Judaïsme vs die Christendom
Die probleem wat sommige mense, veral agnostici en sekulariste het, is om te onderskei tussen wat bekend is as Judaïsme (’n onbekende term in die tyd toe die HERE Sy bediening op aarde gedien het, maar beskrywend van die religie van fariseërs en sadduseërs) en die werklike Israelitiese of Joodse Godsdiens. Laasgenoemde kan ons dan die Abrahamiese- of Verbondsgodsdiens noem – dít is die Godsdiens wat ontwikkel het sedert Noag, Melgisedek, Abraham, Moses en dan die HERE Jesus Christus.
Sedert Abraham is dié Godsdiens deur God se uitverkore volk, die twaalf seuns van Jakob (Israel), via Moses, ontwikkel.
Dit is insiggewend dat die Goddelike profete álmal terugverwys na dié voorafgaande Godsdiens, ter verdoeming van wat tóé in Israel en Juda besig was om te gebeur en hulle deur dié profete geroep word om terug te keer na die ware Godsdiens, dié van Abraham, Izak en Jakob (Israel). In dié tyd was daar ook telkens konings in Juda én Israel, wie wél teruggekeer het na die ware Godsdiens en daar word in die Woord baie duidelik onderskeid getref tussen hulle en die ander, wat nuwe afvallige rigtings ingeslaan het (wat uiteindelik tot die twee volke se verstrooiing gely het) – tóé al het God deur die profete gewaarsku dat God die Verbondsgodsdiens deur ander volke sal voorsit en die afvallige Israel sal verstrooi en uitsluit (Jesaja 2:2-4; Lukas 14:17-24).
Wat inderdaad gebeur het … Want Israel en Juda ís uiteindelik verstrooi weens hulle afvalligheid en in die verstrooiing het hulle grootliks afgewyk (die ontstaan van die Judaïsme, soos ons dit vandag in selfs meer afgewaterde en veranderde vorm, ken) van die Verbondsgodsdiens.
Vir ongeveer 4 eeue daarna is die ware Godsdiens net deur ’n kerngroep gelowiges beoefen – sien Esra en Nehemia in daardie verband - en dit wil voorkom of meeste van hulle nie eens die tempel bygewoon het op Sabbatte nie.
Ons sien dit ook bevestig deur die HERE se keuse van apostels en dissipels. Alhoewel die HERE gereeld op die Sabbatte na die tempel gegaan het om daar te gaan onderrig (HY doen dit immers al van sy twaalfde jaar af), het Hy juis Sy dissipels buite tempelverband, waar die Judaïsme in sy verskyningsvorms van die fariseërisme en die sadduseërisme bedryf was, gaan aanstel – dáár waar hulle met hulle werk besig was. Gééneen van hulle was dus “kerkgangers” nie, anders sou die HERE hulle juis daar aangetref het ... Die huiskerkstelsel was toe reeds al in gebruik en het mense huisaltare gehad waar hulle hul offerandes gebring het en dit is waar ware gelowiges hul Verbondsgodsdiens nog getrou beoefen het – die eerste volgelinge.
Trouens, toe die vername, hooggeplaaste fariseër Nikodemus Jesus in die donkerte van die nag nader met die erkenning dat die HERE van God is en met die versoek om hom touwys te maak aangaande die ware Godsdiens, was Jesus se antwoord dat Nikodemus die religie moes los waarmee hy besig was, deur wedergebore te word uit die Gees – wat Nikodemus as afvallige en spiritueel afgestompte Judais, natuurlik net so min kon verstaan soos vandag se Chrisse, Angusse, Thomasse, Wouters, ens.
Daar is verskeie ander verwysings in die Woord waar die HERE duidelik gemaak het dat die religie waarmee die fariseërs en sadduseërs, die Judaïste, mensgemaakte versinsels is en hulle van God verwyder het. Ek verwys na sommige belangrike daarvan in my ander artikel hieroor, asook Mattheus 15:1-3, 6-9; 23:23-33 wat baie belangrike aspekte van die Judaïsme uitwys wat lynreg téén die Verbondsgodsdiens, is.
Duidelik die HERE Self, die antieke Verbondsgodsdiens as synde die ware en oorsponklike Godsdiens, waar dié juis in Hóm vervul word, bevestig, waar HY, na aanleiding van die verbreking van daardie Godsdiens deur die Judaïsme, sê:
“17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle, hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. 19“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer (die Judaïste van die tyd), sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. 20Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Só is die Christendom die ware antieke en ewige Godsdiens en die Judaïsme, ’n afwykende sekte. Daar is talle Jode wêreldoor vandag, wie tot die Christendom bekeer.
Groete,
Kobus de Klerk