Identiteitspolitiek

  • 1

Identiteitspolitiek – soos die onlangse goeie vertoning van regse partye in die verkiesings vir die Europese parlement – begin al hoe sterker binne die wêreldorde manifesteer.

In Suid-Afrika het identiteitspolitiek, of liewer “identiteit”, ’n histories ongepoetse betekenis vanweë die etniese en rasbeskouinge wat aan dié woord kleef.

Dit omdat daar ’n tyd in Suid-Afrika was – nie dat dit vandag veel beter is nie – toe die ganse politieke en samelewingsbestel in etniese en rasse-identiteite gegiet was. Op ’n kol het Jakes Gerwel melding gemaak dat die filosoof Johan Degenaar daardie tyd een van die duidelikste stemme was wat teen dié dwaling gepraat het.

Degenaar het in sy kenmerkende besadigde stem verwys na die veelsoortige identifikasies wat ’n enkele persoon kan aanneem eerder as om in ’n statiese identiteit te verval.

Die institusionalisering van etniese en rasse-identiteite was daardie tyd so siek en pynlik dat Steve Biko geskryf het: “Black man, you are on your own.” Dit was ’n geval van elkeen (elke etniese en rassegroep) vir homself en God vir ons almal.

Die uitslae van die Europese-parlement-verkiesing, waarin die regs-populistiese Front National (FN) van Frankryk en ander regse partye groot welslae behaal het, is uiteraard gevarieerd deur verskillende kommentators geïnterpreteer. Sommige kommentators het die regses as ekstremiste beskryf. Andere het ’n ietwat pragmatiese benadering teenoor die FN gehandhaaf en dit as nader aan die politieke sentrum uitgebeeld.

Met ander woorde, daar was ’n wegbeweeg van die geykte terme “links” en “regs”’ in die Europese politiek.

Gedeeltelik kan dié paradigmaskuif na regs die afgelope dekade in die Europese politiek ekonomies begrond word omdat die “regses” die verdere “ekonomiese verval” van Europa wil stuit. Dit is reeds daarom dat die eens sosialistiese Britse Arbeidersparty in 2010 uitgestem is ten gunste van die Tories as teenvoeter vir sosialistiese en sentrum-linkse groeperinge.

Sentrum-regse Europese politieke partye se fenomenale politieke opgang is nie net te danke aan hul beskerming van ekonomiese belange van rykes nie. ‘n Menigte Europeërs organiseer hulle toenemend die afgelope dekade rondom die idee van ras, etnisiteit, taal en eie gewoontes.

Die beweegrede is hoofsaaklik eiebelang. Dit is hoekom ek verkies om van “belangepolitiek” te praat. Miskien is dit my poging om die term “identiteitspolitiek” van alle ideologiese neigings te stroop.

In beginsel sien ek niks fout met die bevordering van “eie belang” nie – solank dit mense nie van hul grondwetlike en menseregte beroof nie.

Dié verskynsel van “belangepolitiek” is ook geneig om in Suid-Afrika kop uit te steek. Dit is omdat etniese, rasse- en politieke minderhede hul toenemend op die periferie van die politiek en ekonomie bevind.

Veral bruin mense voel broos oor hul periferale politieke en ekonomiese status. Reeds daarom organiseer ’n beduidende getal bruines hulle onder die dekmantel van die “Khoi” rondom “kultuurgoed”.

Die opspring van “bruin” politieke partye soos ICOSA en die Patriotic Alliance is tekenend van die groter politieke bewuswording onder bruines omdat hulle stemme verlore geraak het in die debat tussen swart en wit.

Die DA in die Wes-Kaap en die ANC landwyd sal hul sitplekgordels moet styf vasmaak, want bruin “belangepolitiek” het gearriveer.

 

  • 1

Kommentaar

  • Mike Labuschagne

    Mooi artikel, Jason.

     
    Net een groot korreksie: regse partye veg nie vir die belange van die rykes nie, liberale partye doen dit. Dit pas die rykes glad nie dat hulle nie vrylik mag handel dryf nie en nasionale sentimente wat grense wil beskerm is vir hulle  'n kopseer. Hulle kan ook nie goedkoop arbeid van ander nasies invoer nie as gevolg van regse partye wat immigrasie wil stuit. Gevolglik kan hulle nie vrylik handel dryf nie. Regse partye verteenwoordig meestal die werkers- en middelklas. Eersgenoemde woon gewoonlik in agterlike buurtes saam met vreemdelinge en ervaar die konflik eerstehands. Rykes se woonbuurte is hoofsaaklik Europees, omdat so min vreemdelinge dit kan bekostig om daar te bly. Hulle het maar min insig in die wrywing wat kultuurverskille veroorsaak.
     
    Verder 'n goeie artikel.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top