Endler Konsertreeks: Lauren Dasappa en Bennie van Eeden

  • 0

www.stellenbosch.travel

ENDLER KONSERTREEKS

met Lauren Dasappa en Bennie van Eeden,
12 April 2015,
Fismersaal, Stellenbosch

Sondagmiddag halfvyf is ’n lui tyd. ’n Mens se oë wil nog nie heeltemal oop na die swaarder-as-gewoonlik middagmaal en wyn nie en jy wonder of jy nie maar liewer nog ’n rukkie moet lê nie. Maar sonder uitsondering is ek bly dat ek tog my boek toegeklap en my luie ledemate uit die bed gesleep het. So was dit ook met die afgelope Sondagkonsert – Lauren Dasappa, Suid-Afrika se Indiese sopraan met die mooi helder stem, begelei deur die immersjarmante Bennie van Eeden, ’n sensitiewe begeleier wat deurentyd op die uitvoerder ingestel is.

Dasappa beïndruk my met die gemak waarmee sy beweeg van ligte, komiese opera na die ernstiger aria en daarvandaan na die lied. In “Stizzozo, mio stizzoso” uit Pergolesi se La Serva Padrona is sy die terglustige, amper stuitige Serpina wat die potensiële minnaar se guns probeer wen en direk daarna, in Vivaldi se “Sposo son diprezzata” uit Bajazet,die weemoedige Irene, deur haar eggenoot in haar eer gekrenk.

Ewe gemaklik glip sy hiervandaan in “Rejoice Greatly” uit Handel se oratorium, Messias, in, en daarvandaan weer na die rol van die vasbeslote Fiordiligi in die uitdagende aria “Temerari …, Come scoglia” uit Mozart se Cosi fan tutte. “Uitdagend” is ’n subjektiewe woordkeuse. My gunstelingopname van hierdie aria is dié van Cecilia Bartoli, wat my asem wegslaan met haar wisseling tussen hoë en lae register en ongelooflike lopies.

Die tweede deel van die program word aan lieder gewy: eers “Die Spröde” en “Die Bekehrte”, twee gedigte deur Goethe, getoonset deur Hugo Wolf, daarna Arnold van Wyk se toonsetting van gedigte deur WEG Louw en ID du Plessis – “Vier weemoedige liedjies”, gevoelvol vertolk deur Dasappa.

Die program word afgesluit met Poulenc se “Air Chantés”, gegrond op gedigte van die Griekse digter Jean Moré, en die wondermooie “Despite and Still”, ’n liedersiklus bestaande uit vyf lieder.

Dit was goeie tydsbesteding so op ’n laat Sondagmiddag. Maar ek wonder tog of sesuur nie ’n beter tyd is nie?

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top