskap insluit nie. Laat ons sáám ’n nuwe gemeenskap skep!

Lees ook 'n onderhoud met die skrywers van die boek.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 3

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Laurie,

     

    Ongelukkig is Afrikaner-kringe konserwatief van aard - dit is eenvoudig hulle natuur, en hulle geloof gegrond op die Joodse-Christen wêreldsiening só ingeprent dat ek nie sien dat hulle ooit homoseksualiteit kan aanvaar nie. Die Christen-Kerk is te danke daarvoor: vir tweeduisend jaar is homoseksuele en homoseksualiteit gedemoniseer. Dit staan mos alles in die Bybel!

     

    Die VVO is 'n organisasie van sekulêre idealiste, and hierdie orgaan het slegte weerklank by die Afrikanerpubliek weens sy veldtog teen Apartheid. Dit is twyfelagtig of hulle utopiese idees enige indruk sal maak op 'n Afrikaner-gehoor.

     

    Die styd van homoseksuele gaan oor aanvaarding (sal nie gebeur nie),  mensewaardigheid, en menseregte (wat vervul moet word).

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys 

  • Ek weet nie Pieter of ek heeltemal met jou saamstem nie.

    Die homo was altyd in Afrikaner-geledere, en als sulks uitgeken en aanvaar, mits hy nie met dit te koop geloop het nie.

    Ongelukkig is daar geen melding in ons geskiedenis daarvan nie, maar ek onthou nog my pa se ma (my ouma Fourie) toe ek haar gevra het hoekom my oom Faan (toe in sy 40's) en ek nog kind, hoekom hy nooit getrou het nie, se antwoord was:  "hy is een van daai soort ouens wat nooit vrou sal vat nie".  Nieteenstaande was hy gewild onder die familie (inteendeel, my 'n hupstoot in die lewe gegee toe ek daar by die 19 was).

    Van die bekenste Afrikaners het ek my bedenkeninge.  Jan Smuts op universiteit, 'n tipiese "nerd" beskrywing van hom.  Sy verbintenis en aanvanklike heldevereering met Cecil Rhodes ('n uitgekende homo) voor Jan se huwelik, en Rhode se kring van homo's in die Kimberley Club.  Dan is daar Onze Jan Hoffmeyr, ongetroud, gekneg aan sy ma wat hom oorleef het.

    Dit is ook bekend dat Lord Kitchener (ook 'n homo), sy smakie van boerseuns gehad het terwyl hy in SA was.

    Net soos die geliefde Joodse smous (bekend as die Afrikaner Jood) deel van die Afrikaner geskiedenis was, en met die Britse aanslag teen Duitsland, het Nazi moraliteit op die Afrikaner deels afgevryf, waar die Jood sedertdien as 'n vyand beskou is, so ook min of meer gedurende dieselfde tyd, is daar 'n skielike bewuswording onder Afrikaners dat homo's verag en vervolg moet word.

    Vandag is verdraagsaamheid en selfs aanvaarding onder Afrikaners 'n wordende werklikheid.  Hier in die Vaaldriehoek waar ek bly, is gays oop en  bloot, selfs in straight clubs, sonder om wenkbroue te laat lig.

    'n Ander werklikheid is dat Afrikaner gays vorm 'n sigbare meerderheid in die gay samelewing.  Onder swartes bly dit meerendeels ondergronds, die dat dit wil voorkom min swartes is gay.  In al die groot stede, selfs Engelse Durban, is Afrikaans die voertaal by blanke gays onderling.

    'n Verdere belangrike faktor is die skerp afname onder Afrikaners om kerk toe te wil gaan, asook die onwilligheid om te wil trou, en eerder saam te leef, met die daaropvolgende minder katkisante en babas wat gedoop word. Hierdie afname in kerkbywoning het die effek dat die Afrikaner-samelewing al hoe minder kontak maak met godsdienstiges wat hulle anti-gay agendas uitbraak.

    Jaco Fourie

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Jaco,

    Dankie vir jou interessante en insiggewende terugvoer oor die sosiale posisie van gays in die Afrikaner-gemeenskap. Dit is bemoedigend om te hoor dat Afrikaners tredhou met die res van die ontwikkelde wêreld veral in die lig van die geskiedenis. 

    Die beste nuus van al is dat Afrikaners minder kerktoe gaan as vroeër!

    Beste groete,

    Pieter

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top