Die woord meem (Eng: Meme) beteken kopieerder. Dawkins kon die woord mimeme gebruik het, maar het ’n eenlettergrepige woord gesoek wat baie soos gene klink, en so skep hy toe die woord meme.
Aanvanklik is hierdie vreemde woord tussen aanhalingstekens geskryf, en sprekers het hulle arms opgehef en met krappende vingers in die lug beduie as hulle dit gebruik. Daar word vertel dat een ou paap byna sy woerawarra in die proses verloor het. (Dankie aan Adam Small vir “Doemanie”in Kitaar my kruis.) (Nog tussen hakies: ek noem dit maar, dalk lees Cornelius hier, en dan wil hy bronne hê.) Mettertyd het dit egter ’n algemene woord geword wat sonder verduideliking gebruik kon word. Daarom dan dat dié nuutskepping in woordeboeke opgeneem is.
Alles wat deur nabootsing van mens tot mens aangegee word, is ’n meem. Dit sluit in die woorde in ’n mens se woordeskat, die stories wat jy ken, die sport waaraan jy deelneem, die vaardighede, en gewoontes wat jy aangeleer het, die liedjies wat jy sing, die wette wat jy gehoorsaam, die kos wat jy eet, of dit nou kerrie of pap en braaivleis is, of dalk pizza en Coke, hoe jy groet met ’n bladskud of neusvryf, jou kerkverband, of jy God of Allah of Boeddha aanbid, of dalk voorvadergeeste, of dalk nog vir Heitsi-abib. Sou ek bv aan jou sê: “My Sarie Marais,” sal jy die deuntjie kan neurie en die liedjie verder voltooi, en nie net jy nie, maar almal wat hier lees, ken dit. Sou ons ’n Sê-saamtrek hê, dan sal ons dit hartlik saamsing. Hierdie woorde affekteer jou, bring herinneringe, maar vanwaar? Soos miljoene ander mense het jy dit deur imitasie geleer. Êrens het dit in jou brein vasgesteek, en dis wat ’n meem is.
Op een of ander manier versprei ’n meem deur ’n groep mense, of ’n gemeenskap, of ’n nasie, of deur die wêreld, of dit nou skadelik, onskadelik, nuttig of nikswerd is. Meme versprei omdat hulle nuttig is, of omdat hulle mooi klink, of tot voordeel is van die mens, maar sommiges is beslis skadelik soos valse leerstellinge en gevaarlike inligting. Indien ’n meem ’n bewussyn gehad het, sou ’n mens kon sê hy is geweteloos, en kan vergelyk word met die optrede van Richard Dawkins se selfish gene, en dat hy homself wil propageer. Al wat hiermee bedoel word, is dat suksesvolle meme versprei maklik deur kopiëring, terwyl onsuksesvolle meme doodloop. Ons sê dus dat suksesvolle meme “wil” gekopieer word. Êrens hier op SêNet het ’n kreasionis hom self op die bors geslaan en beweer: “Maar daar is nie iets soos ’n self-propagerende idee, nie.” (Aan die komma voor nie kan ’n mens sien wie dit is wat so skryf. Dit kan ’n skadelike meem word indien dit deur ander skrywers nageboots word.) Die Christelike religie is so ’n self-propagerende meem, wat die mensdom gebruik om te versprei, en nogal uiters suksesvol is daarmee. Of dit skadelik of onskadelik is, maak nie saak aan hierdie Christen-meem nie.
Verder wil ek voorlopig net byvoeg dat die meem, soos Dawkins se selfish gene, bygevoeg moet word by natuurlike seleksie as repliserende dryfveer van evolusie wanneer dit by die mens kom. Sover my kennis strek kan diere nie naboots nie. My vriend wat dolfyne afrig raak natuurlik woedend as ek dit sê. Volgens hom kan hy die dolfyne van die kant van hulle swembad net wys hoe iets gedoen moet word, dan doen hulle dit. Tot dusver moes ek maar biltong gebruik om my Rottweiler iets te leer, en dit het niks met ’n meem te doen nie sover dit hom betref nie. My pa het natuurlik ons honde met biltong geleer, en hy het dit by my oupa gesien en hy het dit weer by my oupagrootjie gesien, ens, ens. Tipies van ’n meem wat hom deur nuttigheid repliseer.
Groete,
Angus