Johan Combrink-gedenklesing: Eldridge Jason oor Afrikaans se ander baadjie

  • 0

Die Vriende van Afrikaans se Johan Combrink-gedenklesing het op 6 Februarie 2014 in Stellenbosch plaasgevind. Die sprekers Christa Prinsloo, Eldridge Jason en Willem Fransman van Son-redaksie het oor die tema  “Afrikaans se ander baadjie” gesels. Eldridge Jason deel sy gedagtes van dié aand met LitNet.

 

Goeienaand almal

Baie dankie vir dié voorreg om by ‘n geleentheid te praat oor ‘n onderwerp wat my baie na aan die hart lê: Afrikaans.

Maar darem ook nie net Afrikaans nie: Afrikaans soos wat mý mense hom praat.

Ek sê kyk’ie my broe’ al daai dinge moet djy los.
Want die gel’ kan gegaan het virrie wiek se kos.
Djou pa, djou ma … hulle almal kry swaar …

Toe ek as laaitie dié song van Prophets of da City (POC) hoor, was dit of daar uiteindelik vir my ‘n lig opgegaan het.

Uiteindelik met groepe soos POC en die werke van Adam Small het ek besef dat ons Kaapse way van Afrikaans praat nie onwettig is nie.

Maar dat dit ‘n variant is wat verskriklik baie kleur aan Afrikaans verleen.

Ek is oorspronklik van die Weskus en toe ek so nege jaar gelede by Son begin werk het, was ek onmiddellik betower met die way hoe mense op die Kaapse Vlakte Afrikaans praat.

Jy kom by ‘n storie en hoor “Aweh”, “Hoessit?” en “Hoe change hulle?”

En jy antwoord maar: “Naai, is duidelik …”

Jy raak smoorverlief op woorde en uitdrukkings soos gôffel (lelike vrou), in die pan gesit (verpand), ‘n lange gegooi (geloop), virrie eyeblind (oogverblindery), gatsby, hy het my ‘n kaart geskiet, my bors kom staan warm maak (my kwaad maak) … En die lys gaan aan en aan …

Baie het ons al gekruisig by Son oor die gebruik van Afrikaans.

Maar die realiteit is dat Son niks anders as ‘n weerspieëling is van die kleurvolle manier van hoe Afrikaans in veral ons bruin gemeenskappe gepraat word nie.

Dit is ‘n variant wat in baie opsigte nog neusoptrekkerig na gekyk word. Maar dit is ‘n way van living van die bruin Afrikaanssprekende wat nie geïgnoreer kan word nie.

Wat klink dan buitendien mooier as gesaaf, kopskiet, skarrel, djy maak djou laat, moenie vi’ djou kô sterkgevriet hou nie ...?

Tog  is daar ‘n kommerwekkende tendens onder veral bruines om deesdae hul kinders in Engels groot te maak. Nou die dag hoor ek my buurman vra vir sy klong: “Why must I talk with you so long?” Hoekom moet ek so lank met jou praat?

Ek het amper ‘n stroke gekry.

En toe ek vir ‘n meisie tydens ‘n onderhoud in Eersterivier vra waar sy ten tye van die voorval gestaan het, sak sy af: “I was standing by the wire.” Dit het my ‘n ligjaar en ‘n half gevat om te besef sy bedoel sy het by die draad gestaan.

Dit is snaaks, maar dis eintlik sad dat so baie mense wegbeweeg van ‘n inkleurboektaal soos Afrikaans en hulle vereenselwig met ‘n taal soos Engels wat sin maak slegs as jy die woorde met ‘n koppie tee afsluk.

Ons sit deesdae met ‘n jonger generasie wat praat van ‘n gravestone in plaas van ‘n tombstone, hulle wat sê “Come sit here by me.”
En nog erger: hulle verwys in Engels na “julle” as “yous”.

En somehow sal ons weer moet kyk na maniere om hulle van hul stupidgeit te genees en hulle weer verlief op Afrikaans te maak.

Daar is nie ‘n mooier taal as Afrikaans om jou drome vlerke te laat groei nie.

Die taal kan nie gestraf word vir die stupidgeit van die verlede nie.

Ons moet mense laat besef dat skeef, krom Engels jou kind nie ‘n voorsprong in die lewe gee nie.

Hulle moet besef, of dit moet selfs in hul koppe geslaan word, dat Afrikaans, tot in sy mooiste, mooiste Kaaps, die geur en kleur in ons lewens verskaf.

Ek dank u ...

Lees ook Willem Fransman se lesing.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top