ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Johan Myburg (1957–)

Gebore en getoë

Johan Myburg is op 17 Julie 1957 in Pietersburg (vandag Polokwane) in Limpopo gebore.

Hy bring sy skooljare op Potchefstroom deur. “Potch is wel ’n plattelandse dorp, maar in die konservatorium het ek merkwaardige kunstenaars sien optree, onder andere die Spaanse pianis Alicia de la Rocha,” vertel Johan aan Jaco Jacobs. “Ek dink ek was nog op skool toe ek die aand na haar gaan luister het. En daar was nog uitstallings – daar was toe nog ’n departement van beeldende kunste.”

Sy skryfloopbaan het reeds in sy skooljare begin vorm kry. “Ek is immer dankbaar vir onderwysers en ’n skoolbiblioteek wat wêrelde vir my oopgesluit het. In die skoolbiblioteek van die Hoërskool Gimnasium het ek onder meer die werk van NP Van Wyk Louw teëgekom, wat steeds ’n voorkeur is.”

Hy het op skool gedigte in die skoolblad gepubliseer en later op Potchefstroom ook in die universiteitsblad.

Verdere studie en werk

Johan bring ook sy studentejare deur op Potchefstroom, waar hy in die teologie studeer het en hom in 1984 as predikant in die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika bekwaam het. Hy het gedurende die 1990’s sy MA-graad in pastorale terapie gedoen.

Hy was getroud met Marietjie, wat eers ’n joernalis was en tydens hulle verblyf in Oos-Londen ’n boekwinkel bedryf het. Johan was predikant van die Gereformeerde Kerk van Oos-Londen.

Oor sy tyd in Oos-Londen het Johan gesê dat hy daar as Afrikaanse skrywer baie geïsoleerd gelewe het, en hoewel dit sy voordele gehad het, het hy tog die stimulering gemis. Hy sou graag met Engelse lesers wou kommunikeer, maar ’n gedig kan nie vertaal word nie; in die nuwe taal moet dit herskryf word, in poësievorm, maar nie noodwendig in dié van die oorspronklike nie.

Sy eerste digbundel, Vlugskrif, word in 1984 deur Perskor gepubliseer. Die bundel bevat ’n veertigtal verse, en vir PD van der Walt is dit heeltemal in die gees van daardie moderne, haastige tyd met sy eiesoortige literatuur. Hy meen dat ’n mens dit “poëtiese notisies” kan noem – vandaar die titel: saaklik soos strooibiljette is die kort gediggies, miskien eerder versies, want “gedigte” klink weer so half deftig-ouderwets, dui op volledige, afgewerkte, afgeronde lang of langerige gedigte. Party van die “verskristalle” is knap, ander bewustelik en opvallend, selfs pretensieus, gekonstrueer.

By André P Brink laat hierdie debuutwerk ’n indruk van versorgdheid en besinning. Daar is tekens van ’n naarstige nuk tot presisie, wat meermale ’n baie nette formulering tot gevolg het, maar ook soms die gevaar inhou van blóte tegniese versorging waaruit die vonk van die lewe ontbreek. Alles in ag genome is dit netjies-geslypte debuutverse, dikwels bietjie té “knap”, maar ’n hele paar gevonk met ’n vermoë om verbeeldingsreise en betekenisreise te onderneem. Daarom is dit ’n beskeie debuut waaruit belangriker werk nog kan voorkom.

Terwyl Joan Hambidge gemeen het dat daar net hier en daar ’n knap vers is, het TT Cloete gevoel dat hoewel die gedigte nog vlugskrifgedigte is, daar tog besondere verdienste in is. Dit het die waarmerk van egte poësie, en ’n mens sou graag wou sien wat daarvan gaan word.

Oor Vlugskrif het Johan in 1995 aan Barend Toerien vertel dat die bundel min geresenseer is en eenvoudig verdwyn het. “Vandag voel ek ek het die bundel ontgroei. Dit het my wel geleer dat mens gedigte goed moet afrond voor publikasie. As ’n gedig gepubliseer is, is ek klaar met hom en gaan nie verder daaraan peuter nie.”

Dit het Johan ’n verdere elf jaar geneem voordat sy tweede digbundel, Kontrafak, in 1994 by Human & Rousseau uitgegee is. En met hierdie bundel het hy die resensente aan die praat gesit. En ook die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir 1995 ingepalm.

In Kontrafak gaan dit oor die onstuimige lewe soos dit op daardie tydstip in die digter se land afgespeel het. Hy is katvoet op reis deur ’n wêreld wat nie aldag sin het nie; hy is “uit pas” en mik daarom elders. Die bundel gaan nie oor die vreemde nie: ondanks die talle verwysings na die Wes-Europese kultuur is dit ’n Afrika-tafereel wat hom hier afspeel.

Die titel, Kontrafak, kom uit die Middeleeue en beskryf die praktyk waarvolgens mense drink- en minneliedjies se wysies vir gewyde melodieë gebruik het. “Dit is om ‘Prys die Heer’ op ’n ‘Sarie Marais’-wysie te sing,” sê Johan aan Alrika Heefers.

Johan goël in die bundel met ’n amper speelse taalgebruik; musikale ondertone en ’n deurlopende spanningslyn tussen die aardse en hemelse. Die bundel strek wyer as net Johan se Christelike wêreldbeskouing. “Ek dink die mens reageer volgens oerpatrone en daarin stel ek belang. Die dood is deel daarvan. En dit ondersoek ek graag. Miskien is daar ’n sentrale boodskap in my boek, naamlik dat die dood nie die einde van alles is nie, maar net ’n ander soort lewe is.”

Johan verduidelik dat sy kort geheue hom dwing hom elke snippertjie gedagte of waarneming sommer dadelik neer te skryf. “Ek skryf sommer agterop koeverte en stukkies papier, en skryf dit later oor in ’n boek of stoor dit in die rekenaar. Daar lê dit totdat dit weer my aandag trek.”

Hy benader die sinvolle gebruik van woorde baie ernstig. “Ons mors soms met woorde, en ek haat ’n getjommel. ’n Mens moet noukeurig werk met woorde. Ook in my preke gaan dit vir my as predikant, wat beter dink met ’n potlood in my hand, oor die juiste gebruik van die regte woord.

“Ons moet alles gebruik om ons aardse taal aan te vul, en ons moet onsself nie blind staar teen ’n beperkte woordeskat nie. As ons ’n bietjie Duits of Latyn insleep, is dit nie ’n verswakking van Afrikaans nie. Ek moet die Woord kommunikeer sodat al my gemeentelede dit kan verstaan. Ek hou nie van truuks nie.”

SW van Zuydam skryf in Tydskrif vir Letterkunde van Mei 1995 dat Johan se eerste twee bundels nie net wat tyd betref ver uitmekaar lê nie, maar ook ten opsigte van gehalte. Waar Vlugskrif nog ernstige gebreke gehad het, getuig Kontrafak van ’n besondere rypheid en vaardige digterskap.

AP Grové het geskryf dat wanneer Myburgh, ’n predikant met ’n wye belangstelling, hierdie titel (Kontrafak) vir sy bundel gebruik, dit ook gaan om ’n omvorming, of meer bepaald dan om die spanning tussen kerk en wêreld, gees en liggaam, die rustige meditasie en die menslike doenighede van elke dag, die verhewene en die sekulêre. Dis ’n spanning wat hom in baie gedaantes en op verskillende vlakke in die bundel openbaar soos die digter sy voorbeelde uit baie terreine van menslike bedrywighede trek. Kortom, die titel is goed gekies; die vlag dek die lading en dra by tot die eenheid van die bundel.

Afgesien van die titel is daar twee duidelike wegwysers vir die leser, sê Grové: die Holbein-houtsnee op die buiteblad en die inleidende “Jongleur”-gedig. In die Holbein-prent sien ons hoe die hooggeplaaste paartjie die danssaal (of is dit dalk die slaapvertrek?) betree terwyl die Dood self in die gedaante van ’n skelet hulle geesdriftig met sy trommelmusiek begelei – vreugde en onheil in 'n wrang-ironiese samespel. Op ’n ander wyse laat die kontras hom in die genoemde gedig geld: op die markplein is die jongleur die musiek- en rympiesmaker, die ratse goëlaar wat met sy mal kaperjolle die massas vermaak, maar tuis is hy die liriese sanger met sy gevoelige liefdesliedere vol berou en verlange. Dit is dus vroeg al duidelik: in hierdie bundel sal teenstellings ’n belangrike rol speel. Wat mens veral waardeer, is die digter se sin vir ironie en sy humor. Hy openbaar ‘n gevoel vir teenstellings wat soms ’n makabere gedaante aanneem en soms pynlik is, maar het ook die vermoë om die teenstellings telkens verrassend en sinvol te laat klink. Dit is teenstellings wat van ’n oop-oog insig in die menslike situasie getuig. Daar is gedigte wat tegnies fyner afgewerk kon gewees het met ’n sinvolle aanwending van ritme en rym om bykomstige aksent en steun aan die teenstellings te gee (veral in die korter gedigte val dit sterk op), maar in sy geheel is dit ’n boeiende bundel. Dit het iets om te sê en verteenwoordig ’n groot vooruitgang op die bundeltjie Vlugskrif waarmee die digter tien jaar vroeër sy debuut gemaak het.

Wat vir Cecile Cilliers opgeval het, is die musikaliteit van die verse, die taalbeheer, die inherente gevoel vir rym en ritme. En die wye verwysingsraamwerk: die teologie, musiek, kerkgeskiedenis, die Middeleeue. En ook ’n taalgevoel wat op verrassende wyse ontgin word. Die digter goël met die taal.

En in Die Burger het Daniel Hugo geskryf dat Johan Myburg met Kontrafak bewys dat ’n digter belesenheid en intelligensie met fyngevoeligheid kan kombineer en in die proses verstaanbaar kan bly vir sowel die akademiese klerus as die literêre lekedom. Dit is ’n welkome verandering in ’n tyd waarin hermetiese intellektualisme alte hoog aangeprys word.

Benewens Johan se digwerk is hy ook ’n joernalis en kunskritikus. Hy woon en werk deesdae in Johannesburg, het filosofie, sielkunde en in die teologie studeer en was in 2012 besig met nagraadse studie in beeldende kuns aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy is in 2009 aangestel as die kurator van visuele kuns van die KKNK en is ook kuns- en vermaakredakteur van Beeld. In 2011 was Johan ook een van die beoordelaars vir die UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk.

“Ek sien letterkunde as deel van die kunste. Die visuele kunste, musiek, verse, drama, ballet, dans, noem maar op, dit is alles een groot manier van uiting. En wat my verstom, dikwels letterlik, is die verskillende segswyses wat dieselfde objek of emosie of wat ook al beskryf.”

In 2008, ná veertien jaar van digterlike stilte, word Johan se derde bundel, Kamermusiek, by LAPA-uitgewers gepubliseer. En met elke nuwe bundel maak sy poësie ’n stewiger indruk, meen Andries Visagie.

Diebundel belig ’n baie spesifieke ruimte, soos die titel aandui. “Kamermusiek speel met die private (binne), maar dan soos dit geïnformeer word deur die wêreld daar buite. Die kamermusiek as genre is juis bekoorlik omdat dit so intiem is. En in die intimiteit lê soveel fasette. Niks groots, soos simfoniese werke if opera nie, maar allermins klein!

“As jy die titel in twee woorde wil indeel, is daar, hoop ek, die musiek wat deur die kamer of kamers trek. Maar die kamer is myns insiens die domein van ’n enkeling. ’n Deur wat kan toemaak, maak juis van ’n kamer ’n kamer. ‘Kamer’ is die plek waar ek veilig voel.”

Die titel is ’n kernagtige samevatting van twee belangrike tematiese aspekte van sy gedigte. Myburg skryf, soos in sy bekroonde bundel Kontrafak (1994), steeds oor die musiek, maar baie gedigte gaan nou ook oor kamers, huise, forte en ander argitektoniese ruimtes.

In die gedigreeks “Aangepaste argitektuur” koppel die digter sy binnenshuise bestaan aan die misdaadsituasie in Suid-Afrika. Sy “Aankopelys” begin so:
“Lemmetjiesdraad, 300 meter/ alarmstelsel, met armed response/ panic buttons/ motorhek, gesweis, gegalvaniseer + afstandbeheer”. Hierdie hedendaagse beveiliging word egter geplaas binne ’n historiese konteks: die gedig­reeks verwys ook na die netwerk van forte wat die Engelse in die 19de eeu op die Oosgrens opgerig het vir die beveiliging van die koloniste teen die Xhosa-aanvalsmagte. Daar het oor die eeue heen dus nie soveel verander nie. In Kamermusiek is die binnenshuise bestaan ook ’n teken van isolasie en eensaamheid.

Dit is opvallend dat Myburg sedert sy debuut, Vlugskrif (1984), ’n groeiende polities-maatskaplike belangstelling toon. Die religieuse inslag wat sy vorige twee bundels gekenmerk het, is nou minder prominent. Trouens, in “Portret van ’n middeljarige man” is daar die beeld van ’n ontnugterde man wat klaarblyklik afskeid geneem het van religieuse instellings.

Die sensitiwiteit vir klank is in Kamermusiek nie beperk tot die talle musiekverwysings in goeie verse soos “Fuga”, “Nagliedjie”, “Spinlied” en die titelgedig nie. Myburg dig graag in rymende kwatryne, maar hy behaal groter sukses met gedigte wat nie aan die dissipline van rympatrone onderwerp word nie, of waar hy volstaan met ’n rymende eindkoeplet.

Danksy die geslaagde gebruik van herhalende reëls in “Volmaan oor Die Bult” slaag Myburg daarin om ook mooi musikale effekte te bereik in ’n gedig wat as ’n hoogtepunt in Kamermusiek kan geld: “die maan is dood/ in ’n mik gevang/ fluitspelers in bome hang/ roerloos gelaksman/ die maan is dood/ die maan is dood/ sypaadjies spruit lyke/ grysaards sonder tonge/ haardosse soos nessies/ vol gestolde eiers/ die maan is dood/ die maan is dood/ in ’n mik gevang/ broeiers lê gesaai/ oor slagvelde onder/ jonggroen bome/ dood soos mossies/ die maan is dood”.

Hierdie nagmerrietoneel van dood en verwoesting bring die gegewe van die maan en die dooie voëls netjies bymekaar deur die assosiasie van albei met bome. Die maan (wat visueel ook aan die voëls se “gestolde eiers” herinner) word vanuit die spreker se perspektief in die mik van ’n boom geknel en die voëls (“fluitspelers” en “broeiers”) lê dood in en onder die bome.

Soos uit hierdie mooi, maar donker, gedig blyk, is Johan Myburg se kamermusiek nie die soort musiek wat jou van vrolikheid sal laat dans nie. Die gehalte van die poësie vergoed egter ruimskoots vir die gebrek aan lighartigheid. Myburg se besonder netjies afgeronde bundel verdien ’n plek op die inkopielys van elke Afrikaanse poësieliefhebber.

In haar Volksblad­-resensie skryf Joan Hambidge: “Myburg se verse het nog altyd ’n fyn balans gehandhaaf tussen intellek en emosie, vorm en musikaliteit en die enigste gevaar van sy soort gedig was in die verlede dat die gedigte té sterk onder die invloed van TT Cloete gestaan het. Dit is egter in hierdie jongste bundel afgeskud en ons vind in hierdie bundel ’n trefsekere, helder stem.

“Die bundel terloops is deur Lapa gepubliseer en met hierdie bundel bewys hierdie uitgewershuis dat kleiner of randuitgewers ’n belangrike rol kan vervul vir die digkuns.
Behalwe vir aksenttekens wat op Franse titels afgeval het, is die bundel andersins netjies uitgegee. Op die buiteblad word die gedigte van Myburg geloof deur Daniel Hugo, eweneens ’n digter van die kamermusiek.

“Nie minder as die groot simfoniese konstruksies nie, want vele gedigte tref eintlik júis om die dwarssegging of mineurtoon. In hierdie bundel word daar in gesprek getree met Virginia Woolf en Roland Barthes. Daar is ’n aangrypende gedig oor Biko. Daar is gesprekke met Neruda, Lorca, Ted Hughes, Totius, Ina Rousseau en vele ander slim toespelings wat van die bundel ’n opwindende leeservaring maak. Daar is egter ’n balans tussen interteks en eie teks. Die geleerde verwysings oorwoeker nie die verse nie en dikwels word die leser gekonfronteer met die onthutsende ontbloting van die self. (...)

“Die leser moet dikwels raaisels oplos, intertekste naspeur in ’n bundel wat soveel leesplesier verskaf. Dit is ’n melancholiese bundel en in die titelgedig vra die spreker dan ook: Is daar ’n ander lewe wat hy elders leef? Ja, daar is. Die digter het dit vir ons in hierdie mooi bundel gegee.”

As daar na die titels van sy bundels en gedigte gekyk word, is dit duidelik dat musiek ’n groot rol in Johan Myburg se lewe en digkuns speel. “Daar is in woorde ’n ongelooflike musikaliteit. En musiek is vir my belangrik,” vertel Johan aan Jaco Jacobs. “Ek luister graag, al kan ek nie self sinvol genoeg musiek maak nie. Maar ek sien dit nie as ’n leemte nie. Om te luister is om deel te kry aan die proses. Om te luister verg meer inspanning as om net jou ore oop te hou. Dieselfde dink ek van lees. Etienne Leroux het gesê dat as hy sewe jaar aan ’n roman skryf, verwag hy dat die leser sewe jaar daaraan moet lees ...”

Daar word dikwels in resensies verwys na die ooreenkoms wat Johan se digwerk toon met dié van TT Cloete. Hierop reageer Johan so: “Dis minstens goeie geselskap, reken ek. Ek bewonder beslis Cloete se woordgevoeligheid en sy omgang met woorde. Ek het mettertyd doelbewus probeer om minder Cloete te lees. En dalk meer gewoond te raak aan my eie stem. Dit verklaar dalk ook iets van die lang tyd wat verloop het voor Kamermusiek. Maar invloed is iets waaraan ’n mens nie kan ontkom nie. Dis soos lug wat jy inasem. Die mikpunt is seker om nie jou eie stem – wat dit ook al mag beteken – te onderskat nie.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, het Johan aan Beeld gesê: “Ek weet ek moet skryf oor ’n boek. Maar ek kan die verleiding om oor die proses na te dink, nie weerstaan nie; die nimmereindigende proses. Want met die lees van elke boek, hoe goed of hoe sleg, verander my lewe.

“Daar is boeke wat my lewe verander het. Baie boeke wat indrukke gemaak het. Baie van die indrukke wat ek nie meer bewustelik onthou nie, maar iewers in my onderbewuste binneste is die boeke ingedruk. Ingeprent. En praat die boeke saam in die manier waarop ek dink en praat en skryf.

“Wat ek wel kan onthou, is die dag toe ’n ou vrou wat huis opgeruim het, gesê het ek kan uit ’n stapeltjie boeke kies. Ek het ’n boek gekies wat nog steeds helder in my binnekop is. Die Rubayyat van Omar Khayyam. Die swaar grysblou boek met gehawende bladsye (en haar man se naam is in ylblou ink op die vergeelde titelblad). Die boek het ’n paradyshek voor my oopgestoot. Daar was letters so eksoties soos die kwatryne se woorde. Daar was prente druppend van Victoriaanse obsessie met (Midde-)oosterse oorde. Jongeling wat ek was, het die boek ’n towertapyt geword vir menige reise.

“Dit was nie net die Khayyam-kwatryne nie. Dit was die boek, die verpakking. Die oudheid. Die geleesdheid van die boek. Die etlike kilometers op die tapyt se odometer. Dit was my saamlees met almal wat die boek voor my gelees het. Saamdroom met al die voormalige dromers.

“Ná die Rubayyat het ek bewus geraak van my rusteloosheid. Het ek in die Wes-Transvaalse landskap iets probeer herken van die tuinerye van ander lande. Het ek palmbome sonder meer begin aansien as aanduiding van ’n oasis.”

Johan lees graag Afrikaans en probeer op hoogte bly met wat verskyn, ook in prosa. “Jostein Gaarder wat Sophie’s World geskryf het, het die vermoë om tweeduisend jaar se filosofie voor jou oë te laat leef. En ek haal Goethe aan: ‘He who cannot draw on three thousand years is living from hand to mouth.’ Richard Foster se Patterns of Thoughts: The Hidden Meaning of the Great Pavement of Westminster Abbey sluit aan by Gaarder: jy kan oor ’n sypaadjie loop en van die hand na die mond lewe, of jy kan die mat optel en kyk wat is daaronder en begin lewe.

Na Kamermusiek het Johan gehoop om in die toekoms meer te publiseer, maar “die gedagte laat my keel toetrek. Dit voel asof tyd moet verloop om sekerheid te kry van woorde en stellings. En dalk afstand. Onsekerheid speel seker ook ’n rol. Die immer knaende onsekerheid.”

Publikasies

Publikasie

Vlugskrif

Publikasiedatum

1984

ISBN

0628026358 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  •  

 

Publikasie

Kontrafak

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132663 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1995

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kamermusiek

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799342598 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Johan Myburg beskikbaar op die internet:

Artikels deur Johan Myburg beskikbaar op die internet:



 

Bygewerk: 2012-07-20
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address