Goeie nuus vir Afrikaanses
Afrikaanses het die laaste tyd goeie nuus oor die stand van hul taal ontvang en ek hoop op nog suksesstories.
Verlede maand het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, die onderneming gegee dat Afrikaans altyd ’n plek in die onderwysdepartement sal hê en dat sy Afrikaans sal bewaar, ook in nie-Afrikaanse skole. ’n Mens kan politici nie altyd glo nie, maar haar poging gee hoop.
Die resultate van die 2011-sensus het getoon Afrikaans het sedert die 2001-sensus 871 000 huistaalsprekers bygekry. Slegte nuus vir die bitterbekke oor Afrikaans.
’n Studie toon voormalige Afrikaanse Model C-skole is van wêreldgehalte. Dit is waarom dié skole se gr 10- en gr 11-kinders na matriek in Suid-Afrika wil bly. Dit is goeie nuus.
In die boek Roots of Afrikaans – Selected Writings deur die Nederlandse akademikus wyle Hans den Besten word aangevoer Khoi het ’n groter invloed op Afrikaans gehad as wat voorheen erken is.
Volgens sy bevindings het Khoi, naas Nederlands, die grootste invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad. Dit is konvensioneel, maar tog welkome nuus wat toon Afrikaans is nie ’n wit taal nie, maar behoort aan al sy sprekers. Den Besten se boek is dus ’n praktiese bydrae tot die herkonstruksie van die onvervalstheid oor Afrikaans.
Motshekga se opmerking is ’n boeiende omwenteling in die houding van die regering jeens Afrikaans sedert 1994.
Ek wonder veral wat sou wyle Jakes Gerwel se reaksie hierop gewees het.
Wanneer oor die verlede, die huidige stand en toekoms van Afrikaans gepraat word, wonder ek wat Gerwel se perspektief sou gewees het, omdat hy hom meer as 30 jaar lank die verpligting opgelê het om sy moedertaal progressief en inklusief te bevorder.
Dit ten spyte van die sielkundig negatiewe uitwerking wat die meerderheid bruin Afrikaanssprekendes deur die jare moes verduur as gevolg van (sommige) wit Afrikaanssprekendes se diskriminasie teen hulle.
Ondanks Gerwel se doktorale studie (“Literatuur en Apartheid”, 1983) wat bewys hoe (wit) Afrikaanse romanskrywers tot 1948 gekyk het na, en uitbeelding gegee het aan, wat hulle waargeneem het as "gekleurdes / kleurlinge / bruin mense", het hy voortgegaan om ’n onderlinge vennootskap tussen Afrikaans, al sy sprekers en variëteite te vestig as ’n “soomlose taal”.
Selfs wanneer jonger bruin Afrikaanssprekendes ’n kriewelrigheid ontwikkel het oor die steeds beperkte ekonomiese toegang van die meerderheid bruines tot Afrikaans, het hy vir kalmte en geduld gevra.
Hy het onwrikbaar geglo in tydsame prosesse en nie noodwendig in uiteindes nie. Die debat oor nierassigheid in Afrikaans sal dus altyd met ons wees.
So ook sal Gerwel se liefde vir Afrikaans my altyd bybly, want toe hy siek geword het, het hy versoek om ’n Afrikaanssprekende dokter te raadpleeg. Dit behoort veral Afrikaanssprekende middelklas bruines wat verkies om hul kinders in (geradbraakte?) Engels groot te maak, tot ander insigte te noop.