Jason Lloyd resenseer Lag jou g*t af by die KKNK

  • 0


Lag jou g*t af
(komedie)
Vervaardiger: All Star Productions
Teks en regie: Emo Adams
Musiek: Sean de Vries
Met: Emo Adams, Take Note, Wayne Mckay, Margit Meyer-Rödenbeck, Wicus van der Merwe en Sorina

Absa Burgersentrum
60 minute
R120

 

 

Verbeel jou dit is donker in die teater. ’n Swart gewaad verskyn op die verhoog. Niemand weet wie dit is nie. Die ligte word aangeskakel. Siedaar, dit is Emo Adams. Hy staan daar met wit tekkies soos Jacob Zuma s’n. ’n Wit hemp met ’n swart strik das; Die man is netjies geklee in ’n swart pak; soos Frank Sinatra. Hy sê nie ’n woord nie. Met geel oë kyk hy jou diep in die oë. Almal begin lag, want die ou is snaaaks. Bleddie snaaks. Skreeuend snaaks. Vir 30 minute skater die gehoor sonder ophou. Hulle soek na hul asems.

Meteens is alles oor. Die swart gewaad het verdwyn. Die ligte is uitgedoof. In Afrikaanse teater het net een kunstenaar so ’n effek: Emo Adams.

In Lag jou g*t af slaag Emo weer eens daarin om jou lagspiere oortyd te laat werk. Met sy stem, daai komieklike ritmiese bewegings op die verhoog en vlymskerp sêgoed laat hy jou die heeltyd op die punt van jou stoel sit. Oorgewig teatergangers se stoele kraak. Menigte snak na hul asems.

Emo se stage performance komplementeer die teksinhoud. Dit is vars, prikkelend, aktueel en op die man af. Sy snaakse gesigtrekkings en die manier waarop hy dans hou jou gedurig aan die lag. Hy lees sy gehoor en pas aan om in hul behoeftes te voorsien.

Emo het ’n natuurlike talent vir die teater. Sy talente is nie deur ’n dramaskool gevorm nie. Hy’s so gebore. Op die Kaapse Vlakte; in Mitchell’s Plain. Met Lag jou g*t af het hy weer eens daarin geslaag om daai uitsonderlike, tog skaars, talente van hom na vore te stoot.

Wicus van der Merwe, oorle Tolla se seun, verskyn toe skielik op die verhoog. Dié boytjie van Clanwilliam probeer alles in sy vermoë om te rap. Die inhoud klink oukei, maar hy move soos ’n ou donkie wat deur God se genade nog nie deur ’n slagter beetgekry is nie. Dit gaan swaar – amateuragtig verby. Met sy jokes slaag-slaag hy plek-plek om die mense te laat lag. ’n So-so great performance, maar beslis nie sy beste nie. Hy probeer te hard om snaaks te wees.

Dan verskyn die laagtepunt op die verhoog. Sorina “die Flooze” klink soos ’n plaat wat haak. Op 7de Laan en orals waar sy ’n openbare verskyning maak, klink sy dieselfde. Die inhoud is platvloers verby en sy kan nie sing nie. Nie eens in ’n badkamer nie. Sy beweeg boonop op die verhoog soos ’n vetgemaakte kalf. Sy skreeu en probeer tevergeefs snaaks wees. Sy het soos ’n ou grasmasjien geklink. Na die show het menigte buite vergader en hul misnoeë met haar vertoning uitgespreek.

Margit Meyer-Rödenbeck, oftewel Dowwe Dolla, se karakter se raklewe is regtig verby. Sy’t op die verhoog gestaan en vorentoe geleun soos ’n ou stok wat skeef gegroei het. Flou grappe wat nie goed afgerond is nie, was aan die orde van die dag. Die inhoud is vervelig en nie aktueel nie. Margit moet begin rondkyk vir ’n ander karakter en manier van dinge doen. Dowwe Dolla se dae is getel.

Wayne Mckay het ek vir die heel eerste keer op die verhoog gesien. Ek hou van sy vlymskerp jokes waarin hy Jacob Zuma en ander politici vir ’n gek slaan. Msholozi se snaakse gevormde “duik kop met die stort en al” het teatergangers amper van hul stoele afgeboender. Ek hou van kunstenaars wat politici vreesloos aanvat en in die vuil modder in duik. Vat so, julle politieke fokkers.

Sy jokes oor die “belangrikheid van poep” het almal laat skater, maar hy’t voice training nodig. Hy skreeu te veel. Weet nie wanneer om asem te haal nie of liewer: hy haal glad nie asem nie. Reeds daarom is dit moeilik om hom plek-plek te hoor.

Met ’n bietjie professionele skaafwerk sien ek wel ’n blink toekoms vir Wayne op die verhoog.

Ongelukkig kan ek Lag jou g*t af net vier uit tien gee, hoofsaaklik as gevolg van die Flooze en Dowwe Dolla se swak vertonings. Asseblief Emo, dink volgende keer meer as een keer met die keuring van kunstenaars vir jou shows. Hulle kan dit maak of breek.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top