Hygliteratuur | Erotic literature

 
Hyg met Hallowe'en: Die heuningmaan van Sibelius Joubert
 

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

"Hyg ... hygend hert,” snak Sibelius Joubert toe hy vir die eerste keer sy oë oor die onweerstaanbaar vibrerende perdebylyfie van die maagdelike koningin laat dwaal.

“Hyg, hyg,” terg ’n onnutsige sekslose werkster hom terwyl sy met haar geel vrag stuifmeel by hom verbyskuur. “Julle hitsige darre het ook net een ding op die brein.”

Sibelius Joubert die mannetjiesby staan naby die uitgang van die byekorf, viriel en wagtend op die bruidsvlug van die jong koninginby wat pas uit haar majesteitlike lokaal te voorskyn gekom het.  Binne enkele oomblikke gaan sy koers kies die hoogtes in – met Sibelius en ’n allergretigste string ander hoopvolle bruidegoms agter haar aan.

In sy drif en passie is daar geen plek in Sibelius se verstand om aan die uiteinde van sy beoogde daad te dink nie. Ook nie aan presies hoe dit gebeur het dat hy as mens sy kop – en sy hele liggaam – in ’n bynes gesteek het nie. Sibelius is tot in sy voelspriete bedwelm deur die feromone wat hom dwing om te verower. Dis of elke subtiele beweginkie van die koningin hom kielie om sy diepste hartstogte vir haar te ontledig.

Net vaagweg, baie dof in sy bewussynsveld, is daar die beeld van ’n maan wat op hom neerskyn. En daar is iets onpeilbaars wat hom herinner aan ’n ander lewe voor hierdie lewe en ’n heeltemal ander soort bestaan ...

Maar dan, meteens, verswem ook die maanbeeld en die vae herinneringe tot ’n maalkolk wanneer die koningin verleidelik van die byekorf af opvlieg en vinnig wegsweef na die son.

In die lentehemel jaag Sibelius Joubert en die ander mannetjiesbye koorsig agter haar aan, elkeen oorweldig deur haar skoonheid en die maagdelike reinheid wat haar omspoel.

Die jag raak al hoe vinniger en vinniger totdat Sibelius voel of hy gaan brand. Dan verskyn die maan weer soos ’n steurende sweempie voor sy geestesoog asof dit hom wil dwing om van iets te onthou wat hy in hierdie storm en drang nie wil onthou nie. Waaroor gaan dit nou weer?  ’n Wetenskaplike ... hy self ... wat proefnemings doen met die omruiling van die selfbewussyne van verskillende wesens. Sy eie menslike bewussyn oorgeplaas in die liggaampie van ’n heuningby ...

Die maan plons weer weg wanneer die koningin’n koketterige draaitjie maak op haar vlug, wat die helfte van die hoopvolles gefrustreerd by haar laat verbyvlieg en verydeld laat wegfladder in die wind.

Maar Sibelius Joubert ... hy is aan die voorpunt van die oorblywendes – ’n handjie vol hommels met ’n onblusbare vuur.

Dis eers wanneer Sibelius op die punt is om te verower dat sy maan hom weer vermaan om ’n oomblik te huiwer en te dink. Hommels sterf almal op die bruidsvlug van ’n koniningby. Die liefdesgloed is so oorweldigend dat hul onderdele totaal ontplof.

“Oh, what the heck!” gil Sibelius en dan begewe hy hom in die paradys.

En met sy eie gil word hy uit sy swym geruk op die rusbank voor die televisie waar sy vrou reeds geruime tyd speels probeer om hom wakker te kry deur met ’n flits in sy oë te skyn. Eindelik staan hy bedremmeld op en volg sy vrou na die slaapkamer.

Die verowering is immers veel makliker wanneer ’n man nie met die maan gepla is nie.

Klik hier vir nog inligting oor LêNet se Hallowe’en-kompetisie.


Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
TellMe
2012-10-17 @12:07
Dis ’n interessante storie.
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address