|

|
|
Sêgoed van Johann de Waal
In 1991 aan Lisel Krige: “Ek skryf omdat ek my makliker op papier uitdruk. Ek beskou myself nie as intellektueel nie – ek is baie op gevoel ingestel. Ek is sensitief, maar gee toe dat ek ook onsensitief kan wees, veral teenoor mense. Is elke mens nie essensieel onsensitief nie?”
“Hout is ’n eerlike materiaal wat bly lewe as jy hom reg verwerk. En hy beloon jou as jy hom reg gebruik. Boonop is hout taamlik voorspelbaar, kom ’n mens agter wanneer jy die reëls van tradisionele kabinetmakers begin verstaan.”
Sy maatstaf vir eerlikheid: “Eerlikheid is ’n moeilike ding. Veral in verhoudings. En die beginpunt is om jouself te sien soos jy is. Dan kan jy begin eerlik wees oor jouself en jou motiewe.”
“Om te skryf is nie ’n keuse nie, maar iets waartoe jy gedwing word. Soos politici word skrywers deur hulle ego gedryf en het hulle ’n behoefte om hulleself uit te druk.”
“Skryf is ’n bewuste daad. ’n Mens moet bewus wees van die proses waarmee jy besig is, maar terselfdertyd moet ’n mens vergeet dat mense dit gaan lees. Jy moet die storie vertel en bogger die res, want as jy eers die storie diep begin maak en torring, dan rafel hy uit. Dis nou hoe dit vir my werk.”
“Ek het nie vir enige teikengroep geskryf nie. As jy jou toespits op ’n teikengroep, word jy ’n eensydige skrywer.”
“Ek voel sterk daaroor dat ’n skrywer van jeugboeke nie ’n veroordelende houding oor enige onderwerp moet inneem nie. As jy as skrywer begin moraliseer, onderskat jy jou lesers.”
|
Johann de Waal (1958–)
Gebore en getoë
Johann de Waal is in 1958 in Eldoret, Kenia, gebore. In 1962 verhuis sy ouers na Suid-Afrika.
Johann se ma het die letterkunde aan hom bekend gestel en as standerd 4- (graad 6-) leerling op Rustenburg het hy die Iliad van Homer uitgeneem, maar “dit het vir my geen betekenis gehad nie!”. Shakespeare het hy ook op laerskool gelees en in die matriekeksamen met Pride and prejudice gesit: “Ek wou dit lees.”
Hy gaan skool in Zoeloeland en in Rustenburg, waar hy in 1976 matrikuleer.
Verdere studie en werk
Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria. Daar is hy deel van ’n literêre groep (“as ’n junior vennoot”), met van sy tydgenote Koos Prinsloo (wat toevallig dieselfde tyd as hy op Eldoret gebore is), Johann de Lange, Hans Pienaar en Victor Munnik, en raak ook betrokke by die moeilikheid oor die letterkundige tydskrif Vlieg, wat “soos ’n vlieg deur die owerheid verpletter is”.
Na sy studiejare hou Johann vir twee jaar skool. Hierna gaan woon hy en sy vrou, Andrée Bosch, dogter van die kunstenaar Esias Bosch, vir ’n paar jaar in Londen.
Dit was tydens sy verblyf in Londen in 1985 dat Johann aan sy eerste roman begin werk het. Voordat hy na prosa beweeg het, het hy poësie geskryf. Sy eerste roman is nooit gepubliseer nie, maar hy het daardie teleurstelling as deel van sy leerproses beskou. Hy meen dat sy eerste manuskrip op plekke baie diep was. Dit het drie jaar in Engeland tussen uitgewers geswerf en toe ’n “stil dood gesterf. Hy’t ’n paar lekker tonele in,” vertel Johann aan Willem Pretorius in Die Volksblad.
In 1988 publiseer Struik ’n biografie van Esias Bosch wat deur Andrée en Johann geskryf is, en in 1988 is Slaapvraat en Leander uitgegee. Dit is geskryf vir hul oudste dogter Leander en daarin word Leander deur Slaapvraat, ’n kreatuurtjie “kleiner as ’n beer en groter as ’n kat”, beskerm teen gevare en nare drome. Leander sluit ’n hegte vriendskap met Slaapvraat.
Maar dit is met Machadospoor dat Johann die fokus van die literêre toneel geword het.
Machadospoor was nie ’n nuwe manuskrip nie – Johann het dit in 1987 in Engels voltooi. Sy uitgewer het vir ’n Afrikaanse weergawe van die boek gevra. Dit is aan die Suid-Afrikaanse uitgewers voorgelê en in 1990 deur HAUM-Literêr uitgegee, met ’n Engelse uitgawe wat deur Johann self geskryf is en terselfdertyd deur Penguin gepubliseer is.
Machadospoor is die verslag van ’n inspekteur se ondersoek na die dood van die stasiemeester en ’n vrou. Die ondersoek, sonder konvensionele leidrade, word nie net ’n dwingende soektog nie, maar ook ’n verkenning van die self, midde-in ’n web van persoonlike en maatskaplike geweld. Dit is ’n roman wat die leser meedoënloos oor die grense van die reële heen manipuleer. Namate die onafwendbaarheid van die dubbele dood blootgelê word, word die leser meegevoer op ’n verhaalspoor die einders in. Machadospoor is nie ’n werk sonder gebreke nie, maar dit is ’n veelduidige, stimulerende werk van ’n nuwe, jong stem, een waarvan ons nog hopelik baie in die toekoms gaan hoor – volgens Exclusive Communique.
Johann het aan Willem Pretorius erken dat daar politiek in Machadospoor is, naamlik magspolitiek en geslagspolitiek. “Daar is politieke politiek, dis nou rassepolitiek, ook. Die mense waarvoor ek die jammerste is, is die slagoffers, die ouens op die grond met niks nie ... en geen vooruitsigte nie. Die ouens wat uit Mosambiek moes padgee, die ouens wat moes trek vanwaar hulle werk toe kon loop na waar hulle nou vieruur die oggend moet opstaan. Dáár is ek en die inspekteur (die hoofkarakter) dit eens.”
Hy het iets probeer met Machadospoor. Hy wou nie iets sê nie. “Dit was ’n poging om ’n gevoel te vang en alles sou daaruit vloei. Die gevoel is belangriker as die sêgoed. As ’n karakter eers meer as sê vyf of sewe reëls begin praat, dan weet jy hy preek vir jou, dan wil hy vir jou iets vertel. Dan moet jy afskakel of na ’n ander kanaal oorskakel. En as die skrywer van jou hou; wel. Dan is hy goed.”
Oor Machadospoor het Charles Malan geskryf dat De Waal in hierdie debuutroman skryf vanuit die perspektief van die verdrukker, al is dit dan die verdrukker-as-slagoffer. Die skrywer stel aan homself die ingewikkelde opgaaf om juis met die bekendste stereotipes van ons geweldsituasie te werk.
Sy inspekteur Du Toit is ’n kragdadige “diener” wat op die grens in die naam van geregtigheid deelneem aan ’n wydvertakte proses van verdrukking. Hy intimideer en slaan inwoners van die township, gebruik en misbruik hul vroue, vind seksuele bevrediging in die gewelddadige onderwerping van die vrou, en laat sy gesag geld teenoor diegene wat hy as die “ander” ervaar: swartes, vroue, ondergeskiktes, opstokers, die “Anglophiles”.
Maar hoe erg en bekend dit ook al klink, die skrywer ondermyn hierdie stereotipering voortdurend. De Waal is hoofsaaklik geïnteresseerd in politiek in dié mate waarin dit met persoonlike mag in wisselwerking tree.
Volgens Malan slaag die skrywer met sy eerste roman daarin om op ’n beklemmende wyse aan soveel van ons vrese, eintlik psigoses, en skisofreniese reaksies op dubbele “werklikhede” gestalte te gee.
AP Grové het Machadospoor as ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse romankuns beskou. “Die verhaal neem ’n melodramatiese aanvang as twee liggame, een van ’n man ten volle geklee en een van ’n naakte vrou, langs mekaar op die spoor gevind word – beide aan twee getrap deur die trein. Is dit moord? Selfmoord? 'n Kombinasie van die twee? Of is dit dalk ’n ongeluk, veral as in ag geneem word dat die een liggaam dié van die stasiemeester is, terwyl die ander liggaam as dié van die ruwe boswerker Steyn se vrou uitgeken word. In elk geval is dit ’’n bliksemse gemors’, soos dit gestel word deur inspekteur Du Toit wat die taak het om die spoor te vat en die waarheid te agterhaal.
’n Speurstorie dus, maar 'n speurstorie wat veel meer behels as die tradisionele ontdekking van ’n lyk of twee en die vastrek van die skuldige.
“In die boek word veel klem gelê op die mis en newel wat die landskap oordek. So is dit ook met die ondersoek wat in geheimsinnigheid geklee word, en die misterie verdiep soos die speurwerk vorder en die inspekteur al meer raaisels op sy weg vind. So is daar byvoorbeeld die optog van swartes op pad na die begraafplaas met ’n leë kinderkis, leeg omdat die lyk van die kind (van gemengde bloed) spoorloos verdwyn het. Wie is verantwoordelik? Die ma? Die blanke pa? Het 'n ondier hom dalk verslind, die rooikat van die mal bosvrou? In elk geval is met die verdwyning van die lykie ’n belangrike spoor doodgevee.
“Of dit nie genoeg is nie, kry die stomme inspekteur ook nog te doen met die klag van die heer Packwell-Smythe wat saam met sy ’anglofiele’ vriende ’n jakkalsjag wil organiseer maar vrees dat gebelgde boere in die omgewing die jag se honde en perde onder die lood sal steek.
“Onder dit alles word ons ook op hoogte gehou van die inspekteur se persoonlike lewe, sy private doen en late: sy beheptheid met vroue, sy owerspelige verhouding met die jakkalspelsvrou in die stasiemeester se vertrekke, sy gereelde kontak met die geheimsinnige bosvrou, Clarissa, en les bes sy verhouding met die Swartvrou wat
haar kind se lyk van hom eis, terwyl hy haar die mond met ’n omkoopgeldjie probeer snoer.
“En die oplossing? Dit word nooit duidelik uitgespel nie, maar dit wil lyk of die inspekteur agter die waarheid van die spoormoord kan kom slegs deur na sy eie lewe te kyk: sy owerspel, sy uitwissing van getuienis, sy behandeling van die jakkalspelsvrou. In sy eie
gedrag word aspekte van die spoorsterftes as ’t ware herbeleef.
“Vandaar die deurlopende suggestie van 'n identiteitswisseling: die spel met maskers en die feit dat die inspekteur en sy maitresse in die stasiemeester se bed slaap en meermale met die klere van die stasiemeester en dié se minnares paradeer – ’n vernuftige opset dus wat plek-plek aan Etienne Leroux se Een vir Azazel herinner. (Daar is trouens etlike stylwendinge wat dui daarop dat De Waal hom deeglik in Leroux se skryfwyse verdiep het.)
“As speurverhaal is die boek dus iets besonders waar die speurder diep-in self ’n skuldige blyk te wees en waar waarheidsopenbaring afhanklik gestel word aan selfonthulling.”
Maar, skryf Grové, die boek wil meer as net ’n speurstorie wees. “Die speurelement is per slot van rekening maar ’n front waaragter diepliggende spanninge in die gemeenskap soms geestig, soms krities en dikwels satiries betrag word. Die spanning tussen skyn en
werklikheid wat ons in die speurstorie aanvoel, word dus op die breër vlak van die aldagbestaan geprojekteer. Dit alleen maak al van hierdie debuutroman ’n belangrike bydrae.”
George Weideman het in De Kat geskryf dat ’n mens nie aldag so ’n debuut soos Machadospoor kry nie. Die verhaal, hoewel yl, ontspoor nie en al gryp die lot van die hooffiguur ten slotte miskien nie soseer aan nie, dan boei die grillige gegewe van ’n land vasgevang in die stuwing van geweld. Vir Weideman versinnebeeld William Steyn se bandontwerp die versmelting van reële met irreële: ’n trein wat, spookagtig, onomkeerbaar op sy doelwit afstuur; ’n landskap waar lug, wolke, misnewels, berge, bosse en die stoom van die trein onskeibaar een word. ’n Speurriller? Nie om die nag mee te verkort nie, meen Weideman, daarvoor is die Suid-Afrikaanse nag nog te donker, die Freudiaanse ondertone te diep.
Johann voel dat die gevoelselement in Machadospoor baie sterk is. “Die rasionele word deurgaans onderdruk. Daar het telkens iets in die boek ingegaan wat nie uit my rasionele denke gekom het nie; iets wat ek kon aanvoel.”
En hoewel hy wesenlik ’n optimis is, moes hy letterlik in ’n donker gemoedstemming en negatiewe gevoelens versink om Machadospoor te kon skryf. Daar was altyd ’n onheilspellende gevoel terwyl hy geskryf het.
Machadodorp in Mpumalanga is nie feitelik in die verhaal geskep nie, en so is baie van die landskap wat beskryf word, nie eie aan daardie spesifieke deel nie, maar dit is oor Machadodorp self dat hy nog al die jare so in die verbyry “nie ’n lekker gevoel het nie,” sê Johann. “Veral as die wind waai.”
Toe Johann ’n kind was, het sy pa altyd op pad Mosambiek toe vertel van Machadodorp se suksesvolle spookvanger: dié het bloot ’n botteltjie met ’n geel blommetjie daarin gebruik om die talle Machado-spoke, wat nie geel blommetjies kon weerstaan nie, mee aan te lok. Sonder slag of stoot het die spoke hulle laat vang, en moes die spookvanger telkens net die deksel opdraai.
Hierdie konnotasie van onheil het deur die jare aan Johan bly kleef, en eendag, weer in die verbyry, het die storie by hom opgekom ... van die obsederende verhouding tussen die inspekteur en die vrou met die jakkalspels. In ’n onstuimige klimaat.
Johann se eerste en enigste jeugverhaal tot dusver, !Sit Oom Paul, word in 1995 uitgegee met ’n heruitgawe in 2005.
Dit vertel die verhaal van Herman Human wat as gewone Afrikaanse kind op ’n groot plattelandse dorp deur die gewone Afrikaanse gemeenskap se gang gestuur word deur volwassenes, veral dan dié wat in die leidingsposisies binne die gesin, skool en kerk optree. ’n Anker in Herman se wêreld is sy pa.
In !Sit Oom Paul gaan dit om die “buig van boompies” en die boompies se onwilligheid om gebuig te word. Dit is veral nadat hulle die simbool van Afrikanerskap, Oom Paul, se beeld die studentikose onreggie aandoen om vir hom voetspore te verf reguit Royal se kroeg toe en slingerend terug.
Leentjie Theron skryf dat die verhaal in hoofsaak handel oor Herman Human se ontnugtering met die volwasse wêreld. “Sy omgewing lyk vir hom meteens anders, anders veral as wat die volwasse wêreld vir hom wysgemaak het dit moet lyk. Die instellings soos skool en kerk lyk vanuit sy nuwe perspektief anders. Dit is hiermee saam ook sy kyk na die teenoorgestelde geslag wat verander: deur hulle kom hy van sy eie seksualiteit meer agter.
“Dit is ook sy verhouding met ’n Indiërmeisie, Ashia, wat tot in die bed in beskrywe word. ’n Mens aanvaar dat die flapteks juis hierna verwys in sy aanhaling dat dit ’n ’eerlike en onvertonerige verkenning van taboewêrelde in die Afrikaanse jeugliteratuur’ is. Ek sou onmiddellik daarmee saamstem dat De Waal inderdaad eerlik skryf. Seks is egter nie die ’nuwe idioom nie’. Die nuutheid is nie in die tema en die verset van die jong mens as sodanig nie. ’n Mens sou kon verwys na skrywers soos Marita van der Vyver, Barrie Hough, Hans du Plessis of George Weideman wat reeds die pad na oper jeugliteratuur begin loop het.
“Die pluspunt van !Sit Oom Paul lê egter daarin dat hy nie skamper rondom die temas beweeg nie: die verset en die aard daarvan word beskryf; die oneerlikheid en die skynheiligheid van die grootmenswêreld word op geen onsekere manier nie oopgeskryf. In hierdie opsig daarom ’n geslaagde, nodige jeugverhaal. Twee aspekte van die novelle kon na my mening effens meer aandag gekry het. ’n Mens sou graag ’n duideliker tekening van die karakters wou sien, en veral die twee meisies Ashia, Herman se Indiër-meisie, en Sandra neig nog te veel na papierkarakters wat nog nie mense in die verhaal word nie.
“Hiermee saam hang my ander beswaar: ’n tiener sal sy eerste sekservaring sekerlik nie sonder noemenswaardige terugblik aanvaar nie. Ek meen dat Herman se bed-ervaring met Ashia in der waarheid die dramatiese hoogtepunt moet wees van sy wegbreek van alles wat hy vertel. Herleef is immers deel van dit wat ’n mens as hoogtepunt beleef het.
Iets meer van ’n worsteling sou vir my hier gepas wees. Juis omdat dit vir Herman om stryd gaan, wat uiteindelik uitloop daarop dat hy die wêreld in homself wil oorwin. (...)
“Die hele verhouding oor die vergange kleurgrens tussen Herman en Ashia enersyds en hom en Sandra andersyds gee ’n dimensie wat die novelle ryker maak. Dit word ’n gesprek oor probleme oor grense heen wat vir volwassenes, veral in die loop van ons Afrikaanse geskiedenis, problematies was, maar waaroor die jonger geslag eintlik al klaar gemakliker loop. ’n Welkome toevoeging dus tot die Afrikaanse jeugliteratuur wat die
afgelope klompie jare besig is om sy eie interessante loop te neem.”
In haar rubriek “Kopstukke” in Kalender van 27 Februarie 1996 skryf Joan Hambidge dat !Sit Oom Paul in die moderne idioom praat. “Twee vervalsings, naamlik die politieke en die religieuse, word hier op hul kop gedraai. Nie alleen het die hoofkarakter ’n seksuele ervaring nie; hy het dit ook met ’n bruin persoon wat buite die hekke van Christelike Nasionale Onderwys staan.
“Skynheiligheid word deurgaans op sy kop gedraai en die jongeling Herman Human loop hom vas teen die valshede van die volwasse wêreld. Trouens, hy vind die hele santekraam belaglik. Ashia maak hom bewus van ’n nuwe politieke wêreld en Sandra, die ander meisie, het nie die probleme met die katkisasie wat hy daarmee het nie. Die prediker heet ds Weltevreden, en die pa is die een in die vertelling wat die kind bewus maak van regte keuses.
“Die flapteks stel dit goed: ’Dit is dan dat hy weet dat ’n mens met jou gewete moet kies, al verklaar jy jouself voëlvry in die proses.’
“’n Mens moet beslis bly wees oor ’n boek uitgegee deur Human & Rousseau nogal! wat die skoolstelsel ’n bietjie aanvat. Mag dit verpligte leesstof word vir al die onnies en latswaaiers wat dink hulle weet wat kinders behoort te lees. Mag dit hulle ook leer dat ’n gekuiste skooluitgawe ’n belediging is vir ’n jong volwassene wat kan dink. Veral in die moderne tye van blootstelling aan multi-media en buitelandse invloede.
“Hier is ’n jeugboek geskryf vir sowel die volwassene as die kind. Tienerseksualiteit, ’n seun wat ’n verhouding met die onderwyseres het en die gevolge daarvan word goed vertel deur Johann de Waal. Die boek vul daardie verskriklike leemte tussen die Boksombende en Heinz Konsalik. Human & Rousseau moet ook ’n uitroepteken kry vir dié baie, baie goeie boek wat in 'n moderne idioom praat.”
Stephanie Nieuwoudt skryf dat die sekstoneel so geskryf is dat dit geen twyfel laat oor wat presies gebeur het nie. Maar dis nie smerig nie. Die hoofkarakter wroeg ook nie oor die feit dat hy sy maagdelikheid verloor het nie en die skrywer klik ook genadiglik nie sy tong nie.
“Seks is iets wat met die karakter gebeur. En dan gaan hy aan met sy lewe,” sê Johann aan Nieuwoudt. “Ek het so ’n gevoel mense in Suid-Afrika wil nie tieners se seksualiteit erken nie. Hulle dink as hulle dit ignoreer sal dit verdwyn. Ouers kan hulle nie daarmee vereenselwig dat hul kinders ’n seksuele lewe of gevoelens het nie. Ek weet nie wat die statistieke oor tienerseksualiteit in Suid-Afrika is nie, maar toe ek op skool was, is daar gewis pouses oor seks gepraat. Daar was ook ’n seun wat, nes een van die karakters in die boek, ’n verhouding met ’n onderwyseres gehad het.”
Johann sê hy het geen boodskap met die boek probeer oordra nie. “Nee. Ek het ’n droë fase tussen romans vir volwassenes gehad en ek het lank met dié storie in my kop rondgeloop. Dis iets wat ek wou vertel en die storie het gebeur. Dis bietjie outobiografies.”
Die hoofkarakter in die boek bevraagteken die lewe. Hy aanvaar niks op sigwaarde nie.
“Die gebeure word vanuit die ek-verteller se perspektief beskryf. ’n Eerlike ’ek’ is nodig sodat die leser hom kan vertrou. Die meeste tieners gaan deur ’n rebelse fase. Die karakter is ook een, maar hy het ’n gewete en dis juis omdat hy ’n gewete het dat hy besluite neem wat vir ander onaanvaarbaar is.”
Wanneer Herman byvoorbeeld voor die dominee staan met sy aanneming, loop hy by die kerk uit omdat hy nie gemaklik voel oor die skynheiligheid van die kerk nie. In ’n redelik rassistiese gemeenskap steur hy hom ook nie aan kleur nie. Die meisie met wie hy seks het, is ’n Indiër uit ’n streng Moslem-huis.
“Die rasse-ding was by die skrywery glad nie vir my ’n kwessie nie,” sê Johann. “Die karakter kyk heeltemal eerlik na die lewe en as ’n mens so eerlik na die lewe kyk, sien jy nie kleur raak nie. Soos die karakter sien jy die mens agter die kleur raak. Nadat ek die boek geskryf het, het ek besef ek het die Indiërs te eensydig aangebied. Gelukkig kon ek dit regstel voordat die boek gepubliseer is.”
HP van Coller meen dat die positiewe dinge in !Sit Oom Paul baie swaarder weeg as die negatiewe kant. Dit is een van die eerste jeugverhale in Afrikaans waarin seuns se seksuele obsessies eerlik uitgebeeld word en waarin hulle nie Trompie-klone is nie. Die taalgebruik is meestal oortuigend en die tempo vinnig. Stereotiepe opvattings word voortdurend deurbreek: dat net mans skuldig is aan seksuele teistering en manipulasie; dat alle Afrikaanse skole hopeloos was en alle onderwysers swak; dat net Afrikaanse mans chauvinisties is en hul vrouens onderdruk; en dat jong “liberals” soos Malcolm sondeloos is en nie soms ook materialistiese uitbuiters nie. Maar eweneens word korte mette gemaak met die opvatting dat bekering op gedwonge wyse tydens ’n naweekkamp kan geskied en dat vriendskappe en liefde oor die kleurgrens heen nie kan nie. Sublieme gedeeltes, soos die dood van die vader, is genoeg bewys dat hier ’n skrywer met besonderse talent aan die woord is.
Vir Nanette van Rooyen is !Sit Oom Paul noodsaaklike leesstof vir almal, nie net vir tieners nie, maar vir enige leser wat met die lewenswaarhede daarin kan identifiseer en sodoende vry word van ’n hele bondel emosionele bagasie. Dit is vir haar die eerste jeugverhaal wat alle erns het met eerlikheid. Die tipe taal waarin die storie vertel word, is vars en weerspieël die woorde van die hedendaagse jongmens. Dit maak die boek geloofwaardig en dit lei lesers op ’n oortuigende manier tot Herman se volwassewording. De Waal sukkel nie om ’n ding te sê nie en hy doen dapper weg met die formele taalgebruik wat so maklik kan afpraat na tieners. Sy skryfstyl is driftig en humoristies en dit vat raak. Sy voel dat daar lank gewag is vir só ’n boek.
Tans is Johann ’n meubelmaker naby Witrivier waar hy en sy gesin woon (en waar hy ook al Engels aan die Elijah Mango-onderwyskollege naby Witrivier gedoseer het). Hy het in 1989 meubels begin maak en die De Waal-handelsmerk vir meubels is hier gevestig. In 2008 het hy 50 mans en vroue in diens gehad wat pragtige meubels van mahonie-, kersie- en eikehout maak.
In Mei 1991 het Johann sy meubels in Sandton bekendgestel saam met sy swaer Anton Bosch en sy skoonsuster Esra se keramiekwerke.
Lisel Krige het gevind dat Johann amper lekkerder oor hout gesels en filosofeer as oor sy skrywery, en met dieselfde erns en intensiteit. En dat hy vir sy “kabinetmaker-ghoeroes” van onderskeidelik Japanse en Sweedse afkoms, George Nakashima en James Krenov, dieselfde soort ontsag het as vir Hemingway (“as skrywer, nié as mens nie”) en die Russiese digter Joseph Brodsky.
In sy huis in die Laeveld het daar in 1991 met Krige se besoek aan Johann van sy houtskeppings gestaan met hul skoon, Skandinawiese lyne en sigbare funksionaliteit, in die gees van die sogenaamde “Craft Movement”. Johann het vertel dat die etiek van dié dissipline is om soveel moontlik met hande te doen om sowel hout as meubelstuk tot hul reg te laat kom, en die ideaal is om net soliede hout te gebruik. So is mens en materiaal veel nader aan mekaar.
Johann meen dat die kabinetmakery hom “sane” hou terwyl hy skryf. “Ek beskou dit as ’n oefening in selfbeheersing, want ’n fout in hout is sovéél moeiliker om reg te stel as een op ’n woordverwerker.” Maar hoewel skryf- en houtwerk albei groot noukeurigheid vereis, is die eise van hout iets heeltemal anders in die sin dat dit die fisieke toepassing van beheer oor ander elemente vereis. “Dit verg net ’n deel van jou denke, terwyl die ander deel vry is om aan skryfwerk te wy.”
Johann het aan Willem Pretorius vertel dat hy sukkel met die klassieke skrywers se werke. Hy kry hulle nie gelees nie. “Ek ken darem iemand wat hulle gelees kry. My broer is ’n belese ou, baie. Hy lees daai dik goed, dan gee hy hulle vir my vir my verjaardag en so. Maar ek karring net so ’n bietjie. Weet jy hoekom Don Quixote se windmeulstorie so bekend is, maar die ander honderd nie? Dis omdat die windmeulstorie eerste in die boek is en min ouens lees die ander duisend of wat bladsye. Ek bewonder mense wat daardie duisend bladsye kan lees, ouens wat dit vertaal, hulle is nog ’n ander breed.”
Johann lees nogal poësie. “Joseph Brodsky se goed. Oor en oor. Hy het ’n ongelooflike slag om iets alledaags in ’n helse insig om te sit. Sy Collected Poems en Part of Speech. En maar so hier en daar. Ek het geen program om op hoogte te bly van al die belangrike boeke wat elke dag of wat gebeur nie. Maar ek bly tog by.” Hy meen John Nichols het met The Milagro Beanfield War iets reggekry. Hy kan ’n grap vertel en ’n storie daarmee saam.
Hy is nie bewus van kritici nie, maar is bang vir hulle. “Die boek moet maar op sy eie bene staan. Ek sal help waar ek kan, maar ek staan op my eie bene. Om die boek te help, moet ’n mens so laag as moontlik lê. Nie te veel inmeng nie, want die ding het tog ’n lewe van sy eie. G’n debatte nie. Machadospoor is ’n redelik eenvoudige boek wat die meeste mense sal kan hanteer.”
Publikasies
|
Publikasie
|
Slaapvraat en Leander
|
|
Publikasiedatum
|
1987
|
|
ISBN
|
0798120517 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Kinderboeke
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Esias Bosch. Saam met Andrée Bosch
|
|
Publikasiedatum
|
1988
|
|
ISBN
|
0947430067 (hb)
|
|
Uitgewers
|
Kaapstad: Struik Winchester
|
|
Literêre vorm
|
Biografie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Machadospoor
|
|
Publikasiedatum
|
1990
|
|
ISBN
|
0798630671 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: HAUM-Literêr
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Engels; vertaal deur outeur 1991
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
!Sit Oom Paul
|
|
Publikasiedatum
|
|
|
ISBN
|
- 0798134437 (sb)
- 0798144947 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Jeugverhale
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
Artikels oor Johann de Waal beskikbaar op die internet: