In gesprek met ... Willy Martin

  • 0

Carina van der Walt gesels met akademici uit verskillende dissiplines uit die Lae Lande, wat hulle onvermoeibaar besig hou met Afrikaans of met Suid-Afrika. Wie is die man of die vrou agter die boek, die projek, die navorsing of op die leerstoel? Waaroor gaan die boek, die projek, die navorsing? Hoe geïnspireerd sit ’n wetenskaplike op ’n leerstoel vir bande met Suid-Afrika?

Professor Willy Martin, woordeboekmaker van formaat en hoofredakteur van ANNA (2011). Wie is die mens agter hierdie woordeboek? In die wêreld van woordeboeke is onse ANNA baie spesiaal. Waarom? Dis nie net die eerste groot tweetalige woordeboek vir Afrikaans en Nederlands nie, maar die samestelling van ANNA span vir Martin die kroon op sy baanbrekerswerk. ANNA is die enigste vergelykende, geamalgameerde woordeboek in die wêreld. In gesprek met Martin gooi hy byna ál my veronderstellings oor sy verhouding met Afrikaans en hoe die samestelling van die woordeboek verloop het, omver. Die volgende adagium uit Martinus Nijhoff se gedig “Awater” geld ook vir die lewe en die werk van Martin: “Lees maar, er staat niet wat er staat.”

I

Martin was twintig jaar lank verbonde aan die Vrije Universiteit Amsterdam (VU). Hy was professor in leksikologie. Daarvóór was hy verbonde aan die Katholieke Universiteit Leuven en die Universiteit Antwerpen. Gedurende daardie jare as dosent in België (1978–1984) was Martin ook in die hoofredaksie van die Engelse Van Dale. In Leuven en Antwerpen het hy die monnikewerk van woordeboekmaak nog volgens die ou kaartjiesisteem gedoen. Stelselmatig het hy ontwikkel van leksikograaf na leksikoloog.

Sy voorgraadse studie het nie sonder stampe en stote verloop nie, want uiteindelik moes die letterkunde wyk vir ’n taalkundige studie. In sy kwantitatief-linguistiese ontleding van Het boek Alfa van Ivo Michiels het Martin probeer om objektief aan te toon hoe Michiels van die klassieke roman weggebreek het.

Met sy aanstelling in 1986 in Nederland het Martin besluit om nie uit Leuven te verhuis nie. Die uitsig vanuit sy huis oor die stad is pragtig. Die treinreise tussen Leuven en Amsterdam was swaar. Die balans was die inhoud van sy vak.

Het u ooit ’n Afrikaanse student in leksikologie gehad in al u jare aan die VU in Amsterdam?

Ja, twee! Kwena Mashamatie en Tom Siahve in 1994-1995. Hulle was studente van Vernon February van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Aanvanklik het ek in Amsterdam tydens my klasse spesiaal vir hulle na Engels oorgeskakel, totdat Vernon kom bysit en vertel het hulle kan albei Afrikaans praat. Aanvanklik het hulle geweier, maar daarna het hulle Afrikaans gepraat. Twee ouer, swart studente – ’n Sotho en ’n Venda – het kom leer hoe om ’n woordeboek te maak. Hulle het albei hulle meestersgraad in leksikografie behaal. By die slimkop Mashamatie het ek geleer dat Sotho uit meerdere variante bestaan. Saam het ons toe al probeer om ’n konsep te ontwikkel vir ’n vergelykende woordeboek vir Afrikatale.

Onbewustelik was dit die saadjie vir ANNA. “Geamalgameer” beteken vir die gebruiker van ANNA nie ’n woordeboek met twee ingange nie (Afrikaans-Nederlands / Nederlands-Afrikaans), maar ’n woordeboek met slegs één ingang. Die woorde uit die twee tale is deurmekaar, maar alfabeties gerangskik. Dit maak vergelyking moontlik. Eintlik is die woordeboek se naam nie ANNA nie, maar AN.

Toe u besef het dat ’n heeltemal ander model as die gebruiklike tweedeling vir ANNA nodig was, het u “koudwatervrees” gekry. Was daar ’n moment waarop u gedink het dit loop nou heeltemal skeef?

Nee. Ons het aanvanklik in ’n soort euforie geleef – die euforie om ’n nuwe konsep te ontwikkel. In totaal het die projek ’n bietjie langer geduur as wat nodig was. Die geld het begin opraak. Irritasie het gegroei. Daar was drie stresvolle momente: aan die begin (om mense te oortuig van iets waarvan jy self nie 100% seker is nie), met die tweede fase en tydens amalgamasie.

Die geamalgameerde ANNA is in 2000 in Stellenbosch begin met die deel Nederlands-Afrikaans. Die tweede deel, Afrikaans-Nederlands, het vier en ’n half jaar later in Amsterdam en Port Elizabeth begin. Daarna het die aansluitingsproses gevolg, waarop vooraf goed geantisipeer moes word.

Dit is soos Adam, wat van die een kant gegroei het. Daarna Eva, wat van die ander kant af gegroei het – sý – ’n rib uit homself, so anders en tog so eenders. Vir Eva moes ons ook ’n Afrikaanse korpus hanteer. Ons het dit nie vooraf besef nie.

II

Martin was nooit verlief op Afrikaans nie. Inteendeel. Sy houding was baie krities teenoor Afrikaanssprekendes wat in posisies was om iets vir ander tale te doen, maar niks gedoen het nie. Sy eerste kontak met kollegas was aan die begin van die 1990’s op kongresse in Nederland en in die buiteland. Dit was veral blanke akademici op besoek van Unisa, Stellenbosch en Pretoria en mense van die WAT. Hy het met die mense van Unisa ’n visie op Afrikaans en op andere minderheidstale in Suid-Afrika gedeel. Dit was ’n kennismaking op ‘n afstand – met beide die taal en die land. Die daaropvolgende begeleiding van February se twee Afrikaanse studente uit Suid-Afrika was vir hom verrykend. In 1996 is Martin vir die eerste keer uitgenooi na Suid-Afrika toe vir ’n kongres van PANSAT.

Wat onthou u van u eerste besoek aan Suid-Afrika?

My twee oudstudente, Mashamatie en Siahve, het my persoonlik in Pretoria kom haal. Hulle het my saamgeneem na húlle universiteit toe in Pietersburg: die Universiteit van die Noorde in Polokwane. Ek moes daar voor ’n volgepakte saal in Engels praat. Applous nog voordat ek begin het! Mashamatie was in sy tradisionele klere geklee. Dit was baie moeilik om ’n oorhoofse projektor vir my lesing te kry, maar na ’n uur was alles gereed. Daarna is ek en my vrou saam met hulle vir ’n besonder hartlike ontvangs na hulle families in die township toe. Ek het swart Suid-Afrika ontdek. Die kontak het daarna ononderbroke gestroom en uitgemond in die taak van woordeboekmaak. Saam met die werk aan ANNA is die ontvangs in Polokwane vir my een van die plesierigste herinneringe aan Suid-Afrika.

III

Met die eerste gesprek tussen dr Harry Brinkman van ZASM en Martin van die Commissie Lexicografische Vertaalvoorzieningen (CLVV) oor ’n woordeboek vir Afrikaans en Nederlands het Martin een streng voorwaarde gehad: “Dit moes polities korrek wees. Net vir Afrikaans doen ek dit nié.”

Hy het die konsep van ’n vergelykingswoordeboek nie verniet saam met Mashamatie en Siahve getoets nie. Dit is iets wat vir alle sustertale wêreldwyd kan werk, ook vir Noord-Sotho en Suid-Sotho, Zoeloe en Xhosa. Brinkman het ingestem. Die wiel het in 2000 begin rol.

’n Ander onderhandeling tussen die outoriteite en die ekonomie in die wêreld van woordeboeke het in Nederland ook ’n rol gespeel.

“Na dertig proeflemmas het ek besef ek moet die weg van amalgamasie met hierdie woordeboek inslaan. Van Dale was entoesiasties. Ek het beding vir ’n aankoopprys van nie meer as 70 euro (R700) per boek nie. Van Dale het ingestem, maar twee maande later met ’n teenvoorstel van 100 euro (R1 000) gekom. Ek wou nie toegee nie. Ek is uiteindelik na Prisma toe. Die ANNA word tans in Nederland verkoop vir 70 euro. In Suid-Afrika het ANNA ’n splinternuwe, blougrys baadjie van Pharos gekry. Dit word verkoop vir R1000.”

Martin het waarskynlik sy oudstudente en ander gewone woordeboekgebruikers in Suid-Afrika in gedagte gehad in hierdie onderhandelinge, maar dit het anders verloop. Bittere ironie.

Hy is egter nie ’n man wat sommer verbitterd raak nie. Martin hóú van taal en van woorde, ook van Afrikaanse woorde. In ’n onderhoud met die universiteitskoerant van Leuven in Mei 2011 het hy gesê: “Afrikaans is voor mij zoals een goed gedicht: simpel maar onder de oppervlakte zit iets anders, iets diepers wat je niet verwacht.”

Tydens ’n geleentheid in Zuid-Afrikahuis het hy ANNA treffend vergelyk met ’n klein, rooi digbundeltjie in sy hand: “van een dikke pil, naar vlinderdun”.

IV

Dis nie iets wat hy aan die groot klok hang nie, maar Martin is ook digter. 2011 was vir hom ’n jaar van twéé hoogtepunte – met ANNA en met sy digbundel, Voor de gelegenheid. Inhoudelik vind hy ANNA en hierdie bundeltjie ewe swaar. Hy skryf nie baie nie: een of twee gedigte per jaar. Elke jaar op die sterfdag van sy 22-jarige seun verskyn onder die sterwensberigte in De Standaard ’n kort gediggie uit Martin se hand. Voor de gelegenheid is tien jaar se skryf- en skrapwerk, 31 fyn-gekonstueerde gedigte. Dit is geen vinnig-saamgeflanste geleentheidsgediggies nie. Vir Martin moet die taal in ’n gedig altyd nuut wees, helder en bondig.

soms
blijven woorden samen
wachten
op de gelegenheid

wanneer zij komt
gaan zij
te samen
open

en
als zij gaat
worden zij samen
voor de gelegenheid

gedicht

           (Uit: Voor de gelegenheid, 2011, bl 22)

Wat is u gunsteling Afrikaanse gedig?

Ek het nie so iets nie. Die tipe gedigte waarvan ek hou is minimalisties, digters wat byna swyg. Daar gebeur nouliks iets in daardie gedigte. Ek ken nie sulke Afrikaanse gedigte nie. Maar nadat ek kennis gemaak het met Adam Small, het sy gedigte my nooit weer losgelaat nie ... “Die Here het gaskommel/ en die dice het verkeerd geval …” Ook vir my het “die dice” op ’n stadium verkeerd geval. Ek worstel nou nog daarmee.

V

Op pad huis toe onthou ek wat die motto van Awater is: “ik zoek een reisgenoot.” Vanmiddag was ’n kort gespreksreis. Ons het die soortlike gewig van woorde geweeg. En as Nijhoff se adagium ’n woordgrap uit sy jeug was soos wat die jongste opvattinge beweer, dan nog moet die leser volgens Martin kan ervaar: “Lees maar, er staat niet (helemaal) wat er staat.” Die gedig moet nie sy geheim heeltemal prysgee nie, soos in:

Zelf hield hij veel
van gramadoelas
en van kokerbome,
van appelliefies
en van uiegras,
van wag-’n-bietjie,
gaatjieslepel,
skilpaddraffie,
kuiergas.
Maar geen van deze
was te horen
toen ze hem vroegen
wat voor hem het mooiste was.

Als hij hen zachtjes
rooikop
mooiloop rooikop zei
leek het opeens
alsof hij
tot een ander sprak.

Uit: Het mooiste woord in het Afrikaans, bl 12
Uit: Voor de gelegenheid, 2011

Prof Willy Martin voor sy boekrak by al die woordeboeke waarby hy betrokke was. Op die boonste rak staan die dikke ANNA langs sy bundeltjie Voor de gelegenheid.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top