In weerwil van glansender hare en bultender spiere – Hennie Aucamp in gesprek oor ? Vreemdeling op deurtog

  • 0

Hennie, jy het Philip de Vos nadergehark om vir ? besondere voorblad vir hierdie bundel te sorg. Vertel ons van die agtergrond daarvan.

Philip de Vos het foto-omslae vir die volgende bundels geskep: Verdwaal van Herman Wasserman, Drie Riviere van Jaco Botha, Voss van Anna M Louw. En so pas vir ’n Vreemdeling op deurtog. Philip is ongelooflik kreatief met sy digitale kamera. Hy laat weg, hy skandeer in.

Die murasie op die omslag van ’n Vreemdeling op deurtog is in Nieu-Bethesda afgeneem, maar die venstergat kyk uit op die Joodse begraafplaas in Praag. Soos die geluk dit wou hê, was dit lente in Praag, en die bome in die begraafplaas stralend groen. Hiermee word die resurreksie-gedagte, die opstandingsgedagte, in my bundel onderskryf, want my slotteks, “Blues vir ? verdronke stad”, eindig met “that great gettin’ up morning”, soos dit in ? Negro spiritual staan.

Geluk speel dikwels saam in die skryfbedryf. Of noem dit toeval, of noem dit genade. Genade het bestem dat dit lente was toe Philip Praag besoek het. Toeval het dit so bestem dat die omslag van Vreemdeling die murasie-foto van Obie Oberholzer op die omslag van Dalk gaan niks verlore nie herhaal, maar met die elegiese toon veel navranter by De Vos.

Die spel tussen werklikheid en fiksie word in Vreemdeling tot die uiterste gevoer. Ek is seker Aucamp-lesers sal heel eerste vra: In watter mate is die verhale en essays wat hier opgeneem is, fiksie?

Ook wanneer ek niefiksie skryf – resensies/artikels – is die fiksionele verbeelding werksaam. Jy kies jou hoek, en hieruit volg ? bepaalde struktuur. Vir ? deurwinterde skrywer kom ordening so natuurlik soos asemhaling. Hy vra hom af: Hoe kan ek my materiaal ten beste laat vertoon, sonder om die leser te vermoei of te verveel?

“Soos lakens op ? bleik” is die naaste aan ? “dokument” in Vreemdeling, maar hier het ek dagboekinskrywings rondgeskuif en uitgebrei ten einde groter digtheid aan die geheel te verleen, en om my weerkerende motiewe – sneeu, winter, kabaret, seks en die helende uitwerking van vriendskappe – te verhewig en te verstewig.

Ek wil kategories sê: die oomblik dat die skeppende mens verslag lewer, by wyse van ? storie, ? essay, ? artikel, begin jy outomaties lieg. Die heel eerste sin in Petra Müller se verhaal “Die luiperd” kan die credo van alle skrywers wees:

Sover ek weet, het ek nog nooit by waarheid gehou in enigiets wat ek geskryf het nie. Ek is ? verteller van verhale: iewers neem ? verhaal sy eie loop en glip onder jou uit, op sy eie koerse.

Wat moet bykom by Petra se credo, is ? titel van ? TT Cloete-bundel: Die waarheid gelieg.


In hierdie bundel is die transformasie van dokument na fiksie, en omgekeerd, ? aspek wat Aucamp-lesers en -studente lank besig gaan hou. Is daar ? spesifieke moment tydens die transformasieproses waar feit fiksie word?


Die transformasie is meesal van die begin af daar, reeds in die titel; die transformasie ís, in ? sin, die verhaal.

Maar daar is tog soms ? aanwysbare oorgang, soos in die verhaal “Padhipnose”, waar ? vreemde surrealisme – noem dit die surrealisme van vaak – oorneem.

? Handvol vrae, as jy nie omgee nie: Is ek korrek as ek sê dat Christopher Isherwood beslag gegee het aan dokumentêre of biografiese fiksie? Ons herken Hennie Aucamp of Stoffel in heelwat van die verhale in hierdie bundel. Het Aucamp as eksponent hiervan in Afrikaans voorgangers of medespelers wat ? invloed op sy werkwyse handhaaf? Isherwood se styl het deur sy oeuvre ontwikkel van ? jong stilis met ? “abundance of quasi-mystical imaginative energy” tot ? volwasse woordkunstenaar wie se werk gestroop is van romantiek en illusie.” Katherine Bucknell merk hieroor op: “In the end, fiction itself had to go.” Geld dit vir Hennie Aucamp ook?

Christopher Isherwood het homself eintlik van die begin af in sy eie verhale verbruik. In die beroemde Berlin Stories, waarop Cabaret gebaseer is, staan hy bekend as Herr Issywoo, want dis hoe sy Duitse vriende uit die volkslaag sy onwennige Engelse van probeer tem het.

Maar ek sou nie sê dat Isherwood die eerste was wat biografiese fiksie geskryf het nie. Dink byvoorbeeld aan Robert Louis Stevenson (Travels with a donkey) en Karen Blixen (Out of Africa). Isherwood slaag nie altyd met sy egoverkennings nie. In Chris and his kind skryf hy in die derde persoon oor homself, ? selfbewuste strategie om afstand tot homself te kry, tot jy later wil uitroep: Wat is verkeerd met I, I, I?

Nee wat, Aucamp is lank nie die eerste Afrikaanse skrywer wat outobiografiese fiksie skryf nie. Daar is ? baie lang reeks skrywers voor hom. Ek wil Sangiro noem, met boeke soos Op Safari en Simba. Hy is deurentyd ? bewustelike stilis, selfs al het gemelde werke ? egodokumentêre basis.

Sangiro het tot die huidige dag ? invloed in my lewe. Ek het ? week of wat gelede ? verhaal geskryf wat ek “Droëmeer” noem. Sonder my herinnering aan die tog deur die Droë Meer in Op Safari sou ek dié verhaal nooit kon geskryf het nie.

Jy haal Catherine Bucknell aan na aanleiding van die skryfwerk van Christopher Isherwood: “In the end, fiction itself has to go.” Dis vir my ? bedenklike uitspraak, want Isherwood bly ? meesterverteller, ook wanneer hy sogenaamd niefiksie skryf.

In watter mate dien Jung se teorieë as bloudruk vir jou skryfwerk? In “Soos lakens op die bleik” (p 34) verwys jy na die verband tussen letterkunde en die onderbewussyn.

Jung speel nie juis ? rol in my lewe nie. Wel dink ek dat sy opstel oor kreatiwiteit miskien een van die allerbeste is wat ooit oor die onderwerp geskryf is. Daarin verduidelik hy dat selfsug onlosmaaklik vergroeid is met kreatiwiteit. Dis deel van die pakket wat hy met sy geboorte kry.

Ek lei af dat jy, as woordkunstenaar wat jou vir jare al met die dagboek en egodokument besig hou, groot aanklank vind by William Boyd met sy onderskeid tussen kortverhaalkategorieë, waarvan die sewende kategorie as “biografiese storie” geklassifiseer word. Sy benadering vind ook neerslag in die literêre teorie as sg “protobiografie”. Kan jy vir ons hierop uitbrei, asseblief?

Ek moet eerlik beken dat ek nie heeltemal seker is wat Boyd met dié term bedoel nie. Proto- in die sin van die eerste, die primêre, die primitiewe? Sy kosskooljeug was beslis primitief, in die naarste sin van die woord.

Wat verwag jy van jou ideale leser wanneer hy/sy hierdie boek in die hand neem?

Ek verwag van ? leser om met ? oop gemoed te probeer lees, sonder vooropgestelde idees omtrent ras en geslag en politiek. Hy moet ? verslag as ? mededeling lees; niks minder en niks meer nie. Hy moet die verhale in die volgorde lees waarin hulle aangebied word, want ? bundel is ? betoog.

Behalwe in die titels en slotsinne van jou verhale, waar kan lesers soek na sleutels om jou verhale te ontsluit?

Die belangrikste sleutel tot ’n ouer skrywer se werk is sy oeuvre tot en met sy jongste boek. Die leser herken weerkerende temas en motiewe; sekere kodes, sekere obsessies.

Maar die verstaan van ’n boek mag nie dié soort voorkennis “eis” nie. Dit ontken die outonomie van ’n bepaalde boek. Gelukkig het elke nuwe boek sy eie hulpdiens aan die leser. Dit begin al met die titel. Die titel ? Vreemdeling op deurtog waarsku dat dié boek, om my vriend Braam de Vries aan te haal, oor die “retoriek van dood” handel; ? soort “heengaan-refrein” (Wilma Stockenström).

Die twee motto’s tot die bundel is ’n versterking van die titelgedagte, maar dit waarsku ook dat dié boek sy eie romantiek mag saboteer.

Nou ja, dan lees jy maar verder, en kyk hoe tekste by mekaar aanhaak of mekaar weerspreek.

Publikasiemoontlikhede vir die kortverhaal het oor die jare dramaties afgeneem. Hoe voel jy hieroor? Hoe ervaar jy deesdae die publikasieproses na ? halwe leeftyd in die bedryf?

Afrikaans sit tans in die dilemma dat hy geen, maar geen, venues vir die langer kortverhaal het nie.

Vroeër was daar tydskrifte soos die Huisgenoot, Die Brandwag, Die Naweek, Die Ruiter, Die Huisvrou, Naweekpos ea. Ook was daar die radio, wat hoë eise aan kortverhaalskrywers gestel het. Die leesduur van ’n radioverhaal was sowat twintig minute, soms langer.

Toe het tydskrifte hul deure begin toemaak vir kortverhale en vervolgverhale. Literêre tydskrifte kon hoogstaande tekste opvang – Standpunte, Contrast, Tydskrif vir Letterkunde. Maar literêre tydskrifte spesialiseer nie meer in skeppende werk nie; hulle word oorheers, bepaal, toegegooi deur subsidiedraende artikels. Sou langer verhale soos “Die hol krans” van MER en “Ou Vorster” van J van Melle vandag opgeneem word in subsidiegenererende tydskrifte? Ek betwyfel dit ten sterkste.

Wat doen die liefhebbers van goeie populêre verhale nou? Hul wend hul – let wel, uit desperaatheid – tot Engelse verhale, meesal in boekvorm, want ook in Engeland en in Amerika het tydskrifte promosieblaaie geword, met baie vir die vlees, glansender hare en bultender spiere, maar niks wat ? geesteslewe en die verbeelding kan voed nie.

In Afrikaans begin tydskrifte as ? spesiale toegewing plek inruim vir kortkortverhale. Ek praat van “die dodelike kortetjies”. Enkele skrywers kan nog substansie binne beperkte omvang bring, maar die meeste kortetjies kon deur Mnr Anoniem geskryf gewees het. Dis soos uitgebreide Boeregrappe wat uit die kollektiewe psige opwel; een na die ander, almal voorspelbaar na aanslag en uitkoms.

Gaan daar dan nooit weer ? tydskrif kom wat omsien na die langer verhaal nie?

Hier wil ek hulde bring aan Rooi Rose wat, onder redakteurskap van Corlia Fourie, dikwels stewige langer kortverhale plaas; maar Rooi Rose is ? vroueblad, en nie ? algemene tydskrif nie.

Talle skrywers van my generasie voel verdwaald in ’n oorgekommersialiseerde wêreld.

Vir kultuurdinamika binne ’n groep het jy ’n voortdurende gesprek, en soms ook spanning, tussen opperkultuur en onderkultuur nodig. As onderkultuur oorbefonds word en opperkultuur afgeskeep en self geïgnoreer word, verval die spanning waarvan so pas gepraat is, en word ’n klimaat geskep waarbinne “’n kudde van dommes” (Duitse begrip) ongebreideld kan gedy. Woordeskat en kultuurgeletterdheid krimp sienderoë in Afrikaans.

Die kabaret figureer baie treffend as tema in die boek – neem byvoorbeeld verhale soos “Life is a cabaret, old chum”, waarin jy 'n besoek beskryf aan 'n vrou wat die kabaret-wêreld in die Weimar-tydperk eerstehands beleef het. Ook is daar 'n verslag in “Soos lakens op die bleik” van jou besoek aan Europa, waar jy kenners van dié genre, soos Ernst van Altena en Wim Ibo, ontmoet het. Is die kabaret slegs tematies teenwoordig in die boek, of word kabarettegnieke ook tegnies ingespan by die totstandkoming van verhale?

Ek dink kabaret is eintlik net tematies aanwesig in ’n Vreemdeling op deurtog, en by name in die titelteks, in “Life is a cabaret, old chum” en in “Lakens op die bleik”. Ek het vir laas kabaretinligting probeer oordra aan kabaretgesindes, dié keer by wyse van verhale, en verwys wel na musiek; maar van bewustelike kabarettegnieke in Vreemdeling is daar nie juis sprake nie.


Verskillende genres waarbinne lesers Hennie Aucamp leer ken het, word saamgetrek in ? Vreemdeling op deurtog – uiteraard die kortverhaal, maar ook die essay, die dagboekinskrywing en selfs die poësie (soos in die pragtige slotstuk, “Blues vir ? verdronke stad”). Is daar nie gevare verbonde aan só ? genre-allegaartjie binne ? samestelling nie?

Jou vraag is volkome geldig, maar moeilik om te beantwoord.

“Postmodernisme" is die vlag waaronder menige seerowerskip vaar, en ek gaan nie hierdie maklike uitvlug kies nie.

Ek wil die saak eerder so stel: Oor die jare het my konsep van wat ’n storie is, talle wysigings en selfs mutasies ondergaan. Dit het tegelyk breër en dieper geword as waarvoor aanvaarde definisies van die begrip storie speling laat. Storie is vir my iets groters as die genre-houers waarin dit gegiet word. Ek dink so ’n bietjie, maar op ’n baie beskeie afstand, in die Van Wyk Louw-gees:

… omdat die aarde en elke aardgebeurtenis
en die son self, en tot die verste ster,
tesame net een groot vertelsel is
oor Hom en ons, ...

Vertelsel is vir my die operatiewe en oorkoepelende woord.

Ek het die bontheid van my bundel – “bontheid” na genre – probeer besweer deur weerkerende temas en motiewe, en bowenal toon, maar of al die bestanddele deurtrokke geraak het van mekaar, soos in ’n goeie potjiekos, daaroor moet ander maar besluit.

Ek wil net noem dat ek op die oomblik liefdesverhale skryf, ouderwetse stories wat soms teruggryp na my Stormbergse jeug. Derdepersoonsvertellings sonder enige slim foefies.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top