Biebouw-resensie: Gordel deur Adriaan Coetzee

  • 0

Titel: Gordel
Outeur: Adriaan Coetzee
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485301011

Koop Gordel by Kalahari.com

Na die lees van onderhoude wat met die debuutdigter Adriaan Coetzee gevoer is, het ek my bedenkinge gehad oor sy bundel, gordel (2014). In onderhoude op Versindaba1 en in Die Burger2 het sy pretensieuse lugpratery my baie “onderweldig” gelaat. Gelukkig was dit toe nie heeltemal die geval met die inhoud van gordel nie, want dit is ’n bundel wat ’n taalspel met die leser aanknoop en plek-plek verras met belowende gedigte, soos “die lewe is ’n liter” (12), “digter word” (23), “Meidjie” (31), “as kanker weer kom” (62) en “dood van ’n enkeling” (64).

Coetzee is die eerste digter uit die groep debuterende digters in Nuwe Stemme 5 (saamgestel deur Heilna du Plooy en Loftus Marais) wat ’n eie debuutbundel agter sy naam kan skryf. Volgens die stofomslag is Coetzee se bundel sterk geanker in die wêreld van die Bankeveld, waar hy grootgeword het en waar hy steeds woon en ’n tuinbousaak bedryf. In sy onderhoud op Versindaba sê Coetzee dat hy in murg en been ’n tuinier is, met ’n goeie kennis van die natuurlike omgewing waarin hy leef en laat leef.

Die hantering van die temas van digterskap, tesame met die uitbeelding van ’n wêreld wat bedreig word, maar ook bedreigend kan wees, herinner aan die tematiek van ’n digter soos Daniel Hugo, veral in sy latere bundels, Panorama in my truspieël en Hanekraai. Coetzee kom egter Hugo se deurwinterde skryfstyl en tegniese afgerondheid kort. Hierdie kritiek word dikwels teenoor debuutdigters gelewer, soos Marius Crous dit in sy resensie van die bundel stel: “Ek [kry] die indruk dat die digter so meegevoer word deur sy eie woordskeppinge en dan word die gedig nie behoorlik deurgekomponeer nie.”3

Coetzee speel in gordel wel met woord en taal, maar die spel bly telkens op die oppervlak en laat die dieperliggende poëtiese spel met beelde te dikwels onverken. Dieselfde geld vir die bundel se surrealistiese element, soos byvoorbeeld in “sedert die begin” (21) en “Metadata” (27), wat inhou dat surrealistiese beelde dikwels saamgeflans word sonder om die poëtiese moontlikhede daarvan tot volle reg te bring.

Struktureel bestaan die bundel uit 16 afdelings, wat in ’n interessante tipografie aangebied word. Elke afdeling word voorafgegaan deur ’n kort gedig, waarvan die titel van die afdeling deel gemaak word van die gedig en in groter druktipe as die res van die vers gedruk is. Die 16 titels kan gesien word as suggesties van wat die bundel inhou en lees soos volg: “opdrifsels”, “grasuil”, “moeder”, “vensterbank”, “inmekaarheid”, “herenig in glas”, “ontwortel”, “apasmara”, “ondersonganger”, “nag van lang beloftes”, “Tuiniers”, “woordslaai”, “loopstokvisioene”, “droë kuns”, “boerbandiete” en “hotnotsgotkakebene”.

In die Versindaba-onderhoud met Gisela Ullyatt bespreek Coetzee die struktuur van sy bundel as volg: “Wat die struktuur betref wou ek iets daar stel wat ek nog nooit in ’n bundel teëgekom het nie. Die stapgids [‘’n Stapgids tot Blougat’, bl 7] funksioneer as inleiding tot die bundel. Die sestien numeriese eenhede vorm saam een gedig getiteld ‘Kafgenaai’, die oorspronklike gesprek met Wilma Stockenström se poësie. Elke numeriese eenheid en titel dien ook afsonderlik as voorspraak tot ’n meer in-diepte gesprek.”

Die gedigte word voorafgegaan deur ’n Bybelse aanhaling as motto, naamlik Efesiërs 6:14: “Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas.” Dié motto roep onmiddellik die bundeltitel op en plaas dié titel binne ’n konteks van die vele interpretasies van die begrip waarheid, wat gesimboliseer word deur die motief van ’n gordel. Dit is egter teleurstellend dat die motto en sy betekenismoontlikhede nie tot volle potensiaal ontgin word in die bundel nie.

Gisela Ullyatt vra in bogenoemde onderhoud uit oor die moontlike motivering agter die besluit om hierdie Bybelvers as motto te neem. Sy stel onder meer die interessante opsies dat die motto moontlik kan sinspeel op die feit dat die “waarheid”, waarmee die digter homself omgord, as invalshoek geneem kan word gedurende die skryfproses of dat die “waarheid” moontlik later in die skryfproses geredigeer mag word, of selfs dat die leser moontlik die bal aan die rol moet sit wanneer dit by die ontsyfering van die bundel se “waarheidsgordel” kom. Coetzee antwoord egter soos volg hierop: “Woord vir woord is ’n proses op sy eie. As wie of wat manifesteer die digter op enige gegewe oomblik? Die bedrieër, ’n vertroueling of verwarde? As belydende Christen is liefde my grootste waarheid. Ek glo so liefde versoen eerder as troef. En hoop lesers dra vrug in dier voege.” Met hierdie antwoord steek Coetzee af teenoor Ullyatt, wat met meer interpretatiewe insig na die verband tussen die motto en die bundelinhoud kyk. Indien dit vir die leser belangrik is dat daar ’n betekenisvolle verband tussen die motto en die bundelinhoud moet wees, mag die leser Coetzee se antwoord as irrelevant en niksseggend beskou. Die bundelinhoud beeld nie liefde of versoening as sentrale temas uit nie en dit is dus duister hoekom die digter hier sê dat hy hoop dat die leser vrug sal dra in dier voege.

Indien die digter die verband tussen die motto en die bundel wel goed deurdink het, blyk dit beslis nie uit sy onderhoud met Ullyatt nie. Coetzee se antwoorde op Ullyatt se vrae skep oor die algemeen die idee dat die bundel onderdeurdag is. Ullyatt se vrae toon insig in die verbande wat getrek kan word in die bundel, maar Coetzee se antwoorde is dikwels van so ’n aard dat dit afbreuk doen aan die gedigte wat in die bundel opgeneem is. Neem byvoorbeeld Ullyatt se vraag ivm “dood van ’n enkeling” (64). Indien hierdie gedig geïnterpreteer word sonder om Coetzee se vers-eksterne uitsprake in ag te neem, kan die gordel-motief hier interessante betekenisse ontsluit. Die verband wat tussen gordel en “waarheid” daargestel word deur middel van die motto, word veelseggend in hierdie gedig met versreëls soos “dit is ’n tragedie om begrawe te word/ in ’n belt wat jy selde gedra het” (my kursivering).

dood van ’n enkeling

dit is ’n tragedie om begrawe te word
in ’n belt wat jy selde gedra het
of die das waaroor niemand hoera nie

die kamer van ’n enkeling kon sy huisnooi niks vertel
nie ’n naam of nommer van ’n naasbestaande
geen geliefde uit die verlede nie
net die kamer se besettoon
kokkerotte in die kaste

het hy eerder ’n parkiet gehad
wat trane pik poseer vir die album

Die argument kan gevoer word dat dit die werk van die resensent is om die bundel op sigself te resenseer en dat ek dalk onregverdige uitsprake maak oor die gedigte aan die hand van die outeur se vers-eksterne poëtika. Ook kan dié poëtikale beskouings van die digter deur sommiges verdedig word in die naam van ironie of relativering van die literêre establishment, maar dit is nie ’n verweer nie. Hoe dit ook al sy, ek sal ter afsluiting wel poog om enkele opmerkings te maak na aanleiding van wat die bundelinhoud inhou, alhoewel dit onteenseglik is dat kunswerke nie outonoom geïnterpreteer kan word nie.

Daar is wel gedigte in hierdie bundel wat uitstaan en wat ek selfs sou beskryf as blyke van die digter se potensiaal om te ontwikkel tot ’n digter van wie daar nog suksesvolle bundels in die toekoms verwag kan word. Hier dink ek aan gedigte soos “die lewe is ’n liter” (12), “digter word” (23), “Meidjie” (31), “as kanker weer kom” (62) en “dood van ’n enkeling” (64).

Eersgenoemde is ’n kwatryn wat op vormvlak weer eens herinner aan ’n vernuftige kwatryndigter soos Daniel Hugo. Daar is in hierdie vier versreëls bewyse van Coetzee se potensiaal om nie alleen woordekonomies te kan werk nie, maar ook deur middel van ’n weldeurdagte betekenisspel met woord en beeld en ’n terugwerkende slotreël, ’n gedig te kan skryf wat die leser se interpretasielus aanwakker en dan nie teleurstel nie.

die lewe is ’n liter

gesoute drinkers weet
as die lydensbeker halfprys is met happy hour
vra jy vir ’n dubbel
want pyn is die vrugwater van verstand

Die ars poëtikale word deurgaans in die bundel tot die oppervlak gebring en “digter word” (23) is een van die gedigte waarin hierdie tema die beste uitgebeeld word. Die poëtikale siening van die eensame bestaan van die digter roep ’n bekende gedig soos DJ Opperman se “Digter” op, maar in Coetzee se gedig is dit veral sy afspeel van toenadering teenoor afstand wat opval. Die “kuisheidsgordel” in die slotreël verwys na die bundeltitel en is ook ’n geslaagde metafoor om aan te dui hoe die digkuns en die liefde altyd ’n mate van ontoereikendheid inhou.

digter word

digter word is duisende dae aaneen
die liefde van jou lewe op ’n afstand bemin
en dieselfde aantal nagte daarby
haar ontoereikende skoonheid besing
en op ’n goeie dag met ’n bietjie geluk
sal sy jou lomp oë skalks vang
en jy haar lushof hartlik binnegaan
min wetende
sy’t ’n kuisheidsgordel in die mik

gordel word voorsien met verklarende “Erkennings” agter in die bundel. Dit word deur Jacomien van Niekerk as steurend beskryf in haar resensie van die bundel4 en ek is dit volkome met haar eens. Behalwe die feit dat dit mag voorkom as ’n onderskatting van die leser, kom hierdie “erkennings” ook alte dikwels voor as blote “naamrondgooiery”, sonder werklike substansie; iets wat die indruk moet skep van ’n belese outeur in plaas daarvan om die gedigte en moontlike intertekste van die gedigte vir hulself te laat praat. Ek verwys slegs na twee voorbeelde:

Die erkenning “3. ‘blinde klara viljee’ (p 25) verwys na Die storie van Klara Viljee van Chris Barnard” is ’n goeie voorbeeld van een van die erkennings wat my as leser onderskat. Uit die gedig se titel en inhoud is dit heel duidelik wat die gedig se interteks is en ek vind hierdie “erkenning” onnodig. Ook “8. ‘laat i indruk’ (p 66) is ’n herskrywing van Gert Vlok Nel se gedig ‘landskap’” is steurend, aangesien Coetzee se gedig geen werklike herskrywing van Gert Vlok Nel se gedig is nie.

Coetzee antwoord as volg op die vraag “Vir wie skryf jy?”: “Al die jelly babies in die kalbas aan die einde van die reënboog. In besonder vir diegene wat nog nie ’n deurstop besit nie. Op voetsoolvlak het bitter min deure volledige gebruiksaanwysings byderhand.”5

gordel mag miskien by sommige lesers aanklank vind, en van die gedigte toon beslis potensiaal, maar vir eers beskou ek my nie as een van die “jelly babies in die kalbas” nie.

2 “Kopskote: Adriaan Coetzee” verskyn op 8 Junie 2014 in Die Burger.

3 Hierdie resensie is op 5 Mei 2014 op Versindaba gepubliseer.

4 “Vindingryke taal wat geheimenisse nie dadelik verklap” in Boeke-Beeld (23 Junie 2014).

5 In “Kopskote: Adriaan Coetzee” (Die Burger, 8 Junie 2014).

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top