SêNet-briewe | Letters

 
Geen meme geen mens nie

Die woord  meem (Eng: Meme) beteken kopieerder. Dawkins kon die woord mimeme gebruik het, maar het ’n eenlettergrepige woord gesoek wat baie soos gene klink, en so skep hy toe die woord meme.

Aanvanklik  is hierdie vreemde woord tussen aanhalingstekens geskryf, en sprekers het hulle arms opgehef en  met krappende vingers in die lug beduie as hulle dit gebruik. Daar word vertel dat een ou paap byna sy woerawarra in die proses verloor het. (Dankie aan Adam Small vir “Doemanie”in Kitaar my kruis.) (Nog tussen hakies: ek noem dit maar, dalk lees Cornelius  hier, en dan wil hy bronne hê.) Mettertyd het dit egter ’n algemene woord geword wat sonder verduideliking gebruik kon word. Daarom dan dat dié nuutskepping  in woordeboeke opgeneem is.

Alles wat deur nabootsing van mens tot mens aangegee word, is ’n meem. Dit sluit in die woorde in ’n mens se woordeskat, die stories wat jy ken, die sport waaraan jy deelneem, die vaardighede, en gewoontes wat jy aangeleer het, die liedjies wat jy sing, die wette wat jy gehoorsaam, die kos wat jy eet, of dit nou kerrie of pap en braaivleis is, of dalk pizza en Coke, hoe jy groet met ’n bladskud of neusvryf, jou kerkverband, of jy God of Allah of Boeddha aanbid, of dalk voorvadergeeste, of  dalk nog vir Heitsi-abib.  Sou ek bv aan jou sê: “My Sarie Marais,” sal jy die deuntjie kan neurie en die liedjie verder voltooi, en nie net jy nie, maar almal wat hier lees, ken dit. Sou ons ’n Sê-saamtrek hê, dan sal ons dit hartlik saamsing. Hierdie woorde affekteer jou, bring herinneringe, maar vanwaar? Soos miljoene ander mense het jy dit deur imitasie geleer. Êrens  het dit in jou brein vasgesteek, en dis wat ’n meem is.

Op een of ander manier versprei ’n meem deur ’n groep mense, of ’n gemeenskap, of ’n nasie, of deur die wêreld, of dit nou skadelik, onskadelik, nuttig of nikswerd is. Meme versprei omdat hulle nuttig is, of omdat hulle mooi klink, of tot voordeel is van die mens, maar sommiges is beslis skadelik soos valse leerstellinge en gevaarlike inligting. Indien ’n meem ’n bewussyn gehad het, sou ’n mens kon sê hy is geweteloos, en kan vergelyk word met die optrede van Richard Dawkins se selfish gene, en dat hy homself wil propageer. Al wat hiermee bedoel word, is dat  suksesvolle meme versprei maklik deur kopiëring, terwyl onsuksesvolle meme doodloop. Ons sê dus dat suksesvolle meme “wil” gekopieer word. Êrens hier op SêNet het ’n kreasionis hom self op die bors geslaan en beweer: “Maar daar is nie iets soos ’n self-propagerende idee, nie.” (Aan die komma voor nie kan ’n mens sien wie dit is wat so skryf. Dit kan ’n skadelike meem word indien dit deur ander skrywers nageboots word.) Die Christelike religie is so ’n self-propagerende meem, wat die mensdom gebruik om te versprei, en nogal uiters suksesvol is daarmee. Of dit skadelik of onskadelik is, maak nie saak aan hierdie Christen-meem nie.

Verder wil ek voorlopig net byvoeg dat die meem, soos Dawkins se selfish gene, bygevoeg moet word by natuurlike seleksie as repliserende dryfveer van evolusie wanneer dit by die mens kom. Sover my kennis strek kan diere nie naboots nie. My vriend wat dolfyne afrig raak natuurlik woedend as ek dit sê. Volgens hom kan hy die dolfyne van die kant van hulle swembad net wys hoe iets gedoen moet word, dan doen hulle dit. Tot dusver moes ek maar biltong gebruik om my Rottweiler iets te leer, en dit het niks met ’n meem te doen nie sover dit hom betref nie. My pa het natuurlik ons honde met biltong geleer, en hy het dit by my oupa gesien en hy het dit weer by my oupagrootjie gesien, ens, ens. Tipies van ’n meem wat hom deur nuttigheid repliseer.

Groete,

Angus


Comments 5 Reaksies | 5 Comments
Delete Comment
avatar
Johannes Comestor
2012-11-20 @19:25

Ja, die vertaling van gene/genes en meme/memes is geen/gene en meem/meme. Enkele jare gelede was daar die geval van ’n US-dosent wat meme/memes in Afrikaans gebruik het; heeltemal strydig met Dawkins se woordspeling. Dit word algemeen erken dat die woord met Dawkins se The Selfish Gene (1976) sy beslag gekry het.

Richard Brodie se Virus of the Mind (1996) was van die eerste boeke wat spesifiek oor memetics/memetika handel. Dit is ’n buitengewoon swak boek. Susan Blackmore het beter met haar The Meme Machine (1999) gevaar, maar die resultaat bly onbevredigend. Dit is asof sy in sirkels van herhaling verval en nie daaruit kan breek om die begrip werklik wetenskaplik vrugbaar te ontwikkel nie. As kognitiewe wetenskaplike het sy baie beter met ’n ander baie moeilike begrip en verskynsel, naamlik bewussyn, in Consciousness (2005) gevaar.

Toe ek ’n vorige keer op die internet gesoek het, was die vaktydskrif of twee, wat enkele jare lank oor memetika gepubliseer is, iets van die verlede. Dalk kan die skynbare mislukking van hierdie Dawkins-vlieer, wat eens ’n kultus was, toegeskryf word aan die verskille tussen die fisiese (bv liggaam) en die geestelike (bv bewussyn) dimensies van die mens. Die analogie is nie houdbaar nie. 

In die konteks van nabootsing is daar ’n soortgelyke poging tot parallelisme: die epidemiese teorie, wat toegepas op die liggaam die verspreiding van siektes verklaar, terwyl dit toegepas op die gees die verspreiding van idees probeer verduidelik. Dink in hierdie verband aan die Bybelse gelykenis van die saaier. Idees kan sekerlik gedragsgevolge he, maar nie altyd nie.

Johannes Comestor  

Delete Comment
avatar
Trienie
2012-11-20 @23:18

Goodness Angus – heel interresant! Selfs die gedeelte: onsuksesvolle meme wat sal doodloop. Dit is vir my net weer ’n bevestiging dat waarhede in enige wetenskap van krag tot krag gaan. Dit is soos die Woord van God – dit sal altyd bly staan. Waarheid in Gods woord is soos ’n leeu – dit vind altyd sy prooi. Ek het jou stuk geniet Angus, die grate het ek uitgespoeg.

Dankie,

Trienie

Delete Comment
avatar
Angus
2012-11-21 @11:01

Beste  Comestor,

Ek het intussen weer die ou geheue verfris en Selfish  Gene nadergetrek. Daarin verduidelik Dawkins hoe hy die woord "meme" geskep het.

Ek volg nie mooi as jy sê dat die Dawkins  "vlieer" ’n "askynbare mislikking" was en dat dit eens ’n "kultus" was nie. Ek is nie bewus daarvan dat dit eens godsdienstig vereer is met gepaardgaande rituele nie. Jy sal moet verduidelik wat jy hiermee bedoel. Sou jy sê die fisiese en sogenaamde geestelike dimensies van die mens kan geskei word?

Delete Comment
avatar
Angus
2012-11-21 @11:10

Beste Trienie,

Jy laat my skrik met Gods woord wat jou beslis sal vind en opvreet. ’n Heel gevaarlike meem. Ja, die Bybelse mites word telkens versterk, want hulle verskyn in geskrewe vorm. Ook gevaarlike goed vir die mensdom.

Groete

Angus

Delete Comment
avatar
Johannes Comestor
2012-11-21 @17:52

Beste Angus

Wat ek beweer, is dat geen in die natuurwetenskaplike konteks beter funksioneer (bv meer verklaar) as meem in die sosiaalwetenskaplike konteks. In vergelyking met geen, dus relatief, is meem ’n mislukking. Dit het nie aan die aanvanklike hoë verwagtige voldoen nie. Die aanvanklike stortvloed van vakkundige artikels het opgedroog en die vaktydskrifte wat spesifiek daaroor gepubliseer is, het verdwyn. Dit kan ten minste deels toegeskryf word aan die "sagter" aard van die sosiale wetenskappe in vergelyking met die "harder" natuurwetenskappe, wat op sy beurt teruggevoer kan word na die vertolking van die natuur/fisiese werklikheid as deterministies, ten minste bo die kwantumvlak, terwyl meer ruimte aan vryheid of nie-determinisme op die geestelike of bewussynsvlak gegee word. Die volgende ideologie wat massa-aanhang geniet, kan nie met dieselfde stelligheid as die weer voorspel word nie.

Nee, ek verwys nie na godsdienstige verering of rituele nie. Die gelykenis van die saaier kan in kommunikasie- of inligtingkunde gebruik word om te verduidelik dat sommige idees versprei word maar nie aanvaar word nie (die saad wat op harde aarde, bv rotse, val), terwyl ander gou groot aanhang geniet (die saad wat in sagte, vrugbare grond val).

Ek skei nie die liggaam en gees van bv die mens nie, want sonder ’n brein, senustelsel en sintuie kan daar nie gees wees nie. Gees is egter van ’n ander aard as die liggaam. Ons wetenskaplike (bv betroubare) verstaan van gees is nog in sy kinderskoene, terwyl ons oor baie wetenskaplik-gefundeerde kennis van die liggaam beskik. Ons moet dus waak teen maklike analogiee, soos dat die gees (waarvan ons min verstaan) soos ’n rekenaar (waarvan ons baie verstaan) is. Daar is sowel ooreenkomste as verskille.

Johannes Comestor   

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address