ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Johann Lodewyk Marais (1956– )
 

Sêgoed van Johann Lodewyk Marais

“Pablo Neruda het ’n keer gesê poësie is soos brood vir die mens en moet onder almal gedeel word. In die Afrikaanse literatuur is die poësie ongelukkig te lank as ’n fyngebak vir die elite en establishment eenkant gehou en suinig gedeel. Dit het tyd geword dat poësie weer soos brood moet word wat aan almal gegee kan word wat honger daarvoor is.”

“Dit is gevaarlik om te veel deur Afrikaanse skrywers beïnvloed te word. Dit kan tot ’n intelery lei.”

“Niemand kan sommer net gaan sit en skryf nie. Jy moet mos weet hoe ’n gedig aanmekaar steek en hoe die verskeie soorte gedigte lyk. Daarom ag ek myself en my tydgenote anders as die Sestigers. Hedendaagse digters het tegniek weer ontdek.”

“Beperkter publikasiemoontlikhede vir digters en aanvegbare uitgewersbesluite het die Afrikaanse poësie die afgelope jare ’n gevoelige slag toegedien. Diegene wat dit nie kan of wil raaksien nie, het min insig in wat die afgelope jare gebeur het.”

“Ek hoop egter dat daar in die toekoms poësie oor ’n wye verskeidenheid temas geskryf sal word. Op die oomblik is dit vir my asof die verkenning van die seksuele identiteit en eksesse oorbelig word. Natuurlik het ek nie probleme met die feit dat digters oor seks skryf nie, maar daar is ook op Afrikaanse (oop Afrika se) bodem veel, veel meer om oor te skryf as ons ’n greep op hierdie droewe én opwindende kontinent wil kry.”

By die bekendstelling van Aves in 2002: “Die digter is vandag in ’n enigsins onbenydenswaardige posisie, en daar kan met reg gevra word watter betekenis dit het om (nog) gedigte te skryf.”

“As één genre in gevaar is, kom die hele stelsel onder druk. Die feit dat die poësie deesdae onder druk is, behoort dus ’n waarskuwingsteken te wees. Alle genres in die Afrikaanse letterkunde behoort gesond te wees en alle aspekte van die stelsel moet in gesonde wisselwerking verkeer. Daarom deel ek ook die kommer onder baie mense oor wat tans in ons uitgewersbedryf aan die gebeur is.”

“Literêre tydskrifte vervul ’n baie belangrike funksie binne die literêre sisteem, onder meer as ’n soort werkswinkel vir die skrywer en as forum vir die literêre gesprek by wyse van (onder meer) literêre opstelle.”

“Dit is belangrik dat ’n digter hom vergewis van die literêre tradisie waarbinne hy skryf, al is dit net om uiteindelik teen die tradisies in te skryf.”

“Ek dink die Afrikaanse skrywer het sedert Sestig ’n betekenisvolle rol gespeel om die leser bewus te maak van onregte in die samelewing. Ek is telkens verbaas om te sien hoe suiwer iemand soos Breyten Breytenbach die politieke opset hier ontleed.”

“Die skrywer behoort ook voort te gaan om vandag ’n rol te help speel om betrekkinge tussen mense in Suid-Afrika te ‘normaliseer’. Hy kan ’n belangrike bydrae tot die demokratiseringsproses speel omdat sy stem gehoor kan word.”

Gebore en getoë

Johann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in die Koningin Victoria Kraaminrigting in Hillbrow in Johannesburg gebore as die enigste kind van Hendrik Salomon Marais en Johanna Herculina Oosthuizen.

Sy oupa aan vaderskant, Johannes Lodewyk Marais, na wie hy vernoem is, was ’n boer in die Harrismith-distrik, maar hy is oorlede ses maande na Johann se geboorte. Sy ouers was twee van die duisende Afrikaners wat gedurende die 1920's en 1930's na die stede gegaan het. Beide sy ouers was werkers wat nie hulle skoolopleiding kon voltooi nie. Hulle het gewone lewens gelei en sou nooit kon dink dat ’n kind van hulle ’n digter sou word nie.

Drie maande na Johann se geboorte is die gesin terug na Harrismith, waar sy pa die boerdery op die plaas Sans Souci by sy ouers moes oorneem. Op hierdie plaas, ongeveer 50 kilometer oos van Harrismith op die Collinspaspad het Johann grootgeword. Sy speelmaats was die Sotho-kinders op die plaas en saam met Afrikaans leer hy ook Sesotho – soveel so dat hy vandag nog Sesotho as ’n soort van moedertaal beskou. Johann vertel dat een van die wonderlike dinge omtrent die plaas was dat dit tussen die berge geleë is. En vir die plaasgemeenskap was en is reën baie belangrik, en wanneer dit gereën het, is dit as ’n groot gebeurtenis beskou.

Johann bring sy eerste ses skooljare deur by ’n klipskooltjie op Mont Pelaan, ’n plekkie tussen Harrismith en Memel in die Oos-Vrystaat. In ’n onderhoud met Henning J Pieterse op LitNet vertel Johann dat hulle op hierdie plaasskooltjie elke jaar resitasies in ’n bloemlesing moes oorskryf om voor te dra en by elke resitasie ’n mooi prent moes inplak of ’n eie tekening moes maak. “Eenkeer het ek ’n gedig in, as ek reg onthou, Die Jongspan of Vonk, gelees, die gedig effens gewysig en toe in die bloemlesing oorgeskryf met my eie naam onderaan. Hierdie byna terloopse gebeurtenis het ’n indruk op my gemaak. Om iets te skryf met my naam daarby het my gefassineer!”

Sy eerste “ware gedig” het hy in standerd vyf aan die Laerskool Harrismith geskryf. “Ek was een aand by ’n volkspelebyeenkoms wat deur die skool aangebied is. My kleinniggie Moira Brunsdon (wat vir my soos ’n suster was) was ook daar. Dié aand het ek egter ’n donkerkop meisie met ’n pers rok en spierwit sandale langs die dansvloer sien sit. Sy het onmiddellik my hart gesteel en ek het haar gevra om te dans toe ek sien sy kyk ook heeltyd na my. Daarna het ek en sy lank op die dansvloer rondgespring. Ek was dolverlief, maar het na die tyd verstrooid in die nag verdwyn. Oor dié meisie, Dalene van Rooyen, het ek kort daarna my heel eerste gedig met rym en al geskryf. Sy het dit natuurlik nie geweet nie, al het ek en sy daarna saam na een of twee skoolfunksies gegaan. Mense wat ’n mens skaars ken, het soms ’n geweldige en lewensbepalende invloed op jou!”

Daar was maar min boeke in Johann se ouerhuis en in die laerskool was hy geen groot leser nie, maar die plaaslewe en die ryk natuurlewe het meer as vergoed daarvoor. “Ek was gelukkig dat my pa die natuur en natuurverskynsels waardeer het en my aandag daarop gevestig het.” Hy onthou ook baie ander ervarings in en om die klipplaashuis met sy plankvloere, houtvensters en sinkdak. “Augustusmaand met sy winde was onvergeetlik: die geluide by die vensters, die bloekom- en sederbome wat deur die westewinde skeef gewaai word, die vertroosting van die koolstoof, die sensuele teenwoordigheid van die Sesotho-meisies wat my hulle taal geleer het en my ouers wat iewers met hulle dagtaak besig was.”

Toe Johann twaalf was, het sy pa ernstig siek geword. Hy het aan leukemie gely en hulle moes die plaas verlaat om in Harrismith te gaan woon. Na ’n erge lyding is sy pa in 1970 in Kroonstad se hospitaal oorlede.

’n Vriend van Johann, Werner Vermeulen, het hom in standerd vyf aangespoor om te begin lees. Sy belangstelling in die letterkunde ontwikkel eers in die hoërskool op Harrismith. Hy begin verwoed lees en leer ken skrywers soos Eugène Marais, DF Malherbe , CM van den Heever, PJ Schoeman en Jan J van der Post. Die Engels-onderwyseres op Harrismith, mev El Bedford, het ’n baie groot invloed op Johann se ontwikkeling gehad. Sy was die suster van sir Laurens van der Post en die ma van die Springbok-rugbyspeler Tommy Bedford.

In standerd nege verskyn Johann se eerste gedig in ’n spesiale bylae tot Die Vaderland genaamd Ons jong digters. In sy matriekjaar in 1975 lê hy sy eerste bundel voor vir publikasie, maar dit word afgekeur. Hy besef dat hy hom sal moet losskryf uit sy onervarenheid as hy ooit ’n digter wou word.

Johann het ook op Harrismith aan die ouerhuis van sy vriend Costa Georghiou kennis gemaak met veral musiek, die beeldende kunste en die letterkunde. Daardie sfeer waarin hy soms daagliks kon deel, het ’n belangrike rol in sy ontwikkeling as skrywer en as mens gespeel.

Hy vertel aan Henning Pieterse dat dit die kennismaking met die Sestigers was wat hom laat afsien het van sy voorneme om eendag in ’n natuurwetenskaplike rigting te gaan studeer. “Die taal- en styleksperimente in André P Brink se Lobola vir die lewe (1962) het my verras, terwyl sy reisverhale vir my ’n nuwe wêreld oopgemaak het. Daarby het Brink se resensies en Coenie Slabber se literêre nuus in Rapport my literêre verwysingsveld verbeed.” Maar die twee bundels wat hy in standerd nege oor en oor in die Carnegie-biblioteek langs Harrismith se stadsaal uitgeneem het, was NP Van Wyk Louw se Tristia en DJ Opperman se Dolosse.

Die een enkele boek wat hom die meeste bekoor het, was Chris Barnard se Mahala. “Ek onthou nog die dag toe die bibliotekaresse, mev Harriet Smith, vir my gesê het dat Barnard se Duiwel-in-die-bos en Mahala opgedaag het. Ek het die boeke met hulle pragtige omslae van die een klas na die ander saam met my gedra en trots en vol verwagting op die bank voor my neergesit.”

Hy vertel verder dat hy ’n kompulsiewe Mahala-leser geword het. “Een keer per jaar, wanneer die weerlig begin uitslaan en die eerste reën val, haal ek die boek van die rak af. Sedertdien het ek drie referate oor Mahala gelewer, en lank navorsing in die Laeveld gedoen, en self Mosambiek besoek, wat die broeiende wêreld in dié roman vir my verder oopgemaak het. Martin Heidegger, Pablo Neruda, DJ Opperman en talle ander digters, skrywers en filosowe het waarskynlik ’n groter invloed op my gehad, maar Mahala is soos ’n jeugliefde wat ’n mens bybly.”

Johann matrikuleer in 1975 aan die Hoërskool Harrismith.

Terug na bo

Verdere studie en werk

In 1976 begin Johann sy studies aan die Universiteit van Pretoria in Germanistiek en Filosofie. Aan die einde van Maart van dieselfde jaar vestig sy ma haar ook in Pretoria.

Op universiteit is Johann ’n stigterslid saam met Hans Pienaar en Koos Prinsloo van die tydskrif Vlieg, wat later gestaak is. In 1980 studeer hy vir sy BA Honneursgraad in Afrikaans en hy slaag sy MA cum laude oor opleiding in skeppende skryfwerk, waarvoor hy die Marius Jooste-medalje ontvang. Hy behaal sy DLitt in 2001 met sy tesis Die wetenskaplike prosa van Eugène N Marais onder leiding van prof PH Roodt.

Johann is daarna vir twee jaar (Julie 1981 tot Junie 1983) na die Weermag, en ná sy ontslag in 1983 word hy aangestel as navorser by die RGN in Pretoria, eers by Sensal en later by Groep Samelewingsdinamika. Hy was by Sensal veral betrokke by die tipering van rasseverhoudinge in die Suid-Afrikaanse letterkunde en by navorsing oor opleiding in skeppende skryfwerk wat uitgeloop het op die boek Opleiding in skeppende skryfwerk wat in 1987 deur die RGN gepubliseer is.

Johann het die werksomstandighede by die RGN baie stimulerend gevind, hoewel hy soms die bevindings van die navorsing betwyfel het. Gedurende die laaste tien jaar van sy werk by die RGN het hy meer betrokke geraak by sosiale navorsing. Dit het hom in aanraking gebring met kwessies soos die agteruitgang van die omgewing, plattelandse ontwikkeling, armoede, migrasie met buurlande en MIV/VIGS. Hy doen heelwat ondervinding op die gebied van volhoubare ontwikkeling op toe hy gekontrakteer word om navorsing te doen vir die voorbereiding van die bou van ’n dam in die Lomatirivier in Mpumalanga vanaf 1991 tot 1993.

Vanaf 1986 tot 1993 is hy deeltydse dosent aan Unisa se Instituut vir Voortgesette Opleiding, waar hy verantwoordelik was vir die aanbied van kursusse in skeppende skryfwerk vir prosaskrywers (1986–92) en digters (1993).

Johann word later assistentdirekteur: hooftaalpraktisyn by die Suid-Afrikaanse Weermag in Pretoria en in 2005 word hy Navorsingsgenoot by die Eenheid vir Akademiese Geletterdheid aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ook hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort en erepresident van die Eugène Marais-Skrywersvereniging.

In 2006 en 2007 is hy lid van die besprekingspan wat gedigte van nuwe digters vir die digBy-poësieprojek help evalueer. By 2009 se Volksblad-kunstefees in Bloemfontein lei Johann die poësieslypskool.

In 1983 word Johann se eerste digbundel, Die somer is ’n dag oud, gepubliseer. Dit word in 1984 bekroon met die Ingrid Jonker-prys. In sy commendatio vir die prys skryf LC Eksteen: “Die bundel wat die sterkste indruk maak, is Die somer is ’n dag oud van Johann Lodewyk Marais. Veral die verse in die eerste drie afdelings val op deur ’n stewige vormbeheer, ’n wrang ironie en ’n etsende beeldhouvermoë. Hoewel die laaste afdeling op ingetoë wyse die eietydse problematiek van die soldatelewe wil ontluister, bevredig dit minder. [...] Die somer is ’n dag oud kan nietemin as ’n goeie debuut met ’n onderskeidende stem beskou word.”

Johann de Lange beskryf die gedigte as tydruimtelike gedigte, gedigte van die verhoudings tussen dinge, en dit is ook terselfdertyd sterk outobiografies. Hy skryf verder in Die Vaderland dat Marais ’n digter is met baie talent, met tegniese vaardighede, fyn beeldsintuig en ’n aanvoeling vir die regte woord en die nuanses van taal. “Kritiek is daar sekerlik ook: sommige gedigte dra swaar aan die las van verliteratuurdheid en soms kry ’n mens die gevoel dat van die gedigte vassteek in die taal en nie deurdring tot die kern waaroor daar geskryf word nie. Maar dit is mindere besware teen ’n bundel met soveel opwindende gedigte en bewyse van vaardigheid.”

EC Britz meen dat baie gedigte in die bundel deur suiwer, deursigtige eenvoud gekenmerk word en wat ’n mens dadelik beïndruk, is die wonderlike kwaliteit wat hulle besit in die afwesigheid van ’n opvallende tematologie, dramatiese kragtoere, oorstelpende verbeeldingsvondste en taalspel of welluidende woordmusiek. “Die beste gedigte is juis gesuiwer van oordrewe gedig-agtighede.”

André P Brink beskryf Johann as ’n belowende nuwe digter wat – in weerwil van jeugdige oneweredigheid – sy eie sê kan sê.

Op ’n vraag wat sy idee van die digter van Tagtig is, antwoord Johann: “Ek is wel betrokke by die woelinge om die sogenaamde ‘Tagtigers’ as gevolg van die feit dat ek redakteur van die poësietydskryf Ensovoort is. Tog sien ek myself nie as ’n ‘Tagtiger’ met elemente soos aanvanklik gevisualiseer deur André Letoit nie. Ek sien myself ook nie as ’n ‘ouer skrywer’ nie en glo nie dat ’n mens my werk in ’n kategorie kan plaas nie. My werk sluit aan by DJ Opperman. Ek het by hom geleer en my eie ding begin doen.”

Hy vertel dat hy die meeste aanklank vind by die Chileense digter Pablo Neruda. Hy lees ook graag digters soos Octavio Paz en Czeslaw Milosz. “Milosz se historiese bewussyn is verbluffend en ek leer graag by hom.”

Johann vertel in Die Vaderland van 23 Julie 1985 dat sy skryfwerk grotendeels outobiografies is, hoewel daar ook ’n paar politieke gedigte in sy eerste bundel is. Hy skryf nie volgens ’n vaste dissipline nie en stel intens belang in die poëtiese tegniek en sal een gedig tot veertig maal oorskryf totdat hy tevrede is.

In 1988 word Johann se tweede bundel, Palimpses, deur Human & Rousseau uitgegee. Hans Pienaar beskou hierdie bundel as die bundel van die jaar. Pienaar meen dat Marais se bundel oor “oorsake” gaan, “die verlede, oorheers deur sy vader, wat hom nie net fisiek veroorsaak het nie, maar deur sy eie drifte, ambisie en behoeftes die wêreld herskep het wat Marais se eie wêreld psigies struktureer. [...] [Dit] het nie die paal gehaal in vanjaar se pryse nie,” skryf Pienaar verder. “Daarvoor is sy poësie te virtuoos en is hy te veel in beheer van sy medium – sy gemaklike reëls dra nie die stempel van gemaaktheid wat die beoordelaars en kanoniseerders wil hê om poësie te verhef tot die bowêreldse nie.”

Die titel van hierdie tweede bundel verwys na ’n perkamentrol wat weer beskryf word nadat die oorspronklike skrif afgekrap is. En hierin tree Johann as waarnemer op in sy familiegeskiedenis oor die afgelope drie, vier geslagte – die sondes van die voorvaders wat die latere geslagte beïnvloed. Johann vertel aan Erika Gibson dat die een rede hoekom die skryf van die bundel vir hom sinvol was, die bewuswording van verval was. “Al die ou bakens soos die plaashuis, die kruis op die berg waar die swartmense kerk gehou het en die regopstaande klippe (grafte) het verval en al wat oorbly, is ‘gefnuikte ideale en enkelmense’. Marais sinspeel ook indirek op die uiteindelike verval van die hele Afrikanernasie.”

Johann vertel verder aan Gibson dat sy tweede bundel drasties van die eerste een verskil. “Waar die eerste een, soos die meeste eerste bundels, baie uiteenlopende gedigte bevat het en meer eksperimenteel van aard was, is Palimpses streng tematies. Daar is ’n deurlopende storie hoewel die bundel uit losstaande gedigte bestaan. Die nuwe bundel is egter eenmalig. [Ek] het die hoorsê en herinneringe van [my] familiegeskiedenis vir die eerste keer in woorde neergelê – vir die oulaas. Die onderskrif van Palimpses is die vertellinge, ou dagboek, grafskrifte. Nadat [ek] die boonste laag afgekrap het, kry [ek] die oorspronklike boodskap en soos ’n ‘argeoloog van herinneringe’ rekonstrueer [ek] die ou stuk geskiedenis.”

In ’n artikel in Insig van Oktobrer 1987 skryf Johann dat dit vir hom noodsaaklik geword het om self rekenskap te gee van sy ervaring van die plaas, wat in belangrike opsigte heeltemal van die ouer persepsies verskil. “Ek moes nie net fisiek nie, maar ook in my skryfwerk teruggaan plaas toe, wat ek dan ook in Palimpses gedoen het. Die eerste gedig in Palimpses is geskryf in ’n hotelkamer op Ficksburg op 20 Mei 1983. In die daaropvolgende week het ek die wêreld waar ek grootgeword het, besoek met die bedoeling om ’n boek daaroor te skryf: ’n kontreiboek het ek gedink. Dit het toe ’n digbundel geword.”

Lucas Malan meen dat Marais ’n boeiende bydrae lewer tot die tipe verse in Afrikaans wat die “beeld van ’n jeug” herskep en dat Palimpses ’n waardige opvolger vir sy debuutbundel is.

By die dinge word in 1989 uitgegee. Volgens Riana Botha word die dilemma van die digter aangegryp deur die alledaagse en die banale, aangespreek. “Vir die leser wat bekend is met Marais se oeuvre, is dit opvallend hoeveel motiewe, karakters, stylfigure en digkonstruksies, wat reeds in die vorige twee bundels aanwesig was, weer hier ’n plek kom opeis het. [...] Die poëtiese wêreld van Marais is hier ’n wêreld gestroop van poëtiese kosmetiek. [...] Ondanks die afwesigheid van opsigtelike poëtiese middele soos rym, metrum en beeldspraak, handhaaf die digter egter deurgaans poëtiese konvensies.” Lucas Malan meen dat hierdie bundel ’n baie duidelike profiel trek van Johann Lodewyk Marais as kundige en boeiende jonger digter.

Gedurende Johann se werkstyd by die RGN toe hy navorsing gedoen het oor die agteruitgang van die omgewing en oor volhoubare ontwikkeling, bereik hy ’n fase waarin hy oor hierdie onderwerpe begin dig. Dit lei tot die publikasie van Verweerde aardbol in 1992. Hierdie bundel gee ’n besinning oor Afrika en ’n visie op die vasteland via die fauna en flora wat dit kenmerk, volgens JC Kannemeyer.

PH Foster skryf dat belangrike temas dié van die interrelasies tussen mens en dier en plant, die bedreiging van die natuur, skrywerskap en die verhouding tot en met God is. “Wat veral opval, is die sterk sintuiglikheid in baie van die verse; hierdie sintuiglike waarnemings dien as verweer teen die verwering wat in die natuur aan die gang is: teenoor die aftakeling en die verganklikheid in die natuur is daar dus die herskepping in en deur die gedig.”

TT Cloete beskryf hierdie bundel, wat as ons eerste uit en uit groen bundel gesien kan word, as ’n “sonderlinge bundel”. “Die vers loop van hierdie eerste gedig af vlot, ’n pragtige vers wat die aarde in sy volheid en rykdom teken. Marais skryf ’n nuwe soort ‘vaderlandsvers’, en ’n nuwe soort landskapgedig. [...] Die visie in sommige gedigte is groots, en van die beste gedigte neem mens saam met hulle op loop.”

Volgens Henning Pieterse getuig al die verse van ’n sterk visuele inslag, van fyn waarnemingsvermoë. “Verweerde aarde is ’n sterk en afgeronde bundel waarin die hand van ’n ware vakman te bespeur is.”

Na ’n stilte van ongeveer tien jaar verskyn Johann se volgende digbundel, Aves, in 2002 by Protea Boekhuis in Pretoria. Hy vertel dat hy feitlik daagliks die werk van drie digters wat hy noodsaaklik vind, lees: Pablo Neruda, DJ Opperman en Wilma Stockenström. By Neruda het hy geleer om die voëls van sy land opnuut te waardeer en skryf hy hierdie digbundel oor hulle. Die eerste prikkels vir hierdie bundel het ontstaan in sy kinderjare op die plaaswerf in Harrismith en is verder geneem in sy jare as sosiale navorser by die RGN toe hy wyd gereis het en voëls kon kyk.

Bernard Odendaal skryf dat Johann in hierdie bundel digterlike gestalte gee aan waarskynlik die eerste liefde in sy natuurgevoelige en omgewingsbewuste gemoed, die voëlfamilie. “Op enkele gedigte na – wat minseggend is of in prosa-agtige mededeling vassteek - bevat Aves myns insiens van Marais se mees geslypte gedigte. Saam met sy ander omgewingsbewuste werk, wat twee bloemlesings insluit (Groen, 1990, en Ons klein en silwerige planeet, 1997), lewer hy met Aves ’n belangrike bydrae tot die reeds ryke poësieskat oor fauna en flora in Afrikaans – veel ryker as in enige van die ander Suid-Afrikaanse letterkundes.”

Joan Hambidge meen dat dit in hierdie bundel om meer gaan as die natuur of landskap. “’n Mens sien dit byvoorbeeld in die ou bloemlesing van Lategan waarin gedigte meer beskryf as die veld of die natuur. Deur middel van die landskap word die herinnering aan die vader bestendig. Die vader is hier die een wat die kind leer om na die natuur te kyk en te orden, [...] Marais skryf ’n sober, byna eenvoudige praatvers. Dit lyk ‘eenvoudig’, ‘maklik’ juis omdat die gedig so goed afgewerk is. Met hierdie bundel bestendig hy sy reputasie as digter.”

Johann het oor die jare al hoe meer in die verhouding tussen literatuur en die wetenskap begin belangstel en het “begin om die digotomie tussen hierdie wêrelde te bevraagteken,” vertel hy aan Jo Prins. “Wat byvoorbeeld gemaak as ’n mens in sowel die kuns as die wetenskap geïnteresseerd is? As die figure wat jou van kleintyd af die meeste geboei het, die hartchirurg Chris Barnard, die digters Dirk Opperman en Pablo Neruda, die viskundige JLB Smith, die filosoof Martin Heidegger en die etoloog Jane Goodall was, en jy ‘weier om te kies’?”

Hy sê dat ’n mens uit die insigte van die natuurwetenskappe kan aflei dat elke voëlspesie uniek is en op ’n unieke wyse geleer het om hom aan te pas, en dat dit hierom vir hom belangrik was om in Aves in die individuele gedigte oor die voëls vir elkeen sy wetenskaplike naam te gee. “In Aves is op uiteenlopende manier erkenning gegee aan digters, natuurwetenskaplikes en gewone mense wat my gehelp het om die uniekheid van die wêreld van die voëls raak te sien. Dit is ’n manier om dankie te sê.”

Twee jaar later, in 2004, publiseer Protea Boekhuis ook Plaaslike kennis: gedigte. In hierdie bundel neem Johann die leser weer op die spore van bewaring, maar hierdie keer val die klem op landelike ontwikkeling en hoe dit die huidige “plaaslike bevolking” met sy agrariese leefwyse en die eertydse bewoners van landelike streke sowel konkreet as emosioneel ontwrig. Lucas Malan skryf verder dat op kleiner skaal, maar onmiskenbaar so, ons hier dus nog ’n weergawe van die ou-ou verslag oor paradise lost het.

Bernard Odendaal meen dat dit is asof Johann nou met ’n groter dringendheid en selfvertroue as ooit dig. “Die dringendheid het waarskynlik te doen met ’n nypende verganklikheidsbesef wat in Plaaslike kennis oorheers.” Volgens Odendaal het “plaaslik” eerstens te doen met die plaaswêreld van die digter se jeug, maar dat daar ook ’n ander kant van die “plaaslike kennis” is wat uit heelwat gedigte spreek: respek vir die magiese elemente van die Afrika-leefwêreld, en vir vrygewigheid te midde van armoede. “Marais s’n is ’n weinig demonstratiewe digterskap, soos die oorwegend beheerste vormgewing, maar wat nie onderworpe is aan die eise van vaste digsoorte nie.”

Terwyl Johann navorsing gedoen het oor die migrasie oor die grense van suidelike Afrika, het hy met baie Mosambiekers gepraat wat sonder dokumente op die grensplase in Suid-Afrika gewerk het. Hy het ook die geleentheid gehad om in 1998 Mosambiek te besoek. Hierdie ondervindings word saamgevat in Lae wolke oor Mosambiek: ’n reisboek wat in 2004 by Skeurklip Uitgewers verskyn het. HP van Coller skryf dat Marais se fokus postkoloniaal is in dié opsig dat hy terdeë bewus is van koloniale vergrype en onderdrukking. “Daarom word vrae ook uit hierdie perspektief geformuleer en is daar by hom ’n voortdurende bewuswees van armoede, oorlogletsels en skuld.” Volgens Van Coller toon hierdie reisverhaal van Marais al hoe meer parallelle met die reise van koloniale reisigers in Afrika wat in wese buitestanders is en wat voortdurend op ’n afstand bly van dit wat hulle moet ondersoek omdat hulle nie die taal kan praat nie. “En só word Marais en sy kollegas se reis (dalk onbedoeld) ’n metafoor van die blanke se vreemdheid op hierdie kontinent. [...] Marais slaag daarin om in dié teks as ekologie-bewuste iets oor te dra van die skoonheid en potensiaal van ’n ryk land, maar ook van die skending daarvan. Sy boek is daarom meer as net ’n verslag; dit is ook ’n waarskuwing ten aansien van die gevolge van politieke diktatuur, wanbestuur, anargie en burokrasie op mens en omgewing.”

Johann vertel aan Henning Pieterse dat hy dit baie geniet het om hierdie reisboek te skryf en dat hy besef het dat hy aangetrokke is tot reisliteratuur, waarmee hy heelwat van sy belangstellings tot hulle reg kan laat kom.

Sedert die skryf van Lae wolke het hy ’n besoek aan Botswana gebring en hy beoog om ’n boek daaroor te skryf, en verder wil hy ook in Lesotho gaan rondreis. Maar hy wil nie net oor Suider-Afrikaanse gebiede skryf nie, maar ook oor sy besoek aan die Matterhorn in Switserland, sy reis op die spore van Darwin, en ’n verblyf in ’n Franciskaanse klooster in Rome. “Eendag wil ek ook al die plekke besoek waar Paulus gereis het. Soms skryf ek ’n gedig oor hierdie ervarings, maar die skryf van reisboeke is nou vir my so lekker (al is dit vrek harde werk dat ek nie altyd daaraan dink om ’n gedig van my ervarings te maak nie. Die wetenskaplike ingesteldheid het iets van ’n oorhand by my gekry, en die moontlikheid om met ’n wyer en ander publiek te kommunikeer, trek my aan. Digters se geselskap is vir my soms vervelig!”

Om die publikasie van Eugène Marais se gedig "Winternag" in 1906 ? 1905? te vier, gee Johann en die Uitgewery Praag ’n bundel gedigte uit waarin nuwe en ongepubliseerde gedigte van Afrikaanse digters (gevestig en ongevestig) opgeneem is, onder die titel Honderd jaar later: ter viering van Eugène Marais se “Winternag” op 23 Junie 190 5. Gilbert Gibson skryf dat die poësiegemeenskap gepas hulde bring aan "Winternag" – nie net aan die gedig nie, maar ook aan die geografiese plek waar die grassade roer, en aan Eugène Marais, nie net die skrywer nie, maar deelnemer aan ’n taal se ontwaking.

Terug na bo

Publikasies:

Publikasie

Die somer is ’n dag oud

Publikasiedatum

1983

ISBN

0798116064 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ingrid Jonker-prys 1984

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Opleiding in skeppende skryfwerk: ’n sisteembeskrywing

Publikasiedatum

1987

ISBN

0796905266 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Palimpses

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798122315 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

By die dinge

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798124679 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verweerde aardbol

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798130385 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Aves: gedigte

Publikasiedatum

2002

ISBN

1919825517 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Plaaslike kennis: gedigte

Publikasiedatum

2004

ISBN

186919036X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lae wolke oor Mosambiek: ’n reisboek

Publikasiedatum

2004

ISBN

97806200301169 (sb)

Uitgewer

Wonderboompoort: Skeurklip Uitgewers

Literêre vorm

Reisjoernaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Johann Lodewyk Marais as samesteller

Artikels oor Johann Lodewyk Marais beskikbaar op die internet

Artikels deur Johann Lodewyk Marais beskikbaar op die internet

Terug na bo

Terug na bo

Bygewerk: 2009-08-20
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address