In Memoriam: Hennie Aucamp

  • 0

Hennie Aucamp
(Foto: Naomi Bruwer)

Die gevierde Afrikaanse skrywer Hennie Aucamp is op 21 Maart 2014 oorlede en NB-uitgewers bring graag hulde aan hom.

Die drukname Tafelberg en Human & Rousseau het sedert die sestigerjare die meeste van Hennie Aucamp se werke gepubliseer. Hierdie belangrike skrywer en Hertzogpryswenner het bekendheid verwerf as kortverhaalskrywer, dramaturg en digter, en is ook al die vader van literêre kabaret in Suid-Afrika genoem. Hy was een van die eerste Afrikaanse skrywers wat openlik oor die gay-ervaring en -lewensruimte geskryf het.

Hennie Aucamp is op 20 Januarie 1934 in Dordrecht in die Oos-Kaap gebore en het op die plaas Rust-mijn-ziel in die distrik Jamestown grootgeword. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Leuven (België) en Columbia Universiteit (New York) studeer en die kwalifikasies BA, SOD, MA en DEd behaal.

Hennie was 30 jaar lank verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, tot sy uittrede in 1994. Hy het in 1963 gedebuteer met prosa, in die vorm van Een somermiddag. Toekennings op skryfgebied sluit die volgende pryse in: Tafelberg-prys (1970); WA Hofmeyr-prys, saam met Chris Barnard (1974); ATKV-toneelprys (1980); Hertzogprys (1982); Fleur du Cap-prys vir die beste inheemse toneelteks van die jaar (1987); Recht Malan-prys (1997); Gustav Preller-prys (2006). In 2000 het die Universiteit Stellenbosch ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken.

Aucamp se bekendste titels sluit in kortverhaalbundels soos ’n Bruidsbed vir tant Nonnie, Hongerblom, Wolwedans en Volmink,drama- en kabarettekste soos Met permissie gesê, Die lewe is ’n grenshotel en Papawerwyn, dagboeke soos Skuinslig, en herinneringe soos In die vroegte.

Ons neem afskeid van 'n geliefde en geëerde skrywer – meester van die Afrikaanse kortverhaal.

Lees Hennie Aucamp se ATKV-Skrywersalbum.

Kyk na 'n video waar Hennie Aucamp oor skryfwerk gesels.

Lees Martie Preller se huldeblyk aan Hennie Aucamp.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top