Is Christenskap religie of godsdiens?
Kan jy glo. Ek het vandag eers op Sandra Troskie se LitNet Akademies-resensie-essay: God? bestudeer godsdiens vs wetenskap hier op LitNet afgekom. Hoogs interessant! Almal het dit seker al gelees.
Om by te voeg sien ek nie Christenskap as ‘n religie of godsdiens nie. Dit is wat die groot verskil maak tussen om gelowig te wees of ‘n godsdiens te beoefen. Christenskap is ‘n lewende verhouding met ‘n Almagtige God. Ek kan nie met ‘n afgodsbeeld of ‘n afgestorwe heilige verhouding bou nie.
Sandra kon ook nie haar essay met ‘n beter samevatting afgesluit het dan: “Om dinge anders te kán maak, het ons die kennis van die wetenskap nodig; om dinge anders te wíl maak, het ons ’n nuwe begrip van God nodig.” Sy is in die kol.
Haar ontleding en navorsing omtrent die woord ‘religie’, asook ‘n finale bepaling van ‘n definisie daarvoor, het nuwe betekenis vir my omtrent die woord, oopgemaak.
Sakkie Spanenberg se opsomming van die boek as ‘n verhaal van: geboorte-groei-dood, teenoor die christelike siening van sondeval-verlossing-eindoordeel, het my dadelik laat besef dat die gelowige weer dinge só opsom: wedergeboorte-groei-ewige lewe! Vir die gelowige begin sy doelvolle lewe hier op aarde eers vanaf ‘wedergeboorte’ in sy gees. Want dit is slegs die weergebore gees van die mens wat deur die inwoning van die Heilige Gees, verhouding met God kan bou.
Iewers in die boek God?, moes dan ook dié bespreking plaasgevind het: “Die voorstelling van God as manlik vervreem en verneder die vrou.” Hierdie voorstelling van personifikasie is ook nie vir die gelowige vrou ‘n probleem nie, want sy sien God as Gees. Gees is nie-geslagtelik.
Weereens bevestig dit dat God se skepping kan nie deur die oog van die natuurwetenskap gesien word nie. Wetenskap kan dit wel ondersteun, en uitermatig verruim, maar nooit oorheers.
Dankie Sandra, ek hoop hierdie is nie die laaste essay wat ek van jou lees.
Trienie Mahne