|

|
|
Sêgoed van Ferdinand Deist
“Om kerk te wees, beteken om nie met kits- of pasklaar antwoorde tevrede te wees nie, maar om voortdurend aan die soek, weeg en herbesin te bly.”
“Die wetenskap kan die spore oopmaak waarop die lokomotief van die geloof kan loop, maar dit kan die geloof self nie vervang nie.”
In 2000, toe Tolla van der Merwe, Koos Meyer en die musikant Ollie Viljoen se vrou in ’n motorongeluk was, was dít Ferdinand se trooswoorde vir Ollie: “’n Mens moet nooit probeer om God of die Superbeing of die Allerhoogste of wat jy dit ook al wil noem in jou geloof, jy moet nooit probeer verstaan nie. Want die oomblik wat jy God verstaan, dan’s Hy nie meer God nie. Dan’s jy op sý vlak.”
“Ek sal eerder sukkel met die man wat sê hy kan nie hierdie dinge glo wat die kerk sê nie. Daar is genoeg dominees wat kan sorg vir die man wat in die middel langs loop en gelukkig is. My belangstelling lê in diegene wat by die rand van die kerk afval. Dis dikwels mense wat ’n probleem ondervind met hoe ons dinge formuleer.”
“Ek dink enige sin wat reg aanmekaar gesit is, is ’n geboorte.”
“Ek is lief vir stories. Ek hou van ’n ligte gesprek. Sjoe, ons moenie so ernstig wees nie. Sonder humor is die lewe nie die moeite werd nie.”
“Ek volg geen spesifieke roetine wanneer dit by my skryfmetode kom nie. Ek skryf maar in sulke sarsies, afhangende van hoe ek op daardie tydstip voel. Ek sou myself nie as ’n gedissiplineerde skrywer beskou nie.”
“Godsdiens het twee kante soos ek dit sien. Die eerste kant, ‘die ontvangkant’, as ’t ware, oor dié het ons ’n mindere of selfs geen beheer nie. Dit is die mistieke, die Godgegewe. Maar wanneer dit by die ‘geekant’ kom, kan ons doen. Dan is die tyd van praat verby, maar kommunikeer ons deur ons dade; en dit is, wat my betref, wat aktiewe Christenwees behels.”
|
Ferdinand Deist (1944–1997)
Gebore en getoë
Ferdinand Etienne Deist is op 9 Augustus 1944 op die plaas Kromrivier in die Piketberg-distrik in die Sandveld gebore. Sy vader was Nicolaas Hendrik Deist, wat die skoolhoof van die plaasskool was, en sy moeder Susanna Elizabeth Jacoba Leygonie. Sy oorgrootvader, Justus Deist, het in 1861 saam met sy vrou en kinders, onder wie Jacob Deist, Ferdinand se grootvader, uit Hergershausen (distrik Rotenburg an der Fulda), Wes-Duitsland na Suid-Afrika geëmigreer. Sy oorgrootvader aan moederskant het ongeveer tegelykertyd uit Frankryk na Suid-Afrika geëmigreer. Sy ouers het mekaar in Nigerië ontmoet, waar beide in die 1930’s as sendingonderwysers onder die Tiv-volk gewerk het.
Al het beide Ferdinand se ouers as sendelinge gewerk, het die gesin nie buitengewoon godsdienstig grootgeword in die sin van “mag nie, mag nie, mag nie” nie. Hulle het eerder geleer dat ’n mens leef wat jy sê en dit is die kruistog wat hy altyd aangehad het. Die boodskap uit die huis was: as jy sê jy is ’n Christen, dan leef jy soos een. En dit bestaan nie uit ’n stel wette nie, dit bestaan uit ’n styl van menswees.
Vandat hy sy verstand gekry het, wou hy predikant word. “Ek het nooit ’n ander beroep in my kop gehad nie.”
Ferdinand het aan Suzette Truter van Sarie vertel dat hoewel sy pa Afrikaans was, sy waardes Duits was. “Dit beteken stiptheid, harde werk, gehoorsaamheid. Ek dink enige kind vat maar ’n kans as hy kan, maar ons het nie regtig tyd gehad vir kattekwaad nie. Ek was bang vir my pa. Ek dink nie hy het dit so bedoel nie; hy wou net van ons ordentlike mense maak. Hy het altyd gesê sielkunde hang agter die deur! My ma was anders, baie gelykmatig, geduldig. Ons kinders het iets van albei ingekry.”
Sy pa het altyd ’n groot tuin gehad, maar hy het nie werksmense in diens geneem nie; die kinders was die werksmense. Ferdinand het geglo dit is hoekom hy in sy later jare so ’n hekel aan tuinwerk gehad het.
“Vir my as kind was dit nie aldag so lekker nie. Om soos ander kinders te speel, was hoogstens op ’n Sondag ons voorreg. Maar dit het by my sekere waardes tuisgebring. ’n Dag is gemaak om in te werk. En ek is vandag dankbaar daarvoor.”
Ferdinand het sy laerskoolloopbaan in die plaasskool op Kromrivier begin, waarna hy na die Laerskool Gimnasium in die Paarl is, asook na die Laerskool Theerivier in die Clanwilliam-distrik. In sy standerd 3-jaar het hulle Citrusdal toe getrek waar hy sy hoërskooljare aan die Hoërskool Citrusdal deurgebring het en in 1961 gematrikuleer het.
Oor sy skoolloopbaan het Ferdinand vertel dat hy nooit ’n A-kandidaat was nie. In matriek het hy net gewerk vir ’n eerste klas (C-simbool). “Ek het net vir wiskunde ’n onderskeiding behaal. My aakligste vak was seker skeikunde. Maar ek het darem nooit ’n swak rapport huis toe geneem nie. Daarvoor was my pa te streng. Hy het arm grootgeword en was gesteld op ons kinders se geleerdheid. Hy het ons nie onbehoorlik gedruk nie, maar geglo ons moet iets in die lewe bereik. Veral dat ’n mens moet klaarmaak wat jy begin het. Sy aanmoediging het my nog harder laat werk.”
Verdere studie en werk
Gedurende 1962 het hy sy militêre diensplig aan die Lugmaggimnasium te Valhalla voltooi, waarna hy begin 1963 na die Universiteit Stellenbosch is. In 1965 het hy die graad BA Admissie met onderskeiding behaal met Grieks en Hebreeus as hoofvakke en begin 1966 is hy na die Kweekskool te Stellenbosch, terwyl hy terselfdertyd vir die BA Honneursgraad in Semitiese tale ingeskryf het. Hy het sy honneursgraad met onderskeiding in 1967 behaal, die BTh-graad met onderskeiding in 1968, asook sy MA-graad in Semitiese tale, ook met onderskeiding.
Ná sy studie aan Stellenbosch is hy aangestel as lektor in Semitiese tale aan die Universiteit van Port Elizabeth terwyl hy navorsing gedoen het vir die graad DLitt (Semitiese Tale) onder die promotorskap van FC Fensham, ’n graad wat in Maart 1971 aan hom toegeken is vir ’n proefskrif getiteld “Die betekenissfeer van die leksikale morfeem /-y-r-’-/ in die Profetiese boeke van die Ou Testament”.
Gedurende sy studiejare is die Merensky-beurs vir Grieks III aan Ferdinand toegeken, terwyl hy ook twee maal ’n merietebeurs van die Universiteit Stellenbosch ontvang het, asook twee navorsingstoekennings van dieselfde universiteit en ’n beurs van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). In 1971 is die Alexander von Humboldt Stipendium aan hom toegeken en is hy na die Philipps Universiteit (Marburg/Lahn) om onder leiding van Otto Kaiser navorsing te doen oor styl as ’n middel vir outeursbepaling in Ou Testamentiese geskrifte.
Ferdinand het ná hierdie besoek aan Duitsland sy werk as senior lektor in Semitiese tale aan die Universiteit van Port Elizabeth hervat. Hy is in 1975 ook as senior lektor in Bybelkunde aan dieselfde universiteit aangestel totdat hy in 1977 diens as medeprofessor in die vakgebied Ou Testament aan die Universiteit van Suid-Afrika aanvaar het.
Hoewel Ferdinand in 1972 as proponent van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gelegitimeer is, het hy nie gemeentewerk gedoen nie, behalwe afloswerk in gemeentes soos Sutherland, Port Elizabeth-Sonheuwels en Walmer. Sy “bedieningswerk” het hy eerder gedoen deur die popularisering van teologie met die oog op die gewone man – ’n gebied waarop hy vanaf 1974 elke jaar minstens een titel laat verskyn het. Hoewel die begin van hierdie “bediening” met Die noodlottige band: kerk en staat in Israel (Tafelberg) hom ’n ringsklag besorg het, is sy werk tog in 1980 bekroon met die eerste Andrew Murray-prys vir godsdienstige literatuur vir Tussen angs en sekerheid: gedagtes oor gebed. In 1988 is Ferdinand saam met Jasper Burden weer aan die ontvangkant van die Andrew Murray-prys vir Kom ons doen Bybelstudie.
Hy het Tussen sekerheid en angs as die eerlikste boek wat hy nog geskryf het, beskou. “Gebed was destyds vir my ’n geweldige probleem,” het hy aan Suzette Truter vertel. “Ons dogter was as veertien maande oue baba sowat ses weke in die hospitaal met skarlakenkoors. Sy was skaars uit, toe is sy terug met masels. In daardie tyd is my pa oorlede en heelparty ander dinge het gebeur. Dan dink jy: Hoekom ek, kan God nie ’n slag iemand anders vat nie? En wat bid jy dan? Ek het die boek geskryf omdat gebed skielik nie meer vir my sin gemaak het nie.”
Ferdinand is op 30 November 1968 met Henriette Mouton getroud en drie kinders is uit die huwelik gebore, naamlik Henk, Jaco en Karen. Ferdinand en Henriette was ’n skoolkys – hy was in matriek en sy in standerd sewe. Hulle was albei op kosskool in Citrusdal en het maar vir mekaar briefies geskryf, want die koshuisvader het nie sulke dinge soos uitgaan toegelaat nie. Toe hy die werk in Port Elizabeth gekry het, het hulle besluit om dadelik te trou.
Ferdinand se stokperdjie was sy skryfwerk en sy eerste radiopoging is gedurende 1982 onder die titel Die Bybel leef in tien episodes deur die destydse SAUK uitgesaai. Dit was ’n gedramatiseerde weergawe van die Bybelgeskiedenis.
In 1986 het Andries Treurnicht, leier van die Konserwatiewe Party, beswaar gemaak teen die staatspresident, PW Botha, se standpunt dat die regering se hervormingsbeleid ’n Christelike grondslag het. Die Burger het vir Deist genader oor die kwessie dat politici sinodes en lidmate van verhoë af probeer beïnvloed. Deist het gesê dat wanneer ’n politikus probeer om sy standpunt uit die Skrif te regverdig, ’n mens altyd ’n soort “God-met-ons”-teologie kry waarvolgens elkeen probeer bewys dat sy standpunt meer Bybels is as die volgende politikus s’n en wat impliseer dat God dan nie met die ander party kan wees nie.
In 1992 is Ferdinand aan die Universiteit Stellenbosch aangestel as hoof van die departement Semitiese tale. Hy was op daardie stadium visedekaan en hoogleraar in Ou Testament aan Unisa se fakulteit teologie. Ferdinand het gesê hy wil graag weer aan ’n residensiële universiteit doseer. Hy was in elk geval ’n Kapenaar en het gehoop dat die WP se rugbyspan beter sal vaar as hy daar is om hulle te ondersteun. Hy was vyftien jaar aan Unisa verbonde. Ferdinand het later hoogleraar in die departement Ou Nabye- Oosterse studie aan die US geword.
Nadat Ferdinand Unisa in 1991 verlaat het, het sy oudkollegas aan Unisa se departement Ou Testament ’n huldigingsbundel aan hom oorhandig. Die bundel, Old Testament science and reality, bevat 21 opstelle wat die stand van navorsing oor die Ou Testament aan Unisa weerspieël. Dit vereer Deist vir die groot invloed wat hy op dié vakgebied uitgeoefen het.
In 1988 is die Acacia-prys vir tersiêre en algemene publikasies aan hom toegeken en in 1993 die Pieter van Drimmelen-medalje vir die bevordering van Afrikaans op godsdienstige gebied. In 2001 het The Material Culture of the Bible: An Introduction (Sheffield Academic Press, 2000), watná sy dood gepubliseer is, die Best Book Relating to the Old Testament-toekenning ontvang. Dit was feitlik klaar met sy afsterwe in 1997 en is daarna deur Robert Carroll geredigeer. Carroll is in 2000 oorlede.
In Februarie 1995 het Ferdinand die leisels van die rubriek “Geestelike Waardes” in Die Burger begin oorneem by Willie Jonker, wat langer as twintig jaar daarvoor verantwoordelik was. Hierdie rubrieke van Ferdinand is ná sy dood deur Tafelberg gebundel onder die titel Die son het vlerke: meditasies oor God en menswees (1998).
Vanaf 1996 tot 1997 was Ferdinand direkteur van die Sentrum van Bybelvertaling aan die Universiteit Stellenbosch.
In 2000 het die Universiteit van Port Elizabeth ’n eredoktorsgraad postuum aan Ferdinand toegeken vir sy lang en uitmuntende loopbaan as vakkundige in Ou Testamentiese en Ou Nabye-Oosterse studies. Sy werk oor die studie en interpretasie van die Bybel het ’n betekenisvolle bydrae gelewer tot die Suid-Afrikaanse kerklike en akademiese lewe en ’n geslag Bybelse vakkundiges geïnspireer. Sy vrou, Henriette, het die graad DPhil postuum namens hom ontvang.
Benewens die groot verskeidenheid teologiese en populêr-godsdienstige publikasies wat uit Ferdinand se pen verskyn het, het hy ook ’n aantal boeke met humoristiese verhale in die Sandveldse dialekte die lig laat sien. In 1987 verskyn Pofadder en peddelford: Sandveldstories by Van Schaik en in 1988 Die pomporrel-konsêrt en ander Sandveldstories, ook by Van Schaik.
FIJ van Rensburg vergelyk in Finansies en Tegniek die kuns van stories vertel met die span van draad. “As ’n mens praat van stories met ’n noodsaaklike verhaaldraad, moet ’n mens natuurlik in gedagte hou dat alle drade nie van draad gemaak is nie. Alle drade span ook nie tussen ’n hoekpaal en ’n ander paal nie. Hulle loop soms kartelgewys om die ruimte wat hulle afpen. Maar die gemeenskaplike kenmerk van alle drade, wanneer hulle deur ’n vakman gespan is, is dat hulle van styfte tril.
“Ferdinand Deist is ’n kundige draadspanner. Hy vertel nog stories, nie metaverhale nie. En hy kán ’n storie vertel. Hy het blykbaar ’n sesde sintuig vir ’n storie. Dit is of ontmoetings met mense hom meteens die storie in hulle laat raaksien. Daarom dat dié Sandveldstories so natuurlik aandoen. ’n Storie vloei organies en héél uit ’n figuur uit.
“Die invalshoek is nie venyn of ’n soektog na die mens in sy ellende nie. Ook nie soseer na die mens in sy komiek nie. Jy lees die verhale wél deurentyd met ’n glimlag en jy skater dikwels, maar die opvallende is dat die verteller ’n balans tussen die uiterstes wat dié soort storie kenmerk, handhaaf.” Van Rensburg meen dat hierdie Sandveldstories gesondheid uit die grond is.
Deist het in die bundels sy stories vertel soos die mense in die Sandveld praat, en oor die mense oor wie daar vertel is, het Deist as volg geskryf in “Die staanplak vannie spoedbordjie”: “Want die mense was eerlike mense gewees met respekte vir mekaar en vir ander mense. Ek praat nou nie van ’n ding soos leiwater wat boontoe afgekeer is nie – dis ’n soort ding wat net wêreldsgoed angan. Ek praat van lieg of godloosgeit en sleg skinner en dié soort ding wat anner mense in hulle se eer skade aandoen. Dié moet jy nie nou daar gekom staan probeer het nie. Dan’t hulle vir jou uit hulle se mond uitgespoe, soos die Woord sil gesê het” (p 20, Pofadder en peddelford).
En oor die aard van die stories wat hier vertel word, hoor ons in “Toet Jassie loop haastig word”: “En soos ons mense nie haastig van geaardheid gewees het nie, was hulle ook nou nie geneig gewees om oor hulle woorde te val nie. Kyk, ’n storie het nie sommer so kerplaks daar voor jou geval nie. Nee, die man wat aan die woord gewees het, het dour ver laans m’t jou geloop oplat jy hom nie misverstaan nie en plek-plek eers familie uitgelê en jou gehelp ommie man, van wie hy wil gevertel het, eers mooi te leer ken voorlat hy jou nou ingelig het oor wat met die kêrel gebeur het” (p 69, Pofadder en peddelford).
Anna van Zyl meen dat diegene wat nog plesier het in die soort mense van wie hier vertel word – ongekompliseerde, eerlike sout-van-die-aarde-mense – Deist se lekkerloopvertellings sal geniet. Ook die student van taalvariasie sal hier ’n vrugbare studieterrein vind.
Oor Pofadder en peddelford het Pieter van der Lugt geskryf: “Ferdinand Deist is goed bekend as teoloog, danksy sy vele geskrifte. Dat ’n man met so ’n naam uit die Sandveld kom, is al snaaks genoeg. Maar dat hy kontrei-stories vertel, is ’n groter verrassing. Van meet af sien ’n mens dat hy die streektaal ken. En ook dat daar oneindig moeite gedoen is om te skryf soos gepraat word. Mar so sekkel ’n leser pertykeer m’t ’n woord, oorlat hy so gespesseliseerd is. Hier is ook mooi by tradisies gehou. Vertelboeke het byna altyd sulke dit-en-dat-titels. Soos Pilatus tot Molshoop, byvoorbeeld. En gegee die boernasie se heilige respek vir ’n ander man se privaatheid, word elke karakter geteken met deernis in hoofletters. Dit hou nie heelpad water nie. Deist se eiesinnige omies, korrelkop tantes en stoere leraars kom in elke storie maklik tot nuwe insigte. G’n prikkels skop nie - net ’n inkeer wat nie alte menslik is nie. Die stories laat ’n mens dink aan dié wat dominees gebruik om ’n gemeente so ligweg te laat lag binne die gewyde kerkmure. Erg skoon en kuis, maar ten minste nie preuts nie. Voorbehoude laat staan - dis ’n welkome debuut dié. Hoe meer baasvertellers, hoe meer leesvreugde.”
Vir Helize van Vuuren staan Bom Appeltiet op Eselspoort, Deist se derde bundel Sandveldstories, in dieselfde genre as Jan Spies-verhale: dit is geskryf in fonetiese streeksdialek en kry trefkrag uit die gebruik van humor. In “’n Hoener te leen?” lewer die skrywer kommentaar op die politieke bestel: “Voorlat die Nassenale nou die wet gemaak ‘t lat Legônhane en Ostrelophane elkeen op sy eie mishoop moet loop kraai, het ons daar in Eselspoort se wêreld mar sommer ammal deurmekaar geboer. En so was daar tussen ons ok ’n paar bruin boere gewees. G’n een van hulle ’t nou juis ’n wafferse groot boerdery gehad nie, mar hulle was elkeen sy eie baas gewees en ’t geboer soos hulle self gewil ’t.” Soos te verwagte, het die storie ’n ongelukkige uiteinde ná die Groepsgebiedewet van krag geword het, gepaardgaande met ’n verwoestende droogte.
“Maar Deist is ’n bobaasverteller in hierdie genre van die streeksvertelling, en bly die leser end-uit boei. Aanvanklik stuit die leser nogal op die afwyking van standaard Afrikaans as ’n hinderlikheid tussen die stories en hul effek. Maar ná verloop van tyd wen ’n mens daaraan, en voer die raak beskrywings en humor jou mee. Dié versameling Sandveldstories is ontspannend en aangename leesstof. Dit is netjies in hardeband uitgegee en een van die goedkoopste boeke wat die laaste tyd verskyn het, ’n pluimpie vir Van Schaik.”
Roline Hepburn skryf as volg oor Tweebeendiere en ander verskynsels: “Noem dit geestige geestelikheid. Of geestelike geestigheid. Die trant van die ketse/anekdotes in hierdie bundel is doepa vir onse vlak en bedrukte tye. Dis ’n dun bundeltjie – maar 86 bladsye – met inhoudelik genoeg om die lyf om selfs ’n paar beswaardes meewarig te laat glimlag. Die skrywer hou so ’n bietjie sirkus met die mens in sy omgang, spesifiek die spesie Afrikaner. Dis ’n vermoede wat versterk word deur die aap op die voorblad, wat deur die genade van ’n ondeunde engeltjie in posisie bly in sy raam. Die spottery word met deernis gedoen. ’n Mens kan agterkom die skrywer is ’n mens wat traak, en, om sy eie woorde te gebruik, ‘ons kort mense wat traak’. Nie winderige tipes nie. Die skrywer sê in ‘Waardes’ sy oupa het gemeen ’n arm Afrikaner is ’n ordentlike Afrikaner, maar ’n Afrikaner met geld is sommer net ’n windbol. Sela. Behoudende siele mag sy teologie oor die mens se skepping (buite verband) bedenklik vind, maar binne verband is dit soms kostelik. Soos in die vertelling ‘Vasberadenheid’: ‘Toe die goeie Vader die lewe op aarde so teen laatmiddag van die sesde skeppingsdag bekyk het, so dink ek, het Hy gesien dit kan ’n bra vervelige besigheid afgee as elke soort lewe op aarde maar net ‘volgens sy soort’ op situasies sou reageer. Toe bedink Hy ’n plan om die lewe interessant te maak, en sê: ‘Kom Ons maak méns.’ So is mense toe nie ‘volgens hulle soort’ gemaak nie.
‘Dié plan het onfeilbaar in vervulling gegaan toe oom Soon, sy Afrikaners en die predikant mekaar die môre op Donkerhoek raak geloop het.’ En so aan, tot die vertelling eindig waar die dominee ’n onwillige oom Soon langs die drukgang en dipbak as ’t ware op sy knieë forseer vir ’n gebed: ‘Here,’ sê dominee Zietsman, ‘hier het ons nou vir Soon. Hy’t nie vir my tyd nie, en soos dit my lyk ook nie vir U nie. Speel tog maar gou met hom. Amen.’
“Nie al die vertellings is ewe sekuur en onderhoudend nie, maar die meeste dring vinnig en vermaaklik deur tot die kern. (...) Die bundeltjie behoort verpligte leesstof te wees vir humorlose stedelinge, Afrikaners wat hulself te ernstig opneem en Nuwe Rykes wat almal met hul geselskap verveel en dit nie besef nie. Bygesê, ’n mens moet al iets van die lewe ervaar het om die geskerts te kan waardeer.”
Anton van Niekerk het op RSG oor Skrywers en boeke gesê dat Deist in Tweebeendiere en ander verskynsels nie as teoloog aan die woord is nie, maar as ’n fyn waarnemer van die belangrikste bron van vermaak aan ons bekend: mense en hulle dinge. Dat die Bybel en bybeltekste steeds op ’n manier deurspeel, is waar, maar dit is slegs as ligtelike kommentaar en selfs bron vir die meesleurende humor wat Deist in mense opmerk en veral in boeremense se alledaagse lewe. Deist se verhaalkuns is vir Van Niekerk louter vreugde.
Met Tweebeendiere en ander verskynsels en sy ander kontreistories wou Ferdinand vir mense sê ons moet net ’n slag vir onsself lag. Ons is nie so belangrik en so vreeslik slim nie.
In
Sorry, Sam, wat in 1993 by Van Schaik uitgegee is, vertel Ferdinand van ds Samuel Abrahams wat kollega en vriend was en bitter tye aan die hande van die veiligheidspolisie moes deurmaak. Hierin bely Ferdinand teenoor Sam, ’n bruin kollega, hoe hul vriendskap sy oë oopgemaak het vir die lyding wat die apartheidswette meegebring het.
“As dit ’n ander tyd of ’n ander land was,” skryf Deist, “sou Sam en Laura net soos ons gewees het. Maar hulle het in Schauderville tussen die bruinmense gebly, en ons in Framesby, tussen die wittes.”
Mettertyd het dit tot Deist deurgedring dat Suid-Afrikaanse wette, wat selfs deur die kerk goedgepraat is, die grootste deel van die bevolking nie as beelddraers van God erken het nie. In ’n tyd van spanning, wantroue en konflik probeer ’n boek soos hierdie volgens die uitgewers ’n gees van versoening oordra.
Sam en sy gesin is deur apartheid verkleineer en geviktimiseer. Aan hom, nou, vra Deist in Sorry, Sam om verskoning, want al was hy nie fisiek aan sy vernedering aandadig nie, was hy nog altyd deel van die stelsel. En net deur dit te verstaan én dit te erken, kon 'n kosbare vriendskap behoue bly.
Cecile Cilliers meen dat dit nog baie jare sal duur, geslagte selfs, voordat versoening en dus vrede eindelik hier te lande kom. En dit sal net kom as dié wat deur apartheid bevoorreg was, die moed en die begrip het om aan dié wat deur dieselfde stelsel so verontreg was, berouvol om verskoning te vra. Te sê: Sorry, Sam. Dit is wat Deist doen en bepleit in sy jongste boek met einste die titel: Sorry, Sam.
“Ferdinand Deist het ’n ontroerende boek geskryf. Hy vertel die skokkende verhaal van Sam se dae in die tronk, en sy gewelddadige behandeling, maar hy vertel ook van sy eie onmag, en sy onvermoë om werklik betrokke te raak.
“Hy vergelyk Brittanje se hooghartige hantering van die Afrikaner met ons eie aanmatigende baasskap, en wys tereg daarop dat daar nou nog kwade gevoelens tussen Afrikaners en Engelse is ná hoeveel jaar. Wat dan nog tussen swart en wit in die nasleep van apartheid? Net ’n oopkrap van die ou etterende wonde totdat alles skoon is, sal sorg dat daar uiteindelik heling kom.
“Dit is nie koesterende leesstof dié nie, nie koesterend of plesierig of selfs lekker nie. Maar dit is noodsaaklike leesstof. Selfs net die lees al van die poësie van Farisani en Serote (Deist haal kwistig aan) gee broodnodige insig in lang verwaarloosde pyn en bitterheid.”
In Die Kerkbode van 9 September 1994 skryf Hannes Venter dat Deist sy gevoelens wat voortgespruit het uit sy hegte vriendskap met Sam Abrahams met die leser deel. Hy en Sam het ’n lang pad saam geloop. Soms het hulle paaie uitmekaar gegaan, en dan weer gekruis, maar hy was deurentyd ingelig oor Sam se wel en wee. Hulle was in baie opsigte geesgenote.
Behalwe dat Sam hoogs intelligent en baie musikaal was, het hy ’n sensitiewe aanvoeling vir reg en geregtigheid gehad. Hy het teologie studeer, in die NG Sendingkerk predikant geword en was later professor aan die Universiteit van Fort Hare.
Dit was juis hierdie aanvoeling vir reg en geregtigheid wat in Sam se lewe soveel lyding veroorsaak het, fisiek sowel as geestelik. Sy kommentaar oor en verset teen die apartheidsbeleid het hom tot in die gevangenis laat beland. Volgens hom is hy hier op ’n onmenslike wyse verneder en gemartel. ’n Martelaar, ter wille van die waarheid, bly die oorwinnaar selfs al word hy gevloek, geslaan, geskop en op allerlei onbeskaafde maniere gefolter, skryf Hannes Venter. Die brutale vervolger bly die verloorder en word uiteindelik deur die geskiedenis veroordeel.
Deist se doel met Sorry, Sam is om verskoning te vra, namens homself en sy mense wat vir Sam en baie ander soos hy so lank verneder het. Venter wil die skrywer gelukwens met die boeiende wyse waarop hy Sam se verhaal en sy kommentaar daarop aan die leser oordra. Dit is ’n profesie vir ons tyd in onverbloemde taal.
As ’n mens terugkyk oor die 25 jaar wat Ferdinand sy skryfwerk beoefen het, staan ’n mens verstom oor sy werkvermoë. Uit die meer as 60 titels wat die lig gesien het, was net 11 in samewerking met ’n medeskrywer. Die ander sowat 50 dek ’n wye verskeidenheid. Dit sluit die trilogie van Sandveldstories in oor sy kinderjare in Citrusdal en sy kontak met die mense in die Sandveld. Hierdie stories onderstreep sy vermoë om ’n storie góéd te vertel.
Sy Christelike boeke, wat altyd populêr geskryf is, maar nooit aan diepte ontbreek het nie, sluit dagboeke vir jongmense, volwassenes en die werkplek in. Verder is daar boeke oor verskillende aspekte van die geloof. Hy was ’n aktiewe deelnemer aan die werksaamhede van OTWSA (Ou Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika) met ’n termyn as voorsitter, en hy is ook dikwels gevra om bydraes tot internasionale feesbundels te lewer.
Op 12 Julie 1997 is Ferdinand Deist op 52-jarige ouderdom in Duitsland aan ’n hartaanval oorlede terwyl hy ’n vuurwerkvertoning bygewoon het. Hy het vanaf April 1997 in Hamburg, Duitsland navorsing gedoen vir ’n boek. Hy en sy vrou sou einde Julie na Suid-Afrika teruggekeer het. Hy is op 22 Julie 1997 vanuit die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen begrawe. Dirkie Smit het die diens gelei.
Huldeblyke
- Christo Viljoen, visekanselier van die US: Hy was ’n voortreflike akademikus en ’n uitnemende leermeester. Sy koms na Stellenbosch in 1992 het ’n nuwe dimensie verleen aan die werk wat in die Departement Ou Nabye Oosterse Studies gedoen word. Dit is veral op nagraadse vlak waar die werk wye internasionale aansien geniet.
- Pieter Coertzen, dekaan van die Fakulteit Teologie aan die US: Deist se dood is ’n erge skok vir die hele fakulteit en ’n groot verlies vir Outestamentiese wetenskappe.
- Sakkie Spangenberg, kollega: Deist het die vermoë gehad om, al was hy hoogs geleerd, amper aards te lewe en moeilike konsepte eenvoudig oor te dra.
- HF van Rooy: Ferdinand was een van die mees vooraanstaande Ou-Testamentici in Suid-Afrika en het inderdaad wêreldwyd erkenning geniet. Hy was ’n briljante student, ’n uitmuntende dosent en studieleier, ’n begaafde akademikus en ’n besonder veelsydige mens. Sy wetenskaplike boeke en artikels getuig van die gehalte van sy akademiese werk. Sy populêr-godsdienstige boeke het mense laat dink oor die vrae van die tyd. Sy ander populêre geskrifte het vermaak (soos sy pragtige sketse oor sy leefwêreld) of vermaan (soos sy worsteling met ons land se verlede en die onreg wat aan mense gedoen is). Ferdinand was nooit bang om moeilike vrae te stel en om besig te wees met die problematiek van die dag nie. En hy was nooit bang om kontroversiële sake te pak of om ongewilde standpunte in te neem nie. Gevolglik het hy ook dikwels kritiek uit verskeie oorde ontvang, of dit nou kerklik, akademies of polities van aard was. Een van sy baie mooi eienskappe was dat hy nie kleinserig was nie. Hy kon kritiek hanteer en het nooit gedink dat hy alleen die wysheid in pag het nie. Dit was steeds ’n voorreg om te kan sê dat Ferdinand my vriend was en ek sal hom baie mis.
- Nico Koopman: Ek en my vrou het Maandagoggend met skok in Die Burger gelees van die skielike dood van prof Ferdinand Deist. (...) Ek het Ferdinand by 'n geleentheid of twee ontmoet. Dit is egter deur sy publikasies dat hy in ons huishouding ’n bekende en geliefde geword het – nie net as ’n briljante teoloog wat onder meer so ’n sterk pleidooi kon lewer vir meer aandag van Sistematiese Teoloë aan die Bybelse vakke (Ou Testament en Nuwe Testament) nie, maar ook as pastoor wat kon troos en jou tegelyk uitdaag en toerus om jou verantwoordelikheid as Christen in die veranderende samelewing te probeer verstaan en na te kom. Ons dank God vir dit wat Hy deur Ferdinand Deist gedoen het en nog steeds deur sy nalatenskap sal doen.
- Wilhelm Jordaan: Baie soorte dankbare hulde is die afgelope dae gebring aan die teoloog prof Ferdinand Deist, wat onlangs oorlede is en tot sy dood Beeld se rubriek “’n Woord Onderweg” behartig het. Die hart van dié dankbaarheid, skryf dr André van Niekerk (Beeld, 26 Julie) is dat Ferdinand Deist se “teologie van verwondering” mense bevry het van verveling in die geloof. Deist het inderdaad op baie maniere en in baie soorte skryfsels en seggings mense se oë help oopmaak vir verwondering; nie net verwondering aan God nie, maar aan alles van die aarde wat aan ons gegee is. Daarmee het hy die misterie van geloof op die voorgrond geplaas eerder as bewysplase van geloof sonder om te kenne te gee dat die pad na verwondering maklik is.
- Van Niekerk, André: Min woorde word so verdraai en verkeerd verstaan as juis die woorde oor en van God. Van oorkritiese kateders en preekstoele af word die Bybelboodskap kragteloos gemaak. Gelowiges wat goed bedoel, respekteer weer nie konsekwent die Bybel se eie aard en verskeidenheid nie. God word helaas nie op sy Woord geneem nie. Gelukkig is daar vriende van God wat vir sy woorde intree. So ’n vriend was Ferdinand Deist. Ferdinand en ander help ons om beter na die Bybel te kan luister. As kinders van die moderne tyd beskou ons net dit wat regtig gebeur het en sigbaar is as waar. Gevolglik probeer mense mekaar oortuig dat alles in die Bybel letterlik gebeur het sodat dit waar kan wees. Die Bybel se ryke verskeidenheid van verhale en fabels, van gedigte en spreuke, van beelde en simbole word verwring tot geskiedenisfeite. Deist val nie ons gebrekkige verstaan aan en breek dit af nie. Vir mense wat in twyfelvrae vasgeval het, gee hy net 'n beter wyse van Bybelverstaan. Hy skram nie weg van wonderwerke nie. “As God daar is,” het hy geskryf , “is dit vanselfsprekend dat dinge kan gebeur wat in ons oë wonderwerke is.” Vir Deist gaan dit oor of ons die skeppings- en arkverhale se boodskap reg verstaan as ons dit letterlik sou uitlê. Deist vertel in Verhinder hulle nie dat sy pa sy hele lewe lank geworstel het oor die werklikheidsgestalte van verhale soos dié oor die ark. Hy is aangesê om die Bybel letterlik te glo of om ’n ongelowige te wees. Gevolglik het hy byna lewenslank aan geloofonsekerheid gely. Drie jaar voor sy dood gesels Ferdinand met hom oor die soort waarheid van die verhaal. In die vroeë oggendure het Deist se pa uitgeroep: “Maar hoekom het niemand dit ooit vir my gesê nie?” Gelukkig het die Here se vriend, Ferdinand Deist, dit vir ons gesê.
- Bernard Lategan: Die onherstelbare verlies weens die afsterwe van Ferdinand Deist raak soveel mense omdat hy in sy persoon soveel wêrelde met mekaar verbind het. Afgesien van sy onmiddellike gesin, wat die diepste deur sy heengaan geraak word, strek die netwerk van mense met wie hy as akademikus, leermeester, skrywer, geestelike gids, kollega en lojale vriend verbind was, oor die hele land en selfs verder. Die respek wat hy by almal afgedwing het, het ten diepste voortgevloei uit die inherente respek wat hy self vir elke mens gehad het en sy vermoë om mense in hulself te laat glo.
- Dirkie Smit: Deist was ’n mensekenner by uitnemendheid. In sy waarneming het hy diep onder die indruk gekom van mense se vrae en vrese. Vir Deist was die vrees dat niemand omgee nie, die gees van ons tyd.
- Andreas van Wyk, rektor van die US: Almal is armer ná sy heengaan, nie net aan kundigheid nie, maar aan wysheid. Deist het vir die US twee dinge beteken: Hy was ’n mens van akademiese formaat, sowel as ’n vriend van vele en ’n gewaardeerde kollega. Vir my was hy in die breë ’n Weskus-mens en ek kan geen groter kompliment gee nie. Mense met hul voete op die aarde, nugter en sonder pretensie, oop vir ander mense en wat na hulle uitreik.
- Jannie Botha: Sy wye belesenheid het hom ’n gesogte gespreksgenoot vir vakwetenskaplikes uit ander dissiplines gemaak. Hy het in alle opsigte sy lewe lank student gebly. Sy nalatenskap sal voortleef in sy boeke en in mense; dwarsoor die land en buite die grense daarvan.
As naskrif net die volgende: By die bekendstelling van Tweebeendiere en ander verskynsels in 1993 het Ferdinand die volgende te sê gehad: “Die Afrikaanse kultuur het deesdae baie segsmanne wat elkeen namens ‘die Afrikaner’ wil praat, maar tevergeefs. Ons verdelings loop diep, onrusbarend diep. Sigmund Freud sê in sy Die toekoms van ’n illusie: ‘’n Kultuur wat ... ’n groot getal van sy lede onbevredig laat en na rebellie dryf, het nie 'n vooruitsig op voortbestaan nie en verdien dit ook nie.’
“Die Afrikaanse kultuur het oor die laaste paar dekades gestagneer. Ons hoogste prioriteit was om te behou wat ons het en elke ‘aanslag’ teen te staan. ’n Outoritêre streep in ons kultuur het verhoed dat ons uitgedaag word om krities en skeppend te dink. Trouens, kritiek en kommunisme was min of meler sinoniem. Ons wou ‘gebalanseerde’ beriggewing hê met die skaalbak na óns kant toe geswaai – sogenaamde ‘feite’. Maar dié ideologiese beheptheid het die Afrikaanse kultuur se verbeelding gesmoor. En noudat ons skeppend moet dink, het ons die vermoë verloor. Nou is ons soos Goering sou gesê het: ‘Elke keer dat ek die woord ‘kultuur’ hoor, gryp ek na my pistool.’
“Ons het ons skeppende vermoë verloor soos Rashid Halifa in Salman Rushdie se Haroun and the Sea of Stories sy vermoë verloor het om stories te vertel toe hul woonstelbuurman Rashid se vrou én sy seuntjie, Haroun, ingeprent het dat Rashid se stories onsin is. ‘Watter nut het stories wat nie eens waar is nie?’ het hy gevra. Rushdie se verhaal het dit onder meer oor verhale wat ’n Oseaan van Idees vir ’n gemeenskap kan wees ás hulle toegelaat word om vertel te word. In die verhaal vlieg Haroun saam met die watergees Iff oor die See van Verhale waarby Rashid aangeskakel was voordat sy toevoer afgesny is toe sy familie aan die krag van stories begin twyfel het. Die see is besoedel en daarom werk stories net nie meer reg nie.
“Wat gelukkig moes eindig, eindig soos ’n gruverhaal. Karakters beland in verkeerde verhale en frases staan op verkeerde plekke. ‘Waarom die besoedeling?’ vra Haroun, en dan verduidelik Iff: Omdat mense nie meer die Verhalesee gebruik nie, het die water besoedel geraak. Mense wil deesdae mos net nuwe dinge hê en steur hulle nie meer aan die tradisionele skat nie. Blote onbruik besoedel die See van Verhale. Maar erger nog daar waar die Verhalesee ontspring, het iemand met die naam van Khattam Shud, ofte wel Hou-den-Bek, ’n fabriek opgerig wat ’n donker anti-verhaalstof vervaardig waarmee hy die oseaan besoedel. En sy handlangers, wat almal met toegestikte monde in die donker werk, werk vier en twintig uur per dag om die bron toe te stop.
“‘Maar waarom?’ vra Haroun vir Khattam-Shud. ‘Verhale is tog pret!’ En Khattam Shud antwoord: Die lewe is tog nie pret nie. Die lewe is gemaak om beheers te word. En in elke verhaal sit daar ’n onbeheerbare element. ’n See van verhale is gevolglik ’n see van probleme vir dié wat die lewe wil beheers. Dit is waarom daar ’n einde gemaak moet word aan verhale.
“Mense wat ander mense wil beheers, slaan eerste toe op die skeppende kunste, soos Afrikaanse skrywers die afgelope paar dekades ook uitgevind het. Ons het skrywers se monde toegestik en ons bes gedoen om die See van Verhale met ons ‘feitelike’ anti- verhaalstof te besoedel en om die Bron met Hou-den-Bek se wette toe te stop. En nou is ons kultuur kreupel en loop gevaar om te sterf. As die Afrikaanse kultuur wil oorleef, sal ons meer moet doen as om nog ’n taalstryd te voer. Ons sal ons eie See van Verhale moet skoonmaak en goed na hom kyk. Want, so het Haroun ontdek, in daardie See is daar duisend en een strome, elkeen met ’n eie kleur en word alle verhale wat reeds vertel is, sowel as dit wat in die proses is om gemaak te word en almal wat nog ontdek moet word, in vloeibare vorm bewaar. Daarom kan verhale meng en vermeng om telkens nuwe uitgawes van hulself te word.
“Die Afrikaanse See van Verhale is ’n onuitputlike bron van inspirasie en skeppende idees wat ons uit die stagnasie van die afgelope dekades kan optrek en ons weer kan leer dink. Want ons See bevat veelkleurige strome waarvan sommige uit die hart van Afrika borrel, ander in Indië ontspring, sommige in die land van die Boek, ander in Mekka en nog ander uit alle oorde om die Middellandse See. Party strome het ’n Germaanse, ander ’n Frankiese, sommige ’n Anglo-Saksiese en ander ’n Dietse kleur. En dié strome vloei ineen en uiteen, bevrug mekaar.
“Stories word gebore of herbore, stories wat vermaak, ontroer, onthuts, bang maak, laat lag en laat bid. Wat die Afrikaanse kultuur nodig het, is nie fanatiese vegters vir die taal nie, maar gebruikers van Afrikaans wat aan sy See van Verhale gekoppel is, aan sy Oseaan van Idees. Wat die kultuur sal lewend hou, is skeppende werk uit ons magtige See van Verhale, stories wat ons diggemesselde horisonne kan oopbreek, ons toegestikte monde kan oopmaak, ons skerp kan laat sien, skoon kan laat dink, ons aan alternatiewe kan help, ons kan kwaad maak as ons onsself nie deur ons eie ‘feite’ sien nie, maar soos ander ons sien. Ons het veral nuut geweefde verhale nodig wat ons vir eens en vir altyd kan laat tuiskom op die kontinent van Afrika, want Afrikaans self borrel uit die Bron van Afrika.” (Bondige samevatting)
Publikasies
|
Publikasie
|
Pofadder en peddelford: Sandveldstories
|
|
Publikasiedatum
|
|
|
ISBN
|
0627015603 (hb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: Van Schaik
|
|
Literêre vorm
|
Kortverhale
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Die pomporrel-konsêrt en ander Sandveldstories
|
|
Publikasiedatum
|
1988
|
|
ISBN
|
0627016006 (hb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: Van Schaik
|
|
Literêre vorm
|
Kortverhale
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
Geen |
|
Publikasie
|
Bom Appeltiet op Eselspoort
|
|
Publikasiedatum
|
1989
|
|
ISBN
|
0627016707 (hb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: Van Schaik
|
|
Literêre vorm
|
Essays
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Sorry, Sam
|
|
Publikasiedatum
|
1993
|
|
ISBN
|
0627018971 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: Van Schaik
|
|
Literêre vorm
|
Biografies
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Tweebeendiere en ander verskynsels
|
|
Publikasiedatum
|
1993
|
|
ISBN
|
0624029573 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Kortverhale
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
Artikels oor en deur Ferdinand Deist beskikbaar op die internet:
Artikels deur Ferdinand Deist beskikbaar op die internet:
Vir ’n lys van Ferdinand Deist se godsdienstige publikasies en publikasies met ’n Christelike strekking kan Naln gekontak word by lcvnaln@sacr.fs.gov.za.
Op Beeld se Argief-webblad kan ’n lys van Ferdinand Deist se rubrieke wat onder die titel “’n Woord onderweg” verskyn het, gevind word.