Biebouw-resensies | Reviews

 
Grilbrigade laat die jeug weer skrikwakkerregop sit

Grilbrigade
Fanie Viljoen
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798156240
Prys: R90.95

Klik hier en koop Grilbrigade nou van Kalahari.net!

 

Fanie Viljoen, die Vrystaatse jeug- en kinderboekskrywer, het dit as missie om die jeug aan die lees te kry en dit so te hou. Hierin slaag hy met vleuels aan die voet. Opvallend van sy skryfstyl is sy trefseker woordgebruik, fantastiese verbeelding en skerp sin vir humor.

Sy mees onlangse publikasie, Grilbrigade, laat die jeug weer skrikwakkerregop sit. ’n Mens weet ook nie hoe lank Grilbrigade as onlangs bestempel sal kan word nie, want hierdie skrywer gooi kwaliteitboeke tussen vandag en môre.

Die hoofkarakter, Buks, is alleen by die huis. Hy hoor ontstellende geluide. Iets breek, ’n ding maak gromgeluide, hy sien van onder sy bed harige pote en hy loop hom vas in Tom, ’n jongeling in ’n rooi uniform met ’n kenteken waarop “Grilbrigade”staan.

Die leser sluip deur drie langerige verhale waarin Buks gekonfronteer word met ’n Gromynse Monster (harig en grommend), ’n Skedelvrou genaamd Newel (dun vel om ’n skedel met vrot tande) en ’n Nagmerrieman wat ons almal goedgrillig sal herken.

Buks word oorreed om opgelei te word as griljagter by die Gril-Opleidingsentrum in Diep- en Donkerstraat. Buiten Tom het hy ’n leermeesteres, die astrante meisie Mel, wat daarop uit is om hom met sarkasme te straf en te verneder. Buks leer ken wapens soos die GB-101, GB-777 en GB-007. Hy leer om uit te kyk vir monsters, vampiere en spoke en hoe om weerwolwe nek om te draai.

Viljoen se beelde wat deur die boek trek, is oorspronklik en groter as groot. Ek lag nou nog vir die “dronkaap met die draai-orrel” en ek kry wragtag ’n ongemaklike gevoel op my maag vir sy Nagmerrieman. Laasgenoemde is loshande die spannendste en grieselrigste. Hier is ’n groot mate van sielkundige grilspel aan die gang. En daai ooglede wat oopgesny moet word … Werklik goed geskryf.

Die boek word heerlik toegelig met treffende sketse deur Luan Serfontein. Ongeveer 32 volblad-illustrasies, as ek reg getel het, buiten die klein prikkelsketse aan die begin van elke hoofstuk. Die sketse gloei in ’n bloederige rooi en slymgroen, verdonker in ysbloue en skadurige gryse. Nie sprake van sonskyn en madeliefies in die lewe van die Grilbrigaders nie.

Hierdie boek is ’n lekkerte vir die feesgety. Koop dit vir dié wat self kan lees en koop dit vir jouself om voor te lees vir die dapper nog-nie-lesers.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address