In die nuus: 6 Julie 2012
Daar’s drama met die skoolboeke in Limpopo, die mense is kwaad vir Zapiro oor sy nuutste spotprent en ons lees van Gerrit Komrij se dood gister.
Maar vanoggend toe ek werk toe ry, gesels die omroepers oor die ander groot nuus in die Kaap: mense van wie hul selfone afgevat word as hulle praat en bestuur.
Die owerhede is outokraties! skel iemand wat inbel na die radiostasie. Pleks hulle fokus hulle energie op iets wat saakmaak, soos misdaad.
"Let the drivers be," sê 'n ander. Los die bestuurders uit.
Ek begryp die omroepers wil oor iets gesels wat aktueel is, maar iets pla my van hierdie gesprek. Moet ons in hierdie land net fokus op misdaad, soos moord en diefstal en kapings? Vervaag al die res van die reg en verkeerd op die res van die spektrum?
Ek dink nie dis ’n sleg ding om ’n selfoon af te vat nie. Dit sal vir my ’n persoonlike uitdaging wees om nie op my selfoon doenig te wees terwyl ek bestuur nie, maar dis juis die punt: almal moet die gewoonte afleer. So kom ons almal veiliger tuis.
Of is almal te bang hulle bly veilig op die pad en word dan gekaap? Of kom veilig tuis en die boewe lê jou in jou eie snoesige garage voor met ’n vuurwapen?
Wat sê julle?
Lekker naweek, Naomi M