- ’n Mens kan gedigte skryf alleen indien jy die gedigte wat reeds in daardie taal geskryf en gepubliseer is, ten minste ken. Indien jy dit nie ken nie, kan jy geen bydrae lewer nie. Nie alleen moet jy tematies kennis neem van wat alreeds gedoen is nie, maar jy moet ook verstegnies ingelig wees.
- Jy moet lees en as ’t ware kennis neem van al die fabrieksgeheime.
- Jy moet wérk aan ’n gedig. Selfs – nee, eintlik verál – groot digters was bereid om gedigte oor te skryf. Jong digters kry tans te veel raad, wat dan die indruk skep dat hulle ná ’n slypskool gearriveer het. Dan vergeet hulle dat die regte werk, in isolasie, moet begin. Afwerking, lees, en so meer.
- Moenie weifel om gedigte weg te gooi of op te skeur nie.
- Moenie jou vriende as kritici aanstel nie. Hulle sal uiteraard alles as “mooi” of “goed” beskou en betower wees deur jou gedigte.
- Jy kan dig net indien jy bereid is om jou ego eenkant toe te skuif en deur ’n kenner van raad bedien te word.
- As poësie nie ’n obsessie is nie, moenie dit bedryf nie. Verkoop eerder tweedehandse motors of word ’n gym-instrukteur.
- Luister altyd na die hartklop van jou gedig. Die gedig dikteer en besluit waarheen jy moet gaan of reis.
- Lees resensies of kritieke van ander bundels en bepaal waar jy staan.
- Vermy clichés.
- Maak seker dat jou beelde logies is en deurlopend sin maak.
- Die gebruik van dertigerwoorde klink oudmodies en moet liefs vermy word.
- Mik vir ‘n sterk slot wat alles wat voorafgaan, saamvat en die leser uit die water blaas.
- Woorde of abstraksies soos seer moet eerder vermy word. Soek eerder konkrete beelde wat abstrakte gedagtes kan oordra. Kyk byvoorbeeld ook hoe Sheila Cussons die metafisiese met die konkrete verbind.
- Wees versigtig vir beeldverwarring. Kies een beeld en bou die hele gedig rondom een beeld uit.
- Moenie onnodig swaarwigtig wees nie. Dit moenie klink of jy gedigte in hoofletters skryf nie. Die verhewe beeld moet vermy word.
- Moenie prekerig wees nie, en vermy uitroepe in ‘n vers.
- Laat die gedig vir sigself praat. Jy moet genoeg vertroue hê in die beeld. Die digter moenie ’n souffleuse wees wat vir die leser fluister wat hy of sy behoort raak te sien nie.
- Deur min woorde kan jy dikwels meer vertel as met ’n woordryke gedig.
- Lees altyd ’n gedig hardop voor sodat jy die ritmiese en metriese patrone kan hoor. ’n Mens is geneig om dit met jou oog reg te maak. Poësie moet ook reg klínk.
- Die gebruik van ’n woord wat buite die konteks of sfeer van die res van die gedig val, is altyd steurend. ’n Goeie gedig is soos ’n fyn spinneweb wat netjies inmekaar pas.
- Suggestie is bykans een van die belangrikste eienskappe van ’n geslaagde gedig. Moet ook nooit ’n woord twee keer in ’n gedig herhaal nie. ’n Mens lees vas daarteen.
- Waak teen die gebruik van verkapte prosa; ’n gedig moet reëls hê wat bondig en vaartbelyn is.
- ’n Geslaagde gedig terg of steur die leser. Die eerste lees mag nooit al die geheime verklap nie.
|