Hoe lyk jou stad-kompetisie: in Brooklyn

  • 0

in Brooklyn het die herfs gedreun onder ons voete soos ’n swerm singende voëls het die blare gekners soos die vlamme van kerse het die potblou lug ons hande polse jou mooi mond oopgevlek maar hierdie is nie ’n love poem nie

en in die subway het treine roggelend deur rommel gehol verby soppy Cadbury ads en het mense agter hulle oë weggekruip in die donker, en in die lig flikkerend soos ’n vuishou wind, en jou hande was ’n swemmende vis

maar hierdie is nie ’n love poem nie. en by 5th en 13th en 51st avenue het die traffic oor ons gehardloop soos verf en kantel daar geboue grasieus soos reuse met vlerke van glas en jou hand was warm soos die kole van jou swart oë

maar hierdie is nie ’n love poem nie. en toe jy Ginsberg en Schulz en Levi afstof met jou tong in die nag toe hoor ek jou ouma mompel van Warskou toe sien ek haar vel-en-been rond strompel in jou mond soos ’n graf.

slaap want jou hande is ’n swemmende vis en daar brand kole in jou oë brand daar kole soos lig

maar hierdie is nie ’n love poem nie en traffic is nie verf nie en die lug kerf niks behalwe die horison oop nie –

slaap my skat want jou hande is ’n swemmende vis en in jou oë brand daar kole brand daar kole soos lig

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top