Groot jaarlikse skryfkompetisie deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging skop af

  • 0

"As jy nog altyd 'n droom gekoester het om 'n skrywer of digter te wees, is hierdie wedstryd vir hoërskoolleerders, studente en volwassenes die gulde geleentheid om jou droom te verwesenlik," nooi Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV). Dis  hierdie einste tradisieryke skryfwedstryd wat sedert 1979 reeds bekende skrywers soos Sonja Loots, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Carina Diedericks-Hugo, Piet Steyn en 'n hele klomp ander gepubliseerde skrywers alreeds as skoolkinders, of selfs as afgetredenes, op die skrywerspad geplaas het.

Buiten vir die R15 000-prysgeld wat deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat as gewaardeerde vennoot geborg word, wisseltrofeë en sertifikate, is daar die vooruitsig vir alle kategoriewenners om op 22 Augustus vanjaar 'n daglange gratis slypskool by die wêreldbekende en bekroonde skrywer, Deon Meyer, te deurloop. Die publiek is ook welkom om die slypskool by te woon. Boonop word alle weninskrywings en beoordelaarsverslae opgeneem in die publikasie, Inkvars 2015, wat met vrug deur stelwerkonderwysers in stelwerkklasse gebruik kan word.

Die skryfwedstryd se inskrywingsvorms en wedstrydpamflet met uitdagende kortprosa-en poësie-onderwerpe in elke kategorie, is op die webwerf van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) beskikbaar. Hoërskoolskryfgroepe is veral  baie welkom! Navraag oor die skryfwedstryd of slypskool kan gedoen word by Lelani Fourie, bloemsv@gmail.com of sel: 0733883377. Pos u skryfwedstrydinskrywings betyds, of lewer dit per hand af by Malani Viljoen van die Nasionale Afrikaans Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Pres Brandstraat, Bloemfontein! Die sluitingsdatum van die skryfwedstryd is 11 Mei 2015. Lekker skryf!

Klik op die skakels hieronder om af te laai:

BSV Skryfwedstrydpamflet 2015

Inskrywingsvorm (skole: junior- en senior-afdeling) 2015

Inskrywingsvorm (ope-afdeling) 2015

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top