Enkele opmerkings ivm definisies van meeteenhede vir Kobus de Klerk en Dolf
Wanneer spesifieke meeteenhede gedefinieer word, is dit onvermydelik om die terminologie vir die meting van ander eenhede, in die definiëring daarvan te gebruik. So bv is die gram (g) in ’n stadium as volg gedefinieer: “Een Gram is gelyk aan die massa van 1 kub cm suiwer water by 4°C.” Dus word ’n volume-eenheid (kub cm) en ’n temperatuur eenheid (°C) gebruik om die definisie van dié massa-eenheid te omskryf.
Presies net so word daar ook in die definisie van die Ligjaar van die terme van addisionele eenhede gebruik gemaak nl die spoed van lig en die jaar.
Nou kom ek bepaal my dan nou by die Ligjaar en dan laat ek nou maar die fyner tegniese detail en geredekawel soos lugleegte en die presiese lengte van ’n jaar uit. Ag, kom ek los sommer die definisie van die Ligjaar in geheel uit want enige Graad 8 leerling wat Fisika as vak neem, behoort dit in elk geval te ken. Ek sien selfs Dolf en Kobus probeer elkeen vir my ’n lesing daaroor gee. Die einde van die storie en wat die kern van die dispuut is en saak maak, gaan op stuk van sake nie oor die definisie nie maar oor die verkeerde gebruik van die term Ligjaar om verloop tyd aan te dui want ’n Ligjaar is ’n term waarmee kosmiese afstande aangedui word en nie tyd nie.
Ongelukkig leen die term hom na my mening tot misopvattings en ek vermoed die oorsaak daarvan lê in die definisie opgesluit waar in die omskrywing die term van ’n eenheid van tyd (jaar) gebruik word. In Engels bestaan dieselfde probleem waar hulle van “Light year (L,y,)” praat. Mense wat nie ’n redelike wetenskaplike grondslag het nie, het as gevolg daarvan begin om dit verkeerdelik as ’n term vir tyd te gebruik en clichés soos: ‘ligjare gelede’ het gou posgevat. Dit is verkeerd en Dolf en Kobus de Klerk kan maar jakkalsdraaie gooi soos hulle wil maar verkeerd is VERKEERD.
Om ’n teenvoeter vir die verkeerde gebruik te kry maar waarskynlik meer belangrik, omdat die afstand wat deur ’n Ligjaar voorgestel word in baie gevalle net so onprakties is soos om die afstand tussen Kaapstad en Windhoek in meters aan te dui, het wetenskaplikes ’n nuwe term nl die Parsek in gebruik geneem. En daarmee dan ook sommer twee vlieë met een klap doodgeslaan. Ander terme wat gebruik word om kosmiese afstande mee uit te druk is die Astronomiese eenheid; Kiloparsek en Megaparsek.
Nou om mee af te sluit en net vir die interessantheid:
• ’n Astronomiese eenheid is die gemiddelde afstand tussen die aarde en die son en is gelyk aan 1,408 x 10^8 km. Dit word gewoonlik gebruik om afstande binne die sonnestelsel aan te dui. (Waar ^ gelyk is aan: ‘tot die mag’)
• ’n Ligjaar is gelyk aan 9,461 x 10^12 km.
• ’n Parsek is gelyk aan 30,857 x 10^12 km.
• ’n Kiloparsek is gelyk aan Parsek x 10^3 km.
• ’n Megaparsek is gelyk aan Parsek x 10^6 km.
En o-ja Dolf jy’s reg. Daar is nie iets soos ’n dom vraag nie. In die Weermag van die tagtigs en daarlangs sou die instrukteur jou gewoonlik toegesnou het: ‘Kak vraag — sit!’
Bronne: Norton’s Star Atlas — Arthur P Norton: ISBN 0-582-98898-5
The Astronomy Encyclopedia — General Editor Patrick Moore: Geen ISBN verwysing nie
The Skywatcher’s Handbook — Colin A Ronan: ISBN 0 552 99146 5
Panda