Hoeveel is een plus een in Kubaans?

  • 0

Sommige skoolkinders in die Vrystaat sal dalk eersdaags van Kubaanse onderwysers moet leer hoe om ingewikkelde wiskundeprobleme op te los. Die Vrystaatse departement van onderwys gaan nou onderwysers uit Kuba aanstel om wiskunde en wetenskap aan kinders in meestal arm gebiede in die provinsie te onderrig.

Die LUR vir onderwys in die Vrystaat, Tate Makgoe, het die werf van Kubane as ’n “departementele ingryping” bestempel om die tekort aan wiskunde- en wetenskaponderwysers in veral landelike gebiede op te los. Die Kubaanse onderwysers sal ook in die distriksentrums geplaas word om onderwysers op te lei, maar opvoedkundiges is skepties oor die stap. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het geëis dat die besluit om Kubaanse onderwysers na die Vrystaat in te voer, dadelik op die lange baan geskuif moet word.

Jean Oosthuizen het met Fedsas se provinsiale bestuurder in die Vrystaat, Chris Verhoef, gesels oor die departement se planne om Kubaanse onderwysers in te voer.

Fedsas eis dat die besluit om Kubaanse onderwysers na die Vrystaat in te voer dadelik op die lange baan geskuif word. Het julle al enige terugvoer van die Vrystaat se onderwysowerhede ontvang oor julle versoek?

Nie waarvan ek bewus is nie. Dit is egter ook so dat die departement nie bekend is daarvoor dat hulle oor sulke sake reageer nie, veral omdat dit aanvanklik ’n aankondiging was wat deur die premier van die Vrystaat gemaak is. Dit is dus in werklikheid ’n politieke aankondiging.

Is daar al enige duidelikheid by watter skole die onderwysowerhede beoog om Kubaanse onderwysers aan te stel?

Nee, weer eens net ’n vae aankondiging van in die “rural” gebiede. Dit is egter ook so dat in die afgeleë plattelandse gebiede nie baie goeie wiskunde- en wetenskaponderwysers beskikbaar is nie. Hoe die taalprobleem aangepak gaan word, is egter ’n totaal ander probleem!

Onderwysers word by skole aangestel op aanbeveling van skoolbeheerliggame. Is enige van die skole se skoolbeheerliggame al in die saak geken?

Nie waarvan ek bewus is nie en definitief nie by enige van ons ledeskole in die Vrystaat nie.

Dit is ’n erkende feit dat die Vrystaatse onderwysdepartement wél hulp nodig het. Is hierdie nie dalk ’n geleentheid om die las te verlig in daardie gebiede waar hulp nodig is nie?

Daar is definitief velerlei probleme by die Vrystaatse onderwysdepartement. Die grootste enkele probleem lê meer op beplanningsvlak en die behoorlike implementering van velerlei planne wat reeds van stapel gestuur is. Onder andere sal behoorlike sterk leiding en doelmatige gebruik van onderrigtyd goeie dividende lewer.

Tientalle opgeleide onderwysers in die Vrystaat is werkloos – en talle van hierdie onderwysers het met beurse van die Vrystaatse onderwysdepartement studeer. Waarom kry hulle nie poste nie en is dit nie dalk ’n geval dat hulle te kieskeurig is waar hulle wil gaan skoolhou nie?

Eintlik beantwoord jy die vraag self gedeeltelik. Die probleem lê veral by kritieke vakke soos wiskunde-, wetenskap-, Engels- en ekonomiese-wetenskappe-onderwysers. Die meeste “werklose” en “botallige” onderwysers kan net basiese vakke soos kuns en kultuur, tegnologie, EBW, ens gee. Hulle het dus in werklikheid heropleiding nodig om suksesvol geakkommodeer te kan word.

Kuba het ’n hoë geletterdheidsyfer en is ’n voorbeeld van hoe onderwys in ’n ontwikkelende land aangepak kan word. Kan ons nie dalk iets by die Kubaanse onderwysstelsel leer nie?

Ek ken nie die Kubaanse onderwysstelsel nie, so ons sal dalk van hulle kan leer, maar die persone wat die departement beoog om te werf, is gewone posvlak 1-onderwysers. Hulle sal dus geen of ’n baie klein impak op die stelsel kan hê.

Die Vrystaatse LUR vir onderwys, Tate Makgoe, se argument is dat die Kubane gewerf word om die tekort aan wiskunde- en wetenskaponderwysers in veral landelike gebiede aan te vul. Hoe groot is die tekort?

Geen wetenskaplike opname is gemaak nie, maar sy argument is heel waarskynlik waar. Kyk maar na die matriekuitslae van die skole in die gebiede, veral hul wiskunde- en wetenskapuitslae.

Om ingewikkelde wiskunde- en wetenskapkonsepte verstaanbaar oor te dra, is op sigself moeilik. Gaan die taalkwessie nie ’n bykomende struikelblok wees as Kubaanse onderwysers wat nie behoorlik Engels magtig is, as onderwysers aangesel word nie?

Soos reeds vermeld, is daar geen aanduiding van hoe die probleem hanteer gaan word nie.

Beoog Fedsas enige verdere stappe as daar voortgegaan word met die aanstelling van Kubaanse onderwysers in die Vrystaat?

Fedsas sal eers terugstaan en kyk of die plan tot uitvoering gebring sal word. As dit van ons ledeskole gaan raak, sal ons saam met die beheerliggame van hierdie skole die saak verder hanteer tot voordeel van ons skole en veral die leerlinge wat bedien moet word. Hulle mag nie skade in die proses lei nie!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top