Facebook en die kunstenaar: Selfportret

  • 0

 

Ydi Coetsee is 'n kunstenaar van die hedendaagse lewe: sy het 'n gesin se foto's van Facebook af geskilder. Sy vertel vir Naomi Meyer van hierdie projek, wat op 5 Maart as kunsuitstalling in Stellenbosch open.

Hallo Ydi, sal jy asseblief vir ons lesers van jou agtergrond vertel – waar jy grootgeword het en ook jou kwalifikasies?

Ek het in ’n kleurvolle huis grootgeword en ons gesin het ’n paar keer rondgeskuif in verskillende dele van Stellenbosch. Kuns en kreatiwiteit was deel van ons lewe. Toe ek klein was, het ek graag my pa dopgehou as hy verf, en ek het later self kunslesse begin neem. As predikantskinders was dit nie vir ons vreemd om onsself in allerhande interessante sosiale kontekste te bevind nie – wanneer ons saamgeneem is na ’n wyksbiduur toe, het ek gewoonlik onder ’n tafel of agter ’n bank gaan wegkruip om te teken. Ek het my graag verkyk aan die interessante dinge rondom my en die skilderye en foto’s teen die mure. Die interieure in die uitstalling is in daardie sin nogals nostalgies.

Na matriek was ek aanvanklik skepties vir kuns swot, maar my ouers en familie het my aangemoedig en ek het ’n BA in visuele kuns begin. Daarna het ’n honneursprojek gevolg wat uiteindelik in ’n meesters verander het.

Vertel ons asseblief van hierdie uitstalling van jou wat nou binnekort open – wat het jy gedoen/geskep?

Ek is nie seker nie! Ek dink dis belangrik vir die kyker om ’n onderskeid te maak tussen skilderye-as-beelde en foto’s-as-beelde. ’n Skildery is nie ’n illustrasie van ’n voorafbedagte konsep of stelling nie, al lyk dit met eerste oogopslag bloot soos ’n uitbeelding van iets. My ervaring is dat verf en kwasse ’n ander taal praat as ons – skilderkuns is organies, dinamies, en dit verras jou altyd. Die werke in die uitstalling het oor die tydperk van twee jaar (aan en af) ontwikkel en geleidelik hul eie betekenis aangeneem.

Hoekom het jy spesifiek die Michau-gesin gekies?

Rhea Michau het my so ’n jaar of wat terug op Facebook uitgenooi – sy is die jeugleier van die kerk waar ek grootgeword het. Op my Facebook newsfeed het Rhea se foto’s altyd vir my uitgestaan – dis onopgesmuk en die byskrifte is altyd pittig en persoonlik. Ek het op ’n manier deel geword van die alledaagse dinge wat die familie deel – ’n ete by die Spur, ’n werksgeleentheid, ’n verjaarsdag of ’n familieviering. Haar foto’s het telkens tot my gespreek omdat dit mense in verhouding plaas met hul persoonlike omgewing – die meubels, die matte, die agtergrondbesonderhede.

Facebook as ruimte en uit jou kunstenaarsoogpunt – waar is dit, aan wie behoort dit en foto's wat daar verskyn, en hoekom het jy foto's wat hier verskyn, gekies?

Facebook bly maar ’n interessante verskynsel en mens kan baie daaroor sê – in hierdie geval was dit bloot die vonk wat die skilderproses aan die gang gesit het. Iets wat my wel interesseer van sosiale media, is dat ons publieke en private lewens geleidelik ineen begin vloei. ’n Verjaarsdag, ’n verlowing, ’n kind se eerste tree – baie van hierdie dinge voel nie meer “sacred” nie. Soms maak die publiekheid van ons hedendaagse lewe my nogals bang.

Het jy toestemming gekry om die foto's te skilder voordat jy dit gedoen het?

Voor ek met die projek  begin het, het ek en Rhea per e-pos/Facebook begin korrespondeer en toe persoonlik gesels. Ons het een middag onder ’n boom gaan sit agter die toeristeburo (waar sy werk) en sy het stories begin vertel. Sy het byna haar hele familie vir my uitgelê – dit was baie spesiaal. Rhea is ’n spontane en toeganklike persoon, so dit was nie vreemd dat sy toestemming sou gee nie. Ek is wel nuuskierig hoe party van die ander karakters gaan reageer wanneer hul hulself teen die muur sien.

Selfportret, noem jy die uitstalling. Dis 'n uitbeelding van die self, maar ook 'n manier van kyk vanaf die self (sterk gekleur deur persepsies). Of hoe? Wil jy dalk die titel verduidelik?

Die titel was vir my sinoniem met die gedagte dat “ek myself in iets sien”. Soos jy sê, geld dit beide vir die kunstenaar en vir die karakters wat uitgebeeld word. Ek is baie geïnteresseerd in mense se persepsies van hulself en mekaar, veral binne Stellenbosch waar ek grootgeword het. CS Lewis skryf dat wanneer twee mense mekaar ontmoet, daar eintlik vier persone betrokke is: die twee werklike mense en die twee se persepsies of vooropgestelde idees van die ander.

Met watter ander projekte is jy nog besig?

Haha, op die oomblik speel en sukkel ek maar nog baie. Om ’n skilder te wees is ’n lewenslange commitment, en in jou twintigs is jy maar nog ’n leek. Ek het ’n paar idees vir verdere skilderye, maar ek vermoed ek sal graag weer met “huishoudelike” temas wil werk, soos in hierdie projek.

Ydi Coetsee se uitstalling, met die titel Selfportret, open om 18h30 op 5 Maart 2015 in Stellenbosch Hills se Tank Gallery.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top