LitNet Akademies-resensie-essays | Reviews

 
LitNet Akademies-resensie-essay: Philida 'n waarskuwing aan die elite

 
Philida
André P Brink
Uitgewer: Human & Rousseau (2012)
ISBN: 9780798155212
Prys: R220

Klik hier en koop Philida van Kalahari.com.

Philida se hoofkarakter is gebaseer op ’n ware, historiese meisie. Tog wil ek beweer dat hier ’n kontemporêre boodskap, selfs ’n waarskuwing, te bespeur is in André P Brink se nuutste roman.

Brink kies soms om direkte kommentaar te lewer op die samelewing (vergelyk Kennis van die aand, gedurende apartheid en Sandkastele, wat in die nuwe Suid-Afrika afspeel). Tog kan ’n mens vir geen oomblik twyfel dat sy historiese romans ook aktueel is nie. Met Houd-den-bek het Brink baie direk op die apartheidsregering se tone getrap (ek verduidelik dié stelling hier onder). Philida is ’n sustersroman van Houd-den-bek.

Hoe die roman begin

Ons ontmoet Philida terwyl sy te voet op pad is na die klein dorpie Stellenbosch vanaf Franse Hoek, waar sy op ’n plaas werk. Sy wil ’n klag gaan lê teen haar eienaar.

Philida se eienaar is Cornelis Brink, ’n boer wat goed getrou het met ’n ryk weduwee, maar nou besig is om ver bo sy inkomste te leef. Wat meer is: wynpryse val en daar is sprake dat slawe vrygelaat gaan word. Brink, wat reeds op die afdraande pad is, weet nie mooi hoe hy die verlies van sy slawe sal hanteer nie. Maar ’n man maak ’n plan. Cornelis Brink se seun, Frans, kom nou mooi in die jare waar hy ’n vrou moet vat en Cornelis het nét die vrou vir hom: Maria Berrangé. Maria se pa, Daniel Frederik Berrangé, is stinkryk en wat is dan nou makliker as om jou seun te laat trou met hierdie meisie, wat darem nou al diep in die twintig is en dus behoorlik op die rak sit?

Frans is onwillig. Hy verkies Philida. Sy het immers al vier kinders vir hom gebaar. En dít is die storie ágter die storie wat Philida Stellenbosch toe laat stap.

Philida is, met reg, moerig. Frans beloof al van die eerste seks af dat hy haar sal vrykoop. Die klein bliksem is egter te slap om teen sy pa op te staan.

Vier kinders later wil Cornelis nou vir Philida verkoop, want Frans stel net belang daarin om Philida te laat buk; hy wil nie vir Maria hê nie. Cornelis sien die saak só. As sy kind nie wil ophou lol met Philida nie, verkoop haar dan diep in die binneland. Gebruik die geld om skuld te delg. Dan kan Frans ryk trou en ophou neul dat hy lief is vir die slavin.

Nou stap Philida. Dis meer as ’n dagreis te voet, maar sy’t nog twee lewende kinders en sy sien nie kans om van hulle geskei te word nie. Boonop, wat van Frans en sy beloftes? Philida wil vry wees.

“Hier kom kak,” sê Philida vir die leser in die openingsin. En sy’s nie verkeerd nie.

’n Ware verhaal

Soos, so dikwels, is die waarheid erger as enigiets wat ’n skrywer kan uitdink. Philida is ’n historiese karakter. Sy het as ’n slavin gewerk op die plaas wat vandag as Solms-Delta bekend staan. Haar eienaar, Cornelis Brink, was ’n voorouer van André P Brink.

Philida was die ma van Frans se kinders en sy hét gaan kla oor Brink se voorneme om haar te loop verkoop in die binneland.

Die eerste deel van die roman kan dus teen historiese dokumente gelees word. Niks wat die skrywende Brink kan uitdink, kan skreiender as die waarheid wees nie.

Toegang tot die reg
Philida is in slawerny gebore. Haar eienaars kon haar slaan, hulle kon haar sonder kos bed toe stuur en, uiteindelik, verkoop. Iemand wat vandag ’n hond behandel soos Philida destyds deur die Brinks behandel is, sal sonder meer voor die hof gedaag word.

Sal vandag se honde-eienaar vry uit die hof stap, of ’n boete kry – of dalk tronkstraf? Ongelukkig gaan dit afhang van hoeveel geld die persoon het. ’n Hondemishandelaar wat ryk genoeg is, sal óf skotvry óf baie lig daarvan afkom. As die persoon ’n arm plaaswerker is, wel ... die tronk se deure sal waarskynlik wink.

Philida was die hond in hierdie geval. Sý is geslaan. Sý is deur Cornelis Brink gedwing om, onder sy toesig, met twee slawe van die buurplaas te “paar” sodat hy kon bewys sy seun was nie die enigste om saad in haar te spuit nie. Toegang tot en teoretiese beskerming onder die wet had sy, maar hoeveel sou dit beteken?

’n Slaaf voor die reg

Daar wás kanale vir slawe om te kla oor hulle eienaars, maar die dilemma was dat die reg nie noodwendig geblinddoek was tydens sulke verhore nie. Die eienaars se woorde het veel meer geweeg as die slawe s’n.

Ná Philida ’n klag teen Frans Brink gelê het, is sy in ’n sel opgesluit en daar moes sy wag tot Frans besluit het om sý kant van die saak te kom stel. Frans hét uiteindelik opgedaag en het, gedagtig aan sy pa se humeur, gelieg oor sy verhouding met Philida.

Philida is dus gewoon teruggestuur na die Brinks om haar lot in die gesig te gaan staar.

Om te kan kies

Philida verloor haar saak en daarmee saam haar hoop op die vryheid wat Frans haar al die jare beloof het. Tog wen sy iets met daardie besluit om te gaan kla: Sy besef sy kan kies.

Om te kan kies, is ’n eksistensiële kwessie. Party van ons het meer keuses as ander. Vir party van ons kom die keuses makliker. Tog moet sommige mense leer om te kies. Die filosoof Jean Paul Sartre  het nogal heelwat hieroor geskryf. Selfs in oorlogstoestande, sê Sartre, kan ’n mens keuses uitoefen. (Dít het hy tydens die verskrikking van die Tweede Wêreldoorlog geskryf.)

Deur te kies om die klag te lê, word Philida ’n eksistensiële wese. Die aantal dae se dink op die pad na en van die plaas, asook die belewenis van die (on)reg, was vir Philida ’n spieël waarin sy haarself kon ontdek.

Die oomblik toe sy terug is op die plaas, moes sy nog ’n keuse maak. Cornelis Brink sien haar bad en besluit om met haar seks te hê. Sy sê gewoon nee.

Hierdie daad neem die wind heeltemal uit Brink se seile. Nog nooit tevore het ’n slaaf só blatant teen hom opgestaan nie.

Deur te kies, bevry Philida haar van ’n enorme juk. Ja, sy is steeds ’n slaaf en Brink het steeds die reg om haar soos ’n gebruikte motor te gaan verkoop, maar iets binne haar het geskuif. Die keuses wat sy maak, bring haar dalk nie veel in die sak nie, maar verskaf aan haar ’n innerlike krag wat niemand kan wegneem nie.

Deur te kies, het sy gedóén. Op hierdie manier het sy die juk van determinisme afgegooi en so het sy, volgens Sartre, ’n eksistensiële wese geword; nie vry nie, maar bevry.

Om opstandig te wees

Soos vroeër vermeld, is Philida ’n susterroman van Houd-den-bek. Brink (2012:318) skryf dit was “doelbewus” so beplan.

Houd-den-bek is die verhaal van Galant en twaalf ander wat in 1825 ’n kortstondige opstand gelei het teen slawerny. Ons moet in gedagte hou dat daar in Engeland al baie jare lank wette teen slawerny was. Reeds in 1701 het die Engelse hoofregter beveel dat enige slaaf wat in Engeland aan wal gaan, onmiddellik vrygelaat moes word. Later is die handel in slawe totaal verbied, maar die Britse gemenebes was doodgewoon te slap om hierdie wette ook in die kolonies af te dwing. In plaas daarvan om slawe eenvoudig vry te laat, is ’n groot aantal wette uitgevaardig wat slawe se omstandighede moes verbeter. Dit het onder andere behels dat werksure verminder is en dat die aantal houe wat ’n slaaf op een dag geslaan mog word, beperk is (glo tot nege en dertig).

André Brink verwoord dit só in Mapmakers (1983:155).

Instead of eradicating the evil itself by abolishing slavery as such, a long series of attempts were aimed at making the best of a bad business.

Al was die Kaap afgesonder, het die diskrepansie tussen wat in Engeland gebeur en dít wat die Engelse toegelaat het om aan die Kaap te gebeur, nie ongehoord verbygegaan nie. Die Kaap, en die slawe in die Kaap, was bewus van die Britse wetgewing wat vanaf 1807 nuwe slawehandel verbied het. (Selfs die Nederlanders het in 1814 slawerny verbied, maar teen dié tyd was die Kaap natuurlik nie meer Hollands nie.)

Galant, die leier van die 1825-opstand, was een van die mense wat in die hoop geleef dat hy eendag vry sou wees. Allerlei gerugte het die rondte gedoen dat hierdie heuglike dag op Kersdag 1824, of 1 Januarie 1825 sou plaasvind. Toe dit nié gebeur het, kon Galant nie meer nie. Hy het sy baas (wat saam met hom grootgeword het) vermoor en die opstand het begin. In Mapmakers (1983:158–159) verduidelik Brink dat Galant-hulle glad nie deur wraak gedryf is nie. Hulle kon gewoon nie meer die onvryheid verduur nie.

Almal is gevang en Galant is ter dood veroordeel. ’n Hele paar ander is tot lewenslange gevangenskap, gekoppel aan harde arbeid, gevonnis.

Philida sou eers sewe jaar later, in 1932, haar klag gaan lê daar op Stellenbosch. Teen hierdie tyd het die gerugte al heelwat dikker geloop, en die handel in slawe het heelwat traer verloop, maar Philida was steeds amptelik ’n besitting van Cornelis Brink, wat haar na goeddunke kon slaan, laat verkrag en dan verkoop. (Slawerny is eers in Desember 1834 aan die Kaap gestaak – hoewel slawe daarna nog ’n aantal jaar vir hulle toenmalige eienaars moes werk.)

Philida se “opstand” was dus op ’n klein skaal en feitlik futiel. Tog het sy opgestaan en haar saak gestel. Veel later in die boek ontmoet Philida ’n aantal van Galant se trawante, maar dít kan die leser self gaan lees.


Galant en Philida as uitdagers van die orde

In filosofiese terme is siviele ongehoorsaamheid ’n belangrike term. In 1925, toe Galant in opstand gekom het, was daar ’n sewejarige seun in die VSA met die naam Henry David Thoreau. Of Thoreau ooit van Galant of Philida gehoor het, is onwaarskynlik. Thoreau sou veertien gewees het toe Philida haar klag gaan lê het.

Thoreau sou later bekend word as een van die belangrikste opponente van slawerny in die VSA en een van die grondleggers vir die “civil rights movement” wat in die twintigste eeu opgestaan het teen die volgehoue rassediskriminasie wat toe nog in die VSA gewoed het (en skynbaar steeds sluimer as ’n mens na anti-Obama-veldtogte kyk).

Thoreua sou moontlik nie met Galant se aksies saamgestem het nie, maar die morele onreg wat Galant tot aksie gedryf het, was dieselfde onreg wat Thoreau gedryf het tot die skryf van ’n aantal boeke wat steeds hoog geag word.

Die verskille tussen Galant, Philida en Thoreau moet egter ook genoem word.

Galant en Philidia was slawe, en waarskynlik ongeletterd. Thoreau was ’n vry man wat gekies het om die staat uit te daag oor hulle houding jeens slawerny. Thoreau kon skryf. En hy het.

Galant kon nie sy storie skryf nie, Philida ook nie hare nie. Dit was André P Brink wat die stiltes in die hofrekords nagevors het, aan Galant ’n stem gegee met Houd-den-bek en toe dieselfde gedoen het met Philidia. Houd-den-bek is reeds wêreldwyd gelees en word steeds as een van Brink se bekendstes gesien. Dit is onlangs selfs in Ossetiaans, een van die raarste tale in die wêreld, vertaal (Rautenbach 2011).

Wanneer is ’n mens vry?
Iewers, in een van Brink se tekste, is daar ’n vrou wat ’n afgryslike lewe gelei word. Sy het egter vlerke en sou kon wegvlieg as sy sou wou. Elke keer as sy geslaan word, of verkrag word, dan dink sy: Nou moet ek vlieg. En tog doen sy dit nie. Hierdie vrou het eers weggevlieg het toe sy die eerste keer ware geluk gesmaak het.

Ek moet verskoning vra aan die leser, ek kon hierdie karakter nie opspoor by die skryf van dié resensie nie. Dalk kan iemand hieronder op die forum vir ons inlig wie sy was en in watter boek dit voorkom.

Brink werk dikwels met sulke allegorieë. Die vrae ontstaan: Is dit genoeg om Galant se storie wêreldwyd te vertel (en te vertaal)? Is dit genoeg om van Philida ’n “vry” vrou te maak in fiksie?

Die motto van Philida, “ek is / die here hoor my / ’n vry fokken vrou”, kom uit Antjie Krog se gedig “ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster” (Gedigte 1989–1995). Sou ’n mens werklik Philida se lewe kon vergelyk met dié van ’n bevryde vrou wat in die laat twintigste eeu haar vuis lig teen die patriargie?

Nee. Natuurlik nie. Geen woorddaad deur Brink kon vir Philidia die pyn van die slae, die walging van die verkragting en die vernederings voor die hof en op die vendusietafel ongedaan maak nie. Deur oor haar geskiedenis te skryf, kan ons nie dit wat wás omkeer nie.

Deur egter die stories te vertel van mense wat opgestaan het teen die onreg, hoe onvry hulle ook onder die reg was, dít is wat vandag steeds geld.

Margaret Lenta (2010) skryf in Journal of Literary Studies oor A chain of voices (die Engelse weergawe van Houd-den-bek):

Brink’s novel may remain of specialist interest as a work of the 1980s, when the demand that a historical fiction relate to its own time, as well as to the period which it portrayed, was strong.

Houd-den-bek  was ’n blatante waarskuwing aan die apartheidsregering dat ’n onderdrukte groep nie vir altyd onderdruk sal wil bly nie. Vorster se detente en Botha se latere, onbeholpe pogings om die waarheid te ontken, sou nie kon aangaan nie. Net soos Galant nie onbewus was van wat om hom aangegaan het nie en die frustrasie nie meer kon hanteer nie, so ook was die “swartes” besig om stadig maar seker moeg te raak vir wag, en hulle was baie goed ingelig oor wat in die res van die wêreld gebeur.

Wat beteken dit vir Philida en die boek wat nou oor haar geskryf is? Waar pas sy in die nuwe Suid-Afrika in?

Emansipasie in 1834 het nie vir die slawe ’n veel beter lewe gebring nie, net soos “vryheid” in Suid-Afrika nie vir die gemiddelde persoon van kleur ’n veel beter lewe tot gevolg gehad het nie. Daar is talle aanduidings dat dit deesdae slegter gaan in “swart” onderwys as in die dae van groot apartheid en daar is geen twyfel nie dat tuislandhospitale beter bestuur was as wat tans die geval is in die nuwe Suid-Afrika. Dit is skreiende opmerkings, maar baie waar.

Tydens die lees van Philida en die skryf van hierdie resensie was daar gewelddadige opstande in De Doorns deur plaaswerkers. Ek het grootgeword in De Doorns en ek weet van die vergrype wat in die jare sewentigs daar plaasgevind het. Ek weet ook van die “base” wat toe al hard probeer het om hulle werkers op te hef. (Dan moet ek ook onmiddellik waarsku dat die 2012-opstande beslis aangeblaas is deur politieke boewe wat die DA probeer bykom.) Die intimidasie was geweldig en talle werkers wat wou werk, kon nie. Talle plase waar daar wél moeite gedoen is om na werkers om te sien, is ook geteiken. Die punt is egter: Selfs diegene wat die boewe raaksien agter hierdie werkersopstande, kan nie anders as om ook die geweldige ongelykhede in die vallei, en elders, raak te sien nie.

Zapiro het dit uitmuntend raakgevat in ’n spotprent:


© 2012 Zapiro (All Rights Reserved), Printed/Used with permission from www.zapiro.com

Die “hint of slavery and a lingering apartheid aftertaste” is ongelukkig nog deel van ons samelewing – in alle provinsies. Die Hexvallei sien vandag baie anders daar uit as ’n paar dekades gelede, toe talle werkers nog in ’n staat van serfdom verkeer het, maar is dít wat gedoen is, genoeg?

Rondom De Doorns, en elders, begin werkers eksistensiële vrae vra. Ek stem nie noodwendig saam met die antwoorde wat hulle tans opper nie, maar, soos Philida destyds, is daar tans mense in Suid-Afrika wat moeg is daarvoor om te voel dat hulle toekoms duister is.

’n Belangrik politieke allegorie

In my resensie het ek baie moeite gedoen om nié die storielyn weg te gee nie, wat beteken het dat ek talle belangrike elemente in die teks nie aangespreek het nie. Een van hulle is die baie interessante gesprekke tussen Philida en Labyn, ook ’n slaaf, rondom Islam. Daaroor net vinnig die volgende:

a) Om Labyn se verhouding met Philida volledig te verduidelik, sou ek ’n deel van die storie moes weggee.

b) Dat die Islam steeds in Afrika as teenvoeter vir die “wit” god van die Christendom beskou word, is nie altemit nie.

c) Van groot belang is egter dat Brink hier Islam óók deeglik onder die loep neem – nes hy met die Christendom doen. Philida se renons in die god van Cornelis Brink maak nié dat sy onkrities teen die god van Labyn staan nie en ek vermoed dat Brink moontlik op ’n paar (manlike) Ajatollas se tone trap deur hiérdie goed oor Mohammed en Allah in die mond van ’n vrou te lê. Kom hier ’n fatwa soos in die geval van Salman Rushdie?

Die kerk het ’n baie belangrike rol gespeel in die stryd teen apartheid. Vandag sukkel die gevestigde kerke. Ongelukkig is nie alle alternatiewe onkreukbaar nie. Talle kerkgroepe wat klaarblyklik vir slegs winsbejag bestaan, floreer tans.

Ook Islam is tans wêreldwyd by ’n laagtepunt in terme van hulle sienings oor menseregte. Daar wás ’n tyd toeIslam skuiling gebied het aan van die grootste filosowe in die geskiedenis. Moderne wiskunde sou nie in Europa ontstaan het as dit nie was vir die werk van die Islamitiese universiteite in Noord-Afrika nie. Vandag is dit nie meer die geval nie.

Wat Jode tans in Palestina doen, is onbeskryflik hartseer.

Hier sit ons dus met al drie monoteïstiese godsdienste wat ernstige vergrype aan menseregte onder hulle vaandels sien gebeur.

Die oomblik wanneer die staat of geloof mense se regte begin aantas, word Philida ’n belangrike teks. Ons kan almal heelwat leer by Philida, die breimeisie wat gestap het van ’n plaas in Franse Hoek na die dorpie Stellenbosch.

Die menseregteprobleme in Suid-Afrika het boonop verskuif van suiwer rassisme na ’n blatante klassisme. Dit is grappig (op ’n hartseer manier) om te sien dat mense soos Cyril Ramaphosa ook deesdae onder die “base” tel wat aangeval word oor sy hantering van die stakings by Lonmin, een van die myne waarvan hy ’n mede-eienaar is.

Julius Malema is gewild ten spyte van sy ronde maag en sy Range Rover. Hoekom? Want daar is tans nog genoeg mense wat dom genoeg is om te dink dat hulle ook eendag ’n Range Rover gaan kry as hulle lank genoeg vir die ANC sal aanhou stem. Wat Philida, die stappende meisie, egter vir Malema, Ramaphose en alle ander Suid-Afrikaners, wit en swart, wil vertel, is: “Pasop, ons gaan eendag deur julle sien.”

Houd-den-bek, die sustersteks van Philida, is steeds uiters relevant. De Doorns het dit weer bewys: Waar mense se wense té lank onderdruk word, het jy min nodig om hulle tot aksie te laat oorgaan. Philida se waarskuwing is gerig aan die nuwe politieke en godsdienstige elite: Die onderdruktes is nie almal onnosel nie. Party van hulle gaan leer om néé te sê.

Bronne

Brink, André P. 1983 Mapmakers: Writing in a state of siege. Londen: Faber & Faber.

—. 2005. Houd-den-bek. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2012. Philida. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lenta, Margaret. 2010. A chain of voices and unconfessed: Novels of slavery in the 1980s and in the present day. In: Journal of Literary Studies, Maart 1, 2010. Aanlyn: http://www.thefreelibrary.com/A+Chain+of+Voices+and+Unconfessed:+novels+of+slavery+in+the+1980s+and...-a0229896894.

Rautenbach, Elmari. 2011. “Brink book gets rare language makeover”. In: News24, 2011-12-06.

Zapiro. 20 November 2012. The Times.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Comments 2 Reaksies | 2 Comments
Delete Comment
avatar
Johannes Comestor
2012-11-29 @09:00

Soos Izak de Vries het ek op De Doorns grootgeword. Ons sienings verskil egter in baie opsigte. Die Hexvallei van weleer was ’n beskaafder omgewing as die anargistiese toestand waarin dit deesdae verkeer. Ek wag steeds daarop dat diegene wat kommentaar op die arbeidsonrus lewer, simpatie uitspreek vir die beskaafde, behoudende mense onder wie se leiding hierdie vallei so pragtig ontwikkel is. Is daar al ooit daadwerklik besin oor hoe hierdie mense vir hulle verliese vergoed gaan word, of is daar net een party wat reg het en aan wie se eise voldoen moet word? En moet Andre P Brink nie vir ’n verandering die slawe van eeue gelede los (want niks kan hieraan verander word nie) en skryf oor die plaasmoorde waarin sy etiese groep die lydende party is nie (want hieraan kan iets gedoen word)?

 

Johannes Comestor  

Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-12-06 @17:27
Izak, moet "afdraande pad" nie dalk "afdraandepad" wees nie; soos "ompad" byvoorbeeld?  Is die vrou op die prentjie, langs André, Philida? Indien wel, het die wynboere destyds werklik slawe uit Kenia gehad?
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address