Hoe vertaalbaar is 'n volkslied? Enkele gedagtes oor taal, burgerskap en nasionale identiteit

  • 0

Die debat oor die Suid-Afrikaanse volkslied het onlangs weer in Rapport (09/08/2009) kop uitgesteek. Is die huidige volkslied, ’n dubbeldoor wat beide "Die Stem" en "Nkosi Sikelel’ iAfrika" insluit, ’n voldoende simbool vir nasionale identiteit en solidariteit in hedendaagse Suid-Afrika? Is dit ’n kragtige simbool van versoening en diversiteit júis omdat dit so hibridies en veelstemmig is? Of is dit ’n oorgangsimbool waarvan die rakleeftyd lankal oorskry is en nou plek behoort te maak vir iets nuuts? 

’n Mens moet seker nie verbaas wees as hierdie debat juis nóú weer opvlam nie. Ons leef immers in ’n era waar nasionale simbole handelsmerke geword het, gemik op die mobilisering van beleggersvertroue en kapitaal eerder as die massas.[1] Met minder as ’n jaar oor voor die sokkerwêreldbekertoernooi in 2010 behoort dit niemand te verras as die land se "korporatiewe beeld" juis nou ’n saak vir herbesin word nie. Met die oë van die wêreld op ons, so sal enige kapitalis jou kan sê, is Suid-Afrika ’n bemarkbare kommoditeit, ’n handelmerk van handelsmerke. En wat hierdie handelsmerk laat werk, is juis hoe die “ons” in “Ons vir jou, Suid-Afrika” verpak word.

Self sou ek eerder die verdere uitbou van demokratiese instellings en volgehoue materiële veranderinge wou sien as bloot plaasvervangende gebare in die simboliese domein. Die hersirkulering van kwessies soos plekname en die Springbok-embleem word te maklik deur politici gebruik as weerligafleiers wanneer die storms van openbare misnoeë om hulle begin woed.

Maar kom ons die skuif sinisme, vir eers, opsy.

Die soort vrae wat hier bo gestel is oor die volkslied, en wat in Rapport aangeroer is, is sekerlik legitiem. Ek kan my goed voorstel dat daar sterk en dikwels teenstrydige opinies hieroor regoor die politieke spektrum gehuldig word, en hierdie feit alleen is meer as genoeg rede om die debat oor wie ons is, en hoe onsself in die openbare domein gesimboliseer wil sien, aan die lewe te hou. Al is dit dan ook net om toe te sien dat die “nasionale vraagstuk”, soos dit eens geheet het, nie tot beeldpoetsery verskraal word nie, maar ’n diskursiewe ruimte bly waar die betekenis en reikwydte van burgerskap, regte en politieke deelname voortdurend uitgedaag en herbeding kan word.[2]

’n Mens kan dus sinies wees oor hoe “simboliese politiek” dikwels in Suid-Afrika bedryf word, sonder om die belangrikheid van die onderliggende vraagstukke te ontken. Verder is daar ook tog geen intrinsieke rede waarom daar nie oor die volkslied herbesin kan word nie. Dit is in elk geval gesond as nasionale identiteit voorlopig is, vloeibaar bly, en tydig en ontydig gerelativeer word.[3]

Wat my meer spesifiek interesseer, is hoe ons sou besluit in watter taal ’n nuwe Suid-Afrikaanse volkslied gesing moet word. Om dit te beantwoord, en om aan te toon waarom dit hoegenaamd ’n belangrike vraag is, moet ek egter eers ’n kort teoretiese ompad loop.

II

Gedurende die moderne era was dit amper paradigmaties om politieke gemeenskap in nasionale terme te definieer. Nasionalistiese definisies van politieke gemeenskap het natuurlik verskillende vorme aangeneem. In sommige gevalle het dit ’n abstrakte vorm van burgerskap veronderstel wat alle bestaande taal- en kultuurverskille binne ’n gedeelde grondgebied moes oorskry en neutraliseer, in die naam van ’n omvattende burgerlik-nasionale kultuur. Subnasionale, dikwels etnotalige, verskille word hiervolgens deur die staatsgedrewe nasionale kultuur “verorber”.

In ander gevalle weer het die nasionale projek ’n taal- en kultuurspesifieke vorm van burgerskap veronderstel wat in ’n etnonasionalistiese kultuur beliggaam moes word. Hier vind ons, eerder as verorbering, ’n “afskeiding” of selfs “uitwerping” van verskille. In beide soorte nasionalisme is die uiteinde egter dieselfde: die ideale politieke gemeenskap is kultureel en linguisties homogeen, en kulturele en talige afwyking van die norm word rede vir minderwaardigheid, uitsluiting, of selfs vervolging van individue en gemeenskappe. Daar is geen nasionalisme sonder kultuur- en taalpolitiek nie.

Maar die nasiestaat, daardie verknoping van politieke eenheid en kulturele identiteit, het tradisioneel ook gefunksioneer as ’n meganisme vir die distribusie van hoop.[4] Hiermee bedoel ek eenvoudig, in navolging van die antropoloog Ghassan Hage, dat die nasiestaat, ten spyte van al die uitsluitingsmeganismes wat dit ook gekenmerk het, legitimiteit verkry het deur ten minste te belowe of voor te gee om dinge soos welvaart, sekuriteit, gesondheid aan burgers te verskaf – hetsy volgens die beginsels van die vrye mark of dié van die sosialisme. Eric Hobsbawm verwoord hierdie element van maatskaplike hoop baie goed:

Elsewhere he or she was little better than a dumb animal: a mute bundle of muscles. From the point of view of poor men looking for work and to better themselves in a modern world there was nothing wrong with peasants being turned into Frenchmen or Poles and Italians in Chicago learning English and wishing to become Americans.[5]

Vandag is dit, volgens Hage, egter gans anders. Nasiestate vind hulle legitimiteit elders, dikwels by die alomteenwoordige mark en transnasionale banke. In die proses draai state dikwels doelbewus hulle rug op die burgery: die verbreek van maatskaplike beloftes word ’n voorwaarde vir finansiële saligmaking deur die IMF en die Wêreldbank. Dit is nie eens meer nodig om voor te gee nie. Ons era word dan ook gekenmerk deur die aftakeling van maatskaplike strukture, die verwatering van politieke verteenwoordiging en ’n gepaardgaande, grootskaalse erodering (en veral privatisering – dink maar aan mediese versekering) van hoop.

Dit is nie meer die hoopvolle subjek wat die hoofrol speel in die verhaal van die nasie nie, maar die verhandelbare en immer wegdoenbare subjek. Die neoliberale staat genereer, volgens denkers soos Hage, nie hoop nie, maar juis hopeloosheid. Die sosioloog Zygmunt Bauman praat van wegdoenbare lewens.[6]

Die rol van taal en ons status as talige subjekte is van meet af aan verstrengel met hierdie verhaal van hoop en hopeloosheid in moderne state. Volgens Hobsbawm verbind die moderne nasiestaat "social mobility to the vernacular".[7] Hy is korrek, maar onderskat waarskynlik die gevolge van grootskeepse uitwissing of degradering van bestaande taaldiversiteit – maatskaplike hoop sluit immers meer in as bloot opwaartse ekonomiese mobiliteit. Dit verwys juis na die lot van diegene wat nié op hierdie manier beweeglik is nie. In hierdie verband wys sosiolinguiste (navorsers soos Basil Bernstein en Pierre Bourdieu) ons al sedert die 1960's daarop dat mense in terme van taal maatskaplik geposisioneer word, en in terme van taal toegang kry of toegang geweier word tot die bronne van hoop – en hier is die onderwys seker die belangrikste domein van talige uitsluiting, of die talige mediëring van mislukking.

Dit is dus dikwels in terme van taal, en veral deur middel van taal, dat ons burgerskap in moderne state beliggaam word en ons polities, ekonomies en kultureel geaktiveer of buite orde verklaar word. Taal is dus altyd meer as net ’n simbool van nasionale identiteit. Dit is ook ’n middel waardeur daar aan nasionale identiteit, burgerskap, modernisering en ekonomiese mobiliteit uitvoering gegee word.

Dit is juis om hierdie rede dat dit so problematies is dat taal in ’n land soos Suid-Afrika in terme van kultuurregte ter sprake gekom het, maar afwesig was van ekonomiese dokumente soos die HOP en later GEAR.

Maar dit daar gelaat. Ek kan nou terugkeer na my besinning oor taal en die volkslied.

III

In watter taal behoort ’n volkslied dan gesing te word?

Op die oog af mag dit klink na ’n ligsinnige vraag met ’n voor die hand liggende antwoord. Dit hang sekerlik af, so sal mense dalk antwoord, van die taal, of, in enkele gevalle, die tale, wat eie is aan daardie land, of wat nasionale status het.

Hoe dan anders? Die Franse volkslied word tog in Frans gesing; die Kanadese een in Engels en Frans; en die Switserse volkslied in Duits, Frans, Italiaans en Reto-Romaans. Ensovoorts. In watter taal sal "God Save the Queen" dan nou gesing word, indien nie in Engels nie? Sekerlik nie in Pandjabi nie ...

Maar dit is nie so voor die hand liggend nie, en die taal waarin ’n volkslied amptelik gesing kan word, is nie so ’n onskuldig kwessie nie.

’n Onlangse debat oor taal en nasionale identiteit in die VSA maak dit meer as duidelik. ’n Groep (patriotiese!) Spaanssprekende Amerikaners het ’n Spaanse vertaling van "The Star-Spangled Banner" opgeneem en vrygestel op ’n CD met die titel (ook in Spaans) “We are Americans!” Dit het gelei tot ’n stormagtige openbare debat. Die Amerikaanse volkslied, so is aangevoer, en nie net deur verregses nie, behoort slegs in Engels gesing te word. Die Spaanse landsburgers kan gerus sê dat hulle Amerikaners is; dit is goed dat hulle patrioties voel. Hulle kan selfs Spaans praat as hulle wil. Hulle kan egter nie al twee tegelyk doen nie.

Selfs George Bush (wat vroeër sy eie vermoë om Spaans te praat ingespan het om stemme onder Spaanssprekende Amerikaners te werf) het sy stem dik gemaak en gesê dat dit ondenkbaar is vir die volkslied om in Spaans gesing te word. Dit is ’n skending van ’n nasionale simbool.

Wat moet ’n mens hieruit aflei? Anders as die volkslied, is burgerskap in die VSA nie vertaalbaar nie. Amerikaansheid bly linguisties gedefinieer en bemiddel, en Engels bly ’n konstitutiewe aspek van die Amerikaanse identiteit. In die proses word taaldiversiteit, en veral taalgebaseerde ongelykhede, amper ritualisties onsigbaar gehou.

Deur mense egter toe te laat om die volkslied in tale anders as Engels te sing, word die nasionale identiteit simbolies gerek; dit word moontlik om Amerikaansheid op ander maniere te beliggaam en te verwoord. En dit is natuurlik presies waarom die groep Spaanssprekende Amerikaners hulle volkslied in Spaans opgeneem het. Hulle wou sê dat hulle nie net asSpaanssprekendes nie, maar ook in Spaans Amerikaans wil en kan wees. En waarom wou hulle hierdie punt maak? Nie omdat die volkslied soveel saak maak nie, maar omdat taal soveel saak maak. In hulle alledaagse lewe is dit juis taal wat nie net hulle andersheid simboliseer nie, maar hulle uitsluiting op soveel terreine beklink. Om ’n vroeëre punt te herhaal: taal is nie net ’n simbool nie, maar ’n meganisme van nasionale insluiting en uitsluiting.

In hierdie opsig is die huidige Suid-Afrikaanse volkslied wel revolusionêr. Dit word in nie minder nie as vyf tale gesing. Dit herinner ons daaraan dat Suid-Afrikaansheid nie deur ’n enkele taal bemiddel word nie. Dít is ’n belangrike aanmaning in ’n land waar tale wel ongelyk is, en waar mense steeds (en dalk toenemend) op grond van hulle taal uitgesluit word van die ekonomie, die politiek, en ander maatskaplike sfere. Indien ons dus sou besluit om ’n nuwe volkslied te komponeer, is ten minste dít ononderhandelbaar: dit kan nie net in een taal gesing word nie. Dit moet eintlik in al elf amptelike tale gesing word.

Maar dalk is selfs elf tale nie genoeg vir ’n Suid-Afrikaanse volkslied nie. In ’n land waar vreemdelinge dikwels op grond van taal geïdentifiseer en geteiken word (amakwerekwere is ’n klanknabootsende woord en vreemdelinge word dikwels deur die polisie van Suid-Afrikaners onderskei deur hulle iets in Afrikaans te laat sê, ’n praktyk wat alle Afrikaanssprekendes behoort te verdoem!), het ons dalk ’n volkslied nodig wat selfs meer radikaal vertaalbaar is. Miskien moet ons voorbeeld die Spaanse volkslied wees, wat geen lirieke het nie en dus nie in enige taal gesing word nie. Op daardie manier kan enigeen saamneurie en bly Suid-Afrikaansheid vertaalbaar in enige taal.

[1] Sien John en Jean Comaroff se Ethnicity, Inc (2009, UKZN Press) oor hierdie fenomeen, met spesifieke verwysing na Suid-Afrika.

[2] ’n Goeie onlangse werk oor burgerskap en regte in Suid-Afrika ná apartheid is Steven L Robins se From revolution to rights in South Africa: Social movements, NGOs and popular politics after apartheid (2009, UKZN Press).

[3] Ivor Chipkin herinner ons aan die histories veranderlike en selfs kunsmatige aard van enige nasionalistiese identiteitsprojek in sy boek Do South Africans exist?Nationalism, democracy and the identity of “the people” (2008, Wits University Press).

[4] Ghassan Hage, Against paranoid nationalism: Searching for hope in a shrinking society (2003, Pluto Press).

[5] Eric Hobsbawm, Nations and nationalism since 1780: Programme, myth, reality (1990, Cambridge University Press, p 115).

[6] Zygmunt Bauman, Wasted Lives: Modernity and its outcasts (2003, Polity Press).

[7] Hobsbawm 1990, p 118.

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top