Hoe onsterflik die ydelheid

  • 0

na Johan van Wyk

Hoe onsterflik die ydelheid.
Neem byvoorbeeld die digter naak op sy rusbank,
laptop strategies op sy skoot.
Wat doen sy vry hand
terwyl hy intens staar gefokus soos ’n kobra?
Of Breyten? Wat sou hy baat
by onsterflikheid? ’n Pen, ’n potlood,
’n kwas, die doek op die esel
verewig.
Die res dwarrel weg in onbenulligheid.
Mme Hambidge, ’n vroueliefhebber
met jeans & t-shirts van Lacoste,
vroulike heupe & mae west-repartees,
wat sou sy in die onsterflikheid vind?
Die soeserige koestering?
Die gesigte van ekse wat altyd nader kom
noli me tangere & verbaas fluister:
“Dit is ’n vrou.”
En dié nimf? Met krulle
op haar skouers
& die verse soos vlerke
uit Valkenberg agter haar.
Haar oë pleit: “Bly by my.”
Ek? Wat bly oor om te sê?
Beny sy my?
Met haar koue bene & heupe
& borste roep sy
na haar nageboorte in die water
om die soene van haar vaders
nog eenmaal oor haar lyf te voel. Man wat mal word,
jou lewe in die vreemde ’n durende verwyt
verlate vaderland met die bitterheid van poskaarte
onthou, & briljante verse!

Julle wat nooit ongemaklik raak
van die etikette waarmee julle ingeperk word nie,
vir julle maak ek ’n erkentlike buiging.
Ek ’n nar, ’n grafskender, ’n kolporteur.
O watter onmenslikheid julle aangedoen:
Die huwelik van woord & vlees!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top