Elsje Cronjé gesels met Jan Bodenstein en Awie Greeff: Pa's se betrokkenheid by hulle seuns

  • 0

Elsje Cronjé gesels met Jan Bodenstein en Awie Greeff oor hulle artikel “Persepsies van hoe pa’s by hul seuns betrokke behoort te wees” in LitNet Akademies. 

Julle navorsing vul beslis ’n leemte in die kennis oor ouerskap en spesifiek oor pa-skap. Aangesien daar nog baie leemtes bestaan in ons kennis oor hierdie onderwerp, wil ek graag weet of hierdie spesifieke stuk navorsing deel is van ’n groter navorsingsprojek oor ouerskap. Is jul besig met ’n groter projek en, indien wel, wat is julle beplanning vir ander fasette wat met jul huidige navorsing verband hou?

Hierdie navorsingsprojek vorm nie deel van ʼn groter navorsingsprogram nie, maar het sy oorsprong in ʼn behoefte van pa’s wat tydens gemeenskapsinteraksie vanuit die Departement Sielkunde, US, geïdentifiseer is. As gevolg van die vertroulikheid van inligting bly dié gemeenskap anoniem. Daar is wel in ʼn tweede projek data ingesamel oor seuns se persepsies van wat hulle pa’s se betrokkenheid in seuns se lewens behoort te wees. Hierdie ingesamelde data is nie verkry van die seuns van die deelnemende pa’s in die huidige navorsingsprojek nie, maar wel van seuns uit dieselfde gemeenskap. Ons oorweeg dit nog om hierdie resultate ook vir publikasie voor te berei.

Julle artikel het my aan die dink gesit oor soveel verbandhoudende aspekte wat verder nagevors kan word. Het jul al oorweeg om te probeer vasstel hoe die pa’s se benadering die seuns beïnvloed? Ek weet dit is prakties baie moeilik, of dalk onmoontlik, om so iets vas te stel, maar dit sou baie interessant wees.

Data oor hoe die pa’s se benadering die seuns beïnvloed, is nog nie ingesamel nie. Navorsing waarin oorsaaklikheid ondersoek word, vereis ʼn heelwat ingewikkelder ontwerp. So ʼn projek is nog nie oorweeg nie, maar miskien is daar ʼn entoesiastiese navorser wat hiervoor kans sien.

Wat is die verband tussen persepsies en gedrag? Verwag julle byvoorbeeld dat die pa’s se persepsies dat hul by hul seuns betrokke behoort te wees, ook in hul gedrag sal manifesteer?

Daar kan geredelik aanvaar word dat die persepsies van pa’s verband hou met hulle gedrag. Een verklaring is dat die pa’s se algemene antwoorde en insette tydens die fokusgroepbesprekings gemotiveer is uit voorbeelde en ervarings vanuit hulle eie lewens. Vanuit ’n kognitief-sielkundige perspektief word ook gewerk vanuit die aanname dat ons denke ons gedrag voorafgaan en dit só beïnvloed. Wat ons nie weet nie, is in watter mate die persepsies van die deelnemers gedeeltelik gekleur word deur ideaal-beelde, en ook om hulself (en hul persepsies) beter voor te doen.

Om watter rede het julle besluit dat jul navorsingsdeelnemers getroude pa’s moet wees, en dat dit net seuns moet wees en nie dogters nie?

Die motivering dat die deelnemers spesifiek getroude bruin pa’s van biologiese seuns in Graad 7 moes wees wat saam met hulle gesin in die huis woon, was om eenvormigheid en dus die effek van opvallende steuringsveranderlikes (deur die kontrolering daarvan) te verminder. Ten minste kon ons dan iets sê oor die gesinslewe van gesinne wat aan ons insluitingskriteria voldoen. Of geslag, huwelikstruktuur en huwelikstatus wel ’n rol speel, sal in volgende navorsingsprojekte bevestig of weerlê kan word.

Navorsers het byvoorbeeld bevind dat die effek van ouerbetrokkenheid op grond van die adolessent se geslag verskil. Vorige navorsing toon dat seuns ’n gevoel van waarde ontwikkel deur in aktiwiteite te presteer. Wanneer ’n seun respek van sy ouers ontvang en tyd met hulle spandeer, gaan dit waarskynlik ’n positiewe effek op sy selfwaarde hê. Gegee die belangrikheid van geslagsrolmodelle is dit spesifiek belangrik vir seuns om hierdie soort aandag van hulle pa’s te kry.

Sal julle die Atlas.ti-program vir ander kwalitatiewe navorsers aanbeveel? Is spesiale opleiding hierin nodig of kan dit met behulp van ’n handleiding baasgeraak word?

Die Atlas.ti-program word beslis vir ander kwalitatiewe navorsers aanbeveel. Hierdie program is spesiaal ontwerp vir die ontleding van groot hoeveelhede kwalitatiewe data. Dit bevat ’n verskeidenheid funksies om ongestruktureerde data volgens ’n sistematiese benadering te organiseer. Met ander woorde, dit is ideaal om te gebruik vir data wat nie deur enige ander formele, statistiese benaderings betekenisvol ontleed kan word nie.

Spesiale opleiding word sterk aanbeveel, aangesien praktiese ervaring tydens die opleiding opgebou word. Supervisie wat tydens opleidingsprogramme gebied word, verbeter die kwaliteit van die verwerkte data. Uitdeelstukke en/of persoonlike notas tydens opleidingsprogramme dien as effektiewe hulpbronne wat tydens data-ontledings in verdere navorsing benut kan word. Besoek gerus die Atlas.ti-webtuiste by www.atlasti.com.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top