In Memoriam: Russel Botman

  • 1


Ek het wyle Russel Botman intiem leer ken toe ek in 2005 by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) as uitvoerende hoof aangestel is. Hy en my ouer broers was tydgenote en het saam aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer. Ek moet dus erken ek is maar ’n kortsokkie vergeleke met wyle prof Botman en my ouer broers, wat hulself midde die stryd om bevryding in die sewentigerjare bevind het toe dit op sy felste gewoed het.

Ons paaie sou wel kruis.

Na ’n paar skrywes in Die Burger oor onder andere oor die belangrikheid van die behoud van Afrikaans as onderrigtaal en die bemagtigingsfunksie wat dit behoort te dien, het ek vroeg in 2006 besoek van prof Botman ontvang. Hy was op daardie stadium een van die viserektore aan die US en wou meer uitvind oor die standpunte wat ek in my skrywes geopper het.

Ek haal uit een van die skrywes aan:

Op Matieland waai die Suidooster nie ... dis stil. Maar op die Kaapse vlaktes as die stof in jou hare begin vaskleef en fyn sand die kos help fyner maal in jou mond, dan weet jy hy waai. Hier op Matieland tussen die geil akkerlane is hy stil. Die gemeenskappe wat die Suidooster daagliks trotseer het dit nie breed nie, leef nie in weelde nie en voer ’n oorlewingstryd waarvan baie Matielanders min weet. Tog het ons een iets gemeen en dit is die taal Afrikaans wat ons praat. Dit is egter ironies dat die taal wat ons praat, te dikwels vanaf twee platforms bedryf word. ’n Platform van eikehout staangemaak in die koeltes van akkerbome en op Suidoosterverwaaide sandvlaktes, ’n platform aanmekaar getimmer van afvalhout.

Vanaf die eikehoutplatvorm praat ’n bemagtigde groep oor Afrikaans. Vanaf die afvalhoutplatvorm ’n ontmagtigde groep in Afrikaans.

Afrikaans is die moedertaal van die oorgrote meerderheid inwoners van die Wes-Kaap en ons kan met reg eis dat aan minstens een universiteit in die Wes-Kaap Afrikaans as amptelike voertaal behou word. Maar ons eis moet verder strek as net dit. Ons moet daadwerklike pogings aanwend om Matieland se deure wyer oop te maak ook vir die ontmagtigde Afrikaansprekende. Die eikehouplatform moet ’n inklusiewe platform word waarvandaan die boodskap vir ’n nuwe sosiale orde gebaseer op ons nasionale Grondwet verkondig word.

As ons hierin slaag, sal ons duisende die geleentheid bied om uit die kloue van die Suidooster te ontsnap en hul in staat stel om sodoende ook hul regmatige plek in ons nuwe demokratiese bestel in te neem. Faal ons, sal die Suidooster van rigting verander en ook ’n indrukwekkende akademiese instelling soos Matieland, met stofwolke en sand trotseer.

Dit het die grondslag vorentoe gelê vir ’n besondere vriendskap wat ons gereeld by mekaar uitgebring het om ons persoonlike standpunte betreffende die rol van Afrikaans met mekaar te kon deel. Oor die gedagtegang dat dit nie net Afrikaans is wat uitsluit nie, maar dat Engels ook uitsluit, het ons saamgestem. Vele ander kwessies, soos die lae bywoningskoers aan universiteite in die breë vanuit die bruin gemeenskap, die rol van Afrikaans as ’n bemagtigingsvoertuig, die posisionering van die US as ’n volwaardige Afrika-universiteit, toeganklikheid met die klem op akademiese uitmuntendheid, en later die daarstel van ’n inklusiewe ekonomie en die bevordering van entrepreneurskap was vir ons gemene saak. Tydens my laaste amptelike besoek gedurende die laaste kwartaal van 2013 het hy my met trots gaan wys wat die US doen om kleinsake te bevorder.

Ek groet jou dus, Prof, met die hoed in die hand. Dankie vir jou openhartigheid en bedagsaamheid. Jy was ’n man met visie en ’n pragmatis. Jou hart en siel was so Afrikaans soos kan kom en die dryfkrag agter elke inisiatief aan die US en elke leierskapposisie wat jy beklee het. Jy het inderdaad daarin geslaag om van die eikehoutplatform ’n inklusiewe platform te maak en daarmee saam die waardigheid van Afrikaans aan die US herstel.

Reis verder sag op die vlerke van engele in die wete dat jou nalatenskap ten goede was en in belang van Stellenbosch, Suid-Afrika, Afrika en die wye wêreld.

Christo van der Rheede
Uitvoerende hoof, Afrikaanse Handelsinstituut

  • 1

Kommentaar

  • Dankie Christo! Baie goed gestel! Julle is so gelukig om hom persoonlik te kon geken het. Ek net van sy reputasie - dit was my nooit beskore. Mag Hy met hom wees tot ons eendag weer ontmoet!  

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top