Hoe lyk jou stad-kompetisie: Smithfield – Twee portrette

  • 0

Kinders uit ’n kar

Na ’n lang reis verken hul oornagdorpe met wye strate en watervore en peperbome en groot erwe en groentetuine
en waenhuise en wonings met dik mure tussen bloekoms;
bossiesveld, voetpaaie en suurkareesade, 
klippale, windpompe, draadhekke;
ontdek skemerhuise vol donker meubels, kandelare en kiste met geheime laaie;
ontmoet verlangse familie
eet by gedekte tafels
slaap onder veredekens
reis skemeroggend
toegewasem
verder.

 

Die dood van ’n tante
(Dit was ’n besonder nat jaar)

Vanweë soveel leë huise
en kinders wat nie meer
soms
op pad skool toe
groet nie,
vind hul haar te laat.

Predikant
orrelis
ondernemer
handjievol
verlangse familie
– dis ’n lang reis na die klein dorpie en die einde van ’n era –
in die kerk
geraamde herders
in die konsistorie
en tee en toebroodjies.

dit was ’n besonder nat jaar

Dat grafte inval
kruise skeef hang
eng’le afvlerk lê
kan deur verwering wees
of diere oor platgetrapte drade
of sinkhuisies wat tussen sipresse en yl populiere inspoel

 

   
Klik hier vir inligting oor hierdie kompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top